Sunday, May 28, 2006

Voluptatibus Fruendum


Toe ek by Amsterdam se Centraal Stasie arriveer en met die nommer 9 tram na die hotel se kant toe koers kies, sien ek ‘n teken hoog teen ‘n gebou aan die linkerkant van Damrak-straat in yslike groot letters: GOD ROEPT U / JESUS LOVES YOU. Jy kan die presisie van die vertaling kritiseer as jy wil, maar die strekking is duidelik genoeg. Ek laat my oë sak: op die grondvloer van die gebou is daar ‘n winkel wat Christelike lektuur verkoop. En daar’s ‘n kroeg.

Onwillekeurig dink ek terug aan ‘n liedjie wat ons as kinders gesing het as ons die dag lus was vir stoutwees. Dit was op die wysie van “Die padda het gaan opsit by sy nooi in die vlei”: Die kerk en die bar staan langs mekaar, a-ham, a-ham… die dominee en die barman jaag mekaar, a-ham, a-ham… ‘n pennie vir die kerk en ‘n pond vir die bar… Ensovoorts.

Dit was laas Donderdag wat ek in Holland se hoofstad aangekom het. En dit was ‘n openbare vakansiedag. Hemelvaart, nogal.

En dit alles het my aan die dink gesit. In die goeie ou slegte dae van die ou Suid-Afrika, toe ‘n mens nog betaal het vir kondome maar die Checkers-sakke darem verniet was, was Hemelvaart natuurlik ‘n openbare vakansiedag in ons land ook nog. Maar alles het intussen verander, en net soos in Engeland, is Goeie Vrydag en Kersfees nou die enigste Christelike vakansiedae wat oorbly op die Suid-Afrikaanse kalender. Dis nou as jy Kersfees wel as ‘n Christelike vakansiedag tel: die heidene herinner ons mos elke jaar daaraan dat hulle eintlik ook ‘n kleim het op die dag, en wel een wat terugdateer tot lank voor die geboorte van Christus.

So van heidene gepraat. Ek het nie ‘n meningspeiling gedoen nie, maar ek vermoed dat die tipiese inwoner van Amsterdam waarskynlik dink dat Hemelvaart bloot ‘n ander term is vir ‘n goeie trip na afloop van ‘n uitgerekte dwelmsessie. Die plek was egter nie altyd so permissief nie, en daar is ‘n oorvloed getuienis van die belangrike rol wat die kerk oor die eeue heen gespeel het in hierdie interessante stad – veel meer as bloot die vakansiedae wat die mense vandag nog vier.

Vat byvoorbeeld die stad se kroegname. Daar is De Bekeerde Suster op Kloveniersburgwal, vernoem na die nonne wat hulle eie bier op die perseel begin brou het in die sestiende eeu. Of die Engelbewaarder, skuins oorkant die pad. En, net om die draai van daar af, Het Elfde Gebod, met hulle oënskynlik ernstige leuse in Latyn: Voluptatibus Fruendum. Dis ‘n uitdrukking wat ek ongelukkig nie in my hoërskool-handboek kan opspoor nie. Maar ek vermoed dit beteken dat ‘n mens moet seker maak jy geniet.

Ongelukkig is ek nie heeltemal seker wat presies jy behoort te geniet ingevolge die elfde gebod nie, maar dit bring my in elk geval by die luisterryke geskiedenis van die Bananenbar op Oudezijds Achterburgwal. Volgens my toergids het die plek vir baie jare lank nie belasting betaal nie, aangesien die eienaar dit reggekry het om dit as “kerk” te registreer – in diens van die duiwel, natuurlik. Ongelukkig is hierdie gaping in Holland se belastingwet egter intussen toegestop, en vandag is die Bananenbar maar net nog een van Amsterdam se vele drinkplekke waar meisies allerhande interessante goed op die verhoog doen, die meeste waarvan jy liefs nie vir jou ma wil vertel nie. En definitief ook nie vir hulle ma’s nie, noudat ek daaraan dink.

Maar daar is ook regte kerke in Amsterdam. Die enigste probleem is, hulle word nie regtig meer as plekke van geloof in die tradisionele sin van die woord ingespan nie. Vat byvoorbeeld die stad se oudste gebou, die Oude Kerk, wat terugdateer na die vroeë 1300’s. Deesdae is dit ‘n galery, en die tuiste van die Wêreld Persfoto-kompetisie.

In die gees van navorsing het ek besluit om te gaan kyk na die uitstalling. Hierdie jaar se algehele wenner, Finbarr O’Reilly, se naam laat hom klink soos ‘n dronklap in Angela’s Ashes, eerder as ‘n top-fotograaf uit Kanada – maar sy foto’s van die hongersnood in Afrika is aangrypend om die minste daarvan te sê. En dis ook nie waar die Afrika-tema stop nie: nie minder nie as 5 van die 60 individuele pryswenners is van Suid-Afrika.

Toe ek klaar gekyk het na die persfoto’s en ek my voete buite die Oude Kerk sit, is ek eensklaps in die hart van Amsterdam se rooilig-distrik. Ek kan nie help om te dink nie: as dit maar net die bar was, wat langs die kerk gestaan het… Reg oorkant die Oude Kerk, is die Prostitutie Informatie Centrum; daar kan jy alles en nog wat uitvind oor die geskiedenis en die werking van die oudste professie. En vir diegene wat self die beroep wil beoefen, is dit blykbaar ook ‘n goeie plek om aan te klop.

Ek moet bieg, ek het vir ‘n wyle in die omgewing rondgedwaal en die mees insiggewende window-shopping denkbaar gedoen. Wat my laat wonder: is daar ‘n goeie Afrikaanse woord vir window-shopping?

Dit het darem gelyk asof meeste van die dames redelik fluks besigheid bedryf dié aand, al was dit dan ook Hemelvaart. Of dalk juis as gevolg daarvan; die openbare vakansiedag het bes moontlik beteken dat daar heelwat meer mense was wat tyd gehad het om die plek te besoek. Te oordeel aan wat ek gesien het, vermoed ek dat ‘n hele paar van hulle nie ‘n been toegemaak het nie. Maar dis in elk geval nie asof die mense kerk toe kon gaan om Hemelvaart te vier nie; dié was mos beset deur ‘n foto-uitstalling, onthou?

Self het ek egter nie ‘n transaksie beklink nie, dit belowe ek plegtig. En as ek het, sou ek jou in elk geval nie daarvan vertel het nie.

Al wat ek kan sê, is: Voluptatibus Fruendum!


Voetstoots van Tonder
28 Mei 2006

4 Comments:

Blogger PienkZuit said...

Wat van "oogkoop" vir window shopping? Ek wens daar was een of ander raad of vereniging waar mens hierdie nuelogismes kon voorstel, en dan krediet kon kry as die volksmond dit begin gebruik. Dan sou mens kon gaan opsoek wie die eerste keer "vonkpos" vir email gebruik het, en so aan.

9:37 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

erens hoor ek van 'n woordeboek wat skryf van loerkoop...

9:57 pm  
Blogger renklem said...

en van loer kom daar gewoonlik niks goeds nie. ek like jou blog Voetstoots.

9:50 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

thanks vir jou comments, Genate...cheers V

11:34 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >