Sunday, September 04, 2011

Oud maar nog nie koud nie (Psalm 90 ten spyt)

Almal weet dat daar twee tipes mense in die wêreld is: dié wat van Neil Diamond hou, en dié wat nie van hom hou nie.

Twintig jaar gelede is daar selfs ‘n fliek gemaak uit hierdie stukkie lewenswysheid. In “What About Bob” vertolk Bill Murray naamlik die titelrol, synde ‘n psigiatriese pasiënt wat van sy eggenote geskei is omdat sy ‘n Diamond-aanhanger was terwyl Bob self die sanger nie kon staan nie.

Die teendeel is egter waar in my en my vrou se verhouding. Trouens, toe die twee van ons mekaar die heel eerste keer ontmoet het, was dit juis een van die dinge wat ons bymekaargebring het: nie net was sy in haar noppies met die feit dat ek inderdaad ‘n Neil Diamond CD of twee besit het nie, maar sy was veral hoogs beïndruk dat ek nie eers omgegee het om in die openbaar daaroor te praat nie! Kort voor lank het sy by my woonstel kom kuier – net om seker te maak dat ek nie vir haar gelieg het oor die musiek nie – en sewe jaar later is ons steeds saam.

Teen hierdie agtergrond was daar derhalwe geen keuse nie: ons moes eenvoudig verlede Saterdag die pelgrimstog na die FNB Stadium meemaak om respek te betoon aan Oom Neels wat hier aan die begin van sy agtste dekade vir die eerste keer aan die suidpunt van Afrika vir ons kom sing het. En daar is miskien twee tipes mense in die wêreld, maar byna 53,000 van die eerste tipe was in vir ‘n onvergeetlike ervaring op hierdie soel herfsaand in Gauteng.

Ons het my ouer suster en dié se man genooi om saam te gaan – dit is immers aan haar te danke (of moet ek sê te wyte?) dat ekself vandag nog ‘n Neil Diamond-aanhanger is. Dis seker maar hoe baie mense se musieksmaak ontwikkel: op ‘n jong ouderdom hoor jy wat elders in die huis speel, en as jy nie ‘n weersin daarin ontwikkel nie, raak jy gewoond daaraan. Later begin jy selfs om saam te neurie. En voor jy jou kom kry, koop jy self ‘n langspeelplaat (nota vir jonger lesers: plate is wat ons gekoop het voordat daar iTunes was om af te laai).

Vanuit alle rigtings is gewaarsku dat ons nie die verkeer moes onderskat nie, en derhalwe besluit ons groepie om die halfuur-rit stadion toe aan te pak sowat drie ure voor die konsert sou begin. Sweet Caroline, die nie-amptelike volkslied van alle Neil Diamond-aanhangers, blêr uit elke viertrekvoertuig se sondak terwyl die verkeer by Nasrec verby kronkel. En skaars ‘n driekwartier later daag ons toe by ons sitplekke op terwyl die son nog water trek (en Diamond self waarskynlik nog besig is om ‘n middagslapie te geniet in sy vyfster-hotelsuite).

Uit blote verveeldheid drink ons toe maar ‘n paar biere om die tyd te verwyl.

Terwyl ek so rondstaan met ‘n drankie in die hand, is dit opvallend hoe oorweldigend die gehoor uit ons dam se ganse bestaan. Nie almal wat Afrikaans praat, is daar nie, maar omtrent almal wat daar is, praat Afrikaans. Daar’s miskien ‘n streng kwotastelsel wanneer ons land rugbyspanne kies of poste gevul word by die werk, maar definitief nie wanneer gehore saamgestel word nie. Moet tog asseblief net nie vir Julius Malema of Jimmy Manyi daarvan vertel nie, anders is almal van ons dalk in die pekel…

Waar is ons Engels-sprekende landgenote dan vanaand? En na wie het hulle in die sewentigerjare geluister toe Neil Diamond op sy beste was? Hulle het tog seker nie almal vasgehaak by Pink Floyd en die Eagles nie? Die antwoord op hierdie groot vrae het ek nie, maar dit was inderdaad ‘n magdom Boere wat opgeruk het in die rigting van Soweto – soos hulle laas gedoen het toe die Bulle in die Orlando-stadion rugby gespeel het.

Uiteindelik, ongeveer tien minute na die geskeduleerde begintyd, ses maande nadat ek die kaartjies gekoop het, en meer as veertig jaar sedert ek sy stem die eerste keer gehoor het, stap Neil Diamond op die verhoog. Of laat ek eerder sê hy waggel – die man se stem klink dalk nie 70 jaar oud nie, maar sy lyf is definitief nie meer dié van ‘n jong man nie. Volgens Psalm 90 (vers 10) het Diamond se gebeendere immers al ‘n volle leeftyd agter die rug…

Sy vel, aan die ander kant, lyk nie ‘n dag ouer as 35 nie – daar is nie ‘n plooi in sig nie (Psalm 90 ten spyt). Dalk kan Oom Neil sy eie velroom begin bemark wanneer sy musiekdae verby is?

Daar word afgeskop met die ritmiese Soolaimon. Kort voor lank is die skare op hulle voete en almal sing en dans tesame (nota vir jonger lesers: Neil Diamond is die ou wat Soolaimon gesing het voordat Steve Hofmeyr dit begin doen het).

“I love it when you get up and dance – it makes me feel useful”, weet die ou oom ons mos te vertel. En ons juig.

‘n Rukkie later sing hy vir ons Solitary Man – op sy eie, sonder enige ondersteunende samesang van die drie sonskynsusters in die agtergrond, getrou aan die liedjie se titel. Ons juig weer. En hy sê vir ons “Dankie” (nie “Thank you” nie, maar “Dankie”). Grootste gejuig van die aand.

Kort daarna is dit tyd vir I’m a Believer – in nie minder nie as vier verskillende weergawes, nogal (nota vir jonger lesers: Neil Diamond is die ou wat I’m a Believer gesing het voordat Shrek dit gedoen het).

Ek let op dat die lede van sy orkes self ook nie te jonk is nie. Volgens die program toer die meeste van hulle al saam vir meer as 30 jaar, en as jy so na hulle kyk, besef jy dat die myle begin wys. Dit herinner so effens aan die Buena Vista Social Club (indien nie Hanno Gelderblom se Jerry-Hattricks nie…).

In ‘n stadium fokus die groot skerm op die klawerbord-speler se hande soos wat hy die note tokkel; dit lyk kompleet soos dinosourus-pote.

Wanneer dit tyd is vir You Don’t Bring Me Flowers, is Barbara Streisand nêrens in sig nie. In haar plek is daar ‘n ou tannie met gekleurde rooi hare en plooie op haar arms en plooie op haar ken. Miskien moet Neil vir haar van daai gesigroom gee…

Maar wie is ek om te spot met die ouderdom? Ek, wat self hier by ‘n Neil Diamond konsert sit terwyl die jeug van vandag hulle kop skud vir my; ek, wat nog nie vyftig is nie, maar ek het meer plooie op my voorkop as vanaand se bejaarde hoofkunstenaar? Ek onthou nog ‘n slagspreuk wat ek eendag teen die muur in my suster se huis raakgelees het: “Do not criticise the coffee – you may be old and weak yourself some day”...

En ek moet sê: hierdie klomp is dalk oud, maar hulle is nog glad nie koud nie. Hulle kappityt vir ‘n vale, en daar is geen fout te vinde met die klank wat hulle produseer nie. Ek weet nie hoe lank dit nog is voordat Neil Diamond en sy orkes dalk halt roep en besluit dis tyd om ouetehuis toe te trek nie, maar ek kan jou een ding belowe: die karaoke-sessies in die aftree-oord waar hulle dalk land, sal nooit weer dieselfde wees nie!

So skuins na 9 besef ek daar gaan nie ‘n pouse wees nie, en die ekstra bier wat ek voor die vertoning gedrink het wil nie meer wil saamspeel nie – dis tyd om ‘n draai te loop. Ek pak die honderdtal trappies op pad kleedkamer toe. En, net toe dit sulke tyd is, hoor ek hoe begin die soet note van Sweet Caroline.

Ek kan dit nie glo nie. Vir omtrent 90% van my lewe wag ek al vir hierdie oomblik. Ek het die liedjie seker al 10,000 keer in my lewe saamgesing. En noudat die oomblik uiteindelik aanbreek, en Neil Diamond sing sy bekendste stuk in lewende lywe om die draai van my af, staan ek tou in die toilet!

Maar eind goed, alles goed: onse Neil het op die ou end Sweet Caroline nie minder nie as drie keer gesing (gelukkig vir my, sowel as die hordes ander wat ook min of meer op daardie tydstip toilet toe moes gaan – ek was immers nie die oudste man in die stadion nie…).

Dit was wonderlik; ek het laas so baie pret gehad in hierdie einste stadion toe Siphiwe Tshabalala die eerste doel van laasjaar se Sokker Wêreldbeker aangeteken het in Suid-Afrika se openingswedstryd teen Mexiko.

Kort daarna is dit tyd vir die enigste “nuwe” liedjie van die aand, te wete Hell Yeah (van Neil Diamond se 2005-album, 12 Songs). Hier kan die beste gehoor word hoe die kunstenaar met homself praat, homself adviseer, en waarsku, en gelukwens, en kritiseer – soos wat hy ook in die program opmerk. En jy besef ook opnuut hoe ‘n talentvolle digter en liedjieskrywer Neil Diamond eintlik is.

Niks som dit beter op as ‘n paar strofes uit die liedjie self nie:


So if they ask you when I'm gone

Was it everything he wanted?

When he had to travel on

Did he know he'd be missed?

You can tell them this

Hell yeah he did

He saw it all

He walked the line

Never had to crawl

He cried a bit

But not for long

Hell yeah he found the life that he was after

Filled it up with love and laughter

Finally got it right and made it fit

Hell yeah he did

Wat meer kan enigiemand vra wanneer die uurglas begin uitloop?

Uiteindelik, 1 uur en 55 minute nadat Neil Diamond op die verhoog gestap het, is dit tyd vir oumense om te gaan slaap en die vertoning is verby. Diamond waggel van die verhoog af. Hy lyk moeg, maar ek moet sê, ek blameer hom nie. Hy en sy orkes het alles gegee. Dit was ‘n grootse ervaring en ‘n wonderlike voorreg om een van die grootste kunstenaars van alle tye in aksie te sien.

So, vir daardie Kapenaars van die eerste tipe wat wel van Neil Diamond hou en môre-aand ‘n beurt kry om die man se vertoning te gaan bywoon: geniet dit, julle is in vir ‘n helse belewenis.

Moet net nie te veel bier drink voor die tyd nie – netnou mis julle dalk ook Sweet Caroline…


Voetstoots van Tonder

4 April 2011

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >