Wednesday, May 10, 2006

Uit de oude doos

Die politieke landskap in Brittanje is vinnig aan’t verander. ’n Snuiter met ’n skoon gesiggie lyk of hy besig is om die Tories na ’n verkiesingsoorwinning te lei in die volgende paar jaar; intussen lê die Arbeidersparty aan flarde en Tony Blair is duidelik in groot moeilikheid. Na verlede week se verleentheid by die stembus, het die premier dit goedgedink om grootskeepse kabinet-skommelinge aan te kondig, en in wat beskou word as die mees kontroversiele skuif, is Margaret Beckett aangestel as Minister van Buitelandse Sake. Of Buitelandse Sekretaris, soos die Engelse dit noem. Of is dit in hierdie geval Sekretaresse?

Margaret Beckett is 63 jaar oud. Met ander woorde sy is oud genoeg om David Cameron se ma te wees. Op die ouderdom wat die tipiese werker die goue horlosie begin uitsoek wat hy van die maatskappy gaan ontvang die dag wanneer hy aftree, begin die arme vrou effektief met ’n splinternuwe loopbaan. En terwyl haar vriendinne hulle name op waglyste plaas by die plaaslike rolbalklub, moet Beckett haarself bekommer oor al die honderde buitelandse misdadigers wat losgelaat is deur Charles Clarke, haar voorganger. Foeitog.

Maar as jy gedink het dat Margaret Beckett ons almal se medelye verdien, dink weer. Nee wat, as jy nou regtig wil jammer wees vir ‘n 63-jarige ou tannie, simpatiseer dan eerder met Dr Patricia Rashbrook – ja, sy wat eersdaags geboorte gaan skenk aan nog ’n kind. Praat van ’n laatlammetjie. Ja-nee, ’n oorstootdrie in beseringstyd. Of, soos die seuntjie destyds kwytgeraak het in een van die beroemdste eksamenflaters ooit: die kind is uit de oude doos.

Dis nie altyd maklik om ’n laatlammetjie te wees nie. Vra my: ek is gebore op my ma se 38ste verjaarsdag. My pa was 45 in daardie stadium, oud genoeg om reeds te ly aan ’n swak hart; derhalwe was dit lewensgevaarlik vir hom om bal te skop saam met my. Maar ons het wel skaak en rummy gespeel, en hy het ure lank “Afrikaners is plesierig” vir die kokketiel gefluit sodat dié kon leer om die wysie terug te fluit. Dit was die oorspronklike FAK-weergawe van die liedjie; ek dink nie Karen Zoid was toe al gebore nie.

Om op te som: ek het al baie kere gedink dat my en my pa se verhouding eintlik was soos die een wat meeste mense met hulle oupas het. Ten minste het dit opgemaak het vir die feit dat ek nooit ’n oupa van my eie gehad het nie: so laat het ek op die toneel verskyn, dat albei my grootvaders ongelukkig lank tevore reeds die lepel in die dak gesteek het.

My oudste suster was 15 toe ek al daardie jare gelede met ’n groot geskree die lewenslig gesien het. Om te sê dat sy derhalwe oud genoeg was om my ma te kon wees, is seker ’n effense oordrywing, maar dis definitief waar dat sy my help grootmaak het. Ek moet bieg dat ek nie kan onthou hoe sy help doeke omruil het nie, maar sy self herinner my gereeld daaraan. Dankie nogmaals Ousus, miskien sou ek deur die hele lewe moes gaan met ’n nat broek as dit nie vir jou was nie.

Maar die ergste van alles was my destydse verhouding met my ouer boetie, 5 jaar my senior. Ouboet was geslepe genoeg om altyd te verneuk wanneer ons Monopoly speel, en oud en slim genoeg om dit op so ’n manier te doen dat ek hom nooit kon uitvang nie. Tot eendag, en ek het nooit weer saam met hom gespeel nie. Ek het hom eers nou die dag vergewe.

Nie net dit nie, maar my hele familie vertel ook hoe onmoontlik stout my broer was as ’n klein seuntjie. Daar’s baie staaltjies, maar kortliks kom dit daarop neer dat die sogenaamde Terrible Twos eintlik na hom vernoem is. Die punt van die storie is egter dit: my broer was so ’n terroris, dat my ouers geen geheim daarvan gemaak het dat hulle nooit weer sou kans sien om nog ’n kind in die lewe te bring nie. Tot eendag wat my ma vermoed het daar’s dalk iets “fout”, en na die nodige toetse vir Pa die verskriklike nuus moes meedeel: ja-nee, sy was weer “in die ander tyd...”

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis. En hier is ek vandag, oud genoeg om self die storie te vertel. Maar weet jy hoe verskriklik traumaties is dit om deur die hele lewe te moet gaan in die wete dat jy ’n glips is?

Dis uiteindelik dan ook die boodskap wat ek vandag het vir die nuwe toevoeging tot Dr Patricia Rashbrook se gesin. Ja, die mannetjie is miskien ’n laatlammetjie, en sy pa gaan dalk nooit saam met hom balskop nie. Of as dit ’n dogtertjie is, gaan die stomme kind ouetehuise saam met haar ma uitsoek voordat die ma self eendag help met die matriekafskeid-rok. Maar ten minste is die baba nie ’n glips nie, ingeval hy of sy dalk ooit daaroor wonder. Die kind hoef maar net te kyk na al die koerantberigte in die plakboek wat die geriatriese moeder-in-wording sonder twyfel besig is om saam te stel op hierdie huidige oomblik.

En om terug te keer na Margaret Beckett toe. Ek wens die dame sterkte toe in haar nuwe rol as Buitelandse Sekretaresse. Mag sy minder buitelandse verkragters uit die tjoekie loslaat as wat haar voorganger geoen het.

Ek hoop net nie sy doen aansoek vir te veel kraamverlof oor die volgende paar jaar nie; daar’s ’n jop om te doen.


Voetstoots van Tonder
7 Mei 2006
< # afrikaans ? >