Sunday, March 25, 2007

Moet op prinse nie vertrou nie

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Soos elke ander seuntjie, het ek ‘n hele paar helde gehad na wie ek opgesien het toe ek klein was. Maar daar is veral twee van hulle wat uitgestaan het bo die res.

Die een was ‘n fiktiewe karakter genaamd Fritz Deelman – ‘n avontuurlustige kalant wat feitlik enigiets kon doen. En hy was dekades voor sy tyd wat betref al die tegnologie wat hy aan sy vingerpunte gehad het.

Die beste van alles was egter die feit dat Fritz juis ook ‘n ware Afrikaanse held was, en nie iemand wat (in vertaalde vorm) uit Europa op ons afgesmeer is, soos Heidi en Pippie Langkous nie.

Ja-nee, Fritz Deelman was die Broederbond se antwoord op James Bond, as jy my vra.

Ek onthou ongelukkig bitter min van die detail, en die boeke self het ek ‘n hele paar trekke gelede reeds verloor. Maar ek onthou wel ‘n paar van die titels.

Fritz Deelman en die Gori Lama. Fritz Deelman en die Diepsee-Duikbol. Fritz Deelman en die Suidpoolbende. Ek kry sommer van voor af hoendervleis as ek daaraan dink.

Die Gori Lama was ‘n Verskriklike Slegte Ou, as ek reg onthou, een of ander Vreeslike Monster in die berge van Tibet wat oorwin moes word. Wat Fritz natuurlik dan ook in ‘n japtrap gedoen het.

Of nie? Soos ek reeds gesê het, ek kan nie regtig onthou nie… Maar dis in elk geval die tipe toneel wat ‘n naam soos die Gori Lama in my verbeelding oproep.

My ander groot held in daardie dae was weliswaar nie ‘n fiktiewe karakter nie, maar ‘n regte mens. Ja, dit was Graeme Pollock – heel moontlik die beste kolwer wat ons land ooit opgelewer het.

Pollock het nie net baie lopies gemaak nie, hy het dit ook op die mees stylvolle manier moontlik gedoen. Dit was alombekend dat hy die swaarste kolf in krieket gehad het, en een of twee keer per boulbeurt sou hy dit op sy lui manier deurswaai. Feitlik sonder uitsondering sou die bal dan ‘n sekonde of wat later teen die dekpunt-grens klap.

Graeme Pollock het alomweë bekendgestaan as die Prins van Kolwers. Tot vandag toe nog wonder ek: hoekom die Prins? Hoekom dan nie die Koning nie?

In my slaapkamer was daar ‘n plakkaat van Pollock, die embleem op sy Gray Nicholls-kolf duidelik sigbaar. Dit was een van die Huisgenoot se dubbelblad-specials. Eers aan die einde van my skoolloopbaan het ek uiteindelik die prent verwyder; teen dié tyd was die Prestik se oliekolle al so groot soos ‘n man se hand.

En omdat Graeme Pollock met ‘n Gray Nicholls gekolf het, moes ek ook een hê. Dit was sonder twyfel die beste en duurste kolwe wat geld kon koop in daardie dae. Ek dink my ma het haar laaste paar sente uitgegee om my met een te beloon toe ek die laerskool se eerstespan gehaal het.

Maar het ek die kolf waardeer! Na elke oefensessie het ek die ding geolie, en elke nou en dan het ek hom selfs afgeskuur met sandpapier om van die ergste rooi merke ontslae te raak. En wanneer ek uitgestap het om te gaan kolf, was dit pure Graeme Pollock in my geestesoog… net jammer dat ek my held nooit regtig kon nadoen met my beskeie tellings nie.

Ongelukkig het ek die kolf binne ‘n jaar of twee ontgroei. En ek het nooit weer ‘n kolf van my eie besit nie. Maar daardie ou Gray Nicholls is nou nog in my kas – een van die min “erfstukke” waaroor my kleinkinders hopelik eendag sal kan stry.

Jare later sou ek hoor dat Graeme Pollock al die tyd so ‘n bietjie van ‘n drankprobleem gehad het.

Wat ‘n skok, wat ‘n skande – my held, ‘n suiplap, sy voete van klei!

Pleks het ek na die Bybel geluister, daar waar mens gewaarsku word dat jy nie op prinse moet vertrou nie. Jip, nie eers op die Prins van Kolwers nie!

Maar miskien was dit in elk geval nie so erg nie. Dalk het Pollock net elke af en toe by ‘n partytjie te diep in die bottel gekyk.

Wie is ek in elk geval om te oordeel? Ek het immers ook my beste gegee tydens die universiteit se jaarlikse jool? Om nie eers te praat van ‘n rampartytjie of twee wat ek al bygewoon het nie…

Ja-nee, laat hy wie se gewete eenhonderd persent skoon is die eerste klip gooi, as jy my vra.

Toe Hansie Cronjé se slinkse streke ‘n kwarteeu later op die lappe kom, was dit aan my eie obsessie met Graeme Pollock waaraan ek teruggedink het.

Hoeveel laerskoolseuns was daar nie tien jaar gelede wat ‘n Huisgenoot-plakkaat van Hansie met Prestik teen die muur opgeplak het nie? Sal ons ooit die ontnugtering van ‘n hele generasie kinders verstaan – alles te wyte aan een held wat so hard geval het?

Pleks het Hansie maar net eerder begin drink, soos Graeme Pollock, dan sou dit alles nie so erg gewees het nie. Maar nee, onse Hansie was mos juis bekend as die geheelonthouer met die What Would Jesus Do-bandjie om sy arm. Dít, terwyl ons later moes hoor dat hy eintlik besig was om agteraf te konkel met die professionele dobbelaars uit Indië.

En nou is Bob Woolmer ook vermoor. Wanneer ek hierdie sit en skryf, weet niemand nog presies hoe en hoekom nie. Aanduidings is egter dat dit nogmaals verband hou met die sport se onderwêreld – iets wat mense gehoop het ‘n saak van die verlede is na die hele Hansie-episode.

Was Woolmer self betrokke, of was hy bloot ‘n onskuldige slagoffer? Miskien sal ons nooit regtig weet nie.

In die laaste week was daar egter ‘n horde mense (insluitende ekself) wat verklaar het hoeveel hulle geraak is deur Bob Woolmer se dood. Maar dan herinner ek myself ook daaraan dat dit nie raadsaam is om helde te maak van normale, feilbare mense nie. Ek het mos reeds my les geleer met Graeme Pollock en Hansie Cronjé, of hoe?

Want onthou, selfs al was Woolmer self heeltemal onskuldig (soos wat die meeste van ons graag wil glo), is die kans steeds goed dat een of meer top-krieketspelers (en derhalwe ander mense se helde?) mettertyd aan die pen gaan ry in verband met sy dood. Intussen maak ek myself solank reg vir die ergste…

So, staan gerus verwonderd oor die atletiese vermoëns van jou gunsteling sportsterre. En geniet die vermaak wat hulle verskaf.

Maar as jy dan regtig ‘n held moet hê, kies eerder ‘n fiktiewe karakter soos Fritz Deelman.

Ek is al vir meer as dertig jaar ‘n aanhanger, en hy het my nog nooit teleurgestel nie.


Voetstoots van Tonder
25 Maart 2007

9 Comments:

Blogger Lammervanger said...

My magtag Fritz Deelman was 'n held. Daar was nog gewees: Fritz Deelman en die Groen Dood/Swart Eiland/Woestynrowers/Ondersese myn (of so iets). Die Gori Lama boek was verantwoordelik vir die hoogtepunt van my laerskoolleesloopbaan deurdat iemand 'n strikvraag aan Fritz gestel (terwyl hy op 'n esel iewers in die berge van Tibet was). Nie seker oor die vraag nie, maar die antwoord was Die Paarl. Ons het op daardie stadium in die Paarl gewoon. Ek het amper gekraam van die opgewondenheid.

My ma het ons ook eenkeer 'n guns probeer doen deur die Huisgenootartikel wat ons held Jean Michel Vincent (Stringfellow Hawke van Airwolf) se drankprobleem bespreek het, uit die tydskrif uit te skeur. Ek en my broer moes toe maar noodgedwonge Pick 'n Pay toe stap om dit self te gaan lees.

4:21 am  
Blogger Lammervanger said...

O ja, as ek Graeme was ou ek ook begin suip het. Verbeel jou net dat jy die tweede hoogste toetsgemiddeld ter wêreled het, maar jy mag nie toetskrieket speel nie...

6:38 am  
Blogger Freddy said...

Die Swart Luiperd was ook wonderlik. Ek praat nie van die strokiesprent-weergawe nie, maar die boekies wat sy wereldreise vertel het.

11:26 am  
Anonymous Anonymous said...

Het julle geweet: al die Fritz Deelman boeke word op die oomblik weer uitgegee, met splinternuut ontwerpte omslae?

3:09 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ja, maar die nuwe omslae lyk maar vir my redelik boring, ek moet se^...

4:28 pm  
Blogger Lammervanger said...

My eerste Fritz Deelman boek was Die Diepsee Duikbol. Ek het dit toevallig op my pa se boekrak raakgesien terwyl ek ons Kennis-reeks aan die deursoek was vir inligting vir 'n skooltaak. My pa het dit ook as kind gelees...en hier leef Fritz nog voort!

11:02 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

hier leef Fritz nog voort? bedoel jy in Oz?

11:13 pm  
Blogger Lammervanger said...

Hier soos in die hede.

5:48 am  
Anonymous Anonymous said...

Fritz Deelman is 'n legend! Ek het sopas weer begin om die boeke te lees en te versamel. What a man! Hy is soos 'n Afrikaanse kruising tussen James Bond, MacGyver en Clive Cussler se Dirk Pitt. Hy is een van die beste diepsee-duikers in die land, hy kan vegvliegtuie loods en dan kan hy nog fight ook! Hy skrik vir f-ol nie, ek meen, kyk na die Skepe van Mars en die Groen Dood. Hy weet ook hoe om in die Sahara te oorleef - Woestynrowers! Die man is net amazing. Wanneer gaan iemand wakker skrik en die boeke in rolprent-vorm update???

12:04 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >