Sunday, March 12, 2006

Waar die hart van vol is...


Die Engelse is darem maar ‘n romantiese nasie. Vat byvoorbeeld ‘n uitdrukking soos “absence makes the heart grow fonder”. Dis ‘n rein gedagte, en een wat beelde oproep van ‘n hondjie wat die hele dag by die hek lê en wag vir sy baas om terug te kom huis toe – net sodat hy vanaand sy stertjie selfs vinniger kan swaai wanneer hy vir sy kos moet sit en wag.

Sover ek weet, is daar nie regtig ‘n goeie Afrikaanse vertaling of ander idiomatiese ekwivalent vir hierdie idioom nie. Inteendeel, die naaste wat ons ou volkie daaraan kom, is met die siniese opmerking: “uit die oog, uit die hart”. Dit spreek presies dieselfde onderwerp aan, maar die strekking is netmooi die teenoorgestelde; die Afrikaanse hondjie vergeet heeltemal van sy baas wanneer dié by die hek uitry.

Hoe voel jy wat in Engeland bly oor die land van jou vaad’re aan die Suidpunt van Afrika? Is dit waar dat “absence makes the heart grow fonder”, soos wanneer jy toenemend wil kla oor Londen se lang winter, of is dit eerder ‘n geval van “uit die oog, uit die hart” terwyl jy kies om te fokus op die voortslepende misdaad in Johannesburg?

Dis seker waar dat daar ‘n tyd en ‘n plek is vir albei van hierdie standpunte. Maar as ek ooit bevestiging gesoek het vir die feit dat Suid-Afrika nie heeltemal uit my hart kan wees nie, al is dit dan ook waar dat die land vir my op die oomblik redelik ver uit die oog is, dan het ek dit Sondagmiddag gekry. Ek het teruggekeer van ‘n vinnige pub lunch langs die Teems af, en alhoewel ek besef dat dit die tipe detail is waarin die gemideelde leser seker nie regtig belangstel nie, het ek ‘n redelike groot nood gehad. Op pad badkamer toe het ek vinnig die televisiestel aangeskakel en die telling in die eendag-krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië op die Wanderers gesien.

Kan dit waar wees, het ek myself onmiddellik afgevra: die Proteas het op 247 vir die verlies van twee paaltjies gestaan, en dit na net 27 boulbeurte! Herschelle Gibbs was in volle gang, daar was pandemonium op die pawiljoene, en die kommentators se voorraad bywoorde en byvoeglike naamwoorde was vinnig aan’t opraak. En dít nadat Australië vroeër die dag ‘n wêreldrekordtelling van 434 lopies in 50 boulbeurte gemoker het. Nou moet ek maar kyk, besluit ek eensklaps – ek kan maar ‘n bietjie later gaan piepie.

Ek gaan nie ‘n opsomming probeer gee van wat alles in die daaropvolgende uur en ‘n half gebeur het nie – hierdie is immers nie ‘n sportberig nie. Maar dit was behoorlik ‘n wipplank-ryery; my hare het penorent begin staan terwyl ek op die rant van my sitplek gesit en my naels stomp-af gekou het. Ek hoop my ma het maar ‘n ekstra pilletjie gevat. En van my groot nood het ek totaal en al vergeet.

Terwyl die drama besig was om af te speel, het my vriende in Suid-Afrika die een na die ander begin om te bel en teksboodskappe aan te stuur – kyk ek, is dit nie onge-flippen-looflik nie, wat dink ek gaan gebeur, en wil ek nie dalk ‘n weddenskap plaas nie? Ironies genoeg, was die laaste keer wat so baie verskillende mense op een dag probeer kontak maak het, verlede jaar toe die bomme in Londen ontplof het…

Meer as een keer het ek gedink dat die Proteas nou met mening gaan lê, dis neusie verby, en die koeël is behoorlik deur die kerk. Maar teen dié tyd weet almal dat my span op die ou end wel die wa deur die drif gesleep het, en dit nogal met een bal oor. Ons kan maar net wonder hoeveel verder die Suid-Afrikaners dalk daai wêreldrekord sou gebreek het, as hulle maar net die geleentheid gehad het om wel al die boulbeurte op te gebruik…

Toe Mark Boucher die wenlopies slaan, skree ek so hard dat my buurman van die woonstel langsaan aan die voordeur kom klop om te hoor of alles OK is. Ek nooi hom toe maar in om saam met my na die oorhandigingseremonie te kom kyk. Die man was saam met my bly, maar hy het nie lekker verstaan wat Herschelle Gibbs bedoel toe hy in sy onderhoud die skare aanmoedig om die volgende dag werk toe te gaan met ‘n moerse babelas nie. Moenie worry nie Oom, antwoord ek hom, ek kry vir Oom nog ‘n dop. Maar al wat ek kan sê, is dat beide Buurman en ek op die ou end wel Herschelle se wyse raad gevolg het; wêreldrekords soos hierdie word immers nie elke dag gebreek nie.

Ja-nee, jy kan die Boerseun uit Afrika verwyder, maar jy raak nie so maklik ontslae van daai stukkie Afrika in die Boerseun nie. Wat uit die oog is, is definitief nie heeltemal uit die hart nie; inteendeel, die hart is definitief nog redelik vol daarvan. En waar die hart van vol is, loop die mond van oor…ek kan getuig: absence certainly does make the heart grow fonder.

Maar nou moet ek regtig eers gaan piepie.


Voetstoots van Tonder
12 Maart 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >