My professor, mentor, voorbeeld, baas, inspirasie, en vaderfiguur is vanoggend oorlede.
Ek het hom meer as 40 jaar geken.
21 jaar gelede het ek hierdie e-pos aan hom gestuur. Vanaand is ek dankbaar dat hy dit kon lees terwyl hy nog gelewe het.
*****
“… and at the door of the room appeared a handsome,
friendly man, an elderly man with graying hair and a lucid face full of
kindness and dignity. Joseph himself was
a small Latin school pupil who had waited in the room for the Music Master,
partly frightened, partly overjoyed, and who now saw the venerated figure for
the first time, the Master from the legendary Province of elite schools, and
the Magister who had come to show him what music was, who then led him step by
step into his Province, his realm, into the elite and the Order, and whose
colleague and brother he had now become, while the old man had laid aside his
magic wand, or his scepter, and had been transformed into an amiably taciturn,
still kindly, still revered, but still mysterious elder whose look and example
hovered over Joseph’s life and who would always be a generation and several
stages of life ahead of him, as well as immeasurably greater in dignity and
also modesty, in mastership and in mystery, but would always remain his patron
and model, gently compelling him to walk in his steps, as a rising and setting
planet draws its brothers after it…”
(Herman Hesse, The
Glass Bead Game)
Beste Prof Mans
Dis Sondagoggend, en ek sit hier langs Chania se hawe met my
boek en my rekenaar terwyl ek pannekoek eet en cappuccinos drink. Ek het met vakansie gegaan die dag na Prof se
verjaarsdag, en my tydjie alleen, gevul met lees en skryf en bierdrink en
hardloop langs die see, is amper weer verby.
Dis pragtig hier – ek kan dit definitief aanbeveel, en ek dink dis ‘n
plek waarnatoe ek self waarskynlik eendag sal terugkeer.
Ek is besig om hierdie boek van Herman Hesse te lees, en dis
een van daai “belangrike” boeke met baie lesse, simboliek en dieper betekenis
wat moontlik van jou ‘n beter mens maak, maar wat nie altyd maklik is om te
volg nie. En selfs die storie staan my
nie soveel aan nie – ek is al deur 200 van die 500 bladsye, en ek’s nog nie
seker dat ek regtig verstaan waaroor dit eintlik gaan nie… maar ek dink ek sal
deurdruk; ek voel dis ‘n boek wat ek tog op die ou end op my kerfstok wil hê.
Die paragraaf wat ek hierbo aanhaal is ‘n goeie voorbeeld
van hoekom die boek my wel aangryp, ten spyte daarvan dat dit nie altyd ‘n
lekker lees is nie. En toe ek dit
vanoggend die eerste keer sien, het ek onwillekeurig aan Prof gedink, en besef
dat ek dit graag met Prof wil deel.
Ek wil maar net hê Prof moet weet dat dit die effek is wat
Prof op my gehad het vandat ek Prof die eerste keer ontmoet het, amper twintig
jaar gelede, en tot vandag toe nog. Ek
is seker daarvan dat daar baie mense is wat so voel oor Prof, so ek praat ook
maar namens dié wat dalk nooit daarby uitkom om dit self vir Prof te sê nie.
My ma sê altyd dat ek nie blomme moet stuur vir haar
begrafnis nie, maar dat ek eerder blomme vir haar moet gee terwyl sy leef. Ek dink dis ‘n goeie filosofie, en op
soortgelyke wyse dink ek mens moet hulde bring aan mense wat ‘n groot invloed
op jou gehad het, voordat dit dalk eendag te laat is. En daarom die brief… verskoon maar as dit
effe lank word, maar ek het heelwat op die hart…
Ek het veel meer as Rekeningkunde van Prof geleer. Trouens, hoe ouer ek word, hoe meer besef ek
dat die vak (saam met meeste ander aspekte wat direk met die besigheidswêreld
verband hou) my nie regtig soveel aanstaan soos wat ek voorheen geglo het nie…
ek kan dit ongelukkig nie help nie: ek dink dis maar net die skrywer in my wat
ekself baie lank onderdruk het, wat vandag meer en meer tot uiting kom, en wat
“rebelleer” teen ‘n hele klomp goed in my agtergrond, persoonlike geskiedenis,
en verwysingsraamwerk.
Dit wat ek by Prof geleer het, word basies in die paragraaf
uit die boek, soos hierbo aangehaal, raakgevat.
Om op te som: ek dink dis veral Prof se erns, opregtheid en
beskeidenheid, gebalanseer met ‘n fyn sin vir humor, wat mense nog altyd so
aanspoor.
Wat die erns betref, onthou ek Prof se kwaai kant
(ongelukkig is dit miskien al wat die studente onthou wat opskop of
druip!). Ek sal byvoorbeeld nooit
vergeet toe Prof vir mnr Zwarts (ek’s nie seker van die spelling nie? – hy was
daai groot ou) uit die honneursklas uitgejaag het omdat hy plakkies gedra het,
en so te kenne gegee het dat hy genoegsame respek vir die vak gehad het
nie! Ek het self die res van die jaar
probeer sekermaak dat ek behoorlik aangetrek is vir Prof se klasse (maar nou,
17 jaar later, wonder ek of studente hulle nog enigsins sal steur aan dosente
se voorkeure en afkeure in terme van kleredrag?).
Ek onthou net een keer waar Prof kwaai was met myself, en
dit was toe ek aan die einde van ‘n lesing grappenderwys (maar ek dink tog
seker ook effe sarkasties) vir die mense om my vertel het van iets wat my so
opgewonde gemaak het dat ek net wou huis toe gaan en vir my ma daarvan skryf
(‘n aanhaling uit Prof se klas uit). Ons
was redelik agter in die klas, en Prof was voor besig om iets te bespreek met
‘n paar ander studente, en ek het nie gedink Prof kon my hoor nie (want om
eerlik te wees was ek seker besig om Prof te “terg”). Maar Prof het my wel gehoor, en Prof het my
aangespreek, en dis seker amper die kleinste wat ek ooit in my hele lewe gevoel
het. Maar dit was my eie skuld, en ek
het dit verdien, en ek het ‘n les geleer in die proses.
Daar’s baie voorbeelde wat ek kan
aanhaal oor Prof se fyn sin vir humor.
Ek onthou nog die dae toe ek as jong dosent agter in Prof se
konsolidasie-klasse gesit het om tips te vang.
Na een van die klasse het Prof my gevra om asseblief vorentoe te skuif,
want Prof kon nie te lekker tot heel agter sien in die skemerlig van die
lesinglokaal nie, en Prof was bang dat Prof dalk ‘n kollega uitjaag omdat hy
nie stil genoeg sit nie… (‘n ou probleem van my!).
Ek dink die heel snaaksste was egter die dag wat Prof die
aantreklike meisie met een of ander probleem / versoek na Daan Gouws verwys
het. Prof sal die detail onthou… “Daan,
kyk na haar en stuur haar terug” – ek glimlag nog gereeld as ek daaraan dink.
En ‘n ander keer, toe Daan op sy normale manier besig was om aan te gaan oor
wat se fantastiese dag dit was, ens, en Prof by hom verbyloop en sê: “Daan, los
my uit, ek het ‘n kak dag”. Ek en
Charmaine het dit albei gehoor, en ons het die humor daarin gesien, maar ons
was te bang om te lag…
Terloops, ek weet nie of Prof regtig insigte gekry het
terwyl Prof in die oggend voor ‘n lesing gestaan en skeer het nie, maar Prof se
gereelde verwysings daarna is ‘n beeld wat my (en baie van my mede-studente)
altyd sal bybly.
Ek sal nooit die dag vergeet, aan die begin van Junie 1991,
toe ‘n brief van Prof onverwags by my kollege in Cambridge opgedaag het
nie. Ek was hard besig om oorsee werk te
soek na my studies, maar het gesukkel, onder andere omdat ‘n ernstige resessie
besig was om sy effek te neem. En toe
uit die bloute: Prof se brief, kort en kragtig, getrou aan Prof se styl, waar
Prof my die mede-professoraat aangebied het.
Dis seker die laaste ding wat ek verwag het, en bitter ver verwyder van
wat ek gedink het ek gaan doen, maar ek het binne 24 uur my besluit
geneem. Dit was sonder twyfel een van
die definiërende oomblike in my lewe.
Ek het nou nog daai brief van Prof – ek het nooit eers
gaatjies daarin gepons nie, ek het dit in ‘n plastiekomslag gehou.
Ek het dit altyd geniet om saam met Prof vrae op te stel vir
die Raadseksamen, en ek besef terdeë dat my eintlike aandeel daarin maar bitter
beskeie was. Ek het dit wel geniet om
“die storietjie” van die vraag te skryf (die “skrywer” in my…), maar die vrae
sou op die ou end niks beteken het sonder Prof se goeie somme (en slim
oplossings!) nie. In die proses het Prof
waarskynlik meer vir my skrywersloopbaan (wat nog aan die gang moet kom!)
beteken as wat Prof miskien ooit sal besef: ek sal altyd onthou en waardeer dat
Prof een van die min mense in my lewe was wat erkenning gegee het daaraan dat
ek darem bietjie kon skryf.
Een van die goed wat my vandag pla, nie net van
rekenmeestersopleiding nie, maar inderdaad van die meeste graadstudie in die
Suid-Afrikaanse opset, is dat ek nie dink meeste daarvan berei mens regtig voor
vir die lewe nie: dis nie regtig ‘n opvoeding nie, dis te loopbaangerig
ens. Geen model is seker perfek nie,
maar ek dink tog ek verkies op die ou end die meer klassieke Engelse
benadering, waar mense aangemoedig word om bv. die kunste te bestudeer voordat
hulle later eendag hulleself begin bemoei met spesifieke loopbaangerigte
onderrig. Daarom wil ek ook vir Prof
dankie sê vir al die lewenslesse wat wel deurgeskemer het in die klasse, want
Prof se lesings was een van die min tye waar studente tog ook ‘n opvoeding gekry
het. In hierdie verband onthou ek ‘n
klomp van Prof se staaltjies, soos dat ‘n mens tog eendag ‘n huis moet bou saam
met jou vrou, want mens leer so baie van die verhouding in die proses…
Prof was, en is, uiteraard nog altyd vir my ‘n vaderfiguur;
ek dink nie ek hoef te veel verder oor daardie spesifieke aspek te sê nie. Maar teen daardie agtergrond, sal ek altyd
die dag onthou toe Prof die voorsitterskantoor (en die lekker parkeerplek!) vir
my ontruim het, al was Prof nog daar rond, want Prof het aangedring daarop dat
dit die enigste manier was wat die ander personeel, sowel as die studente, my
aanstelling as voorsitter ernstig sou opneem.
Dit was vir my ongemaklik, maar ek dink Prof was 100% reg, en dis ‘n
belangrike les wat ek saam met my kon dra in my verdere loopbaan.
Ek kan seker aanhou om voorbeelde op te noem, maar die son
trek water, en my rekenaar se battery is stadig maar seker besig om pap te
word…
*******
Laat ek opsom deur Prof weer te bedank vir Prof se voorbeeld
en diepliggende invloed oor die jare heen – ek sal dit altyd saam met my dra,
al is ek dikwels nie in staat daartoe om reg daaraan te laat geskied nie.
Ek hoop dat Prof en Prof se vrou in die volgende klompie
jare ‘n rustige aftrede sal hê, gevul met goeie gesondheid en baie voorspoed
(en lekker weer in Heroldsbaai!).
Groetnis, tot ons weer gesels,
Deon
Chania, Kreta
12 September 2004
0 Comments:
Post a Comment
<< Home