Sunday, April 29, 2007

Almal hoop die struggle is verby…

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Praat Afrikaans of hou jou bek, aldus daai alombekende T-hemp wat die mense dra in die Tygervallei-winkelsentrum, Oppikoppi en die KKNK. En as daar nou een plek buite Bellville en Rustenburg en Oudtshoorn is waar hierdie boodskap behoorlik sin maak, is dit die Aardvark-pub in die Verre Ooste van Londen.

‘n Engelsman wat toevallig by die plek instap op soek na ‘n ale, skrik waarskynlik sy gat af – binne enkele minute sal die arme drommel voel soos jy en jou tjommie die dag toe julle per abuis in ‘n gay-pub beland het in die hoop dat die Bulls se wedstryd in die Super 14-kompetisie dalk daar sou wys.

Die personeel praat Afrikaans, die baniere teen die muur is in Afrikaans, daar’s biltong en daar’s Beyerskloof en daar’s Waterblommetjiebredie op die spyskaart (oftewel Pond Flower Stew in Engels – kan dit die korrekte vertaling wees?). Wat meer is, niemand kyk jou skeef aan as jy vra vir ‘n dubbel-Klipdrift en Diet Coke nie.

Maar hoekom verkoop julle dan Steinlager, vra ek vir Kobus die kroegman, kom hier baie Kiwi’s? Nee, sê hy, terwyl hy afbuk om een uit die yskas te haal. Maar om een of ander rede het die baas ‘n tyd gelede ‘n kas of twee daarvan gekoop, en juis omdat hier nié mense uit Nieu-Seeland opdaag nie, verkoop die goed glad nie. Dis nou totdat ekself natuurlik pas vir een gevra het.

Kobus is jonk en Kobus is vriendelik en Kobus is verskriklik entoesiasties; hy’s een van daai mense wat lewe in die oortreffende trap. Hierdie gaan gewis die LEK-kerste bier wees wat ek nog ooit gehad het! – belowe hy plegtig wanneer hy die Steinlager oorhandig.

Dis die tweede keer in my lewe wat ek myself in hierdie deel van Londen bevind. Dis ver van die huis af – twee treine én ‘n busrit ver, om presies te wees. Laasjaar het ek gekom om hulde te betoon aan Valiant, vanaand is dit Koos Kombuis se beurt.

Skuins na 6, wanneer die gehoor begin opdaag en Castle Lagers bestel word in afwagting op die vertoning later die aand, besef ek hoekom daar juis in hierdie deel van die wêreld so ‘n suksesvolle Afrikaanse pub is. Dis jongmense wat hier rond bly, opgeskote kinders op werksvakansies, pasgetroude dubbel-inkomste paartjies uit Stellenbosch wat nog werk aan daai Britse paspoort.

Die “ouer” garde, hulle wat al langer in Londen bly, al daai ex-pat Afrikaanse families met kinders op skool, woon mos in die buitewyke van Wimbledon. Met ander woorde ‘n hele dagreis ver van Rotherhithe af; geen kans dat enigeen van hulle vanaand hier gaan opdaag nie. Miskien luister party van hulle vanaand na een van Koos se CD’s terwyl hulle die boerewors braai wat die tannie vanoggend by die SA winkel aangeskaf het.

‘n Paar ure later, wanneer Koos Kombuis uiteindelik op die verhoog stap, is die applous voorspelbaar oorverdowend. Hallo almal, sê hy op sy verbouereerde manier, is julle al lankal hier? O, oukei, ‘n paar jaar al, antwoord Koos homself, en oënskynlik senuagtig giggel hy vir sy eie grappie.

En dan trek Koos los en hy begin vir ons sing. Hy doen ‘n klomp ou staatmakers sowel as ‘n paar onbekende liedjies wat blykbaar binnekort op sy nuwe CD gaan verskyn. “Al lê die bergies nog so bruin… al kamp die plakkers in jou tuin…” – so begin een van die songs.

Ek glimlag, vat ‘n sluk van my Steinlager en kyk om my rond. Feitlik deur die bank staan die mense in die gehoor met mekaar en gesels, baie van hulle skree sodat hulle mekaar kan hoor terwyl Koos sing.

Het die mense dan geen respek nie, wonder ek?

As Koos ‘n dosent was, het hy almal van ons vanaand uit sy klas uitgejaag, dink ek. Maar profesioneel soos wat hy is, gaan Koos onversteurd voort. Daar’s egter definitief iets wat ontbreek; dit voel asof daar geen konneksie tussen Koos en die mense in die gehoor is nie. Hy probeer byvoorbeeld nooit om ‘n geselsie met ons aan te knoop nie; dis asof hy maar net op meganiese wyse deur sy repertoire werk – so al tussen die slukke Beyerskloof deur.

Dan besef ek: dit alles maak seker sin. Want Koos Kombuis is vandag ‘n man in sy vroeë vyftigs, dít, terwyl die gemiddelde ouderdom van die mense wat om my staan en rook en drink en skree seker omtrent die helfte daarvan is.

Sien, toe Koos en kie agtien jaar gelede die Voëlvry-toer na die land se kampusse toe gevat het, het hierdie kinders se laerskooljare nog maar pas begin. En vandag ken hulle sommige van sy liedjies se woorde, nie omdat hulle nog ooit voorheen by een van sy konserte was nie, maar omdat hulle ouers destyds Koos Kombuis se musiek gespeel het op die kar se kassetspeler, op pad na die familie se strandhuis op Hartenbos.

Ja-nee, “almal wil ‘n huisie by die see hê”, bulder hulle dit saam met Koos uit. En “almal hoop die struggle is verby”…

Behalwe dat die mense om my nie eers kan onthou dat daar ooit ‘n struggle in ons land was nie. Inteendeel, hierdie jonger generasie se grootste struggle is om vir mense te oortuig dat Apartheid nooit hulle skuld was nie (hulle is immers te jonk om ooit vir die NP te kon gestem het).

Maar nou moet hulle wel struggle om werk te kry in die kompeterende landskap van Londen. En om Kobus die vriendelike kroegman se aandag te trek, want dis tyd vir nog ‘n Castle.

Maar niks meer te drinke vir myself nie, baie dankie. Dis laat in die aand, en persoonlik sal ek maar eerder my struggle aanpak om die treine en busse op pad huis toe te trotseer.

Voetstoots van Tonder
29 April 2007

11 Comments:

Blogger Christine said...

Ek het jare trug 'n Koos is Doning t-shirt gehad. Maar ek weet nie of dit nog geld nie.

1:32 pm  
Anonymous Anonymous said...

Waterblommetjies is "aponogeton" in Ingils. Dis een van die nuttelose woorde wat in ons ingedril is deur ons Engelse juffrou op skool. Saam met o.a. "leveret" (baba hasie) en "Portuguese Man O' War" (bloublasie). As sy nie geweet het wat om te doen nie, het sy gewoonlik 'n woordeskat pop quiz gehou. Dit kom wel handig te pas so nou en dan in 'n pub quiz.

10:07 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

nou toe nou, miskien moet ek vir die Aardvark laat weet: "aponogeton stew" (klink nie baie lekker nie?)

10:22 am  
Anonymous Anonymous said...

Hi Voetstoots,
Baie cool blog wat jy hier skryf, ek sal beslis weer terug kom om verder te lees.

10:57 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

dankie Antie!

4:58 pm  
Anonymous Anonymous said...

Hierdie inskrywing is die beste Voetstootsrubriek nog. Dit moet gebundel word.

10:15 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

jou kommentaar is 'n riem onder die hart, Salige Rus

10:21 am  
Blogger Rendier said...

Ek mis nou die dae in Londen. Dankie vir die verklaring oor waarom konserte in die Ooste gehou word. Ek het nooit die moet gehad om die groot tog uit Wimbledon aanpak nie.

Ek haal my hoed af vir Koos dat hy aanhou speel het deur die geraas. Weereens 'n groot rede hoekom ek intieme venues soos Durbanville Kunskafee bo groot konserte verkies.

7:22 am  
Anonymous Anonymous said...

twbllmckp fjigkcsjh cmvoyxayc [url=http://www.the-north-face-jackets-sale.com]cheap north face jackets[/url] jrfhjsnoo xzbmyqfhw bpmcoutdu [url=http://www.the-north-face-jackets-sale.com]northface coats[/url] mezfyktvy bfzjfhdgc ogagvqwmg [url=http://www.the-north-face-jackets-sale.com]north face jacket[/url] xbzwjbffp pnaevqsga cpmtmjxgx

Related articles:
http://www.theofficesurvivor.com/2010/10/php-use-of-plugin-wp-table-reloaded/comment-page-13/http:%2f%2fwww.the-north-face-jackets-sale.com
http://artause.ru/images/guest/index.php?t=1
http://demo.opensourcecms.com/punbb/post.php?tid=46

9:05 am  
Anonymous Anonymous said...

Hello. And Bye.

4:35 pm  
Anonymous Anonymous said...

Start you print printing right with these following ideas and information. [url=http://www.myownlabels.com]custom labels[/url] You can get either Yellow or White labelss. Animal print is also known for its historical memorials and architectural perfection and it is also important to market the book.
wine bottle labels stickers work hard for. Promotional activities like letterheads designs, business card Stickersing London is thriving.

2:02 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >