Sunday, January 22, 2006

By gebrek aan enige nuus…

Die diere-aktiviste kan maar vies wees vir my, maar die naweek se bohaai oor die Teems-walvis gaan my verstand geheel en al te bowe. Ja, ek gee toe dis seker interessant dat ‘n dier wat andersins veronderstel is om bo-gemiddeld intelligent te wees, so ‘n dom ding kan doen, maar ek kan steeds nie verstaan dat almal so ‘n verskriklike groot ophef daarvan moes maak nie.

(Het jy nie geweet walvisse is intelligent nie? Kan jy jou indink hoe groot die tipiese een se brein is?)

Vir ‘n volle twee dae lank was dit al waarop Sky News gefokus het: ‘n enorme vis (wat volgens die Chappies-papiertjie in elk geval nie eers ‘n vis is nie, maar ‘n soogdier) wat op en af swem in een van die wêreld se vuilste riviere. Dat hulle aanvanklik gefokus het op die bisarre voorval, is uiteraard heeltemal verstaanbaar. Die reddingspoging deur een of ander groep wat blykbaar in hierdie tipe ding spesialiseer (party mense het regtig nie ‘n lewe nie) was seker ook redelik interessant. En natuurlik was die dier se uiteindelike dood wel nuuswaardig.

Maar voltydse dekking van hierdie “nuus” oor ‘n periode van bykans 48 uur? Onderhoude met toeskouers op die rivieroewer? Inbelprogramme waarin kykers se opinies gevra word? Paneelbesprekings met allerlei deskundiges wat spesialiseer in verdwaalde walvisse? Aanhoudende spekulasie oor hoekom die dier dit in die eerste plek gedoen het? Soos ek reeds gesê het: dit alles gaan my verstand werklik te bowe.

Ja-nee, dis nie net die koeie in Engeland wat mal is nie, dis nou sommer die walvisse ook; niemand sal homself tog in die waters van die Teems begewe tensy hy totaal van sy sinne beroof is nie. Of hoeveel swemmers ken jy wat hou daarvan om lyf nat te maak in hierdie rivier?

Of miskien is daar ‘n ander verklaring. Dalk het die dier maar net van die begin af selfmoordneigings gehad, anders sou hy nooit besluit het om links te draai uit die Noordsee, en die hele Engelse kanaal in die proses ‘n mis te gee nie. En uiteindelik het hy natuurlik geslaag in sy doel, al het dit dan ook ‘n paar dae in beslag geneem.

En nou is daar een minder noordelike bottelneus-walvis wat rondswem as verlede week hierdie tyd. Dis nou afgesien van al die ander sterftes in die diepe waters – maar ook enige moontlike geboortes – waarvan Sky News ons ongelukkig nie op hoogte gehou het nie.

Effens hartseer, ja, maar regtig nie rede om te huil nie; persoonlik het ek byvoorbeeld hierdie walvis nooit eers eenkeer ontmoet nie. En definitief nie ‘n krisis nie: ek het niemand die stelling hoor maak dat die hele spesie noordelike bottelneus-walvisse bedreiging in die gesig staar as gevolg van die naweek se opwinding nie.

So waarom al die sensasie? Maar dis seker maar wat gebeur as daar nie eintlik enige ander nuus is nie (dis nou behalwe vir die daaglikse motorbom of twee in Baghdad, en Sven-Goran Eriksson se skandes – albei dinge waaroor die meeste van ons redelik lank gelede al heeltemal afgestomp geword het). Tot en met Vrydag se aanvanklike berigte oor die walvis, het dit byvoorbeeld gevoel asof elke nuusbulletin in Engeland in die voorafgaande week gefokus het op die hele onderwysstelsel wat oorgeneem is deur ‘n spul seksmisdadigers. En net soos die walvis, was die storie aanvanklik redelik interessant, maar ek het redelik vinnig verveeld begin raak toe die debat eers begin fokus op wat die definisie van ‘n seks-misdadiger dan nou eintlik is. Dit alles het amper herinner aan Bill Clinton se bontspringery van ouds…

Maar ek wil terugkeer na die Teems-storie, en ek wil graag afsluit op ‘n positiewe noot. Dink so daaraan: ten minste hoef ons nie meer al die pad Hermanus toe te gaan om ‘n walvis te siene te kry nie.


Voetstoots van Tonder
22 Januarie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >