Sunday, June 11, 2006

'n Hensopper en 'n joiner?

Photobucket - Video and Image Hosting

Verlede week het ek my besluit aangekondig om Engeland te ondersteun in hierdie jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi… maar hoe kan dit wees?

Wat het verkeerdgeloop in die lewe van ‘n goeie Boereseun as hy eers begin skree vir die span van die kolonie? Hoe durf ek my gewig ingooi by die pommies, die kakies, die rooinekke, die souties? Is ek uiteindelik ook maar net ‘n hensopper en ‘n joiner? Draai my pa om in sy graf?

Voorheen het ek self geskryf dat ek normaalweg vir enige span behalwe Engeland sal skree; ek het selfs gespekuleer oor die vraag of die nagedagtenis aan die Boere-oorlog dalk in my DNA agtergebly het. Maar terselfdertyd het ek darem wel ook aangedui dat ek waarskynlik selfs minder van Australië hou – iewers moet mens tog darem die streep trek.

Trouens, van Australië gepraat: wat my aanbetref is dit natuurlik die heel slegste nuus met betrekking tot hierdie jaar se Wêreldbeker-sokker, naamlik dat die span van Doer Onder ook daar gaan wees. Dis erg genoeg wanneer die klomp by elke ander Wêreldbekertoernooi en Olimpiese Spele opdaag met hulle bruin lywe en hulle arrogante houdings en hulle irriterende aksente en dan voortgaan om die verrigtinge heeltemal te oordonder; dit was derhalwe heel verfrissend dat hulle die afgelope 32 jaar nooit kon kwalifiseer vir sokker se Wêreldbeker nie. Maar daar’s ongelukkig niks wat ons nou daaraan kan doen nie, behalwe om luidkeels vir die spanne van onderskeidelik Japan, Kroasië en Brasilië te skree wanneer hulle beurte maak om vir Australië aan te durf in Groep F.

Maar om terug te kom na my besluit om die Engelse te ondersteun. Het ek mooi gedink daaroor? Kon ek nie maar ‘n ander span gekies het nie? Wat van Holland, waar baie van my voorouers immers vandaan kom? Of Frankryk – die bloed van die Hugenote vloei tog ook mos heel sterk deur my are?

Wat van een van die Afrika-spanne? Angola, byvoorbeeld? Nee wat ek dink nie so nie; ons was net nou die dag nog immers in ‘n oorlog met hulle betrokke op die Suidwes-grens. Kan nie meer lekker onthou hoekom ons op mekaar geskiet het nie, maar nogtans. En ja, dit was heelwat meer onlangs as die Boere-oorlog, ingeval jy my dalk weer aan dié wil herinner.

Tunisië? Nee wat dankie, ek het nou nog ‘n appeltjie met hulle te skil nadat hulle ‘n jaar gelede met die Springbokke afgereken het in die sewes-rugbytoernooi in Hong Kong. En die land lê noord van die Sahara – dis nie rêrig Afrika nie.

Togo? Ek weet nie eers waar dit is nie. Is jy seker dis in Afrika? Is dit nie ‘n eiland naby Nieu-Seeland nie? O nee, dis Tonga…

Wat van Ghana? Of die Ivoorkus? Miskien. Maar kom ons wees nou maar heeltemal eerlik: albei hierdie lande is op die ou end bitter ver van Suid-Afrika af, ek het die plekke nog nooit besoek nie, ons verstaan nie mekaar se tale nie, en ek ken nie eers een persoon wat daarvandaan kom nie.

Dit bring my terug by my geliefde Moddereiland, hier waar ek in die sweet van my aanskyn my brood verdien en belasting betaal, waar ek dag vir dag koudkry en swaarkry en lekkerkry en natreën en toustaan en vir die bus.

Dis nou al amper drie en ‘n half jaar wat ek hier in Engeland bly, en noodwendig gebeur dit op die ou end dat die plek op ‘n mens groei. Ek wil tog nie vir die res van my lewe soos ‘n besoeker wil voel nie, of hoe? En as ek dan nou regtig lank genoeg hier gaan wees om op die ou end ‘n Britse paspoort te verwerf, is dit ook niks minder as reg nie dat ek die land se sportspanne moet ondersteun waar ek kan. Behalwe miskien wanneer hulle teen Suid-Afrika op die veld draf.

My oorlede pa was ‘n Kapenaar wat in die fleur van sy lewe Johannesburg toe getrek het; dit was baie jare gelede, toe ekself nog maar ‘n blink idee in sy agterkop was. Maar hy het homself met oorgawe in die Goudstad gevestig, en op die ou end was hy die getrouste Transvaal-ondersteuner wat jy ooit kon teëkom. Volgens hom was dit eenvoudig: daar waar jy ‘n lewe maak, daar behoort jou lojaliteit ook te lê.

Dis ‘n beginsel wat ek probeer toepas het toe ek Johannesburg verlaat het in die middel-negentigs en my in die Kaap gaan vestig het. Maar al het ek sewe jaar lank aan die hange van Tafelberg gebly, en al beskou ek dit vandag nog as my “huis” (veel eerder as Johannesburg self), kon ek nooit vat kry aan die WP nie.

Ek dink dit het onder andere iets te doen met die koerante wat mens lees. Wanneer jy grootword in ‘n bepaalde area of lank genoeg op een plek bly, kom jy nie regtig agter hoeveel die plaaslike nuusblaaie hulle skuldig maak aan eensydige beriggewing nie. Jy beskou dit maar net as normaal wanneer elke plaaslike speler opgehemel word en wanneer al die skeidsregter se beslissings teen jou span bevraagteken word.

Maar wanneer jy trek, is die teenoorgestelde waar: skielik sien jy al die vooroordele raak, want die span vanwaar jy vandaan kom, trek nou aan die kortste ent in al wat sportverslag is. In my sewe jaar in die Kaap het dit my so dwars in die krop gesteek, dat ek op die ou end maar aangehou het om vir Transvaal te skree.

Toe verhuis ek Londen toe. Noodwendig het die Engelse koerante intussen my brood en botter geraak, en weer eens is die effek van die plaaslike vooroordele vir my interessant – veral in die geval van span-sportsoorte soos rugby en krieket waarmee ek van kleins af identifiseer. Maar in die geval van sokker is dit effens anders: omdat ek voorheen nooit regtig ‘n sokker-ondersteuner was nie, en omdat ek nie juis Suid-Afrikaanse spelers ken nie, is dit vir my makliker om vandag die tipiese Engelse joernalis se bona fides te aanvaar wanneer dit by sokker-verslaggewing kom.

En so kom ek geleidelik onder hulle invloed. Ek begin om met die Engelse spelers te identifiseer. Ek hou van Steven Gerrard en Michael Owen en Sol Campbell; hulle lyk vir my na soliede mense. Ek kry vir Wayne Rooney jammer, nie omdat hy ‘n seer toon het nie, maar omdat hy maar so gemaak en so gelaat staan is, soos my ma altyd gesê het. En partykeer voel dit amper vir my asof ou Sven-Goran en ek basies op voornaamterme is.

Dis dan ook die hoofrede hoekom ek vir Engeland gaan skree in die Wêreldbeker: dis die enigste span wat ek “ken”. Nie net dit nie, maar op die ou end volg ek eintlik mos maar net my pa se voorbeeld – al het Pa self net mooi niks van die Engelse gehou nie. Ek kan maar net hoop dat hy nie vandag in sy graf omdraai omdat ek wel ‘n hensopper en ‘n joiner is nie.

Laaste maar nie die minste nie, dink ek in elk geval dat Engeland waarskynlik op hulle herrie gaan kry nog lank voor die toernooi verby is. Met ander woorde ek dink nie hulle is naastenby soveel van ‘n gunsteling om as kampioen uit die stryd te tree as wat Londen se koerante wil voorgee nie. Al het Wayne Rooney dan ook ‘n gesonde toon.

So, dis nog ‘n rede om hulle te ondersteun: ek het mos laasweek gesê ek skree vir die onderhond!


Voetstoots van Tonder
11 Junie 2006

10 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Lojaliteite is snaakse dinge, en verwyderd van logika, maar dan eerder Engeland as Oz. My broer het eenkeer vir 3 maande nie met my gepraat nie omdat ek durf waag het om 'n paar keer met 'n Australiër uit te gaan. Dit maak nou nog nie sin nie, maar nou ja...
Ek hou van jou Blog.

1:13 pm  
Blogger renklem said...

En waar het jy daardie mooi woord Moddereiland geleen? Ander mense het al my toestemming gevra om dit te gebruik.

5:12 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

wag 'n bietjie! - daai woord kom darem al langpad, nie waar nie...

6:02 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Renklem...jou vraag het my genoop om bietjie navorsing te doen, want ek gebruik die woord al lank...volgens wat ek op jou blog sien, gaan dit terug tot November 2005...soos jy dalk weet, siende dat jyself op Moddereiland bly, of dalk nie, hoe dit ookal sy, maar my skryfwerk verskyn in die SA Times - sien gerus www.southafricatimes.co.uk, onder Comment & Opinion - op 29 Junie 2005, om maar net een voorbeeld te noem, gebruik ek die term...so wat beteken dit: die hoender, of die eier?

- cheers

6:13 pm  
Blogger renklem said...

dis net my blog wat van laat 2005 af bestaan en dis net wat jy op skrif sien op die blogosfeer. snaaks hoe ek al van 2000 af hier bly en so lank al van die Moddereiland praat. Hoe lank bly jy al hier? mmmmmmm die hoender of die eier reken jy. Ek reken dis 'n vrot eier

10:18 pm  
Blogger renklem said...

gee vir my jou e-mail adres dan stuur ek vir jou die stuk wat ek ter viering van my 3 jaar op die Moddereiland geskryf het, gedateer 29 April 2003. Dis ongelukkig die enigste bewys wat ek het, maar ek hou daarvan om te dink dat ek die Moddereiland so gedoop het. Ongelukkig het ek nooit myne laat publiseer soos jy nie, omdat my skrywe meer vir myself is. Vroteier of bird flu?

10:28 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Nee dis dan reg so...self het ek nooit aanspraak gemaak daarop dat die term myne is nie - soos ek in my 1ste antwoord hierbo gese het, ek dink die term kom al langpad...soveel so dat dit myns insiens al redelik deel van die volksmond is hier op...ehh...moddereiland...

cheers V

10:32 am  
Anonymous Anonymous said...

Ek het vanaf 1996 to 1998 in Londen gebly. Destyds het 'n vriend vir my gevra hoekom ek op die modderige eiland wil gaan bly. Die vriend het self op Moddereiland gebly nog voor ek daar geland het. Miskien het hy die woord uitgedink? Ek weet nie, maar duidelik is die term al jare in gebruik. Suur druiwe of vrot eier?

1:51 pm  
Anonymous Anonymous said...

Ek bly ook al sedert 2000 hier op "Moddereiland", maar het die woord die eerste keer in Engels aangetref in 2002. Ek onthou dit goed, want ek het myself effe embarrass voor ene Mark Shuttleworth - die man was op daai stadium so baie uit die land uit dat toe hy vir my se hy gaan nou 'n tyd lank dinge bietjie rustig vat en op "Mud Island" tuisgaan, ek dag hy praat van een of ander eksotiese plek waarvan ek nog nie gehoor het nie (daar is immers 'n Mud Island erens in Memphis ...)
Sedertdien het ek die terme al dikwels gehoor en in SA Times raakgelees en, soos Voetstoots, maar aangeneem dat die woord reeds in die volksmond bestaan en dat die Afrikaans bloot 'n vertaling van die Engels is (of anders om, maar laat ons nou nie weer oor hoenders en eiers stry nie).
Of het Shuttleworth dit dalk ook by Renklem gehoor?

9:11 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

vir Bolandbayern: dankie vir jou kommentaar; ek was gister in Duitsland om 'n sokkerwedstryd by te woon (sal waarsk. later meer daaroor skryf) - en jy kan maar nog iets byvoeg oor die Duitsers: die mense KAN organiseer

en vir Maksideem: ja, ek weet die Aussies is seker nie regtig so sleg nie, maar 'n mens moet darem altyd iemand he om op te pik...

cheers V

12:52 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >