Sunday, January 29, 2006

In ligte laaie


Soos die toeval dit wil hê, bevind ek myself toe vir ‘n paar dae in Kaapstad aan die einde van verlede week. Ongelukkig het niemand die vetgemaakte kalf geslag vir die tydelike terugkeer van hierdie verlore seun nie, maar tog is ek dankbaar om te kan rapporteer dat daar darem die een aand wel ‘n skaap was wat ‘n roemryke en smaakvolle dood op die spit gesterf het. Meer nog, het ek besonder geëerd gevoel toe die gawe mense van die kolonie besluit het om spesiale vuurwerke ook te reël om saam te val met die geleentheid.`

In Sydney speel hierdie tipe vertoning af oor die stad se beroemde hawebrug, terwyl dit deesdae in Londen gebeur teen die agtergrond van die Big Wheel. Die Kapenaars het egter nog altyd geweet hoe om een stappie beter te gaan: dáár steek die mense sommer die hele berg aan die brand wanneer hulle iets het om te vier. Ek dink die inwoners van Sydney en Londen sou dalk self van tyd tot tyd so iets gedoen het – as hulle ook maar net ‘n berg gehad het om af en toe te skroei.

Maar net om te bewys dat ‘n skouspel soos hierdie egter nie geheel en al bokant die vuurmaakplek van die gemiddelde Brit is nie, was dit op die ou end juis ‘n roker uit die Verenigde Koninkryk wat gearresteer is vir brandstigting (en nee, dit was nie ek nie). Sondaar of sondebok? Tyd sal leer, die hofsaak is uitgestel. Maar waar ‘n rokie brand, trek ‘n vuurtjie…

Hoe dit ookal sy, dis nogal skrikwekkend wanneer jy naby aan die vuur staan en kyk hoe dit aangedryf word deur die Kaapse Dokter, en jy sien hoe uitgegroeide denne- en bloekombome – om nie eers te praat van groen fynbos nie – binne sekondes in ligte laaie opgaan. Dis natuurlik selfs meer skrikwekkend wanneer nie net jy nie, maar ook jou blyplek in daardie stadium betreklik naby aan die vuur te vinde is.

En presies dit was dan ook verlede week my lot toe ek tuisgegaan het by ‘n vriend met ‘n woonstel hoog teen die hange van Tafelberg. Wanneer ek daar is, sit die twee van ons gewoonlik laat in die aand op sy stoep met ‘n dop in die hand en staar na die liggies van Kaapstad en die skepe in die baai. Maar verlede Donderdagaand was dit ‘n titseltjie meer interessant om by die agterdeur uit te kyk oor die gloed, terwyl ons spekuleer oor hoe lank dit nog is voordat ons dalk die plek moet ontruim.

Hoe naby is té naby in sulke omstandighede? Ek skat die vuur het in ‘n stadium nie veel verder as omtrent vyftig meter van ons af gebrand nie. Dit was nou wel nie so naby dat ‘n mens marshmallows op ‘n stokkie kon braai nie, maar dit was definitief erg genoeg om effe sleg te slaap daardie nag.

En toe begin ek dink aan my ma terwyl ons so sit en redeneer oor wat ‘n mens dalk sal red wanneer jy skielik jou blyplek moet ontruim omdat die brand uiteindelik te naby is (troeteldiere? juwele? foto’s? paspoort? kredietkaarte? brandversekeringspolis? sigare? die Neil Diamond plateversameling?).

En ek besef: as my ou moeder maar net geweet het waar ek nou sit, sal sy seker vir ‘n maand nie slaap nie – sy wat my in Londen bel om te bevestig alles is OK wanneer daar ‘n vloedwaarskuwing is in Wallis. Of nou die dag terwyl ek in Switserland aan’t ski is, en sy stuur ‘n teksboodskap net om seker te maak dat ek nie omgekom het toe die dak van ‘n skaatsarena in Duitsland per ongeluk ineengestort het nie. Is dit nie ironies hoe ons persepsie van gevaar partykeer maar net direk eweredig is aan hoe ver ons van die huis af is nie?

Maar nou is ek weer terug in “gevaarlike” Londen (tans is die grootste gevaar dat ek vanaand gaan verkluim).

En ek wil afsluit deur al my vriende in die Kaap hartlik te bedank vir laasweek luisterryke vuurwerke. As ek weer kom kuier hoef julle regtig nie weer soveel moeite te doen nie.

Slag dan eerder maar net die vetgemaakte kalf.


Voetstoots van Tonder
29 Januarie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >