Sunday, January 15, 2006

Ons aanvaar nie jou bedanking nie, Koos

Kan iemand asseblief vir my sê waar staan die reëls van Afrikanerskap opgeteken? En hoe werk dit? Dop ek byvoorbeeld die toets as ek nie voldoen aan ‘n meerderheid van die voorvereistes nie? Of is selfs net een oortreding gelykstaande aan ‘n onmiddellike diskwalifikasie?

Ek het oor hierdie vrae begin wroeg toe ek lees dat Koos Kombuis dreig om te bedank uit die Afrikanerdom; dit alles, omdat die man klaarblyklik nie gelukkig is met die reaksie van ‘n paar Rapport-lesers op ‘n rubriek waarin hy uitwei oor sy drankgewoonte nie. Hy gaan voort om die bagasie van die volk te beskryf met verwysing na dit waarin ‘n Afrikaner veronderstel is om te glo, vir wie hy moet stem, wat hy moet lees, watse klere hy aantrek, en hoe hy sy openbare vakansiedae deurbring.

Dit alles het my laat wonder: is ekself dan ooit ‘n Afrikaner? Natuurlik praat en skryf ek wel Afrikaans, en of ek nou wil of nie, is dit ook die taal waarin ek elke dag van my lewe dink en droom en juig en treur en vloek – maar is dit werklik genoeg om my deel van die volk te maak? Daar is tog baie ander mense wat ook die taal praat, maar wat nooit sal droom daarvan om na hulleself as Afrikaners te verwys nie – vat byvoorbeeld die Bruin gemeenskap in die Wes-Kaap (of wat is die polities korrekte term vir hierdie groep deesdae?). Ja-nee, my volk se identiteit bestaan uit ‘n komplekse tapisserie van eienskappe, en dié kan verdeel word tussen allerlei positiewe en negatiewe aspekte.

Aan die een kant behels Afrikanerskap ‘n geskiedenis van noodtoestande, Inligtinskandale, die Broederbond, boeppense, safaripakke, snorre, gesinsmoorde, die ou landsvlag, en Sonja Herholdt. Ware Afrikaners raak nie betrokke in seks voor die huwelik nie. Ook nie in egskeidings of gay verhoudings nie. Of laat ek eerder sê: hulle praat nie daaroor nie. Veral nie oor Sonja Herholdt nie.

Maar aan die ander kant is daar gelukkig ook die Bokke, biltong, boerewors, bobotie, en Beyerskloof, sowel as koeksisters, die k-woord, Klipdrift, Kerkorrel, en Koos Kombuis.

Ja-nee, dis ietwat ironies as Koos vandag probeer om homself te distansieer van die res van ons, want mense soos hy gee juis gestalte aan ‘n hele generasie Afrikaners wat trots is op hulle taal en op hulle volk – al is dit dan juis op ‘n effens alternatiewe manier. As cool ouens soos hy immers in sulke lekker plein Afrikaans kan sing en skryf, dan kan die hele konsep van Afrikanerskap tog seker nie so sleg wees nie, of hoe?

Ek bly in Londen, nie in die buitewyke van Pretoria nie. Ek het nooit een keer vir die NP of die KP gestem nie, selfs terwyl hulle nog bestaan het. En ek was nooit ‘n grensvegter nie.

Maar ek het wel in ‘n tipiese Afrikaanse huis grootgeword. My pa het hoed gedra; my ma het gesorg daar’s elke dag vleis en rys en aartappels op die tafel. Ek was op ‘n Christelik-Nasionale skool, ek het ‘n cholesterol-probleem, en ek ken al die woorde van Ou Ryperd. O ja, ek het ook al Koos Kombuis se CD’s. En ek is trots op alles daarvan, al het dan ook in baie opsigte aanbeweeg.

So, Koos Kombuis kan maar probeer om sy bande te verbreek met Afrikanerdom soveel as wat hy wil, maar daar’s nie ‘n kans dat ons ooit sy bedanking sal aanvaar nie. Want of hy nou daarvan hou of nie, dis mense soos hy wat ‘n vorm van Afrikanerskap vir die res van ons definieer.

Al is dit dan ook waar dat hy te veel drink.

Of dalk juis as gevolg daarvan.


Voetstoots van Tonder
15 Januarie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >