Sunday, February 26, 2006

Oor kragonderbrekings en suur druiwe

Suid-Afrika se elektrisiteit is op. Die afgelope week was daar so baie kragonderbrekings in die Wes-Kaap dat die mense begin dink het al die robotte is eintlik nou flikkerligte. Terloops, ‘n robot is ‘n verkeerslig (vir daardie Londense lesers wat Afrikaans nie verstaan nie).

Shoprite dagvaar vir Eskom, want al die roomys in hulle winkels het gesmelt, die hoenderborsies het ontvries, en die vrugte het vrot geword. Almal is kwaad; die verkramptes blameer regstellende aksie, en die verligtes se ligte is uit (verskoon die woordspeling). Dis ‘n treurmare.

Met globale verwarming wat die afgelope tyd so baie in die nuus is, is ek egter redelik verbaas dat niemand oënskynlik nog op die goeie nuus gefokus het nie: as gevolg daarvan dat Suid-Afrika se elektrisiteit nou so gereeld afgeskakel word, is ons land se bydrae tot die vrystelling van allerhande skadelike gasse natuurlik skielik soveel minder as voorheen. Wat beteken dat die gat in die osoon langer gaan vat om hand-uit te ruk, die noordpool smelt ‘n bietjie stadiger, en die gemiddelde ysbeer gaan ‘n hele paar jaar langer oorleef. Kan iemand asseblief die Eskom-voorsitter nomineer vir ‘n Nobel-prys of iets?

Gister toe ek in Marks & Spencer tussen al die gevriesde roomys en hoenderborsies rondloop, het ek gedink aan my vriende en familie in Suid-Afrika, en hoe almal van hulle letterlik in die duister moet tas op die oomblik. En ek het veral ook aan hulle gedink toe ek ‘n pakkie druiwe uit die land van my herkoms aanskaf: £2.49 vir 400 gram.

Weet jy hoe min is 400 gram druiwe? Wel, dis nogal min, laat ek jou vertel, omtrent net mooi een handvol. En weet jy hoe baie is £2.49? Wel, dis nogal baie, laat ek jou vertel, met ‘n bietjie geluk kan jy vir daardie prys amper ses biere koop op ‘n special by jou plaaslike Tesco.

Maar wat my die meeste pla van die Suid-Afrikaanse druiwe wat ek in Marks & Spencer koop, is nie die prys nie, maar die feit dat die goed nooit vrot word nie. Ek het byvoorbeeld ‘n paar maande gelede ‘n pakkie daarvan in my yskas vergeet, en dit eers omtrent ses of agt weke later weer ontdek. Geen probleem nie, dit het ewe kraak-“vars” gelyk as die dag wat ek dit gekoop het. Die chemikalieë wat hulle kant moes bring op die lang vlug van Kaapstad Internasionaal af, was uiteraard nog hard aan die werk.

Ek het egter nie die vrede vertrou nie, en ek het die pakkie toe maar buite die yskas gelos sodat ek kon onthou om dit weg te gooi wanneer ek later die week die vullissakke uitsit. Geen probleem nie: ‘n paar dae later was dit steeds ewe kraak-“vars”, selfs na aanhoudende blootstelling aan die kamertemperatuur (wat natuurlik nie noodwendig hier in Engeland altyd so warm is nie, moet ek seker toegee).

Wat op aarde gebruik hulle om die ingevoerde vrugte te preserveer, wonder ek? En hoe lank nog voordat ek die een of ander dodelike kanker as gevolg daarvan ontwikkel?

Ja-nee, as ek dink aan al daardie duur, noodwendig onvarse, soms smakelose, altyd chemikaliese produkte wat uit my eie land uit aangevlieg word Engeland toe, kry ek sommer suur druiwe, en ek wens vir ‘n oomblik dat ek terug was in sonnige Suid-Afrika.

Want kyk, daar’s miskien nie op die oomblik krag in die Kaap nie, maar een ding wat daar hierdie tyd van die jaar is, is fantastiese druiwe. Vra my, ek het sewe jaar lank daar gewoon voordat ek die lang pad na Moddereiland toe aangedurf het, en een van my gunsteling dinge was om elke Saterdagoggend in Maart na die sirkel aan die bopunt van Constantia Nek te ry, en vars hanepoot by die Kleurling met die gehawende lorrie te koop. Terloops, ‘n sirkel is ‘n roundabout, wat losweg ook vertaal kan word as rond-en-bont (vir daardie Londense lesers wat Afrikaans nie verstaan nie).

Met ‘n klein bietjie geluk, is die druiwe wat jy daar langs Constantia Nek se sirkel koop, vroeër die oggend nog gepluk, net so ‘n entjie af met die bult (nogmaals bevorderlik vir die osoon, want daar word nie soveel uitlaatgasse veroorsaak in die kort rit na die verkoopspunt toe nie, laat staan nog ‘n vliegtuigrit oor halfronde heen). Verder wil ek nou nie soos my oorlede oupa begin klink as hy eers pryse uit sy jeugjare begin aanhaal het nie, maar as ek reg onthou kon jy die annerdag nog ‘n boks van seker amper vyf kilogram vir minder as vyftig rand aanskaf – met ander woorde ten minste 85% goedkoper as in Engeland. En nodeloos om te sê dat die druiwe boonop suikersoet is, veral as hulle so bietjie gelerig is van die son se steek.

Die beste van alles is egter dat daardie hanepoot-druiwe behoorlik vrot word, selfs binne-in ‘n yskas, en selfs al gaan die krag nooit eers af nie. Binne ‘n paar dae moet jy maar al hoe vinniger begin eet, want ‘n week later kan jy die goed maar weggooi. Omdat dit nie ver hoef te vlieg nie, is daar heelwat minder preserveermiddels en chemikalieë in ‘n hele boks van Constantia Nek se druiwe as in een korreltjie van Marks & Spencer. Wat beteken dat die mense in die Kaap se kans om eendag kanker te kry, natuurlik ook soveel minder is.

Ja-nee, die les wat hierdie druiwestorie ons leer, is dat dit eintlik nog baie goed gaan in Suid-Afrika – al moet die mense dan ook elke twee minute back-ups maak, en selfs al sukkel hulle om die iPods te laai. Om alles te kroon het hulle nog hierdie week ‘n EKSTRA vakansiedag ook, net om die ANC te gaan instem vir die plaaslike owerhede. Ongelukkig wil my baas hier in Londen my nie daardie dag afgee nie, selfs ten spyte van my Suid-Afrikaanse paspoort; nog ‘n rede vir suur druiwe.

So, as jy dalk toevallig hierdie naweek in Kaapstad is, ry asseblief Saterdagoggend Constantia Nek se kant toe en gaan koop ‘n kissie hanepoot, selfs al is dit ook net vir my onthalwe. Dis nou as daar nie ‘n kragonderbreking is wat dit onmoontlik maak om jou kar agter die elektriese deure van die garage uit te kry nie.

Terloops, ‘n garage kan ook ‘n vulstasie beteken, so wees asseblief versigtig as jy ooit die term gebruik (vir daardie Londense lesers wat Afrikaans nie verstaan nie).


Voetstoots van Tonder
26 Februarie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >