Sunday, September 09, 2007

Die lewe is 'n fees!

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Wanneer jy met die tipiese Suid-Afrikaanse aksent deur die lewe gaan (en meer spesifiek deur ‘n plek soos die Verenigde Koninkryk), gebeur dit tog o, so gereeld dat mense jou vra waar jy vandaan kom. En ek het al geleer dat jy nooit hierop moet antwoord “Suid-Afrika” nie – want die vraagsteller weet dit uiteraard al lankal, stupid.

Hy of sy wil bloot weet of jy van Johannesburg of Kaapstad kom.

Tough luck as jy eintlik ‘n Bloemfonteiner is (selfs al wás jy op Grey!). Erger nog as jou ouerhuis in Pietermaritzburg staan: Peter, what? En moenie eers dink daaraan om te verwys na Oos-Londen nie. Ek meen, Oos-LONDEN? In Suid-Afrika? Wat rook jy, meneer?

Maar ons almal weet dat daar tog soveel meer is om van te kies as jy vir die tipiese toeris moet adviseer oor al die stede in ons land wat ‘n besoek werd is.

Vat Sun City, byvoorbeeld. Sowel natuurlik as sy buurstad, die Lost City. Om nie eers te praat van Gold Reef City nie.

En as jy dan nou regtig moeg word vir al hierdie stede, is daar altyd ook nog Furniture City, Sanitary City en Liquor City.

En dis die einste Liquor City wie se dubbelblad, volkleur-advertensie in Beeld my opgeval het toe ek ‘n week gelede op die vliegtuig sit, op pad terug Londen toe van die stad van my geboorte af.

Waar op aarde, het ek gedink, kry mens nog sulke groteske advertensies vir ‘n drankwinkel in ‘n koerant wat homself probeer voordoen as ‘n ernstige publikasie? Wat het van my volk geword?

“DIE LEWE IS ‘N FEES! KOM VIER DIT SAAM MET ONS!”, skree die advertensie, gevolg deur ‘n hele rits specials.

Vat byvoorbeeld die aanbod van Don Simon Sangria, “nommer een sangria in die wêreld”, aldus die advertensie. Sê wie, wonder ek onwillekeurig. En teen R29.99 vir ‘n hele 1.5 liter, ys ek (no pun intended) om te dink hoe dit moet smaak.

Maar soos met enige goedkoop drank, maak dit seker nie saak hoe lekker dit smaak nie, al wat belangrik is, is hoe lekker dit máák…

Dan is daar die Ricaiano Chianti rooiwyn (lewensgrote foto van die vet bottel, onderste helfte smaakvol toegedraai met plastiek-strooi en al), aansienlik duurder teen R79.99 vir 1.5 liter. “Ons daag almal uit om hierdie prys te klop”, aldus die mense van Liquor City.

En ek glo hulle. Ek dink in elk geval jy gaan sukkel om wyn van hierdie kwaliteit by enige ander drankwinkel in die hande te kry.

En hoe lyk dit met ‘n bottel Christian Brothers Brandewyn (nee, ek dink dit nie uit nie) – “nommer een verkoopte brandewyn in VSA nou in Suid-Afrika” – teen ‘n wegraap-prys van R59.99! Is daar enigiemand wat so ‘n verwysing ernstig kan opneem? Trouens, ek sal redelik verbaas wees as enigiemand in Amerika al ooit van hierdie handelsmerk gehoor het.

Maar dit raak selfs beter: vir R199.99 kan jy ‘n bottel Meukow VS Konjak aanskaf – “beste Franse konjak in die wêreld”.

As jy dit glo, sal jy enigiets glo.

Verder is daar die Shark-energiedrankie (R37.99 vir 4) – “grootste energie-drankie in Europa nou in Suid-Afrika”. Nou maar hoekom ek dit dan nog nooit in Europa gewaar nie? Kruip seker weg agter al daai blikkies Red Bull…

Wat my egter die heel meeste geïnteresseer het, was die verwysing na die gholfspeler David Frost se Par Excellence wyn (teen R239.99, lag-lag die duurste bottel op die bladsy) – “geskik vir diabete”. Met ander woorde, selfs as jy te siek is om getrek te raak op dubbel-Klipdrifts en Coke, het ons die drankie net vir jou…

Maar tog wonder ek: wat is daar in David Frost se wyn wat dit kwansuis geskik maak vir diabete? Of moet ek eerder vra: wat is NIE daarin nie?

So sit ek op die vliegtuig en vermaak myself deur die detail van Liquor City se aanbiedings van die week te bestudeer, hoofsaaklik as gevolg van die feit dat dit die enigste deel van die koerant was wat my nie tot depressie gestem het nie (ek’s nie seker wat die lugwaardinne en/of die mense in die sitplekke langs my gedink het van my leessmaak nie).

Want sien, die voorblad was vol van ‘n storie oor ‘n onderwyseres wat by die skool se hek gekaap is. Op die volgende bladsy was daar ‘n klaaglied oor Minister Manto Tshabalala-Msimang, gevolg deur ‘n storie oor Dozi en sy Muriël wat uitgedos is vir Monaco (asof enigiemand omgee?). Verder was daar natuurlik verwysings na die treurmare in Zimbabwe, ongelukkigheid oor Pretoria se naamsverandering, ‘n grusame storie oor ‘n seuntjie wat oënskynlik in ‘n moetie-aanval gesterf het, opskuddings in die wêreld se aandelemarkte, en ‘n analise van die land se top-krieketspelers wat (alweer) stry gekry het met die sport se owerhede.

Ja-nee, g’n wonder dat Liquor City soveel kleurryke advertensiespasie kan beskostig nie.

Want onthou, die lewe is ‘n fees! Kom vier dit saam met ons!


Voetstoots van Tonder
9 September 2007
< # afrikaans ? >