Wednesday, January 04, 2006

Mag die sonbesies jou agtervolg…

Die paar weke rondom Kersfees en Nuwejaar bly maar vir enige uitlander die moeilikste tyd van die jaar hier op Moddereiland. Maar vir my was dit netmooi die kersie op die koek toe ek nou die dag by ‘n klomp Engelse aan huis ‘n feesmaal nuttig, en my gasheer vra nederig om verskoning daarvoor dat die bier te koud is.

Te koud? Is die man simpel? Kan ‘n bier dan ooit te koud wees?

Dit lei toe tot ‘n bespreking oor hoe en waar bier dan eintlik ontstaan het. Volgens my gasheer was dit ‘n Engelsman wat oorspronklik ‘n klomp mout en hops met water gemeng het, en die mengsel so laat staan het totdat die gistingsproses uiteindelik sy wending begin neem het. En as ‘n mens dink oor die vreemde mengsel van bestanddele in ‘n brousel bier, maak dit seker sin dat hierdie drankie wel deur die Engelse uitgevind is. Uiteindelik het ek derhalwe toegegee dat my gasheer seker geregtig is op ‘n opinie oor die ideale temperatuur van bier. In ruil daarvoor het hy vir my nog ‘n bier aangebied. En dié een was ook “te” koud; dankie tog daarvoor.

Maar dis eintlik nie waaroor ek vandag wou skryf nie. Waaroor ek eintlik wou skryf , is hoe ek die afgelope tyd verlang het na my land, en na my mense.

Dit het alles ‘n paar weke gelede begin, toe SkySports wys hoedat Ernie Els sy hertoetrede tot gholf vier het met ‘n toernooi-oorwinning net buitekant Malelane. Dit was netmooi die dag wat Hemel Hempstead ontplof het, en ek het die oggend gou vir ‘n draffie in die park gegaan ten spyte van ‘n termometer wat nie sy kop hoër as vriespunt wou lig nie. Terwyl ek die gifgasse in die atmosfeer so inasem, en my ore begin voel asof hulle wil afval, was dit net die gedagte aan die gholf-dekking later die dag wat my aan die gang gehou het.

Uiteindelik het ek by die huis gekom, net betyds om te sien hoe Ernie die een sethou na die ander inslaan. Maar ek moes ook vaskyk in die kameraspan se wye skote oor die wildtuin, en al die Laeveldse natuurskoon in prag en praal. En meer as enigiets anders, was dit die onmiskenbare geraas van die sonbesies wat behoorlik die wind uit my seile gehaal het. Ek het my kop gedraai en behoorlik probeer luister, en skielik was ek onderbewustelik terug in my jeug, in die hitte van die somerson, in die ou Transvaal…

Toe ek uiteindelik tot my sinne kom, het ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd begin wonder: wat maak ek hier in Engeland? En wat sou ek nie nou gee om terug te wees tussen die sonbesies nie!

Terwyl Hemel Hempstead se groot swart rookwolk my woonstel bekruip, het ek maar net gefokus op die televisieskerm, en sekergemaak dat ek Ernie se onberispelike spel behoorlik geniet. Dis in elk geval nie asof daar vir my veel anders was om te doen nie; ek sou net my lewe gewaag het as ek my neus weer daardie dag by die deur uitgesteek het.

Intussen het daar ‘n hele paar weke verloop. Kersfees het gekom, en Kersfees het gegaan, en al die nuwejaarspartytjies is ook weer iets van die verlede. En ek het darem die feesseisoen oorleef – al was dit dan ook ten met ‘n nostalgie-aanval of twee.

So: dis tyd om vorentoe te kyk, na ‘n jaar vol belofte op Moddereiland, en om een en elk net die beste toe te wens. Mag die sonbesies jou agtervolg, die bomme jou mis, en die tsunamis jou nooit vind nie.

Laat ons ‘n glasie klink op 2006. Maak net seker dis ‘n koue een.


Voetstoots van Tonder
4 Januarie 2005

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >