Sunday, October 29, 2006

Die trauma van trek

Photobucket - Video and Image Hosting

Na bykans vier jaar op Moddereiland het my woonstel uiteindelik te klein geword. Ek moes seker geweet het dat dit een of ander tyd sou gebeur: nêrens is daar meer plek vir al daai boeke wat ek aanhou koop ten spyte van die feit dat ek meeste van hulle seker nooit eers sal lees nie.

Traumatiese ding, trek. Veral in ‘n plek soos Londen. OK, dis nie miskien nie heeltemal so traumaties soos daai Saterdagaand aan die begin van 2003 toe ek die vliegtuig in Kaapstad bestyg het op die vooraand van ‘n nuwe lewe in ‘n ander land nie. En tog voel dit vir my moeiliker as enige ander trek wat ek nog ooit aangepak het.

Dis min of meer soos tandpyn. Want as iets met jou gebit skeefloop en jy moet so dringend as moontlik by die vriendelike omie tandarts uitkom, is dit redelik moeilik om heeltemal analities en objektief daaroor te wees en aan te kondig: hierdie is net mooi die tweede ergste tandpyn wat ek nog ooit gehad het – seerder as die keer toe die laerskool-boelie my op die mond geslaan het, maar nie heeltemal so erg soos daai dag in Standerd 7 toe ek per ongeluk die tjoppie se been raakgebyt het nie.

Nee, dis nie hoe dit werk nie. Enige tandpyn is die ergste ooit, alle voriges vergete, die einde van die wêreld oënskynlik net om die draai.

En dis presies hoe dit vir my is wanneer ek hierdie week se trek in die gesig staar.

Hoekom is dit so ‘n groot ding om van A na B te verhuis in ‘n stad soos Londen? En om welke rede voel dit soveel erger as enige trek wat ek nog ooit voorheen in Suid-Afrika aangepak het?

Wel, in die eerste plek is daar die daaglikse pendeltog om in gedagte te hou. (Alhoewel ek nie heeltemal seker is oor die woord “pendel” nie: noudat ek daaraan dink, klink dit byvoorbeeld nie naastenby so sieldodend soos die Engelse se “commute” nie. Nee wat, om te pendel klink vir my redelik gesofistikeerd, effe eksoties, selfs ‘n bietjie genotvol – nie naastenby soos ‘n rukkerige rit op ‘n stampvol moltrein saam met ‘n horde mense wat ‘n week laas gebad het nie).

Dink so daaraan: as jy trek van die een kant van Johannesburg of Kaapstad na die ander kant toe, is daar waarskynlik geen groter aanpassing om te maak as om ‘n nuwe roete na jou kantoor toe te leer ken nie. En as jy regtig ongelukkig is, vat die hele oefening dalk vyf minute langer elke dag – in jou luuksemotor, met die lugversorging aan, en jou gunsteling CD’s wat saggies in die agtergrond speel.

Maar in Londen trek jy ‘n myl of minder en voor jy weet, land jy op ‘n heel ander lyn van die ondergrondse vervoerstelsel. En skielik beteken dit dat jy nie meer kan reken op ‘n ononderbroke rit tot by jou daaglikse bestemming nie. Want voortaan sal jy by Oxford Circus moet afklim – saam met tienduisend toeriste – en wissel.

Ai.

Dis ook nie al nie. Want het jy al gedink daaraan dat jy voortaan by ‘n nuwe bakkery sal moet aanklop vir ‘n croissant op ‘n Saterdagoggend? Asook ‘n ander Starbucks – en wie weet hoe lank dit die mense agter die toonbank sal vat om te leer dat jy jou cappuccino verkies met ‘n bietjie minder skuim? En sal dit nog hoegenaamd prakties wees om aan te klop by my gereelde haarkapper van die afgelope paar jaar?

Ja- nee, dis die klein dingetjies wat ek die heel meeste gaan mis. Dis die ding van Londen: jy hoef nie eers ver te trek nie, en dit voel amper asof jy emigreer. G’n wonder die hele oefening is vir my so traumaties nie.

Dis so anders as in Suid-Afrika, waar jy heel waarskynlik nog by dieselfde winkelsentrum kan aandoen op ‘n Saterdagoggend – selfs nadat jy ‘n hele ent weggetrek het. En jy kan soontoe ry, en maklik parkeer, vir goedkoop.

Dan praat ek nie eers van die praktiese realiteite van die Londense trek self nie. Vat byvoorbeeld die Australiër wat jou help om jou karige paar besittinkies te verskuif. Teen die prys wat jy vir die hom en sy trok betaal, kan die man waarskynlik vir ses maande oorleef saam met al nege sy huismaats in Earls Court.

Erger nog, is die feit dat jy moet onthou om ‘n week voor die tyd by die plaaslike parkeer-owerheid uit te kom om te reël dat daar ‘n stilhouplek is – ‘n verdere twintig pond se skade. En dit net sodat die Aussie sy trok vir ‘n uur of twee kan parkeer.

Maar tog probeer ek hard om positief te bly terwyl ek so sit en bokse inpak. En skielik besef ek hoekom die woord “doos” in Afrikaans sulke lelike konnotasies het. Want myns insiens is dit heel normaal vir enigiemand wat met soveel van die goed sit, te midde van die warboel van ‘n half-klaar trek rondom hom of haar, om in ‘n redelike negatiewe gemoedstoestand vasgevang te word.

So hoe kan ek dan wel positief bly tussen al die bokse; hoe kan ek glimlag te midde van die tandpyn-trauma van trek?

Dis voorwaar nie maklik nie, maar daar’s wel een gedagte wat my aan die gang hou. Want ek sal miskien ‘n nuwe bakkery en ‘n ander Starbucks en ‘n plaasvervanger-haarkapper moet vind. Maar behalwe daar plek gaan wees vir meer boeke, is daar ten minste nog een ander aspek van my nuwe blyplek wat ‘n verbetering is op die vorige: daar’s ‘n Nando’s net om die hoek.


Voetstoots van Tonder
29 Oktober 2006

Sunday, October 22, 2006

‘n Loopdop saam met Jay Z en Beyoncé

Photobucket - Video and Image Hosting

Daar drink ek toe sowaar vir Jay Z en Beyoncé raak ‘n week gelede. Wie is dit, hoor ek die mense vra, en hoe het ek hulle ooit herken? Goeie vrae, dié. Maar ek kan verduidelik.

Die geleentheid was my ma se 80ste verjaarsdagpartytjie in Johannesburg. Nee, Jay Z en Beyoncé was nie op die gastelys nie. En nee, dit was ook nie my ma of haar 87-jarige broer wat die paartjie vir my uitgewys het nie.

Maar soos dit enige behoorlike 80ste verjaarsdagpartytjie betaam, was dit nie net my ma se kinders en haar 87-jarige broer en haar vriende uit die aftreeoord wat teenwoordig was nie, maar ook ‘n hele rits kleinkinders wat uiteraard behoorlik in voeling is met die moderne wêreld (die enkele agterkleinkind, 11 maande oud, het by die huis agtergebly om die kinderoppasser geselskap te hou).

Die jongste kleinkind, my broer se dogter Nerine, is dertien jaar oud. Vroegaand, toe die twee van ons vir die eerste keer in ‘n lang tyd herontmoet en vinnig die laaste jaar of wat se nuus uitruil, vra ek in watter standerd sy deesdae is.

Standerd 5, Oom, kom die antwoord, terwyl sy tog te pragtig vir my glimlag deur die draadjies in haar tande. Maar noem julle dit nie deesdae Graad 7 nie, vra ek. Ja, Oom maar wanneer ek met ou mense praat, sê ek maar altyd Standerd 5, anders word hulle net deurmekaar.

Wys jou net: alles is darem maar relatief. Daar is ek, die jongste van vier kinders, die laatlammetjie van die gesin, by my eie ma se verjaarsdag, en my broerskind laat my oud voel.

Eina.

Later die aand, toe die kos op is en die toesprake verby, toe die mense wat selfs ouer is besluit om terug te gaan aftreeoord toe, is dit tyd vir ‘n loopdop vir die res van ons. Pragtige woord, loopdop – een van my gunstelinge in Afrikaans. Dis amper heelbo-aan my lys, saam met gatvol en dooswyn.

Wat my terugbring by Jay Z en Beyoncé. Want soos die toeval dit wil hê, is ons toe nie die enigste mense wat lus is vir ‘n loopdop skuins na middernag by hierdie betrokke hotel nie. Eers later sou ek uitvind dat Jay Z en Beyoncé en hulle hele geselskap die aand daar oorgeslaap het.

En het hulle ‘n geselskap! Daar was seker omtrent tien of twaalf van hulle wat die hele tyd saamgekoek het, elkeen meer cool as die vorige een – dis net “hey bro’s” en high fives en helderkleurige cocktails en sigare en sonbrille en selfone wat afgaan waar jy kyk. En dit sluit nie eers die lyfwagte in nie: ses van die grootste lummels wat jy nog ooit in jou lewe gesien het. Rof en onbeskof en propvol steroïedes as jy my vra.

My broerskind begin op en af spring van opwinding. Sy’s die een wat vir Beyoncé herken het; sy’s die een wat vir ons verduidelik van hierdie popsangeres en Hollywood-aktrise, die superster in ons midde, ‘n heldin sonder gelyke in die lewe van ‘n dertienjarige.

En Jay Z, ‘n rap-sanger, is die man in Beyoncé se lewe. Meer nog: blykbaar is Jay Z eintlik die suksesvolle en bekende een van die twee. Wat beteken dat die man seker ‘n paar honderd miljoen dollar in die bank het, en dit alles net omdat daar genoeg skobbejakke in die wêreld is wat na hierdie tipe snert luister en dit dag-vir-dag aflaai op hulle ipods.

Ja-nee, besef ek, Nerine was seker in die kol toe sy vroeër vanaand gesê het dat ek ook nou oud is.

Intussen is al waarin my broerskind belangstel, om ‘n foto saam met haar heldin Beyoncé te kry. Maar moenie glo nie: voor jy kan sê “fris agterstewe”, spring die lyfwagte tussenbeide en hou haar weg van die sangeres asof Nerine ‘n terroris is wat by die Wit Huis probeer inbreek. Nie nou nie sê hulle, miskien later, Beyoncé ontspan nou.

O, is dít wat sy doen, antwoord ek amper, ek het nogal gewonder hoekom sit die stomme vrou so uitgestrek met haar ontwerperskoene op die koffietafel terwyl sy aan ‘n lang drankie teug. Maar ek sê maar eerder niks, want die lyfwag is omtrent twee voet en vyftig kilogram en sesduisend spiere groter as ek.

En daar sit ek toe, met ‘n glasie port in die hand, en ek dink aan die moderne wêreld se supersterre en dié se misplaaste sin van “belangrikheid”. Want as hierdie mense WERKLIKE groot figure was, soos ‘n Nelson Mandela of ‘n Biskop Tutu of ‘n Moeder Theresa of ‘n Prinses Diana, is daar geen kans dat hulle die toenadering van ‘n dertienjarige dogtertjie met sterre in haar oë en draadjies in haar tande op ‘n aand soos vanaand sou weier nie. Maar net omdat hulle genoeg geld het vir ses lyfwagte, dink hulle dat hulle ‘n hoër spesie is as die res van ons.

En skielik voel ek nog ouer as voorheen.

Die volgende dag lees ek in die koerante dat Jay Z in die dorp was vir ‘n optrede by die Dome in Northgate. Blykbaar het die man so baie geld gemaak in sy kort lewe dat hy deesdae net konserte hou vir liefdadigheid; sy gekose welsyn is een wat hulleself beywer vir water-verskaffing in die Derde Wêreld. En daar’s allerhande diep aanhalings waarin hy hom sterk uitspreek oor hoe belangrik dit is vir mense om toegang te hê tot skoon water.

Dis ‘n edele doelwit, dié, jy kan seker nie stry nie.

Net snaaks dat ek die vorige aand in die kroeg nie gesien het hoe Jay Z, of enigiemand anders in sy uitgelese geselskap, hulle monde aan selfs een glasie water sit nie.

Voetstoots van Tonder
22 Oktober 2006

Thursday, October 19, 2006

Ruggaboes, o Ruggaboes...

Die volgende stuk word geplaas met die vriendelike vergunning van die outeur, Kobus van Loggerenberg (vriend, teoloog, fynproewer, filosoof, huisbouer, oorlewende van vliegtuigongelukke, motorfietswerktuigkundige van formaat...en Vrystater!):

Ek sal my plig versaak as ek nie nou sonder om verder te versuim, jou op hoogte bring met die totale fokop wat Ruggaboes (met apologie aan die volksprofeet Casper de Vries) nou weer laas naweek in Bloemfontein veroorsaak het nie.

Soos dit ‘n goeie god betaam het Ruggaboes daarin geslaag om met vergesigte van ‘n beter lewe in die ou Vrystaat gewone sterfelinge op te sweep tot ‘n fanatiese malende oranje golf wat ‘n tsoenamie na ‘n blote rimpeling in ‘n visdam laat lyk het. Mense, geboue, karre, dooprokkies, kondome, lykswaens – alles is in Oranje getooi. Vrouens het gebedsgroepe gestig en die singende volksdigter – Leon Schuster – het ‘n meesleurende loflied vir die Cheetas – Ruggaboes se voetsoldate – gekomponeer. Vanuit motorkarre, ghettoblasters, kerktorings, winkelsentrums het Leon met sy affie-plaas-afrikaans vir ‘n week lank opruiend gejuig - Hol daai Cheeta hol, almal raak so dol as daai Cheeta so hol - of so iets.

Maar die wat die meeste gehol het was die arme blikskottels wat desperaat kaartjies gesoek het om op die dag van die wederkoms van die Curriebeker deur die poorte te kon gaan. Die onsinnigheid en onverklaarbaarheid van die uitverkiesingsleer waar die ywer van die vromes (die wat Saterdag na Saterdag deur wind en reen die Cheetas ondersteun het) moes plek maak vir die opportunisme van ander (dis wie jy ken, swaer) het soos dit in enige respektabele religieuse konteks hoort tot vurige debatte, vuisgevegte, kommissies van ondersoek en selfs interdikte gelei.

En terselfdertyd, soos dit ‘n goeie god betaam, was Ruggaboes aan die anderkant van die Jukskeirivier natuurlik slinks besig om die armes van gees daar te oortuig dat hy eintlik meer hou van blou, dat die beker eintlik hulle sin is. Hoe blouer, hoe beter…

Selfs semi-gode soos Robbie Leeuloop Wessels (Oranjespan) en Steve-ek-bliksem-jou-nou Hofmeyer (Blouspan) het tot die stryd toegetree (ek gaan nie nou die leeu-loop ding verduidelik nie – ek is bang jy skrik so groot dat jy besluit om nooit weer terug te kom nie). Groete en bemoediging het uit alle oorde ingestroom – selfs die Goeie Biskop van Kaapstad is ingevlieg Bloemfontein toe om sy geliefde Cheetas te kom ondersteun.

En toe – op die groot dag – kon jy die matige dreuning hoor, die lied van ‘n volk se herontwaking, wat harte laat sidder en beef - Oranje Bliksem Blou! ORANJE BLIKSEM BLOU! Van vroegdag al is skape en beeste geoffer, Bachus het vir Ruggaboes om die hals geval en hom ‘n paar sterk doppe ingejaag en dis net hier waar die fokop begin het. Want iewers in die tyd het Ruggaboes konfoes geraak en Ollie le Roux net te moeg. Rassie Erasmus, die geliefde, het wanhopig ligte geflits en sy kleurkaarte geswaai (ek gaan dit ook nie probeer verduidelik nie, dis nog moeiliker as die leeuloop en die uitverkiesing saam).

Na 80 moordende minute – 25 punte elk. Na nog 20 minute ekstra tyd- 28 punte elk. En toe die eindfluitjie finaal vir ‘n tweede keer geblaas het, het daar ‘n kolosale kollektiewe babelas soos ‘n donker wolk oor die stad neergedaal. En die vraag op menige vrome lippe was - Fok, Ruggaboes, wat is nou die sin van gelykop speel?

Intussen het dinge weer na normaal begin terugkeer. Daar was selfs gister ‘n kort,maar kragtige haelstorm, met die nodige bliksemstrale en donderslae, asof iemand net ‘n slag die stad weer wou skoonkry.

Maar soos Koos Kombuis gesing het van sy pel Johnnie - Ruggaboes is nie dood nie, hy’s net uitgepaas.

Kobus van Loggerenberg
18 Oktober 2006

Monday, October 16, 2006

'n Naweek van nostalgie

Photobucket - Video and Image Hosting

Het jy geweet dat ‘n mens se neus en ore nooit ophou groei nie? So sê my Chappies-papiertjie, in alle geval. “Feit” nommer 47, vir wat dit werd is.

Kan dit regtig waar wees? Ek weet my neus is nie klein nie, maar die ding is darem seker nie groter as laasjaar hierdie tyd nie, of hoe? My naam is tog nie Pinocchio nie? En dis darem ook heel anders as ‘n mens se hare, wat natuurlik wel heeltyd groei, maar dit word darem elke nou en dan gesny?

Maar dit moet waar wees: die Chappie-papiertjie sê so.

Die Chappie self, ‘n groene, is in my mond. Nou-nou, as hy lekker deurgekou is, gaan ek ‘n borrel blaas. Hoop ek kan nog.

Die stukkie gom het ek vroeër vandag gekoop by Betty’s Tea Room, ‘n eetplek by 44 Stanley Avenue in Johannesburg. Dertig sent daarvoor betaal. Kan jy glo: toe ek ‘n kind was, het ons twee vir ‘n sent gekry. Gewoonlik het die kafee-eienaar sommer vir ons een of twee daarvan gegee in plaas van kleingeld. Dis ‘n wonder dat ek nie opgeëindig het met selfs meer stopsels in my tande nie.

Behalwe vir die hare wat op jou ore begin groei, is dit die die seker die duidelikste teken dat ‘n mens self begin oud word: as jy eers begin om nostalgies te raak oor die pryse van jou kleintyd. Halfsent vir ‘n Chappie, een sent vir ‘n Wilson’s toffie, vyf sent vir ‘n pakkie chips. Dis wat ons betaal het in die vroeë sewentigerjare, voordat ons lekker verstaan het van inflasie.

Nou verkoop Betty’s Tea Room een Wilson’s toffie vir 50 sent. Miskien moes ek meer van die goed gekoop het toe ek ‘n klein seuntjie was – bloot as belegging. Oor die laaste dertig jaar of wat het die prys van Chappies en Wilson’s Toffies immers meer gestyg as dié van eiendomme (as jy persentasiegewys daarna kyk, in elk geval).

Maar so van eiendom gepraat: terwyl ek die naweek in Johannesburg was vir my ma se tagtigste verjaarsdagpartytjie, het ek sommer ook vinnig gaan kyk na die huis waarin ons gesin al die jare gebly het. Die plek lyk nog basies dieselfde, behalwe natuurlik vir die hoë tralieheinings (geëlektrifiseerd aan die bokant) wat intussen hulle verskyning gemaak het bo-op die lae steenmuurtjie van my kinderjare. Ma sal verheug wees as ek haar vertel dat die roosboom wat sy altyd so gekoester het (die een naby die voordeur, met die geel rose), in ‘n goeie toestand is. Lyk my die Indiërs aan wie sy verkoop het, kyk mooi na die plek.

Af in die pad is die ou NG Kerk waar ons hele gesin elke Sondag ons plekke ingeneem het. Langs die kerk is ‘n paar tennisbane wat ewe besig was op die tipiese Sondagoggend. Die lede van die tennisklub het dit juis maklik gemaak vir die dominee om ‘n teiken te kies wanneer hy gepreek het oor die mens en sy sondige natuur: nooit hoef hy verder te gekyk het as die tennis-spelers langsaan wat mos eintlik ook op die kerkbanke gehoort het nie!

Vandag is die kerk vervalle en daar’s onkruid en gras wat groei uit die krake op die tennisbaan. Die stryd tussen die twee opponerende belangegroepe het duidelik geen wenners opgelewer nie.

Op met die bult en af aan die anderkant lyk Meville ook heel anders. Ek herken amper nie een van die winkels of restaurante nie. Die Scala haarkappersalon is wel nog waar hy altyd was, net om die hoek op Vierde Laan…ek wonder of ou Fred nog daar is?

Ek ry verby die hoek waar die Melville Swembad destyds was. Laerskooldae het ons sommer afgestap soontoe om te gaan swem in die LO-periodes; deesdae is daar ‘n inkopiekompleks. Skuins-oorkant die pad, waar die Melville Hotel eens gestaan het, is daar ‘n winkel wat beddens verkoop. Asook ‘n Hustler Adult Shop. Praat van vertikale integrasie.

Nie ver van daar af nie is Wespark se begrafplaas. Pa lê ook al meer as twaalf jaar daar, maar ek sal maar anderdag weer na die graf gaan kyk. Dis tyd dat ek koers kry lughawe toe.

‘n Goeie naweek kom tot ‘n einde. Dit was heerlik om al die familie weer te sien. Die ou mense word ouer en die kinders word vinnig groot.

Dis die prys wat jy betaal as jy nie bly waar jou mense is nie: jy sien hulle te min, jy mis uit op baie detail. En af en toe probeer jy opvang, so veel en so vinnig as moontlik. Jou kontak met geliefdes word gereduseer tot ‘n mikrogolf-verhouding.

Ek blaas ‘n borrel: nie te groot nie, maar lekker stewig. Dan blaas ek hard en vinnig uit, tot die ding bars met daai kenmerkende klapgeluid. Lyk my mens verloor darem nooit die slag nie. Ja-nee, dis net soos fietsry. Wat my laat dink: miskien moet ek weer probeer fietsry ook, soos toe ek klein was.

Maar intussen wonder ek steeds oor my groeiende neus.

En kan iemand asseblief vir my sê hoekom is daar nog steeds sente in Suid-Afrika, as jy dan dertig van hulle nodig het om net een Chappie te koop?


Voetstoots van Tonder
15 Oktober 2006

Sunday, October 08, 2006

Vir ‘n cool Ma, op haar 80ste verjaarsdag

Photobucket - Video and Image Hosting

Haai Moeder!

Met nog net ‘n week of wat voor Ma se 80ste verjaarsdag, het ek dit maar goedgedink om solank ‘n ou briefie te skryf. Hoe lank vat dit in elk geval deesdae vir die slakkepos om van Londen af tot in Johannesburg uit te kom?

Dis tog jammer dat die email-ding nie so lekker werk daar by die aftree-oord nie. Maar gelukkig weet ek darem ook dat Ma nie heeltemal agtergebly het met ál die tegnologie nie. Dit was byvoorbeeld veral lekker toe ek destyds begin het om teksboodskappe van Ma se selfoon af ook te ontvang.

Hoe cool is dít!

Teksboodskappe is mos hoe ons na sms’e verwys hier in Engeland, Moeder. En dis heel indrukwekkend dat Ma se kleindogters vir Ma geleer het hoe om die goed te stuur. Maar waaroor ek veral dankbaar is, is dat Ma die selfoon se klein knoppies met soveel vaardigheid kan hanteer. Toe hy nog gelewe het, het Pa mos altyd gesê dat die twee van julle jul vingers vir ons stompgewerk het – so ek weet nie regtig hoe kry ma dit reg nie…

Ek wil egter terugkeer na die verjaarsdag toe. En ek besef dat Ma nog altyd trots was daarop dat Ma die dag deel met Ernie Els, maar het Ma geweet dat Evel Knievel en Eminem ook op die 17de Oktober gebore is?

Hoe cool is dít!

Ek moet sê, as ek so kyk na al die mense wat saam met Ma verjaar, weet ek egter nie wat ek eintlik moet dink van die hele “wetenskap” van astrologie nie. Kan dit regtig waar wees dat mense wat op dieselfde dag verjaar, die belangrikste persoonlikheids-eienskappe deel?

Vat byvoorbeeld vir Ernie Els. Die man het so ‘n rustige gholfswaai, Moeder, dat die mense na hom verwys as die Big Easy. Dit lyk nooit asof hy homself bekommer oor enigiets in die hele wêreld as hy op die gholfbaan rondloop nie.

En dis darem maar so anders as Ma, wat altyd bekommerd was oor die kinders, en nagte lank wakkergelê het wanneer ons laat uitbly by partytjies. Vandag is ek jammer oor al die slaap wat ek Moeder gekos het. Maar ek is ook dankbaar vir die besorgdheid, en as ek dalk eendag self kinders het, sal ek dit waarskynlik ook doen.

Ek weet ook nie regtig hoeveel van ‘n ooreenkoms daar tussen Ma en Evel Knievel is nie. Ma weet mos wie hy is? Daai Amerikaner wat met ‘n motorfiets oor rye en rye busse gespring het en homself elke nou en dan in die proses afgeskryf het?

Nie net het ek Moeder nog nooit op ‘n motorfiets gesien het nie, maar Ma het my ook ‘n heel ander benadering tot risiko geleer. Ek sal Ma se woorde altyd onthou: moet tog nie kanse vat nie my kind, gaan deur die lewe met jou oë oop en jou gulp toe…

Dis seker hoekom ek op die ou end ‘n rekenmeester geword het. Dankie daarvoor Moeder. Dis definitief beter as om in busse vas te jaag vir ‘n lewe.

En wat van Eminem? Ek sal Moeder nie blameer as Ma nog nooit van hom gehoor het nie. Die man is ‘n sanger, alhoewel ek nie seker is dat ‘n mens dit sang kan noem nie. Meer spesifiek, is hy ‘n rapper, wat min of meer daarop neerkom dat hy aanhoudend praat oor geweld en allerhande dinge, en dit alles teen die agtergrond van temerige musiek. Alhoewel ek ook nie seker is dat mens dit musiek kan noem nie.

Maar miskien is daar tog ‘n ooreenkoms, want Ma was ook nog nooit op Ma se bek geval nie. Dankie vir Ma se voorbeeld, dit help my nou nog hier in Engeland waar ek dag vir dag moet probeer om myself in ‘n ander taal te handhaaf. Al doen ek dit dan ook in ‘n vrot aksent.

En dan is daar natuurlik ook nog een ander persoon wat saam met Ma verjaar, en dis ekself, Moeder.

Hoe cool is dít!

Uiteraard is daar nie baie mense wat kan sê dat hulle ‘n verjaarsdag deel met enige van hulle ouers nie. Maar ek moet sê, dis nogal lekker, veral as al die tannies van die buurt by Ma kom kuier vir koek en tee op die verjaarsdagoggend en nie een van hulle durf waag om te vergeet dat EK ook verjaar nie. Al daai ekstra persente het my waarskynlik ‘n bietjie van ‘n voorsprong in die lewe gegee.

Self het ek nog nie enige kinders waarvan ek weet nie, en ek kan ook nie seker wees daarvan dat ek ooit sal hê nie. Maar ek verstaan dat ek Ma seker deur heelwat pyn en lyding moes gesit het op Ma se verjaarsdag, al daardie jare gelede. So ek kan maar net om verskoning vra: ek het dit regtig nie aspris bedoel nie!

En wat van die astrologiese ooreenkomste tussen die twee van ons, gegewe dat ons dan saam verjaar? Pa het mos altyd daarvan gehou om te sê dat die kinders seker maar Ma se verstand gekry het, want hy het nog al syne. Maar dis nie waarvan ek praat nie.

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek in hoeveel opsigte ons presies dieselfde is. Partykeer vang ek myself uit dat ek selfs my arms vou soos Ma.

Daar is sommige aspekte wat ek wens ek kon verander – watter kind wil tog presies dieselfde wees as sy ouers, met al hulle nukke en grille? Maar tog sê ek dankie, want ek is seker wie ek vandag is as gevolg van Ma en Pa se invloed oor die jare heen. Dis sekerlik baie meer as net astrologie.

In kort Moeder, ek dink Ma is nogal cool.

Terloops, as ek sê Ma is cool, verwys ek nie na al die tye wat Ma koudgekry het oor die jare heen en ek dan ‘n trui moes aantrek nie. Wanneer iets cool is, is dit in, en in pas met die tye; dis byvoorbeeld min of meer die grootste kompliment wat iemand onder 30 jou kan gee.

So, ter afsluiting, ‘n paar verjaarsdagwense. Mag Ernie Els weer ‘n toernooi of twee wen. Mag Evel Knievel homself nooit weer afskryf teen ‘n bus nie. Mag Eminem bietjie stilbly vir ‘n slag.

En mag Ma altyd cool bly!


Voetstoots van Tonder
8 Oktober 2006

Monday, October 02, 2006

Die Engelse kan maar hulle seëninge tel

Photobucket - Video and Image Hosting

Almal weet dat e = mc2, maar niemand weet wat dit regtig beteken nie. Behalwe miskien vir Albert Einstein, en hy’s dood. En Stephen Hawking, natuurlik, maar dié sukkel ‘n bietjie om lekker te verduidelik.

As ek reg onthou, het my Wetenskap-juffrou my probeer leer dat dit alles iets te doen het met energie en die spoed van lig en, en, uhmmm… watookal. Ook bekend as die Relatiwiteitsteorie. Relatief moeilik, as jy my vra.

Drie minute in die geselskap van ‘n pragtige meisie is relatief kort, maar drie minute in jou baas se kantoor is relatief lank. Een haar op jou kop is relatief min, maar een haar in jou sop is relatief baie. Dis ‘n relatief goeie jaar vir die ekonomie, hierdie: swakker as laasjaar, miskien, maar ten minste beter as die jaar wat voorlê…

Dís die tipe relatiwiteitsteorie wat vir my sin maak.

Van my vriende werk in die beleggingswêreld. Feitlik alles wat hulle doen word gemeet – gewoonlik in relatiewe terme. Party van hulle probeer om een of ander aandele-indeks te klop. Vir ander is dit belangrik om meer geld te maak as wat jy op ‘n bankdeposito sou kon verdien. Die res is tevrede as hulle beter presteer as die firmas waarmee hulle kompeteer.

Met ander woorde dis een of ander relatiewe standaard wat geld, vir almal van hulle.

‘n Portefeuljebestuurder loop ‘n vriend van hom raak wat in dieselfde industrie werk. Is jy gelukkig getroud, vra die kêrel. Relatief tot wat, kom die teenvraag oombliklik.

Dis hoe die meeste van ons ook ons lewens inrig. Dis immers hoekom die Engelse praat van “keeping up with the Joneses”. Maak nie saak hoe goed of sleg dit met ons gaan nie, maak nie saak hoe arm of ryk ons is nie, solank ons net beter doen as ons bure of ons vriende of ons kollegas of ons ouer sussie of ons jonger boetie of ons ouers, toe hulle so oud was soos wat ons nou is.

Of die Joneses – wie op aarde hulle ookal is.

Jy ken mos daai flou grappie van Kallie Knoetze en Mike Schutte in die leeupark toe die Landrover breek en Kallie sy hardloopskoene aantrek. Mike wil hom doodlag want hy weet dat Kallie nie vir die leeus sal kan weghardloop nie, maar ‘n selfvoldane Kallie weet dat hy net vinniger as Mike hoef te hardloop.

Ja-nee, relatiewe prestasie is al wat saakmaak.

Van kleins af word dit by ons ingeprent. Wie staan eerste in die klas? Watter seuntjie of dogtertjie hardloop vinniger as die res? Spring verder? Of hoër? Of teken mooier? Of sing ouliker? Of sê beter gediggies op?

Dit alles is deel van Maslow se hiërargie van behoeftes. Nadat ons uiting gegee het aan dit wat ons nodig het om te oorleef op ‘n basiese vlak, probeer ons voortplant. Daarna kom ons sosiale hunkering aan die beurt (met ander woorde ons wil deel wees van een of ander groep).

Maar die hoogste strewe van alles, is die ego: ons probeer uitstaan binne die groep.

Dis hoekom die ryk mense in die duur huise teen die koppies bly. Dis hoekom Sol Kerzner met die een model en skoonheidskoningin na die ander trou. Dis hoekom Russiese olieboewe die sokkerklubs opkoop.

Dit is die Engelse pers wat my die afgelope maand of wat aan die dink gesit het oor die hele begrip van relatiwiteit. Die laaste paar weke kan jy mos nie ‘n koerant oopmaak nie, of jy sien een of ander berig oor ‘n aansitterige Tony Blair se laaste dae as Engelse premier en die norse Gordon Brown wat hom in alle waarskynlikheid gaan opvolg. Of dalk David Cameron, ‘n japsnoet met rooi wangetjies, as die Tories hulle sin kry.

En almal is in sak en as. Die Arbeidersparty gooi klippe na Cameron se kant toe, want dié is besig om voor te loop in die meningspeilings ten spyte van ‘n skreiende gebrek aan enige duidelike beleidspunte. Net vir ingeval, berei die Konsertawiewe Party hulle voor op die ondenkbare: ‘n vierde agtereenvolgende nederlaag by die stembus, en vyf jaar se regering onder leiding (of moet ek sê lyding?) van ‘n vervelige Skot wat nie weet hoe om te glimlag nie. Intussen veg Menzies Campbell en sy Liberaal-Demokratiese kollegas vir oorlewing.

Dis darem maar erg, né. Die politieke toekoms in Engeland lyk nie lekker nie. En jy het gedink globale verwarming of die toestand van Springbokrugby is ‘n probleem.

Maar daar is natuurlik ook ‘n ander brokkie nuus wat ‘n week of twee gelede redelik wyd gerapporteer is in die Engelse pers, en dit is die kwytskelding van ons eie Jacob Zuma op aanklagte van bedrog. Nie net dit nie, maar ‘n dansende Zuma wat die jillende massas buite die hof opsweep is oënskynlik die enigste kandidaat om vir Thabo Mbeki op te volg wanneer dié se termyn binnekort tot ‘n einde kom.

Fantastiese nuus, as jy my vra. Nou sal niemand in Suid-Afrika ooit weer Vigs kry nie, want die president sê dat jy net moet stort om die probleem te bekamp. En die president se woord is mos wet, nie waar nie?

Maar hier is my vraag. Hoe verduidelik ek vir my Londense vriende dat die politieke landskap in Engeland op die ou end tog nie so erg is as wat hulle daarvan maak nie? Want Gordon Brown is miskien ‘n pateet relatief tot Winston Churchill en Margaret Thatcher, en dis dalk waar dat David Cameron so beginselvas is soos ‘n tweedehandse motorhandelaar.

Maar relatief tot die politieke stand van sake in Suid-Afrika en die toekoms van die presidentskap in die land van my geboorte, dink ek die Engelse kan maar hulle seëninge tel. Hulle kla definitief met die witbrood onder die arm.

Sal iemand asseblief vir die Joneses ook laat weet?


Voetstoots van Tonder
1 Oktober 2006
< # afrikaans ? >