Sunday, March 26, 2006

Ich bin ein Barcelona-er!

Hoekom was ek so verskriklik bly na Chelsea se onlangse nederlaag in die Kampioenskapsliga-wedstryd teen Barcelona? En weer, tien dae gelede, toe die Manne in Blou verloor het teen hulle bure van Fulham? Waarom het ek so lekkergekry toe ek na die tyd vaskyk in Jose Mourinho se onvriendelike gesiggie, selfs suurder as gewoonlik – soos die baba-beer wie se warm pap so pas van hom afgevat is? Glo dit as jy wil, maar hierdie vrae het my die afgelope tyd meer slaap gekos die as die gekombineerde gevaar van voëlgriep, globale verwarming, Osama Bin-Laden en Brett Lee se boulwerk.

Laat ek begin deur te sê dat ek nie eers veel van sokker hou nie – of moet ek daarna verwys as voetbal? Alhoewel die Engelse dit nie regtig sokker noem nie, val voetbal maar nog steeds vir my effe swaar op die tong – die oumense het mos altyd van voetbal gepraat as hulle eintlik na rugby verwys het? Soos die meeste Afrikaanse seuntjies, het ek nie regtig met sokker grootgeword nie, en het ek altyd geglo dat rugby onvoorwaardelik my land se nasionale sport is. Die feit dat sokker eintlik die verkose aktiwiteit was van dieselfde 90% meerderheid van my medeburgers wat mos nooit kon stem nie, was ‘n stukkie detail wat ons die meeste van die tyd buite rekening gelaat het.

Later het ek agtergekom dat al wat leef en beef om my skree vir een of ander span in die Engelse liga – selfs mense wat hulleself nog nooit buite die Kaapse Vlakte begewe het nie. Trouens, ek het een keer gelees dat ‘n klub soos Manchester United meer ondersteuners het in Kaapstad as in Manchester self. Hoe verklaar jy dit? En hoekom sal iemand in Suid-Afrika meer lojaal wees teenoor ‘n klub in Engeland, as teenoor ons eie Bafana Bafana?

Op ‘n tyd in die tagtigerjare het ek wel vir Everton “ondersteun”, maar as ek daaraan terugdink, was dit seker maar net omdat hulle redelik goed was in daardie stadium, en omdat Gary Lineker vir hulle gespeel het. Ek het geïdentifiseer met Gary Lineker: met sy skoon gesiggie, skamerige glimlag, en mooi kort hare (om nie eers te praat van sy goeie sportmanskap nie), kon hy maar net sowel self ook ‘n lid gewees het van my plaaslike ACSV-kring. Maar nou moet ek uitvind dat dit alles eintlik net ‘n valse front was: die einste bose Lineker, ja hy wat optree in al daai tjips-advertensies, is verantwoordelik daarvoor dat derduisende Engelse kinders vandag selfs vetter is as wat hulle dalk andersins sou wees.

Vandat ek in Londen bly, het ek voorts probeer om my nie juis te steur aan die Groot Engelse Obsessie nie. Maar dis nogal moeilik, veral as die laaste klompie bladsye van bykans elke koerant op die rak party dae van hoek tot kant gevul is met sokkernuus in stede van sportverslae; derhalwe moet ek bieg dat ek soms uit pure verveeldheid wel in die rigting van hierdie berigte loer. Maar steeds voel ek vere vir Arsenal, Liverpool, en die hele boksemdais. En ek voel veral vere vir Chelsea.

Hoekom hou ek so verskriklik min van Chelsea? Soos die voël vlieg, bly ek nie eers sover van daar af nie (dis nou ás die voël vlieg, en nie platgetrek is van die griep nie). Trouens, met die moontlike uitsondering van Fulham, is Chelsea waarskynlik die klub wat die naaste is aan bykans elke Suid-Afrikaanse huishouding in Londen – al die duisende van ons wat bly in daardie suid-westelike wig van die dorp, vanaf Putney en Barnes, deur Richmond en Wimbledon, tot by Twickenham en Kingston. En om alles te kroon hou ek eintlik daarvan om nou en dan in die Chelsea-area uit te hang; ek het al by tye ‘n paar lang biere in Kings Road se omgewing afgewurg.

Die probleem is maar net dat ‘n klub soos Chelsea heeltemal te ryk en te suksesvol is na my sin. Die feit dat hulle aan ‘n Russiese olieskelm behoort, help natuurlik ook nie veel nie. En Jose Mourinho se arrogansie vat die koek.

Nou die dag lees ek dat die Afrikaanse term vir ‘n tantrum, ‘n vloermoer is. Wel, Jose Mourinho se gereelde vloermoere staan my ook nie aan nie.

So, toe Chelsea nou die dag tweede gekom het teen Barcelona, het ek definitief nie ‘n traan gestort nie; inteendeel, ek was amper net so bly soos daai dag wat Pieter Hendricks kringe om David Campese gehardloop het in die openingswedstryd van 1995 se Rugby Wêreldbeker. Dis miskien waar dat Chelsea gereeld aan die kortste ent trek met die skeidsregter se beslissings, maar ek sukkel om hulle jammer te kry. ‘n Mens hoef in elk geval nooit te jammer te wees vir mense wat meer geld verdien in ‘n week as wat jy bymekaarskraap in ‘n jaar of langer nie.

Ja-nee, soos president John F. Kennedy van ouds, wat die hele Wes-Duitsland se guns gewen het met sy beroemde “Ich bin ein Berliner” toespraak, verklaar ek myself hiermee nie net volkome anti-Chelsea nie, maar ook ‘n lojale Barcelona-er. Of Barceloniaans, of Barceloniër, of wat jy dit ookal noem.

Daar’s net een probleem: ek was nog nooit in Barcelona nie. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit eers ‘n voet in Spanje gesit nie. Maar ek hoor dis ‘n lekker plek; miskien sal ek maar een of ander tyd gaan kyk hoe dit daar lyk, veral noudat ek een van die span se getroue ondersteuners is.

En dit nogal in ‘n sport waarvan ek nie eers hou nie.


Voetstoots van Tonder
26 Maart 2006

1 Comments:

Blogger renklem said...

dis presies die redes hoekom ek nie van Chelsea hou nie!!

10:10 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >