Sunday, April 22, 2007

Beskou jouself as uitgetrap, Koos Kombuis

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

So, Koos Kombuis kom weer vir ons speel hier in Londen vandeesweek. Wat my laat terugdink aan Sylvia, ‘n meisie wat ek destyds op die District Line ontmoet het. Nie dat Sylvia enigiets gemeen gehad het met Koos Kombuis nie. Inteendeel. Maar laat ek verduidelik.

Jy sien, Sylvia het van Libanon af gekom, en in die somer van 2003 het ons ‘n paar keer uitgegaan. Dit was die eerste en die laaste keer wat ek iemand van Midde-Oosterse afkoms ge-date het; op die ou end het ons paaie geskei as gevolg van verskille wat gans en al onoorbrugbaar was.

Aanvanklik was die gesprekke tussen ons interessant, en ons kon die kulturele gaping tussen Johannesburg en Beiroet behoorlik ontgin. Daar was inderdaad heelwat om uit te vind van mekaar se lande, geskiedenis, tradisies en gewoontes.

Het jy geweet dat die mense ski in Libanon, byvoorbeeld? En dat hulle (blykbaar nogal goeie) wyn maak in die land? En dat jy voor laasjaar se ligte misverstandjie met die Israeliete, gereeld jongmense sou sien wat in die soel someraande buite straatkafees in die middel van die hoofstad sit en kuier sonder om noodwendig opgeblaas te word? En dat daar nie net Moslems is nie, maar heelwat Christene ook? En dat baie van hulle Frans as tweede taal praat? En so kan ek aanhou…

En natuurlik het ek haar vertel dat Kaapstad die mooiste plek in die wêreld is, en dat Nelson Mandela ongetwyfeld die grootste staatsman in die geskiedenis is, en dat ek die Springbokke ondersteun – al maak hulle my dan ook min of meer een keer per Saterdag in die seisoen so hartseer dat ek eintlik net wil huil.

Op haar beurt het Sylvia my weer geleer van Arabiese gebruike. Een aand by ‘n kunsveiling, byvoorbeeld, sit ek met my bene gekruis – totdat sy my daarop wys dat daar mense van Arabiese voorkoms in die gehoor is. En volgens Sylvia is dit een van die grootste beledigings in daardie kultuur om jou voetsole vir iemand te wys (plus minus die ekwivalent daarvan om een vinger in iemand se rigting te lig) (en ek bedoel nie jou duim nie). Onmiddellik het ek albei my voete stewig op die vloer geplant, en tot vandag toe nog bly die les my by elke keer wat ek in die openbaar ‘n sitplek inneem.

Soos jy bes moontlik kan dink, is al hierdie verskille is redelik interessant – tot op 'n punt. En vir die twee van ons het daardie punt aangebreek die dag wat ek besef het dat die aanvanklike opwinding van die verhouding verby is (dit gebeur mos maar met almal, op een of ander stadium…), dat die kultuurverskille ver genoeg ontgin is, en dat dit nou eerder tyd is om te fokus op wat die twee van ons gemeen het. En toe besef ek: maar ons het op die ou end net mooi niks gemeen nie (ek bedoel: sy is 'n meisie, en ek 'n ou, om maar net een voorbeeld te noem!)

Kort daarna gaan draf ek een Saterdagoggend ‘n lang ent langs die Teems. En dis net daar wat ek my Koos Kombuis-teorie geformuleer het. Sien, op die ou end blameer ek tipies-Afrikaanse kunstenaars soos Koos vir die feit dat my en Sylvia se verhouding eintlik van dag een af gedoem was. Want my voorliefde vir Koos Kombuis se nukke en grille, sy raakvat lirieke en sy rasperagtige stem, beteken dat dit op die ou end nie maklik is om ‘n verhouding aan te knoop met iemand wat nie vir hom wat Koos is verstaan en waardeer nie. En daarmee bedoel ek nie noodwendig dat die spreekwoordelik vrou van my drome noodwendig 'n Kombuis-aanhanger moet wees soos ek nie… maar sy moet ten minste verstaan waar Koos inpas in die komplekse dog interessante SA kultuur-mosaiek, en hoekom ek so baie hou van die man en sy musiek.

Hoe verduidelik jy vir 'n aristokratiese meisie uit Beiroet – wie se idee van “oefening” 'n facial in Knightsbridge is – dat my held vir meeste van sy lewe dagga gerook het, dat hy vir jare lank saam met bergies gebly het, en dat sy naam Kombuis is? Ek meen, Kombuis??

Hoe verduidelik jy sy fyn sin vir humor, sy anargistiese streep, sy vermoë om te dig en te skryf en die gees van die volk saam te vat? En hoe versoen jy dit met hoe hy lyk en hoe hy tot onlangs nog gelewe het (dis nou tot hy ook uiteindelik – teen alle verwagting in – ook soos ‘n normale mens besluit het om nes te skop met ‘n vrou en 2.2 kinders)?

Ja-nee, dis nie maklik nie. En dis hoekom ek vies is vir Koos Kombuis. Want soos ek hierbo verduidelik, is dit sy skuld dat die versameling “geskikte” vrouens op aarde vir iemand soos myself gereduseer is na ongeveer 0.0000000001% van die wêreld se bevolking - waarvan min of meer helfte nie baie mooi is nie, omtrent ‘n derde is heeltemal te oud vir my, 15% veels te jonk, en 'n klompie ander is direkte familie. Wat beteken daar is presies 11 dames oor, in die hele wye wêreld, en meeste van hulle is of getroud, of in elk geval in ernstige verhoudings. O ja, en twee van hulle het intussen Amerika toe ge-emigreer ook nog.

So, Koos Kombuis, beskou jouself as uitgetrap. Maar as jy Vrydagaand mooi speel vir ons, sal ek jou dalk vergewe.

Tog te jammer dat Sylvia waarskynlik nie daar gaan wees om dit aan te hoor nie.


PS 1: Ek vermoed dat Libanon seker ook die ekwivalent van 'n Koos Kombuis het, en ek's seker ek sal ook nie van sy musiek of sy voorkoms hou nie. Ek sou raai die man is 'n afgetrede vryheidsvegter, hy bly êrens in 'n grot, en hy dra sulke vuil lakens. Hy het lang swart hare, het 17 jaar laas geskeer, en sy asem ruik sleg. Hy borsel nie tande nie, maar twee keer per dag krap hy in sy neus met die punt van ‘n lang sabel terwyl hy met sy ander hand sy mak iguana streel. Hy kan nie lees nie, maar sy liedjies is diep, en hy kan net twee note sing. En ingeval jy gewonder het: nee, ek dink nie dat ek ooit ‘n aanhanger van die kêrel sal kan wees nie.


PS 2: Heelwat water het in die see geloop vandat ek oorspronklik hierdie Koos Kombuis-teorie van my geformuleer het. En vandag is daar ‘n Australiese dame wat figureer in my lewe, en soos jy sou kon raai, verstaan sy ook nie die Koos Kombuis-ding nie. Maar sy verduur dit darem wanneer ek na die man luister. Wat meer is, waardeer sy krieket – en dit is inderdaad fantastiese nuus. Behalwe dat ek nie weet hoe ons verhouding moontlik geaffekteer gaan word deur die uitslag van eerskomende Woensdag se halfeindstryd in die Wêreldbeker-kompetisie nie…


Voetstoots van Tonder
22 April 2007

7 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Ek hoop maar vir jou part ons wen Woensdag, want eerder sy wat huil en jy wat haar moet troos, as wat jy moet huil.

Ons het vir Koos gesien by die KKNK se groot rock konsert. Moerse stage, met 'n paar ander bands wat voor hom speel en lekker rock. Toe kom hy op, sonder 'n band, met 'n bottel wyn (Byerskloof Pinotage) in die hand en sy ketaar in die ander. Plonk homself neer op 'n stoel, ontkurk die bottel met sy tande en spoeg die kurk met 'n boog in die skare in. "So, wat wil julle hoor?". Ek weet dis seker maar Koos, maar hy het effens onprofessioneel voorgekom teen die ander mense wat voor en na hom gespeel het. Maar soos ek sê, dis maar Koos, en dis deel van hoekom ons hom laaik.

9:47 am  
Anonymous Anonymous said...

Yaay! Voetstoots is terug!

Ek het een keer vir 'n paar Duitse meisies probeer verduidelik wie Koos is en waar hy inpas. Na 'n rukkie van verwardheid, sê ene toe: "oh!, he is like Leonard Cohen here??"

Ek het gedink dit vat vir Koos nogal raak, as mens nie 'n ander manier het van beskryf nie.

4:05 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

nee jissie Carien, ek dink Leonard Cohen is heeltemal te ordentlik vir onse Koos... en Koos is baie snaakser?

4:17 pm  
Blogger Lammervanger said...

Koos is nog steeds een van die min kunstenaars wat my tot op die rand van trane kan dryf as die heimweë my beetpak...

4:39 am  
Blogger Dai said...

sjoe... ek verstaan heeltemal. ek is glad nie 'n gewone afrikaanse meisie nie... en meestal praat ek engelse agv werk en so aan... maar ek verkies om mense te date wat afrikaans praat. Somehow maak dit net meer sense :-)

3:17 pm  
Anonymous Anonymous said...

Voetstoots, hoe gebeur dit dat mens op 'n date gaan met iemand wat jy op die District Line ontmoet het? Het jy net so effens gemaak-per ongeluk aan haar gestamp en haar toe uit gevra?

11:53 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

goeie vraag, Salige Rus, goeie vraag... maar die kort antwoord is dat sy basies die een was wat my begin opchat het...

9:26 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >