Sunday, May 21, 2006

Bly net uit die koeëls se pad uit

Een van my gunsteling fliek-advertensies van alle tye was een van British Airways, baie jare gelede. Ek onthou nog ‘n paar van die pragtige tonele, alles in sagte fokus en stadige aksie, met klassieke musiek wat saggies in die agtergrond speel. Daar was beelde van die Engelse landskap en ou geboue, ‘n rustige ou tannie wat gordyne oopmaak, asook ‘n omie met ‘n glimlag wat tafels dek buite, onder ‘n paar sonsambrele.

Die boodskap van die advertensie was eenvoudig: vandag het almal van ons ‘n bietjie vroeër opgestaan en begin regmaak. Want sien, ons verwag ‘n baie spesiale gas. JY.

Dit was die Engeland waarvan Bill Bryson destyds geskryf het na sy aanvanklike kennismaking met die klein eiland. Die plek was groen, dit was nat, daar was ‘n vis-en-tjips-winkel op elke hoek en ‘n krieketveld oorkant die kerk in elke dorpie. Voetgangers het stilgestaan by rooi verkeersligte al was daar nie ‘n kar in sig nie, en kinders het opgestaan vir ou mense op die bus. En dit was veilig.

Maar ongelukkig gaan dit alles nie meer so voor die wind in die Engeland van vandag nie. Of miskien was die plek nooit regtig só idillies nie. Dalk was dit alles maar net slim bemarking.

In die hedendaagse Engeland is daar nie net bomme op die tubes nie, maar ook gewapende rowers om elke hoek en draai. ‘n Polisievrou word met haar eie mes doodgesteek in noordwes-Londen. Kinders val mekaar aan met skêre in die skole. Kevin Pietersen speel vir die land se nasionale krieketspan, tatoeërmerke en al.

Hoe het dit alles gebeur? Is die hele wêreld eenvoudig besig om agteruit te gaan? Of is ek maar net besig om oud te word, noudat ek so sit en tob oor dinge wat nie meer is soos wat dit was nie?

As ‘n mens objektief daarna kyk, is daar ‘n paar redes waarom dit sin maak dat daar vandag heelwat meer misdaad is in Engeland as ooit voorheen. In die eerste plek beteken die land se gunstige belastingomgewing dat skatryk skelms van regoor die wêreld hulleself hier kom vestig en sokkerklubs opkoop. As gevolg daarvan hou Wes-London se eiendomspryse maar net aan om verder die hoogte in te skiet.

‘n Indiese staalmagnaat is nou die rykste persoon in Engeland. Kort op sy hakke volg ‘n Russiese olie-boef met ‘n skamele drie biljoen pond minder agter sy naam. Net vier van die rykste tien mense op die lys is Engels. En dit sluit die Duke of Westminster in, nogal.

Intussen is elke werklose persoon van Oos-Europa ook besig om Engeland binne te val. Die mense mag mos, want dis alles nou een Europa. Engeland se sentrale ligging in die wêreld, en almal se kennis van die Rooi Taal, het sekerlik ook iets daarmee te doen.

Net mooi verlede week lees ek byvoorbeeld dat nie minder nie as 350,000 immigrante uit Pole alleen die Verenigde Koninkryk binnegekom het oor die afgelope twee jaar. Mense soos hierdie het net mooi niks wanneer hulle by Heathrow opdaag nie. Dis hoekom hulle kom, om die toekoms te probeer vind wat eenvoudig nie vir hulle bestaan in die land van hulle herkoms nie. As gevolg daarvan, is hulle bereid om enigiets te doen, selfs al is die betaling maar skraps.

Intussen maak Engeland se motorfabrieke een vir een toe, en die vervaardigers van HP-sous verlaat die land. Wat dit op die ou end alles beteken, is dat die Britse arbeidersklas self al hoe meer sukkel om werk te kry in hulle eie land. Sit twee en twee bymekaar, en die antwoord is so duidelik soos daglig: met die gaping tussen ryk en arm wat groter is as ooit, begin die mense een na die ander om Robin Hood se voorbeeld te volg.

Ek het oor hierdie goed begin dink toe ‘n leser my nou die dag aanvat omdat ek gesuggereer het dat Engeland dalk ‘n veiliger plek is as Suid-Afrika (dit was na my stuk oor die Brett Goldin-moord in Kaapstad). Gewoonlik gee ek nie om vir kritiek nie; inteendeel, ek is maar te dankbaar dat iemand oënskynlik lees wat ek kwytraak. Maar in hierdie spesifieke geval het dit my gepla: was ek onregverdig teenoor my eie land? Is dit dalk vandag selfs nog gevaarliker in Engeland?

Dis dan ook hoekom ek laasweek oor my destydse mugging in Fulham geskryf het, as ‘n inleiding tot hierdie artikel – om erkenning te gee daaraan dat Londen nie werklik so veilig is nie.

Terloops, wat is goeie Afrikaans vir ‘n mugging? Dit gebeur tog immers nie net in Engels en Tsotsitaal nie? Is dit ‘n aanval? Nee: ‘n aanval klink eerder soos iets uit die grensoorlog in Angola.

Maar daai aanval/voorval het regtig plaasgevind. En dis waar dat dit my effens anders laat voel het oor my verblyf in Engeland. Die ergste van alles is dat ek my lewe lank in Suid-Afrika gebly het – die meeste daarvan in Johannesburg, nogal – en nie een keer het ek myself aan die verkeerde kant van enige wapen bevind nie. Maar skaars het ek in Engeland aangeland, of ek’s die slagoffer van ‘n gewapende roof.

Vir ‘n hele paar weke daarna het ek redelik ongemaklik gevoel in my eie omgewing. En natuurlik is ek deesdae versigtiger, veral wanneer ek laat in die aand nog uit is. Ek het my les geleer.

Tog voel ek steeds veiliger in Londen as wat ek vir geruime tyd al in Suid-Afrika voel. Nee, ek sê dit nie omdat probeer om my verblyf hier te regverdig nie. Ek is hier omdat ek hier wil wees, en ek is hier omdat dit uit ‘n professionele oogpunt vir my sin maak. Meer as enigiets, bly ek hier omdat ek dit geniet; wanneer dit verander, sal ek waarskynlik dadelik padgee.

Ek is ook nie een van daai mense wat hoop dat dit sleg gaan in Suid-Afrika net sodat ek my verblyf in die buiteland kan regverdig nie. Inteendeel, ek wil hê dit moet goed gaan in die land; ek wil hê die plek moet veiliger word. Ek wil dit hê ter wille van my familie wat nog steeds in die ou Transvaal bly. Ek wil dit hê vir elkeen van my vriende in Kaapstad. Ek wil dit hê want ek wil self weer eendag aan die hange van Tafelberg gaan bly.

Maar ek is ook nie blind vir Suid-Afrika se foute nie. En soos ek gesê het, dink ek steeds dat dit vandag heelwat gevaarliker is in plekke soos Kaapstad en Johannesburg – selfs al is dit waar dat ek nog net in Londen beroof is. Onthou: ek is beroof terwyl ek laat in die nag op my eie geloop het in die agterstrate van Fulham; in Johannesburg sou ek nie eers gedroom het daarvan om na-ure rond te stap nie. Selfs nie eers in die stad se “beste” dele nie.

Ja, mense word in Engeland ook doodgesteek. Ja, daar was bomme op die tubes laas Julie. Maar al was dit ook hoe traumaties, het daar “net” 52 van Londen se tienmiljoen mense in die bomaanvalle gesterf. Nie net dit nie, maar ek het verder ook min twyfel dat die tipiese voorval in Londen heelwat minder gewelddadig is as in Johannesburg. Praat met enige Suid-Afrikaanse dokter in Engeland, en hy of sy sal bevestig hoeveel erger al die wonde is op die tipiese aand by Hillbrow se hospitaal, selfs in vergelyking met die verskriklikste nag by St. Mary’s naby Paddington.

En alhoewel ek reeds erken het dat die gaping tussen ryk en arm baie groot is in Engeland, is dit selfs erger in Suid-Afrika as jy dit meet aan die persentasie mense onder die broodlyn. Erger nog, in Suid-Afrika gaan hierdie gaping ook gepaard met ‘n ewe groot gaping in standaarde van opvoeding. Wat beteken dat selfs die aggressiefste vorm van regstellende aksie nie eers sal help nie: dit gaan geslagte neem voordat die probleem eendag opgelos kan word.

Jy moet toegee, dis nie waar hier in Engeland nie. Daai Poolse kelnerin wat vandag nog besig is om jou bier te skink teen vyf pond per uur, het eintlik mos ‘n Meestersgraad in Musiek; oor drie jaar gaan jy deur jou nek betaal om na haar te luister in die Royal Albert Hall.

Nog ‘n punt of twee, vinnig, voor ek afsluit. Bill Bryson se veilige Engeland is vandag dalk iets van die verlede, maar ten minste dink ek dat elke voorval van geweld hier gerapporteer word. In Suid-Afrika is ek nie so seker daarvan nie: ek dink die mense daar is al so afgestomp, dat ‘n moord redelik interessant moet wees voordat dit werklik nuuswaardig is.

Laastens is ek jammer om dit te sê, maar ek het heelwat meer vertroue in die Engelse polisie as in die SAP in al hulle glorie. In Londen is ‘n moord nog ‘n moord; ‘n inbraak is nog ‘n inbraak. Kyk net hoe vinnig het hulle laasjaar die hele storie van die bomme uitgepluis en die medepligtiges gearresteer – al is MI5 dan ook op die oomblik besig om oor die kole gehaal te word omdat hulle nie die voorval in die kiem gesmoor het nie.

‘n Ou professor van my het altyd gesê dat Suid-Afrika die beste land in die wêreld is; mens moet net uit die koeëls se pad uit bly. Ek dink hy was reg. Maar intussen geniet ek dit nog hier in Londen – al is dit dan ook waar dat die idilliese Klein Eiland, daai een in die destydse BA-advertensie met al die sagte fokus en stadige aksie, finaal iets van die verlede is.

En selfs al draf Kevin Pietersen ook uit vir die Engelse krieketspan.


Voetstoots van Tonder
21 Mei 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >