Tuesday, May 02, 2006

Nie plek genoeg in Afrika

Daar gaan luister ek toe nou die dag in Kaapstad na Freshly Ground, Suid-Afrika se warmste nuwe popgroep, en na pouse vind ek uit dat hulle sowaar gereël het vir Robbie Williams om ook ‘n paar liedjies te sing.

Robbie Williams is die man teen wie elke skooldogtertjie se pa haar twintig jaar gelede gewaarsku het. Die man het ‘n geskiedenis van dwelmgebruik, tatoeërmerke op verskeie liggaamsdele, en gaatjies met allerlei interessante versierings uit vlekvrye staal op die res. Hy rook soos ‘n skoorsteen en hy vloek soos ‘n matroos, en vir die wis en die onwis het die kunstenaar ter bevestiging van hierdie stokperdjies sommer albei van hulle op die verhoog ook beoefen, daardie soel herfsaand in die Groenpunt-stadium. En oor Williams se liefdeslewe sal ek maar eerder nie kommentaar lewer nie, maar die hardnekkige gerugte oor byvoorbeeld hom en Minki laat mens wonder of dit sy missie was om Suid-Afrika se mooi meisies besig te hou terwyl ons land se eie Steve Hofmeyr besig was met ‘n buitelandse toer van sy eie.

Noudat ek daaraan dink, kom daar egter ‘n ander teorie ook by my op. Miskien is dit juis nie toevallig dat Robbie Williams ‘n paar weke gelede in Suid-Afrika geland het terwyl Steve Hofmeyr homself in Londen bevind het nie: daar kan immers nie genoeg plek wees in Afrika om albei van hulle se ego’s terselfdertyd te huisves nie.

Die omvang van die ego’s is egter nie die enigste ooreenkoms tussen hierdie twee kunstenaars nie. Nadat ek albei in aksie gesien het binne ‘n week of twee, kan ek getuig dat Williams dieselfde hipnotiese effek op ‘n gehoor het as dié waaroor ek onlangs geskryf het in die konteks van Hofmeyr se optrede in die London Palladium. Robbie se aanhangers sal seker sê dat ek belaglik is om hom met Steve te vergelyk: Williams is immers ‘n internasionale superster (al is hy dan ook nie ‘n Blou Bul nie), terwyl Hofmeyr se naam “maar net” iets beteken onder Suid-Afrikaners. Dis egter maar die kruis van Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) kunstenaars: Koos Kombuis sal ook nooit soveel cd’s verkoop as Leonard Cohen nie, al is dit dalk waar dat albei hierdie kunstenaars min of meer ewe goeie liedjies skryf, en ewe vrot sing.

Robbie Williams het verder ook presies dieselfde hipnotiese effek op ‘n gehoor as Steve Hofmeyr. Nie net dit nie, maar die twee van hulle suksesresep is ook grotendeels dieselfde: albei hou ‘n skyn voor van toeganklikheid tot ‘n gehoor. Hofmeyr doen dit deur af te buk van die verhoog af en ‘n klomp mense se hande te skud; Williams doen dit deur ‘n klein seuntjie op die verhoog toe te laat. En ‘n rukkie later stap hy van kant tot kant oor die verhoog, kyk ‘n hele rits aanhangers een vir een in die oë, en groet hulle: “Good evening; How you doin’; Hello; Welcome; Good evening; Nice tits…”

Dis met hierdie laaste groet van Williams wat ek ook finaal besef het: die mense wat op hierdie aand gesoek het vir polities korrekte uitsprake in Groenpunt, het by die verkeerde stadion opgedaag. Jip, kom ons erken dit nou maar vir eens en vir altyd rondborstig: die meeste mans kan nie op twee dinge tegelykertyd konsentreer nie, maar beide Robbie Williams en Steve Hofmeyr kan: hulle deel ‘n obsessie met vroueborste.

Onse Steve het hoeka nou die dag deurgeloop omdat hy opmerkings gemaak het oor die borste van die dogter van ‘n vrou in sy gehoor in Londen. En die aand in Groenpunt, het Robbie ook sy waardering vir hierdie spesifieke deel van die vroulike anatomie geïllustreer, en wel aan die hand van ‘n storie. Die kunstenaar het ons vertel van ‘n spesifieke dame wat na bewering sy vertoning wou boikot omdat sy ‘n paar dae tevore ‘n borsvergrotingsoperasie ondergaan het: sy was bang dat die twee produkte van die kosmetiese chirurgie dalk sou skade optel in die getjommel van ‘n groot skare mense. Toe Williams egter daarvan uitvind, het hy sekergemaak dat die betrokke dame voorsien word van kaartjies in ‘n “veilige” deel van die stadion… soos hy die skare luidkeels meegedeel het: “Together, we can make better tits!”. Dawerend het almal van ons saamgestem.

Ek dink Steve Hofmeyr sou self trots gewees het as daai een van sy stories was.

Die ooreenkomste tussen Robbie Williams en Steve Hofmeyr hou ook nie op by hulle majestieuse ego’s en waardering vir bepaalde aspekte van die vroulike anatomie nie. Inteendeel, glo ek dat die twee van hulle se ego’s op die ou end maar net ‘n front is, en dat albei van hulle eintlik gebuk gaan onder ‘n helse gebrek aan innerlike sekuriteit. Hoekom is dit byvoorbeeld vir hulle nodig om gedurig so grootdoenerig te wees oor hulle sukses? Hofmeyr, byvoorbeeld, kan nie ophou om te spog met hoeveel albums hy verkoop het nie, en Williams maak ‘n groot storie van die feit dat Take That (die groep waaraan hy self voorheen behoort het) nie eintlik sonder hom ‘n kans staan met hulle hertoetrede tot die musiekwêreld nie.

Is dit werklik nodig? ‘n Arend vang tog nie vlieë nie?

Laaste maar nie die minste nie, wil dit verder voorkom asof Robbie Williams en Steve Hofmeyr ook albei ‘n gewoonte daarvan maak om die pers sleg te sê. As jy kyk na die aantal fanatiese ondersteuners wat albei van hulle het, kan die twee van hulle seker wegkom daarmee, maar dit laat nog steeds ‘n betreklik onaangename smaak in die mond.

By die Groenpunt-Stadion het Robbie Williams sekere F-woorde aan die Suid-Afrikaanse koerante toegedig na aanleiding van die storie dat hy na bewering sou aangedring het om Madiba onder vier oë te kry. Nie waar nie, hou Williams vol, en die pers wou maar net ‘n wig tussen hom en sy ondersteuners dryf. Maar hulle het duidelik misluk, skree hy vir die skare, en ter bevestiging skree die skare selfs harder terug.

Steve Hofmeyr het ook nie juis ooghare vir die pers nie. In elk geval nie die tipe pers wat dit enigsins waag om objektief te analiseer, eerder as om eenogig te bewonder nie: skielik dreig hy byvoorbeeld om nooit weer by die KKNK op te tree nie, as gevolg van sogenaamde haatspraak in die feeskoerant.

Maar Steve huigel. Wat anders as haatspraak was dit toe hy onlangs in Londen die gehoor opgesweep het met sy tirade teen die Suid-Afrikaanse regering? En hoekom raak hy so kwaad vir Jaco Botha wat ‘n bepaalde gehoor gekritiseer het, as Steve self daardie aand in Londen vir ons vertel het van sy eie gehore in Suid-Afrika wat bestaan uit neurotiese oumense en apatiese jongmense?

Ai, die dubbele standaarde darem. Gee my enige tyd eerder Freshly Ground.


Voetstoots van Tonder
30 April 2006

1 Comments:

Blogger renklem said...

Mens kan oor Robbie baie dinge kwytraak, maar die een rede hoekom ek van hom hou, is die feit dat hy vir Liam Gallagher sleg gese het. Liam Gallagher is heel moontlik nader aan die beskrywing wat jy hier van Robbie gegee het. Ten minste het Robbie 'n cheeky sin vir humor, maar Liam en sy broer is die mislike superster ego's wat jy hier beskryf, met geen sin vir humor oor die lewe nie.

10:04 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >