Sunday, March 18, 2007

Rus in vrede, Mister Woolmer

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Soos elke ander krieketondersteuner in die wêreld was ek gevul met skok en ongeloof toe ek Sondagaand gehoor het van Bob Woolmer se skielike afsterwe. In die volgende paar dae sal ons waarskynlik etlike huldeblyke oor die man te siene kry, en die meeste daarvan sal waarskynlik fokus op al sy prestasies as speler en internasionale afrigter.

Spesifiek uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt sal die meeste van ons natuurlik vir Bob Woolmer onthou as die Proteas se afrigter in die Hansie Cronjé-era: vanaf 1994 tot 1999 was die twee van hulle in ‘n baie hegte vennootskap aan’t stuur van sake in ons land. Woolmer self het egter padgegee omtrent ‘n jaar voordat Hansie finaal in die warm water beland het. En teen die tyd wat die King-kommissie behoorlik op dreef begin kom het in die middel van 2000, was Bob Woolmer se boek (Woolmer on Cricket, uitgegee deur Virgin Publishing) – waarin hy sy moeilike verhouding met Cronjé in redelike detail bespreek – reeds op die rakke.

Hoeveel het Woolmer geweet van al Cronjé se kwajongstreke? Daar is byvoorbeeld aanduidings dat die afrigter wel sy vermoedens gehad het oor sommige van die kaptein se doen en late. In Deon Gouws se boek And Nothing But The Truth (uitgegee deur Zebra Press, 2000) maak Tim Noakes – ‘n goeie vriend van Bob Woolmer, en die Proteas se spandokter tydens daardie selfde era – etlike aantygings in hierdie verband. Maar ek vermoed dat heelwat van hierdie detail seker vandeesweek saam met Woolmer begrawe sal word.

Persoonlik is daar egter iets heel anders waarvoor ek vir Bob Woolmer sal onthou – en ek vermoed dat min van die ander huldeblyke daarop gaan fokus. En dit is die bydrae wat mense soos hy gemaak het nie net tot Suid-Afrikaanse krieket oor die algemeen nie, maar wel tot AFRIKAANSE krieket in die besonder.

In sy boek beskryf Bob Woolmer byvoorbeeld hoedat hy in 1970 in Suid-Afrika opgedaag het as ‘n jong graafskapspeler en by die Transvaalse Krieketunie aangesluit het as ‘n deeltydse afrigter. Hy beskryf ook hoedat daar destyds juis ‘n inisiatief was om die spel te bevorder by die land se Afrikaanse laerskole (waar die seuns voorheen feitlik eksklusief op rugby gefokus het).

Woolmer gaan dan voort om vier spesifieke skole se name te noem waar hy destyds betrokke was. En soos die toeval dit wil hê, noem hy onder meer ook die naam van my eie alma mater: die Aucklandparkse Laerskool (wat vandag nie meer bestaan nie – maar dis ‘n ander storie). (Terloops, in sy boek kry Woolmer die name van al die skole effens verkeerd – maar ter versagting kan mens seker aanvaar dat die name nie maklik op sy Rooinek-oor geval het nie.)

“I was very impressed with the almost fanatical discipline imposed on the children in these schools; as a result they learnt very quickly from me and I was happy and successful during this time.” – aldus ‘n aanhaling uit Bob Woolmer se boek.

En dis van MY wat hy daar praat. Oukei, miskien nie noodwendig ekself nie, maar wel die laities wat saam met my op skool was. Sien, toe Woolmer daar by ons nette rondgehang het, was ek min of meer in Graad 1. My eie krieket-“loopbaan” (vrot openingskolwer, stadige bouler wat nooit regtig die bal kon draai nie, gretige veldwerker) sou met ander woorde eers ‘n paar jaar later behoorlik aan die gang kom. Ek sal ook jok as ek sê dat ek vir Woolmer persoonlik onthou van daardie dae af.

Maar die invloed van Mister Woolmer en sy kollegas het wel afgevryf op die skool se onderwysers sowel as die seuns, en baie van ons het uiteindelik van ‘n jong ouderdom af besluit om te fokus op krieket eerder as rugby.

Myns insiens was daardie jare dan ook ‘n keerpunt in die geskiedenis van die sport in Suid-Afrika. Voor dit was daar kwalik enige Afrikaners tussen die beste spelers in ons land. Vat byvoorbeeld die beroemde span van 1966/67 wat allerweë beskou word as die beste Suid-Afrikaanse span in die geskiedenis, met beroemde spelers soos Eddie Barlow, Ali Bacher, Graeme Pollock en Peter Pollock… almal Engelssprekend.

Daar was net een Afrikaanse naam tussen die hele lot van hulle: die kaptein, Peter van der Merwe. En ja, hy was ‘n Engelse van der Merwe!

Terwyl Bob Woolmer en sy trawante tien jaar later in die Afrikaanse laerskole werksaam was, het die prentjie op die hoogste vlak van krieket in Suid-Afrika maar min of meer dieselfde gelyk. Die destyds Mean Machine van Transvaal – met spelers soos Clive Rice, Jimmy Cook en Henry Fotheringham (almal Souties) – het die provinsiale toneel heeltemal oorheers. Selfs Spook Hanley (die span se berugte snelbouler) was ‘n Engelse spook.

En die een enkele Afrikaner wat wel ‘n kolf kon vashou het natuurlik Queensland toe verkas; Kepler Wessels sou op die ou end 24 toetse vir Australië speel.

Maar in die tagtigerjare het die Afrikaanse inisiatief begin vrugte afwerp. Noord-Transvaal en Vrystaat (tradisioneel net bekend as rugby-provinsies) het ontaard in respektabele spanne, en boerseuns soos Fanie de Villiers en Corrie van Zyl het skielik hulle verskyning gemaak. Allan Donald (jip, ‘n stoere Boer, ten spyte van die Ingelse naam) en Hansie Cronjé sou kort daarna ook op die toneel verskyn.

Die res is natuurlik geskiedenis, en feitlik helfte van die Protea-span wat vandag aan die Wêreldbeker deelneem, is Afrikaanssprekend... alles te danke aan die pogings van mense soos Bob Woolmer, meer as dertig jaar gelede.

Ter afsluiting, ‘n aanhaling wat Woolmer self gekies het vir die banier op sy persoonlike internet-bladsy:

“Yesterday is history,
Tomorrow is a mystery,
Today is the present –
a gift to make a most of.”


Beter kan ek dit self nie stel nie – veral as jy kyk hoe skielik die man heengegaan het.

Rus in vrede, Mister Woolmer. My vrinne en ek sal jou ewig dankbaar wees.


* sien ook hierdie huldeblyk deur Mihir Bose van die BBC


Voetstoots van Tonder
18 Maart 2007

8 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Tien teen een dieselfde booswigte wat vir Hansie in die berg laat vas vlieg het...

12:45 am  
Anonymous Anonymous said...

Ek is self nogal hartseer oor Woolmer se afsterwe. En ek kan nie rerig my emosies verklaar nie. Ek het nie die man enigsins persoonlik geken nie, en hy was darem lankal nie meer die S.A. afrigter nie. Seker maar omdat hy vir my nog altyd as 'n baie goeie en eerlike mens voorgekom het. Neil Manthorp se huldeblyk het amper trane in my oë gebring.

7:46 am  
Anonymous Anonymous said...

Sjoe...
Goeie ding julle drie is op drie verskillende kontinente, anders sou daar seker 'n verskríklike Treursessie by die naaste kroeg plaasgevind het...

Ek het geen idee wie Mister Woolmer was nie, en ék voel al hartseer oor die ou.

2:14 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Lam, PZ - ek dink Carien het 'n goeie idee hier beet - wat van aldrie van ons gaan vanaand na die naaste kroeg en bestel elk 'n rondte van 3 wat ons dan maar een vir een sit en opdrink terwyl ons heildronke instel op mekaar, op Bob Woolmer, en op SA wat hopelik hierdie jaar uiteindelik die Wereldbeker inpalm...

2:24 pm  
Blogger Lammervanger said...

Klink na 'n goeie plan. My aand gaan tussen 8 en 10 ure voor julle twee s'n aanbreek, so julle moet vroeg waai by die werk. Dan sit ons ons selfone op speaker en bring hulde.

9:50 pm  
Anonymous Anonymous said...

Uistekende idee! Eerste rondte is op my.

9:08 am  
Anonymous Anonymous said...

Wat se^ jou kontakte, Voets? Wie het dit gedoen?

9:48 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ek weet nie, DK - waarskynlik 'n klomp nie-organiese vleis-etende skurke...

10:41 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >