Sunday, February 12, 2006

'n Stil bek is 'n heel bek


Wanneer mense praat oor dáái spotprente van die profeet Mohammed, sê ek nie veel nie, want van kleins af het ek geleer dat daar nooit rêrig ‘n vreedsame uitkoms is as jy eers oor geloofsake begin stry nie.

Vat byvoorbeeld vir Naas Botha. Ja, ek weet die man was goed, en hy het die Blou Osse gehelp om ‘n kasvol trofeë in te ryg in die tagtigerjare ten spyte daarvan dat hy al hulle balle weggeskop het. Maar dit het nooit beteken dat ek van die kêrel gehou het nie, want ek was ‘n Johannesburger, ‘n Vaalpens, en ‘n Rooibonte, gebore en getoë in ‘n omgewing waar almal vir Transvaal geskree het. Nie omdat hulle die beste was, of die mooiste rugby gespeel het nie – inteendeel, ek het al daai maer jare beleef waar my span vir dekades lank nooit die Curriebeker geruik het nie – maar bloot omdat dit is hoe dit in ons huis gewerk het. Nooit het ek selfs vir een oomblik daaraan gedink om hierdie lojaliteit te bevraagteken nie, en dis presies hoe die meeste ander gelowe vandag nog werk.

Menigmaal het ek in Naas Botha-argumente betrokke geraak, en meer as een keer het ek bloedneus daarvan afgekom. Op die ou end het ek geleer om te leef en te laat leef, en dat selfs die horinghoedjie-brigade van Loftus Versfeld seker ook hulle plekkie in die son verdien. En later in my lewe het ek hierdie beginsel begin uitbrei na verdere gelowe ook, insluitende die Moslems, die Jode, en die Apostoliese laaitie in my Graad 2-klas wat hopelik teen dié tyd al gedoop is.

Daar was inderdaad ook tye wat ek nie net mense van ander gelowe verduur het nie, maar selfs ook saam met hulle aanbid het – soos wanneer Naas Botha van tyd tot tyd in ‘n Springboktrui teen een of ander semi-oor-die-muur rebellespan uitgedraf het.

En ek was nie die enigste gelowige wat uitsonderings gemaak het in met betrekking tot my basiese, fundamentele oortuigings in die lewe nie. Vat byvoorbeeld die Christendom. In my Sondagskoolklas het ek geleer dat dit nie net ‘n probleem is om my naaste se os of sy esel te begeer nie, maar dat mens ook nie ‘n afbeelding mag maak van wat in die hemel daarbo is, of op die aarde hieronder, of in die water onder die aarde nie, en veral dat jy hierdie beelde ook nie mag vereer of dien nie. My Sondagskooljuffrou het my verder geleer dit beteken mens mag nooit eers na prentjies van Liewe Jesus kyk nie.

Dis natuurlik ook nie die enigste prentjies wat ons ontsê is in daardie slegte ou goeie dae van die stokou Suid-Afrika nie. En nee, ek praat nie van die sterretjies op die kaal vrouens se borste in die Scope-tydskrif nie… ek praat van Nelson Mandela. Nie net was die man dekades lank veilig weggebêre in die tjoekie nie, maar geen afbeelding van hom is ooit gepubliseer in enige van die koerante en tydskrifte wat ek in daardie dae te siene gekry het nie. Die paranoïese Broederbond-regering het seker gedink dat elkeen van ons na ‘n kragstasie sou soek om op te blaas as ons sien hoe ‘n terroris agter die tralies dan nou eintlik lyk.

Die eerste keer wat ek op die ou end wel ‘n foto van Nelson Mandela gesien het, was ten tye van my eerste besoek aan Londen. Dit was in November 1987, en ek het by die Africa Book Centre (net om die draai van Covent Garden af) rondgeblaai in ‘n boek wat vir seker in my eie land verban was. Dit het my behoorlik stout laat voel, min of meer soos daai dag toe ek my eerste trek van ‘n sigaret gevat het (ek was sewe jaar oud, en ek het besluit om ‘n oorskiet-stompie aan die brand te steek in die gees van navorsing).

Maar terwyl ek nou weer terug is by my kinderdae, wil ek opnuut fokus op die Tweede Gebod. Toe Andrew Lloyd Webber die fliek Jesus Christ Superstar in 1973 gemaak het, wou ek nie eers die baniere van hierdie rock opera te siene kry nie, want ek was bang dis dalk sonde. Maar twintig jaar later, toe Mel Gibson op dieselfde onderwerp fokus met The Passion of Christ, het selfs my ma daarna gaan kyk – sy wat nooit eers sou droom daarvan om doelbewus te sondig nie

Het die interpretasie van die Tien Gebooie intussen verander? Of het die Christene maar net besluit om ‘n uitsondering te maak omdat Mel Gibson se film ‘n betreklik respekvolle en smaakvolle interpretasie was van die kruisiging op Golgota? Skynbaar is nie eers die feit dat die rol van Jesus Christus vertolk is deur ‘n Australiër, as godslasterlik afgemaak nie.

Dit sal nie help om vandag te skop daarteen dat Moslems minder verdraagsaam is teenoor uitsonderings op hulle ekwivalent van die Tweede Gebod nie; publiseer die spotprente, of neem sterk standpunt in daaroor, op jou eie risiko. Dis eenvoudig nie ‘n konstruktiewe argument om hulle standpunt aan te val in terme van spraakvryheid nie. Ons glo in vryheid van spraak, en hulle nie, en dis dit.

Presies soos die geval Naas Botha.

Nog ‘n voorbeeld. Ek onthou nog die dag, omtrent vyf jaar gelede, toe daar ‘n foto verskyn het op die voorblad van al wat koerant is in Suid-Afrika, waar Thabo Mbeki en Robert Mugabe ewe in hul noppies gelyk het in mekaar se geselskap. As ek reg onthou was dit net na die uitslag van nog ‘n gekookte verkiesing in Zimbabwe, en albei staatshoofde het blommerangskikkings om hulle nekke gedra ter viering van Mugabe se “oorwinning”.

Oraloor het hierdie voorval gelei tot kritiek op Mbeki, en tot vandag toe verstaan meeste van ons steeds nie sy optrede nie. Maar ek onthou nog ‘n vergadering daardie dag, by my destydse werkgewer in sonnige Suid-Afrika, waar ‘n klomp van ons die president se optrede bevraagteken het. Ek wou saamgesels, totdat twee swart kollegas van Soweto-afkoms opgestaan het en vir die res van ons gesê het dat ons whiteys maar net nooit sal verstaan hoe Afrika se kop eintlik werk nie. En let wel, hierdie was twee mense vir wie se opinies ek die meeste ander dae net die hoogste ontsag gehad het. Maar hulle is seker reg: as jy nie self klipgegooi het in Soweto in 1976 nie, sal jy die gees van daardie tyd seker nooit heeltemal verstaan nie.

Jip, net soos Naas Botha.

So, wat my betref gun ek al wat Moslem is vandag sy opinie oor die spotprente, en persoonlik stel ek nie eers veel belang om ‘n kopie daarvan te sien nie. ‘n Stil bek is ‘n heel bek.

Ter afsluiting wil ek dit ook net duidelik maak dat ek nog nooit my naaste se os of haar esel begeer het nie, en ook nie haar chihuahua (wat my laasnag uit die slaap gehou het) nie. Verder het ek lankal vir Naas Botha vergewe vir al sy dade, en ek is nog steeds ‘n getroue Transvaal-ondersteuner – selfs ten spyte van al hulle hartverskeurende vertonings op die speelveld, seisoen na seisoen. Behalwe dat ek nie eers meer heeltemal seker is hoe my span na hulleself verwys nie: Leeus? Highveld Strikers? Gauteng?

Ai, hoe eenvoudig was geloofsake tog nie in my prille jeug nie.


Voetstoots van Tonder
12 Februarie 2005

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >