Sunday, January 08, 2006

Om te diep in die bottel te kyk

Die onlangse nuwejaarsvieringe het my met skok laat besef dat daar reeds ses jaar verloop het sedert ons die nuwe millennium gevier het. Ja, ek weet die nerds hou vol dat dit tegnies eintlik net vyf jaar is, maar ek’s nie nou lus om weer in daai debat betrokke te raak nie; die lewe is gans te kort.

Ek onthou nog al die debatte en meningspeilings om vas te stel wie die vorige eeu (en millennium) se grootste figure was. Wetenskaplike? Einstein. Musikant? Elvis. Sportman? Muhammad Ali (of dalk was dit Pelé?).

Ek is nie seker of dit Frik du Preez of Dingaan was wat destyds as oorwinnaar aangewys is in die kategorie vir die grootste Suid-Afrikaanse figuur nie, maar ek weet dat Winston Churchill koning-gekraai het as Engelsman van die eeu sowel as die millennium. Trouens, die meeste deelnemers was dit eens dat Churchill sommer ook die grootste Engelsman van alle tye was, selfs meer nog as Prinses Diana, David Beckham, Zola Budd, en Austin Powers.

En Winston Churchill was ‘n dronklap. In ‘n bekende aanhaling, het die man self eenmaal gesê het dat dit gevaarlik sou wees om in te meng met hierdie lewenslange onuitwisbare gewoonte. Maar Churchill het ook volgehou dat hy meer uit alkohol gekry het as wat alkohol ooit uit hom geneem het. En op die ou end lyk dit ook nie asof die man se hoenderkop-status hom te veel teruggehou het nie.

Dis aan Churchill wat ek gedink het, toe ek die naweek lees van arme Charles Kennedy wie se tyd aan die hoof van die Liberale Demokratiese Party verby is noudat dit op die lappe gekom het het dat ook hy ‘n kroegvlieg is. Die een dag kyk die man nog te diep in die bottel, die volgende dag gaan sy hele loopbaan die kreeftegang.

Praat van die Engelse en hulle dubbele standaarde. Winston Churchill erken dat hy van drank hou, maar hy’s die grootste Engelsman in die geskiedenis; Charles Kennedy maak sy bekentenis, en kort daarna is die man self geskiedenis.

En dit was net nou die dag wat almal in Groot Brittanje hulleself in rou gedompel het toe George Best homself uiteindelik doodgesuip het na ‘n volgehoue poging van veertig jaar. Dít, in dieselfde week wat die lisensiëringswetgewing in hierdie land verander het, en die man vir die eerste keer in sy lewe wettiglik deur die nag sou kon drink in sy plaaslike kroeg. Daar was ‘n minuut se stilte ter ere van Best by elke sokkerwedstryd in Engeland daardie week, en in Belfast het hulle min of meer ‘n staatsbegrafnis vir hom gereël. Vir altyd sal hy geëer word as een van die land se grootste sporthelde ooit.

Maar ek meen George Best se besondere gewildheid kan dalk juis toegeskryf word aan die feit dat die meeste Engelse self strawwe drinkers is. Op dieselfde dag wat Charles Kennedy sy akohol-gewoonte erken het, was daar hoeka ‘n berig in die koerante dat sirrose in Engeland aan’t styg is teen ‘n ongekende pas; dít, terwyl lewersiektes soos hierdie besig is om af te neem in feitlik elke ander deel van Europa. En as gevolg hiervan dink ek die Lib Dems het ‘n groot fout gemaak deur vir Kennedy uit te skop en te soek na ‘n nuwe, nugter leier: al wat dit gaan beteken is dat iemand aangestel word met wie die kiesers in elk geval nie identifiseer nie.

Winston Churchill het eenmaal gesê dat hy voorheen nooit sterk drank gebruik het voor middagete nie, maar dat hy intussen hierdie reël aangepas het, en dat hy dit net nie meer voor ontbyt doen nie.

Pleks het Charles Kennedy ook maar dié raad gevolg.


Voetstoots van Tonder
8 Januarie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >