Sunday, August 05, 2007

Cowes week?

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

So dis weer Cowes Week hierdie week. Oudste regatta in die wêreld. Een van die grootste jaarlikse geleenthede op die Engelse sosiale kalender. Vir sewe dae lank is die hele Isle of Wight in rep en roer.

Maar – en vergewe my asseblief vir die simpel woordspeling – dit was verseker nie die koeie se week in die Wanborough-omgewing in Surrey nie. En dis nie nog ‘n heilige- koei-met-bees-tuberkulose-storie nie. Nee, hierdie keer is dit ietwat erger: ‘n ligte epidemie bek-en-klouseer wat uitbreek, en siedaar, drie arme boere se kuddes word gans en al van kant gemaak.

Wat natuurlik beteken – aan die hand van die onberispelike logika soos uiteengesit in my vorige inskrywing – dat die snelle pas van globale verwarming waarskynlik nou meer onder beheer is as ooit tevore, baie dankie.

Maar moenie glo nie. Want sien, net mooi hierdie naweek lees ek ook dat een of ander wetenskaplike in die VK “bewys” het dat dit nou erger vir die planeet is om winkel toe te loop as om met die gemiddelde voertuig soontoe te ry.

Hoe so, hoor ek jou vra.

Wel, so werk dit: gegewe dat die stappie winkel toe jou ietwat meer gaan uithonger as ‘n paar minute agter die stuurwiel, beteken dit dat jy later vandag heelparty ekstra kalorieë gaan nodig hê om liggaam en siel aanmekaar te hou. En op die aanname dat jy derhalwe vanaand ‘n groter stukkie beesvleis sal wil verorber (en/of dalk selfs ‘n melkskommel gaan afwurg), is die logiese gevolgtrekking dat jou stappie winkel toe uiteindelik bevorderlik is vir die beesboer-industrie.

En ons weet mos nou reeds: elke keer wat ‘n koei burp in Surrey, vrek daar ‘n ysbeer in Groenland.

Ja-nee, soos Pienk Zuit net nou die dag geskryf het, met sogenaamde "navorsing" kan 'n mens ook enigiets bewys.

Maar ten minste het ek nou ‘n verskoning vir die feit dat ek so min oefen. Nie net dit nie, maar ek gaan verder ook ophou melkskommels drink en eerder werk aan my bier-verbruik.

Want sien, dis alles goed vir die “omgewing”.


Voetstoots van Tonder
5 Augustus 2007

5 Comments:

Blogger Freddy said...

Bierplan is goed. Jy mag net ook nie burp nie.

4:19 pm  
Anonymous Anonymous said...

Ek onthou net daardie lekker Stuyvesant adds wat altyd voor die flieks gewys het. "Cowes Week, where the rich and famous come to play."

1:39 pm  
Anonymous Anonymous said...

Voetstoots, jou logika is verstommend.

10:09 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

inderdaad Freddy, ek moes daaraan gedink het

PZ, jy voer my gedagtes ook nou ver terug... het hulle nie ook een gehad oor Lake Tahoe nie?

Carien, dis nie my logika nie - dis die wetenskaplikes s'n

8:54 pm  
Anonymous Anonymous said...

Inderdaad. Sulke oulike bokkies wat in die sneeu speel. En dan was daar die Cancun een. "Go to Cancun, and do like the Mayan's did." - terwyl hulle in sulke onderwater grotte duik. Ek het amper begin rook in standerd 8 so cool het dit gelyk.

7:24 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >