Sunday, April 01, 2007

Daai klein landjie langs Duitsland

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Toeriste is darem maar simpel goed. Vra my, nou die dag was ek self weer een. Vir werksredes bevind ek myself in Kopenhagen, van alle plekke, en so besluit ek toe om maar oor te bly vir die naweek. Dit het na ‘n goeie idee geklink op sy tyd; dis ‘n plek waar ek immers nog nooit voorheen was nie.

Denemarke – die land van, Carlsberg, Hans Christian Andersen, Thomas Bjorn, en Hagar die Verskriklike. Of het Hagar en sy bende Vikings eintlik van Swede af gekom? Ek is nie heeltemal seker nie; in my geestesoog is die hele Skandinawië maar redelik ineengevleg. Dis daar bo iewers, naby die noordpool; dis koud en dis donker en daar’s verskriklik baie water, en die mense is lank en blond en beeldskoon.

Soos ‘n goeie toeris, besluit ek toe maar om ‘n bietjie voorbereiding te doen. Stap boekwinkel toe om ‘n gids aan te skaf. Krap rond in die seksie wat met C begin. En dis toe dat ek besef ek’s in die moeilikheid: daar’s alles van Cairo, Canada, Chicago en Chile, tot by Colombia, Corsica, Croatia en Cyprus. Maar geen Copenhagen nie.

Ek meen: Colombia? Bid jou aan. Kan dit moontlik wees dat daar meer toeriste is wat belangstel in hierdie gevaarlike klein landjie met ‘n dwelmprobleem naby die Amasone, as in die stad van Carike Keuzenkamp se Lang Maer Blonde Man?

Maar dalk maak dit tog sin: hoeveel mense ken jy wat al in Denemarke gaan rondtoer het?

Twee boekwinkels later kry ek uiteindelik ‘n gids in die hande. Daarin lees ek dat Kopenhagen die stad is van Karen Blixen, die outo-biografiese karakter soos vertolk deur Meryl Streep in Out of Africa. Dié fliek het ek nog destyds saam met een van my universiteitsmeisies gesien; besluit toe maar om weer die DVD uit te neem – net om gees te vang vir Kopenhagen.

Maar Out of Africa berei jou natuurlik glad nie voor vir Kopenhagen nie – behalwe in een of twee tonele, waar ‘n baie donker prentjie van die stad geskets word (dis oënskynlik hoekom Blixen die plek verlaat het, in ruil vir die lig in Kenya). In een van die tonele vertel Blixen vir iemand dat sy van Denemarke af kom, gevolg deur die opmerking: O, daai klein landjie langs Duitsland…

Dis seker effens van die punt af, maar net vinnig, ‘n opinie oor Out of Africa. Die fliek het nie veel van ‘n storie nie, maar daar’s pragtige nostalgiese tonele van Afrika soos wat dit ‘n honderd jaar gelede was, lieflike koloniale geboue, hordes gehoorsame bediendes in wit linne, en ‘n leeu om elke hoek en draai. En op die ou end raak Meryl Streep en Robert Redford op mekaar verlief. Bitter stadig, maar darem. Met ander woorde dis alles presies soos in Bridges of Madison County; net die gepaardgaande natuurskoon en die agtergrondmusiek verskil wanneer die twee van hulle aan’t vry raak.

En so arriveer ek op die ou end in die stad van feeverhale, die oorspronklike danish pastry, en die Dene se klassieke ontwerpstyl. Alles het die skoonste lyne denkbaar: die moderne geboue, die eetgerei, die meubels. Oral sien jy stoele met net een poot; moenie vra hoe die mense dit regkry nie, maar hulle doen. Dis die tipe plek waar jy verwag dat geen toebroodjie ‘n korsie behoort te hê nie.

Ongelukkig het ek geen feetjies raakgeloop nie, maar ek het darem wel ‘n meermin gesien. Ek het geen idee hoekom nie, maar dit lyk my hierdie klein standbeeldjie aan die hawefront is min of meer die stad se grootste toeriste-aantreklikheid. Daar het ek foto’s geneem van mense wat foto’s neem van mekaar terwyl hulle die meermin liefderyk omhels. Laas wat ek so foto’s geneem het van mense wat foto’s neem was toe ek destyds my respek gaan betoon het aan die Mona Lisa in die Louvre; dit was baie jare gelede, waarskynlik nog voordat Dan Brown sy kopie van The Holy Blood and the Holy Grail onder oë gekry het.

En dis hoekom ek sê dat toeriste lekker simpel is. Ons almal koop dieselfde toergidse wat ons na dieselfde “aantreklikhede” toe stuur, en dan stroom ons soontoe om die verpligte foto’s te neem waarna ons nooit weer sal kyk nie. Dikwels is die aantreklikhede ook nie eers so aantreklik nie; daar is maar net een of ander historiese betekenis daaraan gekoppel wat in elk geval vir die meeste van ons net mooi niks beteken nie. En wat ons die heel meeste teleurstel, is wanneer iets kleiner is as wat ons verwag het. Ek onthou nog hoe verbaas ek was toe ek die heel eerste keer die Mona Lisa gesien het, en ek besef die arme vrou is skaars groter as ‘n A4-bladsy (dalk het Leonardo haar op ‘n bladsy in een van sy skoolboeke geteken?).

Dit was dan ook my eerste gedagte toe ek op die ou end Kopenhagen se meermin sien…maar sy’s so KLEIN!

Nou maar presies hoe groot het jy dan gedink behoort ‘n meermin nou eintlik te wees, vra ek myself onmiddellik die teenvraag…

Wat ek egter die heel meeste van die meermin waardeer het, was haar naam, in Deens, soos aangedui op al die plaaslike tekens: Den Lille Havfrue. Oftewel die klein hawevrou. Is dit nie ‘n pragtige beskrywende naam vir ‘n meermin nie? Hoe op aarde het ons taalvaders in elk geval destyds op ‘n woord soos “meermin” besluit? Waar ek vandaan kom, is daar ook hawevrouens, maar nie die tipe wat jy behoort te besoek as daar enigsins ‘n kans is dat jou dominee daarvan gaan uitvind nie.

Den Lille Havfrue is ook nie die enigste Deense woorde wat heel verstaanbaar lyk vir die tipiese Afrikaanse leser wat in die land arriveer nie. ‘n Mens besef maar net weer hoe sterk die ooreenkomste tussen al die Germaanse tale is wanneer jy daar rondloop. Dit het sommer op die lughawe al begin, toe my Engelse kollega nog soek na die Exit en ek hom oombliklik in die rigting van die Udgang kon stuur.

Dan’s daar die stad se naam, in die oorspronklike Deens: Kobenhavn. Oftewel die hawe vir handelaars (kopers). Met ander woorde dis nie net meermin wat ons taalvaders opgemors het nie: wat op aarde het hulle besiel toe hulle bloot die Engelsman se Copenhagen (wat niks beteken nie?) vervang het met Kopenhagen? Hulle kon dit mos maar eerder Koopmanshawe gemaak het?

So hou dit aan; oral kan mens “Afrikaans” lees. Ek stap by ‘n boekwinkel in, die deur sê TRAEK (behalwe dat die A en die E aan mekaar vas is: my rekenaar het nie so ‘n letter nie). Ek trek. Dit werk. Maar toe ek later uitloop, vang hy my uit: hierdie keer sê hy TRYK. Ek trek weer? Maar nee, TRYK moet seker stoot beteken – in hierdie geval weet ek regtig nie wat in die Dene ingevaar het nie.

Die Deens vir ‘n boek is ‘n bog. Maak ook sin as mens dink watse snert deesdae alles gepubliseer word. In die bogwinkel blaai ek deur ‘n woordeboek: omliggende is omliggende, toonaangewende is toneangivende, glad is glat. Ek kyk na ‘n boek getiteld Hel Danmarks Bryllup: dit gaan oor die land se koninklike troue (die hele Denemarke se bruilof).

Maar ek het natuurlik ook ‘n hele paar nuwe woorde geleer; dis nie net stoot wat anders is in Deens nie... My gunsteling is die Dene se woord vir ‘n duim: hulle praat van ‘n tommeltot. En underkop beteken nie hoenderkop nie, dit verwys na ‘n piering (onder die koppie!).

In ‘n restaurant bestel ek ‘n glas 2003 Columbia Crest Merlot uit die VSA (ek dink nie die Dene kan wyn maak in hulle eie land nie, gegewe die land se temperatuur). Die wyn word ongelukkig nie in Engels beskryf op die wynlys nie (en ook nie in Afrikaans nie, snaaks genoeg). So ek lees maar die Deens: “En helt fantastik laekker vin med en dybrod farve og en skon duft” (met strepies deur ‘n paar van die o’s, wat my rekenaar ook nie het nie). En toe die wyn opdaag, was dit inderdaad ook ‘n heel fantastiese lekker wyn met ‘n dieprooi kleur en ‘n skoon reuk.

Soos jy seker kon raai, is die Deense woord vir blond, wel, blond. En is die Dene nie blond nie! Met hulle blonde hare en blou oë lyk elke tweede een ‘n bietjie soos ‘n albino.

In die geheel is Kopenhagen se dames nogal sag op die oog. G’n wonder nie dat hulle lugredery bekendstaan as SAS: Seriously Attractive Stewardesses!

Dis egter nie maklik om ‘n meisie op te chat nie, want sy is ten minste ‘n voet langer as jy. Nie net dit nie, maar ons sukkel met mekaar se aksente. Die skryftaal is dalk naby aan mekaar, maar moenie vir ‘n oomblik dink dat die gesproke taal enige ooreenkoms het nie.

Dan sit mens maar en waardeer die uitsig (oor die mooi stad, sowel as al die blonde vroumense) terwyl jy nog ‘n Carlsberg bestel. Of dalk eerder ‘n Tuborg, soos wat die plaaslike mense maak. Ek moet bieg dat ek die een dag nogal ‘n bietjie underkop, ek bedoel hoenderkop, geraak het in die proses.

En ek het ook nie ‘n hawevrou gaan opsoek nie, ek belowe. Behalwe vir daai een, waarvan ek reeds vertel het. As jy regtig wil, sal ek vir jou die foto’s wys wat ek van haar geneem het. Behalwe dat ek die beste een verloor het toe ek dit op die rekenaar probeer aflaai het.

Maar wat maak dit tog saak: ek het mos gesê ek sal nooit weer daarna kyk nie.


Voetstoots van Tonder
1 April 2007

8 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Wanneer ek my volgende Tuborg hieronder geniet (wat ek op 'n semi-gereelde basis doen), sal ek aan jou en jou hawevrou in die Deense koninkryk/koningkryk dink.

5:28 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

dankie man, dis vir my 'n riem onder die hart...

terloops, hoe's dit dat die Aussies so 'n gesofistikeerde bier drink?

7:24 am  
Blogger Lammervanger said...

Hulle drink dit nie - ek dink dis meestal ex-pats en dies meer wat daaraan teug.

11:21 pm  
Anonymous Anonymous said...

Voetstoots, c'mon, waar's jou weeklikse storie? Skryf iets, toe nou...

9:00 am  
Blogger Lammervanger said...

Carien jy moet sing soos die blommetjies op Wielie Walie gesing het vir Bennie Boekwurm om uit te kom sodat hy 'n storie kon vertel.

6:33 am  
Anonymous Anonymous said...

Ok, fine, as dit gaan werk:

"Sleuteltjie, sleuteltjie, op sag satyn, Laat tog 'n storie uit die boek verskyn..."

7:02 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

nee nee nee hy gaan so: "Bytjie blaas en ons moet sing... Bennie, sal jy die storie bring..."

elkgeval: dankie vir al die belangstelling en aanhitsing mense - voetstoots het vir die afgelope week of twee 'n skietstilstand beleef (o.a. innie skone Kaap rondgeloop op 'n luilekker Paasvakansie) - sal hopelik weer eerskomende naweek die leisels optel...

2:06 pm  
Blogger uraniavalis said...

Blackjack - Casino Dealer at Wynn - Dr. MCD
The dealers at Blackjack are always 익산 출장안마 willing to provide their games to a point of view which 광명 출장샵 can make the game much more exciting. 제천 출장샵 You can bet with 포항 출장샵 your 밀양 출장안마 real money,

11:49 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >