Sunday, March 04, 2007

Die bobbejaan agter die bult

Photobucket - Video and Image Hosting

Een van die realiteite van die lewe hier in Engeland, is dat mens noodgedwonge ‘n bietjie agtergelaat word in terme van die kulturele verwikkelinge in Suid-Afrika. Maar gelukkig darem ook nie heeltemal nie: op die ou end vat dit net ‘n jaar of wat langer om oor te waai tot by die verhoog in die hoek van die Aardvark-pub. Amper soos in die ou dae, toe ons televisiestasies altyd ‘n reeks of twee agter was met Dallas en Ally McBeal.

Vat byvoorbeeld die Leeuloop. In die middel van verlede jaar het ek nog nooit eers gehoor van Robbie Wessels of hierdie trefferliedjie van hom nie, toe is my nefies in Vereeniging alreeds met hulle hande en knieë op die stene, twee balle vas tussen hul bene, aan’t leeuloop…

Maar gelukkig het die hele gedoente gou genoeg oorgewaai Engeland se kant toe, en te danke aan die wonders van Youtube, kan ek derhalwe ook nou my broek aftrek en brul (as ek wil).



Aan die een kant kry ek myself soms ‘n bietjie jammer omdat ek min of meer die laaste persoon is wat uitvind van nuwe volkskatte soos die Leeuloop. Terselfdertyd is ek egter ook bitter dankbaar oor die feit dat ek nie ingesleep word by al die vrugtelose debatte waarmee Afrikaners hulleself besig hou sodra iemand soos Robbie Wessels meer as omtrent ‘n honderd CD’s verkoop nie.

“Denkende” Afrikaners voel oënskynlik verplig om onmiddellik ‘n opinie daaroor te hê. En jy het basies net een keuse: óf jy maak dadelik die liedjie af as kommin, óf al daai gekultiveerde mense van Waterkloof en Aasvoëlkop maak jóú af as kommin.

Dis genoeg om van siek te raak. Hoekom kan my ou volkie nie net ‘n bietjie glimlag vir Robbie Wessels se koddige danspassies op die Vodacom-advertensie terwyl hulle luister na die nonsens wat hy sing nie? Hoekom kan almal van ons nie net vir ‘n verandering ontspan nie?

‘n Liedjie soos die Leeuloop sleep al wat Afrikaner is, se naam deur die modder – aldus die “ernstige” kommentators. Waarop ek antwoord: ag, asseblief man, los my en my pelle net uit. Net soos wat ek nie dink dat elke Boerseun noodwendig kan rugby speel omdat Naas Botha kwansuis een van ons kerk se mense is nie, net so glo ek ook nie dat een of ander lawwe liedjie enigiets oor my te sê het net omdat ‘n paar dronk ouens eenmaal hulle broeke losgemaak het toe hulle soos ‘n leeu geloop het by ‘n troue op Wolmaransstad nie.

Hierdie storm in ‘n teekoppie het natuurlik skaars gaan lê, of dit was De La Rey se beurt.



Ek het omtrent vier of vyf maande gelede vir die eerste keer daarvan gehoor toe een van my pelle in Johannesburg die internet-skakel na Bok van Blerk se liedjie vir my aangestuur het. En ek onthou nog my aanvanklike reaksie: nee, jislaaik manne, ek dink nie ek kan saamsing oor ‘n Boere-generaal wat opstaan teen die Kakies nie – ek bly dan self deesdae hier tussen die Ingelse?

Maar later kon ek nie help nie: ek het ook begin saam-neurie…

Intussen verkoop Bok se CD sommer heelwat vinniger as soetkoek (wie koop in elk geval deesdae soetkoek?). En nodeloos om te sê, het al wat kommentator is ‘n eiertjie daaroor te lê. Die ding het selfs al‘n draai gemaak in die parlement.

Trouens, ekself is seker die enigste persoon wat nog nooit iets daaroor te sê gehad het nie. Tot vandag toe, in elk geval.

Maar laat ek begin deur die debat tot nou toe op te som.

Koos Kombuis het byvoorbeeeld verlede jaar al begin deur te verduidelik hoe lank hy gewroeg het oor die liedjie: dis so mooi, maar dis dan alles so polities-onkorrek? Koos skryf ook oor hoe embarrassing dit is dat hy so onverklaarbaar diep geraak is daardeur: “Ja, wanneer ek die liedjie ‘De la Rey’ hoor, wil ek teruggaan Sondagskool toe, wil ek weer die Kinderbybel lees, wil ek sommer vandag weer by die army aansluit en die kakies en al die ander k-goeters sommer in hulle moere gaan skiet…”

Maar op die ou end rasionaliseer Kombuis die hele situasie, en hy maak vrede nie net met homself nie, maar ook met Bok van Blerk en generaal De La Rey. Want sien, De La Rey was mos eintlik ‘n goeie ou, ‘n vredemaker en ‘n slagoffer – “ons Steve Biko...‘n ware leier wat, indien hy vandag gelewe het, nie net ons volk nie, maar die ganse Suid-Afrikaanse nasiedom sou help vorder het tot by daardie wonderlike land wat die Nuwe Suid-Afrika nog altyd veronderstel was om te wees”. Also sprach Koos Kombuis.

Intussen verdedig Tim du Plessis, Rapport se redakteur, die De La Rey-generasie as ‘n jongklomp wat gatvol is vir die ouer garde en wat nie bang is om ‘n kleim af te steek vir hulle Afrikaanse identiteit nie.

Aan die ander kant van die spektrum waarsku Max du Preez teen die liedjie en hy verduidelik die gewildheid daarvan aan die hand van sy mede-Afrikaners se verborge skuldgevoelens: “Because of the direction given by their media and political, cultural and religious leadership, they hadn't made use of the opportunity that the Truth and Reconciliation Commission provided to exorcise some of their feelings of guilt after apartheid…” Du Preez gaan voort deur sy eie volk soos volg uit te kryt: “I think they simply feel unwanted, isolated, insecure, confused, rudderless.”

Kort daarna publiseer (Doktor) Andries “Roof” Bezuidenhout ‘n tesis van 12 bladsye oor die liedjie op Litnet. Ek het die hele stuk deurgelees, maar ek moet bieg dat ek op die ou end nie seker is wat die man se punt is nie: dis heeltemal te diep vir my.

En toe, ‘n dag of twee later, sê Hermann Giliomee (wat op eie houtjie ‘n biografie oor die Afrikanervolk opgeteken het) dat die hewige reaksie op die liedjie verband hou met die ANC se voortdurende behoefte om sy wil op die samelewing af te dwing.

Goeiste. En ek het gedog dis net ‘n liedjie.

Hoekom moet ons Boere tog altyd die bobbejaan so agter die bult gaan haal?

Ja, die woorde is treffend. Ja, daar’s ‘n klomp van die jongmense wat kwaad is. En ja, daar is seker mense wat die liedjie wil gebruik vir politieke gewin. Maar persoonlik beplan ek nie om oorlog te verklaar teen my buurman in Londen, net omdat De La Rey se woorde intussen nesgeskop het in my onderbewussyn nie.

Al hierdie omstredenheid laat my dink aan ‘n staaltjie van die Ierse outeur Pete McCarthy. Op ‘n dag woon hy ‘n boeklesing by van ‘n ander Ierse skrywer, te wete Frank McCourt (van Angela’s Ashes-faam). Uiteindelik begin die gehoor om met McCourt self te stry oor die betekenis van sy boek se titel. Waarop McCourt soos volg antwoord: “These days they’re giving exams on my book that I would fail myself”.

Ek dink Bok van Blerk het deesdae seker min of meer dieselfde probleem met sy liedjie. Maar gelukkig kan hy darem al die pad bank toe lag.

En volgende week kom Bok ‘n bietjie vir ons sing in Engeland, en wel by die Afrikaners se ekwivalent van Carnegie Hall en die Sydney Operahuis: die Aardvark in Rotherhithe.
Ekself beplan ook om daar te wees. En ek beplan om saam te sing aan De La Rey.

Miskien doen almal van ons later sommer die Leeuloop ook.

En dan beplan ek om huis toe te gaan en ‘n bier te drink saam met my Engelse buurman.


Voetstoots van Tonder
4 Maart 2007

11 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Ek hou baie daarvan dat jy die woord trouens gebruik.

8:48 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Dankie - dit sou nie kwalifiseer as erudiet nie, sou dit?

9:15 pm  
Blogger Lammervanger said...

Hierdie erudiete Afrikaners wat so van "hulle" en "julle" praat wanneer die Volk sleggesê word is presies die blerrie mense wat veroorsaak dat molshope soos hierdie in berge verander word.

5:33 am  
Anonymous Anonymous said...

Ek stem nogal saam met jou dat mense net moet chill. Leeuloop bly egter kommin (dis seker maar my Stellenbosch-snob wortels wat praat)!

7:26 am  
Anonymous Anonymous said...

Julle kan gerus bietjie luister na Uitsaaines-Live. Hulle webblad kan jy op www.uitsaaines.co.za kry. As mens af en toe Uitsaaines-Live luister, bly jy op datum met wat aangaan in Afrikaanse musiek.

10:44 am  
Blogger Fransien said...

ek stem saam met pienk zuit en dink nie leeuloop sou ooit in Finlays gespeel gewees het nie...

3:32 pm  
Blogger Rendier said...

"De la Rey" maak iets hier diep binne my wakker, maar wat dit is weet ek nie. Volks-trots? Identiteit?

Dit sou my egter nie genoeg kon opsweep om saam met my makker die "Leeuloop" op die District line uit te voer nie :)

7:03 am  
Anonymous Anonymous said...

Op die onderwerp van kommin-geit: in Swellendam is daar 'n Sports Saloon wat soos bier en ou asbakkies ruik. Op 'n Saterdagaand word Johnny Nash kliphard gespeel, maar die kroegman sê dis "daai Phoenix ou van Walk the Line". Daar's 'n swart bord, waarop gekryt is: "Kry 'n dubble brandy en coke vir R2 as jy jou mys wys." (sic)

8:18 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

klink my jy's 'n regular daar...

9:24 am  
Anonymous Anonymous said...

Dit moet 'n franchise wees, want dit klink net soos 'n plek in Wellington waar ons 'n slag rugby gekyk het. Die naam was iets anders, maar dit het dieselfde geruik, en die ander klante het gelyk of hulle gereeld hulle sin wys.

Seker Johny Cash? Johnny Nash is die dude wat "I can see clearly now" gesing het (volgens wikipedia).

12:58 pm  
Anonymous Anonymous said...

Whoops, 'skies, Cash ja.

3:22 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >