Sunday, May 14, 2006

Napoleon se mes

Dit het twee jaar gelede gebeur. Vriende van vriende vind uit dat ek ook nou in Londen bly, en skielik volg daar ‘n uitnodiging na ‘n partytjie in Fulham. Ongelukkig ken ek die area glad nie, en ek het skaars van die North End Road afgedraai of ek verdwaal onmiddellik. Mens kan tog nie ‘n A-Z na ‘n partytjie toe saamdra nie; hoe zef sou dit tog lyk.

Wat se tipe partytjie is dit, wonder ek – is dit ‘n huisverwarming, ‘n verjaarsdag, ‘n verlowing, of sommer maar net ‘n partytjie? Miskien moes ek maar ‘n geskenk ook saamgebring het, addisioneel tot die bottel Chileense Sauvignon Blanc onder my arm.

Toe ek eers by my bestemming opdaag, ken ek niemand nie. Wie’s jy, vra die ou wat die deur oopmaak; heelwat later sou ek eers uitvind dit was die huiseienaar self.

My naam sou definitief geen klokkie lui nie, so ek vertel hom toe maar ek’s ‘n verlangse pel van So-en-So. Ken hom van geen sout of water nie, sê die deuroopmaker, maar kom in, welkom, dit lyk soos ‘n gawe bottel Chileense Sauvignon Blanc daar onder jou arm, maak jouself tuis. Dankie, sê ek, en volg hom regdeur die oop-plan lewensruimte, anderkant uit, tot in die tuin waar dertig of veertig mense staan en mengel. Of is dit net slaai wat mengel?

My verlangse pel, die een wie se goedgunstige uitnodiging die rede is dat ek in die eerste plek hier is, is selfs nie eers teenwoordig nie. Of miskien is hy, en ek herken die man net nie; het hom immers net een keer in my lewe ontmoet. En dit was bitter lank gelede. Maar wat maak dit saak; die son trek water, die mense is vriendelik, die musiek blêr lekker, en die braaivleisvure brand hoog.

Aanvanklik dog ek al die aksente is onmiskenbaar Suid-Afrikaans, maar later moet ek uitvind dat daar eintlik ‘n hele paar mense van Zimbabwe ook is. Darem snaaks hoe ons ‘n aksent deel met ons noordelike bure. En soos wat dit maar in Londen gaan wanneer daar ookal gratis drank beskikbaar is, is daar natuurlik ‘n paar Australiërs wat opdaag. Asook een of twee meisies uit Nieu-Seeland. Maar ek diskrimineer nie, ek dans met almal van hulle.

Toe ek my oë uitvee, is dit twee-uur in die oggend. Dis mos maar wat gebeur wanneer dit hoogsomer is in Engeland: as dit eers omtrent tienuur die aand behoorlik donker word, misgis ‘n mens jou maklik met hoe laat dit werklik is. Ek groet al my nuwe vriende en begin verdwaal op pad terug na die Fulham Road toe.

Asof vanuit die niet, verskyn daar skielik drie jeugdiges op twee fietse voor my. Hulle stop toe hulle my sien en begin gesels. Darem maar gawe mense hier in Fulham, dink ek vir die tweede keer binne die bestek van een aand.

Hulle vra waarvandaan ek kom. Na presies watter stukkie inligting is hulle nou eintlik op soek, ontleed ek onmiddellik die vraag. Hulle wil tog sekerlik nie die storie van die bytjies en die blommetjies hierdie tyd van die nag hoor nie? Wil hulle dalk weet van die partytjie wat ek so pas verlaat het? Stel hulle belang in my Londense adres? Of moet ek hulle maar net vertel dat my aksent en ek mos eintlik van Suid-Afrika af kom?

Intussen raak ek lekker geïrriteerd met die geselskap. Maar nog glad nie suspisieus nie. Ook maar lekker simpel, ekke.

Kort daarna vra hulle vir my vra watse tipe selfoon ek het. Die skille val van my oë af. Skielik besef ek dat hulle waarskynlik nie besig is met ‘n meningspeiling namens Nokia nie.

As ek al ooit ‘n wit leuntjie vertel het dan’s dit vanaand, besluit ek. Wat’s die kans dat hulle my subtiele klein selfoontjie in my jeans se agtersak gaan opspoor?

Nee, ek het nie ‘n selfoon nie, sê ek so ewe kordaat. Hulle lag hulleself omtrent ‘n papie. Persoonlik het ek nie eers gedink die grap is so snaaks nie.

Terwyl ons staan en gesels, vroetel die een kêrel heeltyd onder sy hemp. Laat my bietjie dink aan al daai prentjies van Napoleon in Standerd 7 se Geskiedenisboek. Wil ek sy mes sien, vra hy. Nee wat dankie, sê ek ewe kalm. As jy een mes gesien het, het jy almal gesien. Maar dít sê ek nie vir hom nie.

As ek vir hom tien pond gee, sal hulle my uitlos, belowe Napoleon. Ek weet ek het net drie twintigpondnote in my beursie, maar besluit ek sal maar nie vanaand vir kleingeld vra nie. Oukei, sê ek, en ek haal my beursie stadig uit my sak uit.

Toe hulle eers die geld te siene kry, is dit asof die hele atmosfeer egter verander. Skielik is alles heelwat meer aggressief. Napoleon gryp na my beursie, en ek en hy raak verbete aan’t stoei. Aan Ta se mes dink ek nie eers nie: dis ongelooflik hoe jou benadering tot risiko verander as jy jouself skielik in die hitte van die oomblik bevind. En dit gaan nie eers oor “dapperheid” of enigiets dergeliks nie: ek dink dis maar net ‘n baie basiese oorlewings-instink wat onwillekeurig oorneem.

Jy kan al my geld kry, skree ek, los net my kredietkaart en bestuurderslisensie uit. Geen probleem nie, gil hy terug terwyl die twee van ons verder stoei.

Napoleon se meisie, wat nou-nou nog ewe kalm saam met hom per fiets by die misdaadtoneel gearriveer het, begin naarstiglik in my broeksakke vroetel. Soek sy na my selfoon, wonder ek, of dalk na ‘n sakdoek – of ietsie anders? Ongelukkig kry ek nie eers kans om dit alles te geniet nie, want die verwoed stryd om die beursie hou my te besig.

Dankie tog sy probeer nie my agtersak nie, dink ek, my selfoon is darem nog veilig. En gelukkig lui die ding nie. Maar dit ís darem twee-uur in die oggend.

Intussen hou die derde man kywie.

Skielik verloor ek beheer oor my beursie; stoei was nog nooit rêrig my sterkpunt nie. Napoleon laat spaander en die ander twee is onmiddellik op hulle fietse en begin om verwoed te trap. Ek hardloop agter hulle aan en skree myself hees: die ooreenkoms was dat julle my kaarte uitlos!

Toe ek weer sien, vlieg die inhoud van my beursie (met uitsondering van enige twintigpondnote) in elke rigting denkbaar. Die drie is miskien skelms, maar tog wil dit vir my lyk asof hulle ten minste eerbare skelms is.

Uitasem tel ek my kredietkaart en my bestuurderslisensie binne vyf tree van mekaar af op. Daar lê ‘n paar van my ou bankstrokies ook rond; nes ek, hou Napoleon seker nie van administrasie nie.

Nie net dit nie, maar ek vind verder ‘n paar van my ou buskaartjies ook (dit was nog die dae voor ‘n Oyster-kaart). Lyk my Napoleon ry nie bus nie. Maar dit maak seker sin: die man het mos ‘n fiets.

Om alles te kroon: my Café Nero-kaart; hy’s seker ‘n Starbucks-man.

Nooit het ek Napoleon se mes gesien nie. Om eerlik te wees, dink ek hy het maar net voorgegee dat hy ‘n mes het. Met ander woorde hy is dalk nie net ‘n dief nie, maar heel moontlik ‘n leuenaar nog ook.

Ek wou eintlik nog agter hom aanhardloop en vra dat hy die mes uithaal en wys. Op die ou end het ek egter besluit om hom die voordeel van die twyfel te gee en hom in vrede te laat gaan. Want sien, hy hardloop in elk geval heelwat vinniger as ek.

Hoe nou gemaak? Dis laat in die nag, ek is nog steeds in Fulham, en ek’s lekker gatvol. En ek het nie ‘n pennie op my nie. Uiteindelik vind ek die Fulham Road, en ‘n rukkie later kom daar ‘n swart taxi met ‘n geel lig wat brand verby, soos manna uit die hemel.

Ek gee vir die drywer my adres, en ek lig hom in dat ek geen kontant het nie – ‘n netelige situasie voorwaar.

Die kêrel stem goedgunstiglik in om my op skuld na die naaste kontantmasjien te neem. Daar aangeland, is die ding buite werking. En skielik tref dit my: miskien is dít hoekom Napoleon my vroeër gevra het vir tien pond?

Genadiglik werk kontantmasjien nommer twee, en skuins voor drie arriveer ek tuis. Nooit weer loop ek laat in die nag alleen in Fulham rond nie. Nee: volgende keer sal ek eerder saam met ‘n paar vriende en ‘n fiets of twee rondbeweeg; dis immers heelwat meer winsgewend.

As ek terugkyk op die situasie, was dit alles ‘n besondere goedkoop les. Dink so daaraan: ek het die heelaand wyn gedrink, ek het ‘n velerlei tjoppies verorber, en ek het met dertien verskillende meisies gedans. En dit alles het net sestig pond gekos, plus die prys taxi-rit huis toe – goedkoper as ‘n lekker uiteet vir twee.

Nie net dit nie, maar ek leef om die storie te vertel.


Voetstoots van Tonder
14 Mei 2006

3 Comments:

Blogger PienkZuit said...

Jy weet ne, chavs soos daardie 3 is die rede hoekom mens nie kan kinders grootmaak op daai eiland nie.

3:35 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

This comment has been removed by a blog administrator.

9:26 am  
Blogger renklem said...

toe ek nog in Fulham gebly het, jare gelede, het ek op twee verskillende geleenthede geweerskote gehoor. maar Fulham is 'n flippen lekker plek (eintlik)

9:56 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >