Monday, February 20, 2006

Maar in Amérika…


Toe ek jare gelede by ‘n internasionale firma in Johannesburg gewerk het, was daar ‘n jong bestuurder wat pas teruggekeer het van ‘n tweejaarperiode in die maatskappy se Texas-kantoor. Ek dink die man was waarskynlik redelik arrogant, selfs voordat hy ‘n klap van die VSA weggehad het, maar by sy terugkeer was hy voorwaar ‘n gesertifiseerde pyn in die nek. In gesprekke sou hy altyd eers luister na ander se opinies, en dan sou hy keelskoonmaak, en sy reaksie inlei met ‘n meerderwaardige “Maar in Amérika…”. Dan moes ons maar net weet: die storie wat volg, sou ongetwyfeld erger, of beter, of groter wees, of sommer al drie tegelyk, in vergelyking met enigiets anders wat tot dusver in die geselskap kwytgeraak is.

Alhoewel ek hierdie kêrel betreklik lanklaas gesien het, het ek nou die dag onwillekeurig aan hom begin dink in die konteks van die wêreld se Vise-Presidente en Adjunk-Staatshoofde wat skynbaar deesdae in kompetisie met mekaar is om te sien wie kan die grootste krater van hom- of haarself maak. Vat byvoorbeeld onse eie Me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, sy wat onlangs besluit het om haar hele gespuis te vat om hyskrane te bekyk in die Midde-Ooste. En dit alles natuurlik op die onkoste van die Suid-Afrikaanse belastingbetaler, nogal.

In die Verenigde Koninkryk is niemand seker presies wie die land se Adjunk-Staatshoof is nie, maar beide Prins Charles en Gordon Brown maak seker sterk aanspraak op die titel – afhangend hoe jy daarna kyk. En albei van hulle doen en sê gereeld goed wat grens tussen die belaglike en die lagwekkende; die gevoel wat die twee van hulle in ons wakkermaak is nie regtig respek of ontsag nie, maar eerder daardie tipe deernis wat ‘n mens voel vir ‘n ou labrador, net voordat jy die hond uitsit.

Maar in Amérika… kyk, dáár gooi die mense nou naam weg met styl. Iemand soos byvoorbeeld Vise-President Dick Cheney het nog nooit juis ‘n baie goeie reputasie gehad nie, gegewe dat hy (net soos President Bush self) sy geld gemaak het op ‘n hoogs twyfelagtige wyse in die dae voor sy politieke loopbaan. En meer onlangs was hy die grootste advokaat van die fabel oor Irak se wapens van massa-vernietiging; sover ek weet het die man tot vandag toe ook nie eers om verskoning gevra vir hierdie leuen, en al die onskuldige lewens wat dit intussen gekos het nie.

Asof dit alles egter nie erg genoeg is nie, moet ons nou leer dat Cheney nog boonop ‘n vrot skut ook is: hy rig sy haelgeweer op ‘n 78-jarige prokureur op ‘n afstand van skaars tien treë, en al wat hy kan regkry, is om die teiken te kwes. ‘n Mens kan net sidder as jy daaraan dink dat karakters soos hy op die ou end verantwoordelik is om bykans die hele westerse wêreld in ‘n oorlog te dompel…

En dan sê President Bush nog dat Amerika besig is om die stryd teen terreur te wen. Ek wonder hoe voel Dick Cheney se vriende oor so ‘n stelling: hulle wat nie eers op ‘n jagtog kan gaan, sonder om deur die Vise-President self geterroriseer te word nie; dit alles laat Guantanamo Bay en Abu Ghraib na ‘n grap lyk.

Maar in Amérika… dáár word ‘n mens mos hof toe gevat as jy jou naaste ‘n skewe kyk gee, of as jy ‘n hamburger aan iemand verkoop wat dalk daartoe kan lei dat jou slagoffer ‘n paar pond aansit. So die vraag is: hoe lank nog voordat Dick Cheney gedagvaar word in verband met sy vrot skietwerk? Teen hierdie agtergrond kan ‘n mens egter ook nie Cheney se bedoelings bevraagteken nie: soos reeds vermeld, was die teiken van sy skiet-oefening juis ‘n prokureur, en almal weet dat daar heeltemal te veel regsgeleerdes in Amerika (sowel as die res van die wêreld) is.

In die goeie ou dae is daar in die cowboy-flieks geskop, geskiet en gedonder, en in die Withuis het die mense gevry. Maar in Amérika… dáár is netmooi die teenoorgestelde klaarblyklik deesdae van toepassing, met Brokeback Mountain wat waarskynlik eersdaags ‘n hele tros Oscars gaan inpalm, en die Vise-President wat sy jagmaats een vir een probeer afmaai.

Ja-nee kyk, om jou vriende in die rug te steek is een ding, maar om op hulle los te trek met ‘n haelgeweer, is heel iets anders.


Voetstoots van Tonder
19 Februarie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >