Sunday, June 04, 2006

Lank lewe die onderhond!

Photobucket - Video and Image Hosting

Nee, dis nie die Rooi Kruis se vlag nie – dis Engeland s’n. Of eintlik die vlag van St George, om meer spesifiek te wees. Op die oomblik kan jy nie beweeg in Londen nie, of jy sien die ding wapper. Mense maak dit vas aan hulle motors se lugdrade, hulle hang dit voor hulle woonstelvensters, hulle verkoop sexy onderklere en eetgerei en meubels wat versier is met die wit en rooi motief. Almal in Engeland is behoorlik Wêreldbeker-bedonnerd.

As jy nie weet watter sport dit is waarvan ek praat nie, check jou pols. Al wat koerant is, elke televisieprogram, elke gesprek in elke pub in elke gehuggie in Engeland fokus immers die afgelope tyd net op sokker, sokker en nogmaals sokker As dit nie Wayne Rooney se toon is nie, is dit Peter Crouch se robot-dans, of David Beckham se posh partytjie. Dis genoeg om van siek te raak.

Net nou die dag nog het ek geskryf dat ek nie veel belangstel in die sport van die sokkerboewe nie, ‘n tekortkoming wat ek toeskryf aan ‘n Christelik-Nasionale opvoeding in die apartheid Suid-Afrika van die 1970’s. In daardie selfde artikel het ek verder aangekondig dat ek nie net lojaal anti-Chelsea is nie, maar ook dat ek voortaan vir Barcelona sal ondersteun – al was ek nog nooit in Spanje nie. En ek’s bly om te kan rapporteer dat ek darem ‘n paar pondjies in die proses gewen het, want “my” span het toe mos voortgegaan en intussen wel die Kampioenskapsliga gebuit.

So, jy sien, ek is definitief besig om sag in die kop te raak. Maar vir ‘n rooibloedige man op Moddereiland is dit bykans onmoontlik om langer as ‘n jaar of twee op die plek te oorleef sonder om uiteindelik so ‘n bietjie van ‘n gevoel vir die sport te ontwikkel. Ek dink dis die breinspoeling wat jou op die ou end onderkry, die dominansie van sokker op televisie, in die koerante, in elke advertensie vir enige produk onder die son, in gesprekke by die werk en oor ‘n bier.

My Bybel-juffrou het definitief haar tyd gemors toe sy my destyds gewaarsku het teen daardie sublieme advertensie-flitse wat Hollywood se mense na bewering in die rolprente plaas, en musieksnitte met versteekte boodskappe wanneer jy popliedjies agteruit speel (iets wat in elk geval ‘n bietjie moeilik is in vandag se ipod-generasie – behalwe miskien wanneer jou stelsel die dag sy bene in die lug gooi). Pleks het sy my maar net voorberei op al die sokker-propaganda wat ek eendag in die gesig sou moes staar.

Teen wil en dank het ek derhalwe nou ‘n bekentenis om te maak, en dit is dat ek eintlik nogal uitsien na Vrydagmiddag vyfuur wanneer Duitsland en Costa Rica op die veld draf vir die eerste wedstryd van hierdie jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi. Ek sien amper daarna uit soos ‘n klein seuntjie wat opgewonde is oor sy volgende verjaarsdag. Behalwe dat dit heelwat beter is as ‘n klein seuntjie wat verjaar: waar laasgenoemde gewoonlik nie veel beheer het oor al sy persente nie, weet ek presies hoe ek my tyd gaan spandeer wanneer die fluitjie Vrydag blaas; my vriende is opgelyn, en die twee kaste bier wat ek op special by Sainsbury’s gekoop het vir agtien pond is reeds in die yskas.

Ja, jy’t reg gelees – agtien pond vir twee kaste bier. Met prysoorloë soos hierdie tussen die kleinhandelaars, wens ‘n mens sommer elke jaar is Wêreldbeker-jaar.

Maar vir wie gaan ek Vrydagmiddag skree, vra jy? Gee ek enigsins om wie wen tussen Duitsland en Costa Rica? Weet ek selfs waar Costa Rica is? Om die waarheid te sê, weet ek enigiets van Costa Rica, behalwe dat die land baie koffie het? En is ek selfs seker oor die koffie?

Ek dink Costa Rica is in Suid-Amerika. Of dalk is dit ‘n eiland, êrens in die Karibbiese see. Ek sou raai die mense daar praat Spaans, dalk Portugees. En ek vermoed hulle is donker van gelaat, met lang hare en hangsnorre.

Maar dit maak nie saak nie, Vrydag het hulle in elk geval my ondersteuning. Ons hou mos maar almal daarvan om vir die onderhond te skree. Maar is onderhond die korrekte Afrikaans vir underdog? En is ek selfs seker daarvan dat Costa Rica wel die onderhond is in hierdie wedstryd?

Sien, dis die ding wat sokker se Wêreldbeker so aantreklik maak. In elke wedstryd kan mens kies vir wie jy ondersteun, en dis altyd moontlik om jou keuse te rasionaliseer. Wat meer is, sokker is die tipe sport waar enigiets moontlik is, en dis heelwat minder voorspelbaar as iets soos rugby waar daar gewoonlik net vier of vyf spanne is wat hoegenaamd ‘n kans staan om die Wêreldbeker te wen.

Die vraag is egter: watter een van die 32 spanne gaan ek ondersteun vir die res van hierdie jaar se toernooi? Want net soos die dominee wat preek teen rondslaap, meen ek dis nie reg dat ‘n mens net van wedstryd tot wedstryd telkens ‘n ander span kies nie; êrens moet jy darem ook ‘n keuse maak van ‘n nommer een span wat jy deur dik en dun sal ondersteun. En gegewe dat Bafana Bafana nie hierdie jaar daar is nie, beteken dit dat die tipiese Suid-Afrikaner ‘n hele lang lys van spanne het om uit te kies.

Glo dit as jy wil, maar ek het besluit om hierdie jaar vir Engeland te skree. Volgende week verduidelik ek hoekom; soos Dan Brown, probeer ek seker maak dat jy in spanning wag vir die volgende hoofstuk.

Maar kan iemand intussen vir my sê waar ek ‘n vlag van Costa Rica in die hande kan kry?


Voetstoots van Tonder
4 Junie 2006

8 Comments:

Blogger PienkZuit said...

Sal graag jou rede wil hoor. Dis soveel lekkerder om juis TEEN Engeland te skree, en dit dan in te vryf by die werk wanneer hulle op "kontroversiële" wyse uitgeskakel word, want maak nie saak hoe dit gebeur nie, die Sun sal sê dis kontroversieël (en hulle gaan uitgeskakel word, dis nou maar wors).

7:48 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Ja-nee ek hoor wat jy se, en in my hart voel ek eintlik grootliks dieselfde...(ek het ook al voorheen daarvan geskryf) - but watch this space!

cheers

V

9:02 am  
Blogger renklem said...

Voetstoots, ek is met jou op die Engeland bankie. Het ook al in Duitsland gebly, so 'n klein stukkie van my hoop hulle wen op hul home ground, maar ek sal saam met die Engelse sit op hierdie een.

1:31 pm  
Blogger renklem said...

Blogger het weer baie probleme gegee, maar ek sien jou geduld is viervoudig beloon.

10:34 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

om eerlik te wees, ek dink nie die aanvanklike probleem met die foto's op blogger is al opgelos nie - maar ek het dit via photobucket gedoen - vra maar as jyself eendag probleme het

- cheers V

9:06 am  
Blogger PienkZuit said...

ok, ek sien jy't 4 goeie redes!

11:06 am  
Blogger Do Kwang said...

Voetstoots, het jy nog probleme om foto's te laai. Ek is al sedert November op blogger en ek kry daai selfde probleem van tyd tot tyd. Dan kyk ek gewoonlik by blogger help group in en vind uit dat talle ander mense dieselfde moeilikheid het. Mens moet maar net so dag of drie wag dan gaan dit oor. Geen troos, maar dit lyk my nie mens kan iets daaraan doen nie.

2:54 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

thanks - ek het dit op die ou end uitgesorteer, maar deur "photobucket" te gebruik met 'n href file (ek het op die help group bladsy gelees daarvan)... cheers

8:12 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >