Sunday, June 25, 2006

Wat nie doodmaak nie, maak vet

Photobucket - Video and Image Hosting
Daar moet ek toe die naweek uitvind dat salmonella nie ‘n goeie bron van Omega 3 olies en derhalwe deel van ‘n hart-vriendelike diëet is nie, maar iets wat jy in tjoklits kry en wat jou maag laat werk vir ‘n dag of twee. Met ander woorde dis ‘n baie effektiewe kuur vir hardlywigheid, dalk selfs meer effektief as ‘n handvol pruimedante saam met môre-oggend se All Bran.

Lekker woord, hardlywig. Dis vir seker een van my gunsteling woorde in die Afrikaanse taal. Nie dat dit altyd ewe lekker is om daaraan te ly nie; nee, in dié opsig verskil dit byvoorbeeld van tiramisu, wat volgens my ook ‘n baie lekker woord is, én dis natuurlik terselfdertyd ook lieflik om te hê.

Dink mooi daaroor: hardlywig – jou hele lyf voel skoon hard. Kan daar ‘n meer beskrywende term in Afrikaans wees, of self in enige ander taal? Die tipiese Engelsman behoort jaloers te wees op ons, hy wat bloot maar net gekonstipeerd kan raak; wat ‘n snob-term vir so ‘n ongemaklike kondisie.

Maar genoeg *** gepraat, en om terug te keer na tiramisu. As jy dalk beplan het om hierdie week self een van hierdie poerings aanmekaar te slaan, maak asseblief seker jy sprinkel nie enige van Cadbury se sjokolade oor jou skepping nie. Hierdie lekkergoedmaker het mos nou die dag gelas dat ‘n miljoen van hulle produkte regoor Groot-Brittanje van die winkelrakke verwyder word.

Die rede? Salmonella.

Sewe produklyne is geaffekteer, insluitende die paaseiers wat vroeër vanjaar in Cadbury se fabriek in Herefordshire gemaak is.

Paaseiers?

Hellooo… is hierdie dalk ‘n blonde grap? Dis nou reeds meer as twee maande sedert Paasfees, en die sjokolade-eiers op die winkelrakke, tesame met die baksels hot cross buns en al die glimlaggende hasies met die lang eetbare ore, behoort tog seker teen dié tyd almal op te wees, of hoe?

As ‘n winkel soos Ikea dalk aankondig dat hulle met groot skok uitgevind het die eetkamerstoele wat hulle verkoop, ly aan een of ander lewensgevaarlike tekortkoming, kan ek nog verstaan dat hulle jou uitnooi om die goed terug te bring in ruil vir ‘n apologie, ‘n stywe handdruk en ‘n volle terugbetaling. Ek wonder wel of hulle jou verder ook gaan vergoed vir die heen en weer se vervoerkoste, asook al die moeite om die defektiewe platpak te bou en kort daarna weer uitmekaar te haal.

Maar dit gaan my verstand heeltemal te bowe wanneer ‘n maatskappy wat eetgoed vir onmiddellike verbruik verkoop die tipe aankondiging maak wat Cadbury so pas gedoen het. Stuur die sjokolade na ons vrypos-adres in Birmingham, en ons gee vir jou ‘n volle terugbetaling. Indien jy egter een van die 99.9% mense is wat jou paaseiers aan die begin van April geëet het toe jy veronderstel was om dit te doen: jammer vir die ongerief, maar daar’s niks wat ons vir jou kan doen nie. Behalwe seker om volgende jaar harder te probeer om die fabriek skoon te hou.

Cadbury’s is egter nie alleen in hierdie saak nie. Selfs ‘n gesiene winkelgroep soos Waitrose, waar al daai WAGS en hulle supermodel-vriendinne inkopies doen, maak elke nou en dan soortgelyke aankondigings. In Augustus verlede jaar het hulle byvoorbeeld elf verskillende voorbereide maaltyd-pakkies waarvan sommige se vervaldatum reeds verstryk het, teruggeroep. Die rede? Die moontlike teenwoordigheid van “foreign objects” in die disse. En met “foreign objects” het hulle nie verwys na lam uit Nieu-Seeland of die vingernael van ‘n fabriekswerker uit Pole nie: nee, die hare van ‘n skoonmaakborsel het blykbaar dié dag in die pot beland.

Nou vra ek jou: wat van die mense wat ‘n uur of twee nadat hulle die winkel verlaat het, die betrokke dis verorber het? Is dit nie die hele punt van voorbereide maaltye nie? En wat van diegene wat nie daai dag dieselfde koerant as ek gelees het nie, en derhalwe die aankondiging heeltemal gemis het? Wat van hulle wat glad nie kan lees nie?

Hierdie tipe aankondiging is derhalwe net nie goed genoeg nie. Wat my betref is daar net een oplossing, en dit is dat die baas van Cadbury’s se fabriek en sy senior personeelspan elkeen van daai salmonella-eiers wat teruggestuur word Birmingham toe, moet opeet. Hulle het mos in die eerste plek besluit dat die probleem nie ernstig genoeg is om stappe te neem nie; gee hulle nou op dié manier kans om hulle bona fides te bewys en hulle geloofwaardigheid terug te wen.

Vir die res van ons, moet ons in hierdie dae ligloop as ons perdalks ‘n ouma in Engeland het en ons besluit om vir ‘n verandering by haar te gaan kuier. Want dis waarskynlik die enigste plek waar jy nog van hierdie ou paaseiers in die hande kan kry (die ou tannies steek dit mos weg in dieselfde kas as daai stapel gebruikte geskenkpapier wat hulle opgaar om volgende jaar se persente mee toe te draai).

Maar die goeie nuus is dat ‘n bietjie salmonella jou gelukkig nie sal doodmaak nie. So tensy jy ‘n paar dosyn van Ouma se geaffekteerde paaseiers op een dag in jou keel afstop, behoort jy dit te oorleef. En as jy dan so baie paaseiers eet, verdien jy om effe siek te voel na die tyd. Of om ten minste ‘n bietjie gewig op te tel in die proses.

In welke geval jy waarskynlik kan doen met ‘n bietjie diarree.


Voetstoots van Tonder
25 Junie 2006

Sunday, June 18, 2006

Soos om jou televisie-lisensie te betaal

Photobucket - Video and Image Hosting

Moenie vra hoe nie, maar daar kry ek sowaar ook toe ‘n kaartjie in die hande vir laasweek se Wêreldbeker-sokkerwedstryd in Nuremberg tussen Engeland en Trinidad en Tobago.

Nee, die reëls van die sport het nie intussen sodanig verander dat daar deesdae drie spanne terselfdertyd op die veld draf nie: Trinidad en Tobago is eintlik mos een plek. Net soos Serbië en Montenegro – alhoewel dié twee nog net vir oulaas saam met mekaar sokker speel voor hulle finaal uitmekaar spat, na wat verneem word. Verwarrend, om die minste daarvan te sê.

Nou weet ek die tipiese leser is teen dié tyd seker al redelik gatvol daarvoor dat ek die laaste paar weke aanhoudend skryf oor die voetbal. Maar soos Martin Luther van ouds, doen ek dit omdat ek eenvoudig geen ander keuse het nie. Want om ‘n wedstryd te kan bywoon in sokker se Wêreldbeker, is ‘n belewenis soos min. Dis amper so lekker soos om op Loftus Versfeld te wees wanneer die Bulle verloor teen die Leeus. En met die Wêreldbeker wat net een keer elke vier jaar plaavind, gebeur dit ook omtrent ewe ongereeld.

Dit lyk min of meer soos my ou universiteit se jool toe ek die dag in Nuremberg arriveer. Die musiek speel, die drank vloei, die meisies wys been. En al die sokkerboewe in Engeland is oënskynlik ook daar, kompleet met rooi-en-wit St George’s vlag en al. Die mense dra selfs sonbrille met die motief; ek weet nie of hulle hoegenaam deur die goed kan sien nie.

Photobucket - Video and Image Hosting

Toe daag die ondersteuners van Trinidad en Tobasco op. Askies, ek bedoel Tobago. En die Soca Warriors, soos wat die mense trots na hulleself verwys, neem onmiddellik die hele partytjie oor. Aanvanklik het ek maar net gedink dat soca swak spelling is, of dalk ‘n twyfelagtige uitspraak. Maar so moet ek toe leer dat die term eintlik niks met sokker te doen het nie: soca verwys na die mense se musiek, ‘n mengsel van soul en calypso, en vandaar dan ook die naam.

Photobucket - Video and Image Hosting

En kán die mense soca! Ek dink nie Nuremberg se polisie, dié wat so stil-stil eenkant gestaan het met hulle pette en hulle snorre en hulle donkerbrille, het al ooit in hulle hele lewe so iets gesien nie.

Photobucket - Video and Image Hosting

Die mense van Wes-Indië dans op in af in die strate met ‘n ritme waarop enige vakbondleier in ‘n toyi-toyi kompetisie sou trots wees. Hulle kleurvolle gewaad herinner aan dié van ‘n poumannetjie op hitte. Op hulle stelte is party van hulle amper so lank soos Peter Crouch. En die oorverdowende geraas wat hulle maak, laat mens dink aan die musiek van Cacophonix in die Asterix-boeke; dis miskien ‘n redelik melodieuse geraas, maar op die ou end is dit steeds ‘n geraas.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek dink nie daar was meer as ‘n paar honderd Soca Warriors wat op die ou end gesorg het vir die karnaval-atmosfeer in Nuremberg se strate nie, en tog het hulle die Engelse in hulle duisende heeltemal stilgemaak. Dit was lieflik.

Wat my bring by my volgende punt, en dit is hoe ek dit emosioneel ervaar het om ‘n groot sportgebeurtenis by te woon waarin Engeland teen ‘n ander land speel – spesifiek in die lig daarvan dat ek onlangs my ondersteuning vir die Engelse aangekondig het.

Om ‘n lang storie kort te maak: dit was nogal moeilik. Maar laat ek eers fokus op die positiewe: dit was ‘n aangename verrassing om te sien hoe gunstig die mense wat ek in Engeland ken, op my besluit gereageer het. Ek het dit nooit verwag nie (trouens ek het seker nie eintlik vooraf daaraan gedink nie) maar meer as een Engelsman aan wie ek die nuus meegedeel het, het my hartlik op die skouer geklop en my “in hulle midde” verwelkom. Dit was ‘n goeie gevoel, en meer as enigiets anders het dit my laat besef: as ek in hierdie land wil bly, is dit op die ou end definitief die regte ding om te doen. Dis amper soos om jou televisie-lisensie te betaal.

Maar toe ek die middag by die stadium instap saam met my Engelse vriende, besef ek: daar’s iets ernstigs wat skort. Die atmosfeer is ongelooflik om te ervaar, en onmoontlik om te beskryf. En tog voel ek onaangeraak daardeur, so al asof ek maar eintlik net in ‘n droom verkeer. En ek sê vir myself: as ek dan regtig vandag ‘n Engelse ondersteuner is, moet ek seker nou meer opgewonde wees, of hoe? Behoort ek nie selfs ‘n bietjie senuweeagtig te wees nie?

Maar nee. Die mense om my sing liedjies wat ek nie ken nie, en ek voel net mooi niks. Hulle sing uit volle bors van ‘n plek genaamd Eng-ger-land. Hulle raak verskriklik opgewonde oor die feit dat Football’s coming home, soos wat die een liedjie daarop wil aandring. Oor die luidsprekers speel daar ‘n opgejazzde weergawe van I will survive (sonder die oorspronklike strofes oor ‘n liefdesverhouding op die rotse), gevolg deur Robbie Williams se Let me entertain you. En almal skree saam en klap saam en juig en gaan tekere. Dis nou almal behalwe ek; persoonlik verlang ek bloot na Leon Schuster se Hie’ kommie Bokke.

Die groot toets kom egter by die sing van die Engelse volkslied. En dis net mooi toe wat ek besef: ek kan dalk nog hulle span ondersteun, maar ek sal nooit God Save the Queen met oorgawe saam met die Engelse kan sing nie. Miskien sal ek eendag my posisie heroorweeg as ek dalk daai maroen paspoort in die hande kry, maar vir nou bly ek in my hart maar ‘n Nkosi Sikelele-man (gekombineer met ‘n bietjie Uit die Blou van onse Hemel daarby ingegooi, net so vir die wis en die onwis).

Halfhartig beweeg ek my lippe saam. Onwillekeurig verkrag ek die woorde, soos wat ek al honderde kere in die verlede gedoen het: Happy and Glorious…. Seldom Victorious…

Die spanne draf op die veld, en Engeland se span begin behoorlik sukkel. In my hart wil ek juig; ek wil bitter graag hê Trinidad en Toboggan moet goed doen. Askies, ek bedoel Tobago. Onthou jy nog my standpunt oor die onderhond?

Elke keer wat Engeland ‘n gulde kans verbrou, gee ek voor dat ek ewe teleurgesteld is as al die Engelse om my (netnou slaan die mense my immers as ek dit nié doen nie!). Op die ou end is dit ‘n swak wedstryd, en toe teken Engeland twee doele aan. Maar dis steeds alles ‘n ongelooflike ervaring – al voel ek dan ook nooit regtig soos ‘n Engeland-ondersteuner nie.

Dit alles laat my wonder oor my aankondiging dat ek voortaan vir Engeland sal ondersteun (dis nou wanneer Suid-Afrika nie betrokke is nie, let wel). En op die ou end besef ek: miskien is al wat ek bedoel het, dat ek sal ophou om teen die mense te skree.

Dis miskien nie heeltemal dieselfde as om vir hulle te skree nie.

Maar dis darem ‘n begin.


Voetstoots van Tonder
18 Junie 2006

Sunday, June 11, 2006

'n Hensopper en 'n joiner?

Photobucket - Video and Image Hosting

Verlede week het ek my besluit aangekondig om Engeland te ondersteun in hierdie jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi… maar hoe kan dit wees?

Wat het verkeerdgeloop in die lewe van ‘n goeie Boereseun as hy eers begin skree vir die span van die kolonie? Hoe durf ek my gewig ingooi by die pommies, die kakies, die rooinekke, die souties? Is ek uiteindelik ook maar net ‘n hensopper en ‘n joiner? Draai my pa om in sy graf?

Voorheen het ek self geskryf dat ek normaalweg vir enige span behalwe Engeland sal skree; ek het selfs gespekuleer oor die vraag of die nagedagtenis aan die Boere-oorlog dalk in my DNA agtergebly het. Maar terselfdertyd het ek darem wel ook aangedui dat ek waarskynlik selfs minder van Australië hou – iewers moet mens tog darem die streep trek.

Trouens, van Australië gepraat: wat my aanbetref is dit natuurlik die heel slegste nuus met betrekking tot hierdie jaar se Wêreldbeker-sokker, naamlik dat die span van Doer Onder ook daar gaan wees. Dis erg genoeg wanneer die klomp by elke ander Wêreldbekertoernooi en Olimpiese Spele opdaag met hulle bruin lywe en hulle arrogante houdings en hulle irriterende aksente en dan voortgaan om die verrigtinge heeltemal te oordonder; dit was derhalwe heel verfrissend dat hulle die afgelope 32 jaar nooit kon kwalifiseer vir sokker se Wêreldbeker nie. Maar daar’s ongelukkig niks wat ons nou daaraan kan doen nie, behalwe om luidkeels vir die spanne van onderskeidelik Japan, Kroasië en Brasilië te skree wanneer hulle beurte maak om vir Australië aan te durf in Groep F.

Maar om terug te kom na my besluit om die Engelse te ondersteun. Het ek mooi gedink daaroor? Kon ek nie maar ‘n ander span gekies het nie? Wat van Holland, waar baie van my voorouers immers vandaan kom? Of Frankryk – die bloed van die Hugenote vloei tog ook mos heel sterk deur my are?

Wat van een van die Afrika-spanne? Angola, byvoorbeeld? Nee wat ek dink nie so nie; ons was net nou die dag nog immers in ‘n oorlog met hulle betrokke op die Suidwes-grens. Kan nie meer lekker onthou hoekom ons op mekaar geskiet het nie, maar nogtans. En ja, dit was heelwat meer onlangs as die Boere-oorlog, ingeval jy my dalk weer aan dié wil herinner.

Tunisië? Nee wat dankie, ek het nou nog ‘n appeltjie met hulle te skil nadat hulle ‘n jaar gelede met die Springbokke afgereken het in die sewes-rugbytoernooi in Hong Kong. En die land lê noord van die Sahara – dis nie rêrig Afrika nie.

Togo? Ek weet nie eers waar dit is nie. Is jy seker dis in Afrika? Is dit nie ‘n eiland naby Nieu-Seeland nie? O nee, dis Tonga…

Wat van Ghana? Of die Ivoorkus? Miskien. Maar kom ons wees nou maar heeltemal eerlik: albei hierdie lande is op die ou end bitter ver van Suid-Afrika af, ek het die plekke nog nooit besoek nie, ons verstaan nie mekaar se tale nie, en ek ken nie eers een persoon wat daarvandaan kom nie.

Dit bring my terug by my geliefde Moddereiland, hier waar ek in die sweet van my aanskyn my brood verdien en belasting betaal, waar ek dag vir dag koudkry en swaarkry en lekkerkry en natreën en toustaan en vir die bus.

Dis nou al amper drie en ‘n half jaar wat ek hier in Engeland bly, en noodwendig gebeur dit op die ou end dat die plek op ‘n mens groei. Ek wil tog nie vir die res van my lewe soos ‘n besoeker wil voel nie, of hoe? En as ek dan nou regtig lank genoeg hier gaan wees om op die ou end ‘n Britse paspoort te verwerf, is dit ook niks minder as reg nie dat ek die land se sportspanne moet ondersteun waar ek kan. Behalwe miskien wanneer hulle teen Suid-Afrika op die veld draf.

My oorlede pa was ‘n Kapenaar wat in die fleur van sy lewe Johannesburg toe getrek het; dit was baie jare gelede, toe ekself nog maar ‘n blink idee in sy agterkop was. Maar hy het homself met oorgawe in die Goudstad gevestig, en op die ou end was hy die getrouste Transvaal-ondersteuner wat jy ooit kon teëkom. Volgens hom was dit eenvoudig: daar waar jy ‘n lewe maak, daar behoort jou lojaliteit ook te lê.

Dis ‘n beginsel wat ek probeer toepas het toe ek Johannesburg verlaat het in die middel-negentigs en my in die Kaap gaan vestig het. Maar al het ek sewe jaar lank aan die hange van Tafelberg gebly, en al beskou ek dit vandag nog as my “huis” (veel eerder as Johannesburg self), kon ek nooit vat kry aan die WP nie.

Ek dink dit het onder andere iets te doen met die koerante wat mens lees. Wanneer jy grootword in ‘n bepaalde area of lank genoeg op een plek bly, kom jy nie regtig agter hoeveel die plaaslike nuusblaaie hulle skuldig maak aan eensydige beriggewing nie. Jy beskou dit maar net as normaal wanneer elke plaaslike speler opgehemel word en wanneer al die skeidsregter se beslissings teen jou span bevraagteken word.

Maar wanneer jy trek, is die teenoorgestelde waar: skielik sien jy al die vooroordele raak, want die span vanwaar jy vandaan kom, trek nou aan die kortste ent in al wat sportverslag is. In my sewe jaar in die Kaap het dit my so dwars in die krop gesteek, dat ek op die ou end maar aangehou het om vir Transvaal te skree.

Toe verhuis ek Londen toe. Noodwendig het die Engelse koerante intussen my brood en botter geraak, en weer eens is die effek van die plaaslike vooroordele vir my interessant – veral in die geval van span-sportsoorte soos rugby en krieket waarmee ek van kleins af identifiseer. Maar in die geval van sokker is dit effens anders: omdat ek voorheen nooit regtig ‘n sokker-ondersteuner was nie, en omdat ek nie juis Suid-Afrikaanse spelers ken nie, is dit vir my makliker om vandag die tipiese Engelse joernalis se bona fides te aanvaar wanneer dit by sokker-verslaggewing kom.

En so kom ek geleidelik onder hulle invloed. Ek begin om met die Engelse spelers te identifiseer. Ek hou van Steven Gerrard en Michael Owen en Sol Campbell; hulle lyk vir my na soliede mense. Ek kry vir Wayne Rooney jammer, nie omdat hy ‘n seer toon het nie, maar omdat hy maar so gemaak en so gelaat staan is, soos my ma altyd gesê het. En partykeer voel dit amper vir my asof ou Sven-Goran en ek basies op voornaamterme is.

Dis dan ook die hoofrede hoekom ek vir Engeland gaan skree in die Wêreldbeker: dis die enigste span wat ek “ken”. Nie net dit nie, maar op die ou end volg ek eintlik mos maar net my pa se voorbeeld – al het Pa self net mooi niks van die Engelse gehou nie. Ek kan maar net hoop dat hy nie vandag in sy graf omdraai omdat ek wel ‘n hensopper en ‘n joiner is nie.

Laaste maar nie die minste nie, dink ek in elk geval dat Engeland waarskynlik op hulle herrie gaan kry nog lank voor die toernooi verby is. Met ander woorde ek dink nie hulle is naastenby soveel van ‘n gunsteling om as kampioen uit die stryd te tree as wat Londen se koerante wil voorgee nie. Al het Wayne Rooney dan ook ‘n gesonde toon.

So, dis nog ‘n rede om hulle te ondersteun: ek het mos laasweek gesê ek skree vir die onderhond!


Voetstoots van Tonder
11 Junie 2006

Sunday, June 04, 2006

Lank lewe die onderhond!

Photobucket - Video and Image Hosting

Nee, dis nie die Rooi Kruis se vlag nie – dis Engeland s’n. Of eintlik die vlag van St George, om meer spesifiek te wees. Op die oomblik kan jy nie beweeg in Londen nie, of jy sien die ding wapper. Mense maak dit vas aan hulle motors se lugdrade, hulle hang dit voor hulle woonstelvensters, hulle verkoop sexy onderklere en eetgerei en meubels wat versier is met die wit en rooi motief. Almal in Engeland is behoorlik Wêreldbeker-bedonnerd.

As jy nie weet watter sport dit is waarvan ek praat nie, check jou pols. Al wat koerant is, elke televisieprogram, elke gesprek in elke pub in elke gehuggie in Engeland fokus immers die afgelope tyd net op sokker, sokker en nogmaals sokker As dit nie Wayne Rooney se toon is nie, is dit Peter Crouch se robot-dans, of David Beckham se posh partytjie. Dis genoeg om van siek te raak.

Net nou die dag nog het ek geskryf dat ek nie veel belangstel in die sport van die sokkerboewe nie, ‘n tekortkoming wat ek toeskryf aan ‘n Christelik-Nasionale opvoeding in die apartheid Suid-Afrika van die 1970’s. In daardie selfde artikel het ek verder aangekondig dat ek nie net lojaal anti-Chelsea is nie, maar ook dat ek voortaan vir Barcelona sal ondersteun – al was ek nog nooit in Spanje nie. En ek’s bly om te kan rapporteer dat ek darem ‘n paar pondjies in die proses gewen het, want “my” span het toe mos voortgegaan en intussen wel die Kampioenskapsliga gebuit.

So, jy sien, ek is definitief besig om sag in die kop te raak. Maar vir ‘n rooibloedige man op Moddereiland is dit bykans onmoontlik om langer as ‘n jaar of twee op die plek te oorleef sonder om uiteindelik so ‘n bietjie van ‘n gevoel vir die sport te ontwikkel. Ek dink dis die breinspoeling wat jou op die ou end onderkry, die dominansie van sokker op televisie, in die koerante, in elke advertensie vir enige produk onder die son, in gesprekke by die werk en oor ‘n bier.

My Bybel-juffrou het definitief haar tyd gemors toe sy my destyds gewaarsku het teen daardie sublieme advertensie-flitse wat Hollywood se mense na bewering in die rolprente plaas, en musieksnitte met versteekte boodskappe wanneer jy popliedjies agteruit speel (iets wat in elk geval ‘n bietjie moeilik is in vandag se ipod-generasie – behalwe miskien wanneer jou stelsel die dag sy bene in die lug gooi). Pleks het sy my maar net voorberei op al die sokker-propaganda wat ek eendag in die gesig sou moes staar.

Teen wil en dank het ek derhalwe nou ‘n bekentenis om te maak, en dit is dat ek eintlik nogal uitsien na Vrydagmiddag vyfuur wanneer Duitsland en Costa Rica op die veld draf vir die eerste wedstryd van hierdie jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi. Ek sien amper daarna uit soos ‘n klein seuntjie wat opgewonde is oor sy volgende verjaarsdag. Behalwe dat dit heelwat beter is as ‘n klein seuntjie wat verjaar: waar laasgenoemde gewoonlik nie veel beheer het oor al sy persente nie, weet ek presies hoe ek my tyd gaan spandeer wanneer die fluitjie Vrydag blaas; my vriende is opgelyn, en die twee kaste bier wat ek op special by Sainsbury’s gekoop het vir agtien pond is reeds in die yskas.

Ja, jy’t reg gelees – agtien pond vir twee kaste bier. Met prysoorloë soos hierdie tussen die kleinhandelaars, wens ‘n mens sommer elke jaar is Wêreldbeker-jaar.

Maar vir wie gaan ek Vrydagmiddag skree, vra jy? Gee ek enigsins om wie wen tussen Duitsland en Costa Rica? Weet ek selfs waar Costa Rica is? Om die waarheid te sê, weet ek enigiets van Costa Rica, behalwe dat die land baie koffie het? En is ek selfs seker oor die koffie?

Ek dink Costa Rica is in Suid-Amerika. Of dalk is dit ‘n eiland, êrens in die Karibbiese see. Ek sou raai die mense daar praat Spaans, dalk Portugees. En ek vermoed hulle is donker van gelaat, met lang hare en hangsnorre.

Maar dit maak nie saak nie, Vrydag het hulle in elk geval my ondersteuning. Ons hou mos maar almal daarvan om vir die onderhond te skree. Maar is onderhond die korrekte Afrikaans vir underdog? En is ek selfs seker daarvan dat Costa Rica wel die onderhond is in hierdie wedstryd?

Sien, dis die ding wat sokker se Wêreldbeker so aantreklik maak. In elke wedstryd kan mens kies vir wie jy ondersteun, en dis altyd moontlik om jou keuse te rasionaliseer. Wat meer is, sokker is die tipe sport waar enigiets moontlik is, en dis heelwat minder voorspelbaar as iets soos rugby waar daar gewoonlik net vier of vyf spanne is wat hoegenaamd ‘n kans staan om die Wêreldbeker te wen.

Die vraag is egter: watter een van die 32 spanne gaan ek ondersteun vir die res van hierdie jaar se toernooi? Want net soos die dominee wat preek teen rondslaap, meen ek dis nie reg dat ‘n mens net van wedstryd tot wedstryd telkens ‘n ander span kies nie; êrens moet jy darem ook ‘n keuse maak van ‘n nommer een span wat jy deur dik en dun sal ondersteun. En gegewe dat Bafana Bafana nie hierdie jaar daar is nie, beteken dit dat die tipiese Suid-Afrikaner ‘n hele lang lys van spanne het om uit te kies.

Glo dit as jy wil, maar ek het besluit om hierdie jaar vir Engeland te skree. Volgende week verduidelik ek hoekom; soos Dan Brown, probeer ek seker maak dat jy in spanning wag vir die volgende hoofstuk.

Maar kan iemand intussen vir my sê waar ek ‘n vlag van Costa Rica in die hande kan kry?


Voetstoots van Tonder
4 Junie 2006
< # afrikaans ? >