Sunday, March 11, 2007

Wie stem vir poeding?

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Teen dié tyd is dit ‘n welbekende feit dat ‘n 29-jarige gryskop genaamd Taylor Hicks as reekswenner uit die stryd getree het in verlede jaar se Idols-kompetisie in die VSA nadat hy nie minder nie as 63 miljoen telefoniese stemme van die publiek op homself verenig het. Wat die prestasie egter nog meer merkwaardig maak, is dat Hicks in die proses ongeveer 9 miljoen meer stemme getrek het as die 54 miljoen kiesers wat in 1984 ‘n kruisie agter Ronald Reagan se naam gemaak het (tot vandag toe nog ‘n rekord-totaal vir die Amerikaanse presidentsverkiesing).

Maar dis seker ook verstaanbaar: deesdae is die tipiese deelnemer aan Idols in elk geval aantrekliker as Hillary Clinton, hy of sy sing mooier as Barack Obama, en hulle almal dans heelwat beter as Rudy Giuliani.

En dis ook nie net in Amerika wat die publiek so gretig is om in te bel en hulle stem dik te maak nie. Die foefie het oorgewaai na die meeste ander lande toe, en ek verstaan dat die Suid-Afrikaanse weergawe van Idols deesdae vir sekere groepe mense ‘n kwessie van volkstrots en politieke identiteit geword het: “kom ons bel tog nog ‘n keer, net om te help sekermaak dat een van ONS mense kan deurdring na die volgende rondte toe…”

In Engeland het ons natuurlik onlangs iets soortgelyks gesien, en wel toe bykans al wat politikus is die nasie aangespoor het om asseblief tog in te bel en vir Jade Goody uit die Big Brother-huis te stem – “net om vir die res van die wêreld te wys dat ons almal nie regtig rassiste is hier in Groot Brittanje nie”. Die politici se wens het dan ook waar geword, en Goody is sonder versuim geban na ‘n woestyn van publieke afkeur. En les bes het Shilpa Shetty (die teiken van Goody se ondeurdagte opmerkings) as algehele wenner van die reeks uit die stryd getree.

En dit alles net omdat genoeg mense hulle telefoon opgetel het om te “stem”.

Intussen het die reputasie van inbelprogramme op hierdie ou eilandjie natuurlik ietwat skade gely.

Eers het die pretensieuse paartjie Richard en Judy hulle kykers aangespoor om aan te hou deelneem aan ‘n kompetisie waarvan die wenners inderwaarheid reeds gefinaliseer was. Maar kierankies braai, Richard en Judy is uitgevang, en die twee moes op die lug om verskoning vra vir die “misverstand”.

Dit was egter maar net die begin van die moeilikheid. Want sedert hierdie voorval, het probleme hulle kop uitgesteek by feitlik elke ander inbelprogram op Engelse televisie.

ITV, wat spesialiseer in hierdie tipe kompetisies, het inderwaarheid sover gegaan om uitsendings van al hulle programme met ‘n inbel-element tydelik op te skort en eers weer voort te gaan daarmee nadat ‘n volledige oudit uitgevoer is.

Ek kan my net die gesprek voorstel tussen die tipiese ouditklerk van Deloitte en sy ma wanneer die kêrel in die aand by die huis opdaag na ‘n “harde dag” op kantoor: “Wat het jy vandag gedoen, my kind, moes jy weer uitry na ‘n stowwerige pakhuis in Hatton Cross vir ‘n vervelige voorraadopname?”. Waarop haar ou bloedjie antwoord: “Nee, Ma, dis veel erger as dit – ek moes heeldag kyk na opnames van Dancing on Ice!”.

Luidens koerantberigte sal ITV dalk mense moet terugbetaal vir alle telefoonoproepe waar kykers om die bos gelei is oor die afgelope twee jaar – afhangende van die uitslae van die Deloitte-studie. Maar het iemand al gedink hoe hulle al hierdie mense gaan opspoor? En het hulle al probeer uitwerk wat die administratiewe koste en posgeld gaan beloop om tjeks ten bedrae van 35p elk te stuur aan 5 miljoen verskillende lede van die publiek?

Mens kan maar net jou kop skud.

Die beste van alles is egter die storie van die BBC se Saturday Kitchen waar kykers ‘n paar weke gelede gevra is om in te bel en te stem vir een van twee poedings – van alle dinge. Die ateljee-gas Eamonn Holmes sou dan kwansuis die kykers se keuse van nagereg op hierdie “lewendige” program verorber. Die enigste probleem was dat die einste Holmes op daardie selfde tydstip eintlik besig was om ‘n regstreekse radioprogram ook uit te saai…

Die BBC het egter vinnig teruggekap. Nadat hulle uiteindelik gebieg het dat die program wel vooraf-opgeneem is, word daar nou beweer dat Holmes inderdaad albei poedings verslind het – en dat hulle op die ou end net een van die opnames gespeel het, soos gekies deur die kykers.

En dis die tipe nuus waarmee die Engelse koerante hulleself deesdae besig hou, terwyl die oorlog voortwoed in Ethiopië en die bomme bars in Baghdad.

Maar wat my verstand op die ou end heeltemal te bowe gaan, is nie die blote feit dat die BBC hulle kykers probeer kul het nie. Nee, wat ek regtig nie kan verstaan nie, is dat enigiemand by sy of haar volle verstand die moeite kan doen om ‘n televisiekanaal te bel – en dít om te stem vir ‘n poeding!

Dit het my egter aan die dink gesit. En nou wonder ek hoeveel ander programme ons dag vir dag na kyk waarvoor daar eintlik verskillende uitkomste bestaan, terwyl ons op die ou end maar net een vooraf-verkose weergawe daarvan sien? En hoe dikwels dink ons dat iets regstreeks voor ons afspeel, terwyl dit eintlik lank tevore reeds opgeneem is?

Vat die krieket-wêreldbeker, byvoorbeeld. Volgens alle bronne begin die kompetisie hierdie week in die Wes-Indiese eilande, met ‘n eindstryd in Barbados wat geskeduleer is vir die einde van April. Maar met al die televisie-skandale wat dag vir dag hulle kop uitsteek, wonder ek of ons almal nie dalk in die war verkeer nie.

Wat’s die kans dat al die wêreldbeker-wedstryde eintlik alreeds afgehandel is, en dat daar net êrens een of ander inbelprogram aan die gang is om te bepaal watter uitslag die TV-owerhede vir ons gaan wys?

Ek dink dis juis wat in 1999 ook gebeur het. Onthou jy nog die tydelike breinstilstand wat Lance Klusener en Allan Donald beleef het toe Suid-Afrika ‘n skamele een lopie van vier oorblywende balle moes aanteken in die halfeindstryd teen Australië?

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

En dit alles omdat ek en jy nie ingebel het om te stem vir ‘n ander uitkoms nie...

O, jy het nie geweet daar was ‘n inbelprogram wat destyds die uitslag bepaal het nie? Wel, ek ook nie…

En ek dink dit verklaar juis die uitslag. Want êrens was daar ‘n paar miljoen Aussies wat almal hulle stemme uitgebring het, terwyl ek en jy nie eers geweet dat ons moet bel nie.

So laat ons asseblief nie hierdie jaar dieselfde fout maak nie.

Kan iemand asseblief vroegtydig uitvind wat die nommer is om te bel sodat ons kan sien hoe die Proteas bevestig word as bo-baas in Barbados?


Voetstoots van Tonder
11 Maart 2007

13 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Ek sal voortaan met nuwe ore na Se^ Wie luister.

8:39 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

inderdaad - ek hoor juis soveel goeie dinge van die program...

9:46 pm  
Blogger Lammervanger said...

As jy of Pienk Zuit ooit OOIT weer daai foto in enige hoedanigheid plaas, gaan ek inbel en vra dat julle uit die blogosfeer uitgesmyt word en buite die stadspoorte gemartel word.

12:51 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

jammer, Lam, maar dis deel van ons pynvolle geskiedenis - ontkenning is tog nie 'n oplossing vir enigiets nie...

9:31 am  
Blogger Lammervanger said...

Ek wil nie ontken nie - ek wil net nie meer sien nie. Is dit nie genoeg dat ek myself die afgelope 8 jaar aan die slaap huil nie? Is dit nie genoeg nie?!?!

9:00 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ok, ok, ek belowe, ek sal nooit weer nie...

10:26 pm  
Anonymous Anonymous said...

Wat's fout met die foto?

Daardie outjie lyk soos 'n oud-Dagbreker wat deesdae in "Adamsappel" ('n nuwe a capella sanggroepie wat binnekort hul debuutalbum uitreik) sing.

2:01 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ek dink Lam praat van die ander foto...

3:18 pm  
Blogger Lammervanger said...

Carien - ek praat inderdaad van die krieketfoto. In daardie foto is ontsettende teleurstelling vasgevang. Elke keer as iemand die foto plaas, word ek onwillekeurig teruggeruk na Lance Klusener se twee viere in 'n ry wat SA in 'n posisie geplaas het waarvandaan dit onmoontlik was om die wedstryd te verloor - net om dit te verloor. En sodoende die wêreldbeker weg te smyt in die Kloof van Ewige Smart en Pynlike Herinneringe.

Die ander foto pla my nie.

9:47 pm  
Anonymous Anonymous said...

Aah...'skies. En dit was 'n vreeslike hartseer gebeurtenis gewees?

(Ek's ongelukkig een van daai mense wat net per toeval krieket kyk. Ook net een-dag wedstryde. Die ander soort is nét te lank.)

7:36 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

jip, die HEEL hartseerste ooit...

9:40 am  
Blogger eilandkind/islandchild said...

Ek soek ook daai nommer groot asb, ek onthou nog toe die treurige gebeurtenis plaasgevind het. Ek was in die Dross in Oos-Londen en het laaaang trane gehuil, ek was fanaties oor krieket in daai dae.

4:55 pm  
Blogger Freddy said...

Wel, ek het dit nogal geniet, Carien, dat jy gedink het die ANDER foto is die een waarna verwys word... Ons het nou al gesien dat Lammervanger anders kan lyk as hy wil, maar ek twyfel of hy soos daardie sangertjie lyk!

7:37 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >