Sunday, April 29, 2007

Almal hoop die struggle is verby…

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Praat Afrikaans of hou jou bek, aldus daai alombekende T-hemp wat die mense dra in die Tygervallei-winkelsentrum, Oppikoppi en die KKNK. En as daar nou een plek buite Bellville en Rustenburg en Oudtshoorn is waar hierdie boodskap behoorlik sin maak, is dit die Aardvark-pub in die Verre Ooste van Londen.

‘n Engelsman wat toevallig by die plek instap op soek na ‘n ale, skrik waarskynlik sy gat af – binne enkele minute sal die arme drommel voel soos jy en jou tjommie die dag toe julle per abuis in ‘n gay-pub beland het in die hoop dat die Bulls se wedstryd in die Super 14-kompetisie dalk daar sou wys.

Die personeel praat Afrikaans, die baniere teen die muur is in Afrikaans, daar’s biltong en daar’s Beyerskloof en daar’s Waterblommetjiebredie op die spyskaart (oftewel Pond Flower Stew in Engels – kan dit die korrekte vertaling wees?). Wat meer is, niemand kyk jou skeef aan as jy vra vir ‘n dubbel-Klipdrift en Diet Coke nie.

Maar hoekom verkoop julle dan Steinlager, vra ek vir Kobus die kroegman, kom hier baie Kiwi’s? Nee, sê hy, terwyl hy afbuk om een uit die yskas te haal. Maar om een of ander rede het die baas ‘n tyd gelede ‘n kas of twee daarvan gekoop, en juis omdat hier nié mense uit Nieu-Seeland opdaag nie, verkoop die goed glad nie. Dis nou totdat ekself natuurlik pas vir een gevra het.

Kobus is jonk en Kobus is vriendelik en Kobus is verskriklik entoesiasties; hy’s een van daai mense wat lewe in die oortreffende trap. Hierdie gaan gewis die LEK-kerste bier wees wat ek nog ooit gehad het! – belowe hy plegtig wanneer hy die Steinlager oorhandig.

Dis die tweede keer in my lewe wat ek myself in hierdie deel van Londen bevind. Dis ver van die huis af – twee treine én ‘n busrit ver, om presies te wees. Laasjaar het ek gekom om hulde te betoon aan Valiant, vanaand is dit Koos Kombuis se beurt.

Skuins na 6, wanneer die gehoor begin opdaag en Castle Lagers bestel word in afwagting op die vertoning later die aand, besef ek hoekom daar juis in hierdie deel van die wêreld so ‘n suksesvolle Afrikaanse pub is. Dis jongmense wat hier rond bly, opgeskote kinders op werksvakansies, pasgetroude dubbel-inkomste paartjies uit Stellenbosch wat nog werk aan daai Britse paspoort.

Die “ouer” garde, hulle wat al langer in Londen bly, al daai ex-pat Afrikaanse families met kinders op skool, woon mos in die buitewyke van Wimbledon. Met ander woorde ‘n hele dagreis ver van Rotherhithe af; geen kans dat enigeen van hulle vanaand hier gaan opdaag nie. Miskien luister party van hulle vanaand na een van Koos se CD’s terwyl hulle die boerewors braai wat die tannie vanoggend by die SA winkel aangeskaf het.

‘n Paar ure later, wanneer Koos Kombuis uiteindelik op die verhoog stap, is die applous voorspelbaar oorverdowend. Hallo almal, sê hy op sy verbouereerde manier, is julle al lankal hier? O, oukei, ‘n paar jaar al, antwoord Koos homself, en oënskynlik senuagtig giggel hy vir sy eie grappie.

En dan trek Koos los en hy begin vir ons sing. Hy doen ‘n klomp ou staatmakers sowel as ‘n paar onbekende liedjies wat blykbaar binnekort op sy nuwe CD gaan verskyn. “Al lê die bergies nog so bruin… al kamp die plakkers in jou tuin…” – so begin een van die songs.

Ek glimlag, vat ‘n sluk van my Steinlager en kyk om my rond. Feitlik deur die bank staan die mense in die gehoor met mekaar en gesels, baie van hulle skree sodat hulle mekaar kan hoor terwyl Koos sing.

Het die mense dan geen respek nie, wonder ek?

As Koos ‘n dosent was, het hy almal van ons vanaand uit sy klas uitgejaag, dink ek. Maar profesioneel soos wat hy is, gaan Koos onversteurd voort. Daar’s egter definitief iets wat ontbreek; dit voel asof daar geen konneksie tussen Koos en die mense in die gehoor is nie. Hy probeer byvoorbeeld nooit om ‘n geselsie met ons aan te knoop nie; dis asof hy maar net op meganiese wyse deur sy repertoire werk – so al tussen die slukke Beyerskloof deur.

Dan besef ek: dit alles maak seker sin. Want Koos Kombuis is vandag ‘n man in sy vroeë vyftigs, dít, terwyl die gemiddelde ouderdom van die mense wat om my staan en rook en drink en skree seker omtrent die helfte daarvan is.

Sien, toe Koos en kie agtien jaar gelede die Voëlvry-toer na die land se kampusse toe gevat het, het hierdie kinders se laerskooljare nog maar pas begin. En vandag ken hulle sommige van sy liedjies se woorde, nie omdat hulle nog ooit voorheen by een van sy konserte was nie, maar omdat hulle ouers destyds Koos Kombuis se musiek gespeel het op die kar se kassetspeler, op pad na die familie se strandhuis op Hartenbos.

Ja-nee, “almal wil ‘n huisie by die see hê”, bulder hulle dit saam met Koos uit. En “almal hoop die struggle is verby”…

Behalwe dat die mense om my nie eers kan onthou dat daar ooit ‘n struggle in ons land was nie. Inteendeel, hierdie jonger generasie se grootste struggle is om vir mense te oortuig dat Apartheid nooit hulle skuld was nie (hulle is immers te jonk om ooit vir die NP te kon gestem het).

Maar nou moet hulle wel struggle om werk te kry in die kompeterende landskap van Londen. En om Kobus die vriendelike kroegman se aandag te trek, want dis tyd vir nog ‘n Castle.

Maar niks meer te drinke vir myself nie, baie dankie. Dis laat in die aand, en persoonlik sal ek maar eerder my struggle aanpak om die treine en busse op pad huis toe te trotseer.

Voetstoots van Tonder
29 April 2007

Sunday, April 22, 2007

Beskou jouself as uitgetrap, Koos Kombuis

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

So, Koos Kombuis kom weer vir ons speel hier in Londen vandeesweek. Wat my laat terugdink aan Sylvia, ‘n meisie wat ek destyds op die District Line ontmoet het. Nie dat Sylvia enigiets gemeen gehad het met Koos Kombuis nie. Inteendeel. Maar laat ek verduidelik.

Jy sien, Sylvia het van Libanon af gekom, en in die somer van 2003 het ons ‘n paar keer uitgegaan. Dit was die eerste en die laaste keer wat ek iemand van Midde-Oosterse afkoms ge-date het; op die ou end het ons paaie geskei as gevolg van verskille wat gans en al onoorbrugbaar was.

Aanvanklik was die gesprekke tussen ons interessant, en ons kon die kulturele gaping tussen Johannesburg en Beiroet behoorlik ontgin. Daar was inderdaad heelwat om uit te vind van mekaar se lande, geskiedenis, tradisies en gewoontes.

Het jy geweet dat die mense ski in Libanon, byvoorbeeld? En dat hulle (blykbaar nogal goeie) wyn maak in die land? En dat jy voor laasjaar se ligte misverstandjie met die Israeliete, gereeld jongmense sou sien wat in die soel someraande buite straatkafees in die middel van die hoofstad sit en kuier sonder om noodwendig opgeblaas te word? En dat daar nie net Moslems is nie, maar heelwat Christene ook? En dat baie van hulle Frans as tweede taal praat? En so kan ek aanhou…

En natuurlik het ek haar vertel dat Kaapstad die mooiste plek in die wêreld is, en dat Nelson Mandela ongetwyfeld die grootste staatsman in die geskiedenis is, en dat ek die Springbokke ondersteun – al maak hulle my dan ook min of meer een keer per Saterdag in die seisoen so hartseer dat ek eintlik net wil huil.

Op haar beurt het Sylvia my weer geleer van Arabiese gebruike. Een aand by ‘n kunsveiling, byvoorbeeld, sit ek met my bene gekruis – totdat sy my daarop wys dat daar mense van Arabiese voorkoms in die gehoor is. En volgens Sylvia is dit een van die grootste beledigings in daardie kultuur om jou voetsole vir iemand te wys (plus minus die ekwivalent daarvan om een vinger in iemand se rigting te lig) (en ek bedoel nie jou duim nie). Onmiddellik het ek albei my voete stewig op die vloer geplant, en tot vandag toe nog bly die les my by elke keer wat ek in die openbaar ‘n sitplek inneem.

Soos jy bes moontlik kan dink, is al hierdie verskille is redelik interessant – tot op 'n punt. En vir die twee van ons het daardie punt aangebreek die dag wat ek besef het dat die aanvanklike opwinding van die verhouding verby is (dit gebeur mos maar met almal, op een of ander stadium…), dat die kultuurverskille ver genoeg ontgin is, en dat dit nou eerder tyd is om te fokus op wat die twee van ons gemeen het. En toe besef ek: maar ons het op die ou end net mooi niks gemeen nie (ek bedoel: sy is 'n meisie, en ek 'n ou, om maar net een voorbeeld te noem!)

Kort daarna gaan draf ek een Saterdagoggend ‘n lang ent langs die Teems. En dis net daar wat ek my Koos Kombuis-teorie geformuleer het. Sien, op die ou end blameer ek tipies-Afrikaanse kunstenaars soos Koos vir die feit dat my en Sylvia se verhouding eintlik van dag een af gedoem was. Want my voorliefde vir Koos Kombuis se nukke en grille, sy raakvat lirieke en sy rasperagtige stem, beteken dat dit op die ou end nie maklik is om ‘n verhouding aan te knoop met iemand wat nie vir hom wat Koos is verstaan en waardeer nie. En daarmee bedoel ek nie noodwendig dat die spreekwoordelik vrou van my drome noodwendig 'n Kombuis-aanhanger moet wees soos ek nie… maar sy moet ten minste verstaan waar Koos inpas in die komplekse dog interessante SA kultuur-mosaiek, en hoekom ek so baie hou van die man en sy musiek.

Hoe verduidelik jy vir 'n aristokratiese meisie uit Beiroet – wie se idee van “oefening” 'n facial in Knightsbridge is – dat my held vir meeste van sy lewe dagga gerook het, dat hy vir jare lank saam met bergies gebly het, en dat sy naam Kombuis is? Ek meen, Kombuis??

Hoe verduidelik jy sy fyn sin vir humor, sy anargistiese streep, sy vermoë om te dig en te skryf en die gees van die volk saam te vat? En hoe versoen jy dit met hoe hy lyk en hoe hy tot onlangs nog gelewe het (dis nou tot hy ook uiteindelik – teen alle verwagting in – ook soos ‘n normale mens besluit het om nes te skop met ‘n vrou en 2.2 kinders)?

Ja-nee, dis nie maklik nie. En dis hoekom ek vies is vir Koos Kombuis. Want soos ek hierbo verduidelik, is dit sy skuld dat die versameling “geskikte” vrouens op aarde vir iemand soos myself gereduseer is na ongeveer 0.0000000001% van die wêreld se bevolking - waarvan min of meer helfte nie baie mooi is nie, omtrent ‘n derde is heeltemal te oud vir my, 15% veels te jonk, en 'n klompie ander is direkte familie. Wat beteken daar is presies 11 dames oor, in die hele wye wêreld, en meeste van hulle is of getroud, of in elk geval in ernstige verhoudings. O ja, en twee van hulle het intussen Amerika toe ge-emigreer ook nog.

So, Koos Kombuis, beskou jouself as uitgetrap. Maar as jy Vrydagaand mooi speel vir ons, sal ek jou dalk vergewe.

Tog te jammer dat Sylvia waarskynlik nie daar gaan wees om dit aan te hoor nie.


PS 1: Ek vermoed dat Libanon seker ook die ekwivalent van 'n Koos Kombuis het, en ek's seker ek sal ook nie van sy musiek of sy voorkoms hou nie. Ek sou raai die man is 'n afgetrede vryheidsvegter, hy bly êrens in 'n grot, en hy dra sulke vuil lakens. Hy het lang swart hare, het 17 jaar laas geskeer, en sy asem ruik sleg. Hy borsel nie tande nie, maar twee keer per dag krap hy in sy neus met die punt van ‘n lang sabel terwyl hy met sy ander hand sy mak iguana streel. Hy kan nie lees nie, maar sy liedjies is diep, en hy kan net twee note sing. En ingeval jy gewonder het: nee, ek dink nie dat ek ooit ‘n aanhanger van die kêrel sal kan wees nie.


PS 2: Heelwat water het in die see geloop vandat ek oorspronklik hierdie Koos Kombuis-teorie van my geformuleer het. En vandag is daar ‘n Australiese dame wat figureer in my lewe, en soos jy sou kon raai, verstaan sy ook nie die Koos Kombuis-ding nie. Maar sy verduur dit darem wanneer ek na die man luister. Wat meer is, waardeer sy krieket – en dit is inderdaad fantastiese nuus. Behalwe dat ek nie weet hoe ons verhouding moontlik geaffekteer gaan word deur die uitslag van eerskomende Woensdag se halfeindstryd in die Wêreldbeker-kompetisie nie…


Voetstoots van Tonder
22 April 2007

Sunday, April 01, 2007

Daai klein landjie langs Duitsland

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Toeriste is darem maar simpel goed. Vra my, nou die dag was ek self weer een. Vir werksredes bevind ek myself in Kopenhagen, van alle plekke, en so besluit ek toe om maar oor te bly vir die naweek. Dit het na ‘n goeie idee geklink op sy tyd; dis ‘n plek waar ek immers nog nooit voorheen was nie.

Denemarke – die land van, Carlsberg, Hans Christian Andersen, Thomas Bjorn, en Hagar die Verskriklike. Of het Hagar en sy bende Vikings eintlik van Swede af gekom? Ek is nie heeltemal seker nie; in my geestesoog is die hele Skandinawië maar redelik ineengevleg. Dis daar bo iewers, naby die noordpool; dis koud en dis donker en daar’s verskriklik baie water, en die mense is lank en blond en beeldskoon.

Soos ‘n goeie toeris, besluit ek toe maar om ‘n bietjie voorbereiding te doen. Stap boekwinkel toe om ‘n gids aan te skaf. Krap rond in die seksie wat met C begin. En dis toe dat ek besef ek’s in die moeilikheid: daar’s alles van Cairo, Canada, Chicago en Chile, tot by Colombia, Corsica, Croatia en Cyprus. Maar geen Copenhagen nie.

Ek meen: Colombia? Bid jou aan. Kan dit moontlik wees dat daar meer toeriste is wat belangstel in hierdie gevaarlike klein landjie met ‘n dwelmprobleem naby die Amasone, as in die stad van Carike Keuzenkamp se Lang Maer Blonde Man?

Maar dalk maak dit tog sin: hoeveel mense ken jy wat al in Denemarke gaan rondtoer het?

Twee boekwinkels later kry ek uiteindelik ‘n gids in die hande. Daarin lees ek dat Kopenhagen die stad is van Karen Blixen, die outo-biografiese karakter soos vertolk deur Meryl Streep in Out of Africa. Dié fliek het ek nog destyds saam met een van my universiteitsmeisies gesien; besluit toe maar om weer die DVD uit te neem – net om gees te vang vir Kopenhagen.

Maar Out of Africa berei jou natuurlik glad nie voor vir Kopenhagen nie – behalwe in een of twee tonele, waar ‘n baie donker prentjie van die stad geskets word (dis oënskynlik hoekom Blixen die plek verlaat het, in ruil vir die lig in Kenya). In een van die tonele vertel Blixen vir iemand dat sy van Denemarke af kom, gevolg deur die opmerking: O, daai klein landjie langs Duitsland…

Dis seker effens van die punt af, maar net vinnig, ‘n opinie oor Out of Africa. Die fliek het nie veel van ‘n storie nie, maar daar’s pragtige nostalgiese tonele van Afrika soos wat dit ‘n honderd jaar gelede was, lieflike koloniale geboue, hordes gehoorsame bediendes in wit linne, en ‘n leeu om elke hoek en draai. En op die ou end raak Meryl Streep en Robert Redford op mekaar verlief. Bitter stadig, maar darem. Met ander woorde dis alles presies soos in Bridges of Madison County; net die gepaardgaande natuurskoon en die agtergrondmusiek verskil wanneer die twee van hulle aan’t vry raak.

En so arriveer ek op die ou end in die stad van feeverhale, die oorspronklike danish pastry, en die Dene se klassieke ontwerpstyl. Alles het die skoonste lyne denkbaar: die moderne geboue, die eetgerei, die meubels. Oral sien jy stoele met net een poot; moenie vra hoe die mense dit regkry nie, maar hulle doen. Dis die tipe plek waar jy verwag dat geen toebroodjie ‘n korsie behoort te hê nie.

Ongelukkig het ek geen feetjies raakgeloop nie, maar ek het darem wel ‘n meermin gesien. Ek het geen idee hoekom nie, maar dit lyk my hierdie klein standbeeldjie aan die hawefront is min of meer die stad se grootste toeriste-aantreklikheid. Daar het ek foto’s geneem van mense wat foto’s neem van mekaar terwyl hulle die meermin liefderyk omhels. Laas wat ek so foto’s geneem het van mense wat foto’s neem was toe ek destyds my respek gaan betoon het aan die Mona Lisa in die Louvre; dit was baie jare gelede, waarskynlik nog voordat Dan Brown sy kopie van The Holy Blood and the Holy Grail onder oë gekry het.

En dis hoekom ek sê dat toeriste lekker simpel is. Ons almal koop dieselfde toergidse wat ons na dieselfde “aantreklikhede” toe stuur, en dan stroom ons soontoe om die verpligte foto’s te neem waarna ons nooit weer sal kyk nie. Dikwels is die aantreklikhede ook nie eers so aantreklik nie; daar is maar net een of ander historiese betekenis daaraan gekoppel wat in elk geval vir die meeste van ons net mooi niks beteken nie. En wat ons die heel meeste teleurstel, is wanneer iets kleiner is as wat ons verwag het. Ek onthou nog hoe verbaas ek was toe ek die heel eerste keer die Mona Lisa gesien het, en ek besef die arme vrou is skaars groter as ‘n A4-bladsy (dalk het Leonardo haar op ‘n bladsy in een van sy skoolboeke geteken?).

Dit was dan ook my eerste gedagte toe ek op die ou end Kopenhagen se meermin sien…maar sy’s so KLEIN!

Nou maar presies hoe groot het jy dan gedink behoort ‘n meermin nou eintlik te wees, vra ek myself onmiddellik die teenvraag…

Wat ek egter die heel meeste van die meermin waardeer het, was haar naam, in Deens, soos aangedui op al die plaaslike tekens: Den Lille Havfrue. Oftewel die klein hawevrou. Is dit nie ‘n pragtige beskrywende naam vir ‘n meermin nie? Hoe op aarde het ons taalvaders in elk geval destyds op ‘n woord soos “meermin” besluit? Waar ek vandaan kom, is daar ook hawevrouens, maar nie die tipe wat jy behoort te besoek as daar enigsins ‘n kans is dat jou dominee daarvan gaan uitvind nie.

Den Lille Havfrue is ook nie die enigste Deense woorde wat heel verstaanbaar lyk vir die tipiese Afrikaanse leser wat in die land arriveer nie. ‘n Mens besef maar net weer hoe sterk die ooreenkomste tussen al die Germaanse tale is wanneer jy daar rondloop. Dit het sommer op die lughawe al begin, toe my Engelse kollega nog soek na die Exit en ek hom oombliklik in die rigting van die Udgang kon stuur.

Dan’s daar die stad se naam, in die oorspronklike Deens: Kobenhavn. Oftewel die hawe vir handelaars (kopers). Met ander woorde dis nie net meermin wat ons taalvaders opgemors het nie: wat op aarde het hulle besiel toe hulle bloot die Engelsman se Copenhagen (wat niks beteken nie?) vervang het met Kopenhagen? Hulle kon dit mos maar eerder Koopmanshawe gemaak het?

So hou dit aan; oral kan mens “Afrikaans” lees. Ek stap by ‘n boekwinkel in, die deur sê TRAEK (behalwe dat die A en die E aan mekaar vas is: my rekenaar het nie so ‘n letter nie). Ek trek. Dit werk. Maar toe ek later uitloop, vang hy my uit: hierdie keer sê hy TRYK. Ek trek weer? Maar nee, TRYK moet seker stoot beteken – in hierdie geval weet ek regtig nie wat in die Dene ingevaar het nie.

Die Deens vir ‘n boek is ‘n bog. Maak ook sin as mens dink watse snert deesdae alles gepubliseer word. In die bogwinkel blaai ek deur ‘n woordeboek: omliggende is omliggende, toonaangewende is toneangivende, glad is glat. Ek kyk na ‘n boek getiteld Hel Danmarks Bryllup: dit gaan oor die land se koninklike troue (die hele Denemarke se bruilof).

Maar ek het natuurlik ook ‘n hele paar nuwe woorde geleer; dis nie net stoot wat anders is in Deens nie... My gunsteling is die Dene se woord vir ‘n duim: hulle praat van ‘n tommeltot. En underkop beteken nie hoenderkop nie, dit verwys na ‘n piering (onder die koppie!).

In ‘n restaurant bestel ek ‘n glas 2003 Columbia Crest Merlot uit die VSA (ek dink nie die Dene kan wyn maak in hulle eie land nie, gegewe die land se temperatuur). Die wyn word ongelukkig nie in Engels beskryf op die wynlys nie (en ook nie in Afrikaans nie, snaaks genoeg). So ek lees maar die Deens: “En helt fantastik laekker vin med en dybrod farve og en skon duft” (met strepies deur ‘n paar van die o’s, wat my rekenaar ook nie het nie). En toe die wyn opdaag, was dit inderdaad ook ‘n heel fantastiese lekker wyn met ‘n dieprooi kleur en ‘n skoon reuk.

Soos jy seker kon raai, is die Deense woord vir blond, wel, blond. En is die Dene nie blond nie! Met hulle blonde hare en blou oë lyk elke tweede een ‘n bietjie soos ‘n albino.

In die geheel is Kopenhagen se dames nogal sag op die oog. G’n wonder nie dat hulle lugredery bekendstaan as SAS: Seriously Attractive Stewardesses!

Dis egter nie maklik om ‘n meisie op te chat nie, want sy is ten minste ‘n voet langer as jy. Nie net dit nie, maar ons sukkel met mekaar se aksente. Die skryftaal is dalk naby aan mekaar, maar moenie vir ‘n oomblik dink dat die gesproke taal enige ooreenkoms het nie.

Dan sit mens maar en waardeer die uitsig (oor die mooi stad, sowel as al die blonde vroumense) terwyl jy nog ‘n Carlsberg bestel. Of dalk eerder ‘n Tuborg, soos wat die plaaslike mense maak. Ek moet bieg dat ek die een dag nogal ‘n bietjie underkop, ek bedoel hoenderkop, geraak het in die proses.

En ek het ook nie ‘n hawevrou gaan opsoek nie, ek belowe. Behalwe vir daai een, waarvan ek reeds vertel het. As jy regtig wil, sal ek vir jou die foto’s wys wat ek van haar geneem het. Behalwe dat ek die beste een verloor het toe ek dit op die rekenaar probeer aflaai het.

Maar wat maak dit tog saak: ek het mos gesê ek sal nooit weer daarna kyk nie.


Voetstoots van Tonder
1 April 2007
< # afrikaans ? >