Sunday, March 05, 2006

Die gate in die groot groen onderbroek

Hoe het die wêreld nie verander oor die laaste vyftien jaar nie. Vyftien jaar gelede het nie een van ons ‘n selfoon gehad nie. Vyftien jaar gelede was die internet nog maar net ‘n blink gedagte. Vyftien jaar gelede het ons almal nog gedroom van Suid-Afrika se hertoetrede tot internasionale sport (en as ek so kyk na ons spanne se vertoning in die Super 14, wonder ek of dit ooit so ‘n goeie idee was).

Vyftien jaar gelede was die Nuwe Suid-Afrika nog maar net ‘n embrio; die konsepsie soos versinnebeeld deur Nelson Mandela se vrylating uit die tronk was skaars verby, en die geboorte van sy presidentskap sou eers drie jaar later plaasvind. En terwyl wit politiek vyftien jaar gelede nog betreklik relevant was (dit was immers voordat Mandela self kon stem), is mense soos Eugene Terreblanche en sy trawante nog ernstig opgevat in daardie dae. So ernstig, byvoorbeeld, dat Nick Broomfield van die BBC destyds die lang pad Ventersdorp toe gevat het om ‘n dokumentêre program van anderhalfuur getiteld The Leader, His Driver, and the Driver’s Wife oor die leier van die AWB te maak.

Nick Broomfield is Engeland se antwoord op Michael Moore. Maar waar Moore dink dat hy al die antwoorde het, en dat hy die hele wêreld gaan verander, doen Broomfield alles op ‘n heelwat meer Engelse manier. Is daar ‘n goeie Afrikaanse woord vir understated?

Wanneer Michael Moore die kandidaat vir een van sy onderhoude kies, loop hy die persoon trompop en daag hom uit om so gou as moontlik sy mond verby te praat. Broomfield, aan die ander kant, uitoorlê sy slagoffer op ‘n veel meer geduldige wyse, en irriteer die ander party totdat hy op die ou end oënskynlik boedel oorgee. Die beste dele van sy films is dikwels wanneer hy net swyg in ‘n onderhoud, en die ander party dan allerlei nonsens begin kwytraak net om ontslae te raak van die ongemaklike stilte. En as jy nou regtig op soek is na iemand wat behoorlik nonsens kan praat, hoef jy seker nie veel verder te kyk as die leier van die AWB nie.

Die verskil tussen Nick Broomfield en Eugene Terreblanche se persoonlikhede kon ook nie groter gewees het nie. Broomfield se beste vraag is dikwels net ‘n uitgerekte hmmmm, gevolg deur ‘n skamerige glimlag; Terreblanche se tipiese antwoord is ‘n tirade, ‘n oordrywing en ‘n algehele dramatisering van sy eng perspektief op die wêreld. Of dikwels is dit sommer maar net ‘n misplaaste dreigement.

Baie het gebeur in die vyftien jaar sedert Broomfield die eerste keer op Terreblanche gefokus het, en meer onlangs het die Engelsman besluit om terug te gaan Wes-Transvaal toe om ‘n opvolgprogram te skiet; His Big White Self is verlede week op More4 uitgesaai. Dis met gemengde gevoelens wat ek daarna gekyk het.

Aan die een kant was dit lekker om ‘n program te sien waar ek kan assosieer met die landskap, die aksente verstaan en die karakters aan my bekend is. Maar aan die ander kant het dit my gevul met ‘n unieke mengsel van verleentheid en hartseer: verleentheid omdat ek besef het dat daar regtig nog sulke mense is, en dat ekself seker nie regtig sover daarvan verwyder is nie, en hartseer omdat die program die menslikheid van die karakters te midde van hulle politieke irrelevansie so effektief uitbeeld.

Daar was ‘n paar baie goeie momente in His Big White Self . Daar was die melodieuse klanke van die Click Song. Daar was terugblikke na die 1994-verkiesing se lang, vreedsame toue mense – selfs in Ventersdorp. En dan was daar ‘n toneel waar Broomfield betrap word in ‘n spoedlokval net buite Eugene Terreblanche se tuisdorp, en die swart verkeerskonstabels hom laat gaan met ‘n waarskuwing toe hulle hoor waarheen hy op pad is. Het julle ‘n boodskap vir Terreblanche, vra Broonfield. Die een verkeersman (die vette) pak ‘n groot, amper senuagtige glimlag uit en antwoord: Noooo, just tell him to be nice!

Maar jy kyk eintlik nie na so ‘n program omdat jy dit geniet nie, jy kyk daarna omdat jy bang is jy mis iets, soos wanneer jy by ‘n grusame ongelukstoneel verbyry. Partykeer wil jy agter jou hande wegkruip en deur jou vingers loer. Jy voel soos wanneer jy JM Coetzee se Disgrace lees, of Marlene van Niekerk se Triomf – dis verskriklik, dis ongelooflik, tog is dit alles waar… en die ergste van alles: dis MY mense.

Soos in Broomfield se eerste program oor Terreblanche, val ‘n groot deel van die fokus weer op JP Meyer, Die Leier se voormalige motor-bestuurder, en dié se ex-vrou, Anita. Maar waar die twee van hulle vyftien jaar gelede nog vroom-vroom en al glimlaggende die een growwe rassistiese stelling na die ander gemaak het, het daar intussen grootliks ‘n ontnugterde berusting oor Suid-Afrika se politieke omwenteling ingetree. En waar Eugene Terreblanche destyds gehore vol oorgewig boere met weglê-snorre opgesweep het totdat die spoeg so spat (Anita beskryf Die Leier as “very dominative”), is sy eie swak gedigte al waarin hy skynbaar belangstel na sy onlangse vrylating uit die tronk.

Een van die mees bisarre tonele in die TV-program is waar Broomfield uiteindelik kans kry vir ‘n onderhoud met Terreblanche, maar dié se woordverwoerder maak dit duidelik dat geen politieke vrae aan Die Leier gestel mag word nie as gevolg van sy parool-voorwaardes. Wanneer Broomfield derhalwe vir Terreblanche begin uitvra oor sy digkuns, herinner dit amper aan die patetiese boekwinkel-eienaar (Hugh Grant) wat voorgee dat hy die tydskrif Horse & Hound verteenwoordig in ‘n onderhoud met die Hollywood-superster (Julia Roberts) in die rolprent Notting Hill.

Sommige mense sal sê dat Eugene Terreblanche nog altyd ook ‘n redelike patetiese figuur is, dalk selfs meer pateties nog as die gemiddelde Hugh Grant-karakter. Daardie mense sal hulle opinie motiveer met verwysing na Jani Allen se storie van die gate in die groot groen onderbroek, of die dag wat Die Leier van sy perd afgeval het (ek wonder wat het die mense daarvan gedink by die Horse & Hound?). En tog het die man ‘n stem gehad, ‘n kyk wat deurboor en die tipe charisma wat feitlik enige luisteraar kon hipnotiseer. Vandag is hierdie eienskappe nog daar, maar die motivering is op, en die drif is weg; al wat oorbly is ‘n moeë ou man, ‘n patetiese skepsel.

Eugene Terreblanche het oor en oor gesweer dat sy volk nooit regeer sou word deur “die kommunis, die ateïs en die terroris” nie. Hy het sy volk probeer voorberei vir oorlog teen hierdie bose groep, maar hy is verslaan voor die eerste veldslag. En die Leier – en die meeste van sy volgelinge – is heeltemal gebroke gelaat in die proses.

JP Meyer, die voormalige motor-bestuurder, het intussen ‘n ambulansman geword. Hy som die ontnugtering van die oorlog wat nooit plaasgevind het nie soos volg op: “If you train a horse to ride in a race and you don’t give him a race, you break his spirit” (sic).

Self kan ek dit nie beter stel nie. En ek aanvaar dat die mense van Horse & Hound seker ook nie daarvan sal verskil nie.


* His Big White Self word weer uitgesaai op More4 aan die einde van Maart.


Voetstoots van Tonder
5 Maart 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >