Sunday, June 18, 2006

Soos om jou televisie-lisensie te betaal

Photobucket - Video and Image Hosting

Moenie vra hoe nie, maar daar kry ek sowaar ook toe ‘n kaartjie in die hande vir laasweek se Wêreldbeker-sokkerwedstryd in Nuremberg tussen Engeland en Trinidad en Tobago.

Nee, die reëls van die sport het nie intussen sodanig verander dat daar deesdae drie spanne terselfdertyd op die veld draf nie: Trinidad en Tobago is eintlik mos een plek. Net soos Serbië en Montenegro – alhoewel dié twee nog net vir oulaas saam met mekaar sokker speel voor hulle finaal uitmekaar spat, na wat verneem word. Verwarrend, om die minste daarvan te sê.

Nou weet ek die tipiese leser is teen dié tyd seker al redelik gatvol daarvoor dat ek die laaste paar weke aanhoudend skryf oor die voetbal. Maar soos Martin Luther van ouds, doen ek dit omdat ek eenvoudig geen ander keuse het nie. Want om ‘n wedstryd te kan bywoon in sokker se Wêreldbeker, is ‘n belewenis soos min. Dis amper so lekker soos om op Loftus Versfeld te wees wanneer die Bulle verloor teen die Leeus. En met die Wêreldbeker wat net een keer elke vier jaar plaavind, gebeur dit ook omtrent ewe ongereeld.

Dit lyk min of meer soos my ou universiteit se jool toe ek die dag in Nuremberg arriveer. Die musiek speel, die drank vloei, die meisies wys been. En al die sokkerboewe in Engeland is oënskynlik ook daar, kompleet met rooi-en-wit St George’s vlag en al. Die mense dra selfs sonbrille met die motief; ek weet nie of hulle hoegenaam deur die goed kan sien nie.

Photobucket - Video and Image Hosting

Toe daag die ondersteuners van Trinidad en Tobasco op. Askies, ek bedoel Tobago. En die Soca Warriors, soos wat die mense trots na hulleself verwys, neem onmiddellik die hele partytjie oor. Aanvanklik het ek maar net gedink dat soca swak spelling is, of dalk ‘n twyfelagtige uitspraak. Maar so moet ek toe leer dat die term eintlik niks met sokker te doen het nie: soca verwys na die mense se musiek, ‘n mengsel van soul en calypso, en vandaar dan ook die naam.

Photobucket - Video and Image Hosting

En kán die mense soca! Ek dink nie Nuremberg se polisie, dié wat so stil-stil eenkant gestaan het met hulle pette en hulle snorre en hulle donkerbrille, het al ooit in hulle hele lewe so iets gesien nie.

Photobucket - Video and Image Hosting

Die mense van Wes-Indië dans op in af in die strate met ‘n ritme waarop enige vakbondleier in ‘n toyi-toyi kompetisie sou trots wees. Hulle kleurvolle gewaad herinner aan dié van ‘n poumannetjie op hitte. Op hulle stelte is party van hulle amper so lank soos Peter Crouch. En die oorverdowende geraas wat hulle maak, laat mens dink aan die musiek van Cacophonix in die Asterix-boeke; dis miskien ‘n redelik melodieuse geraas, maar op die ou end is dit steeds ‘n geraas.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek dink nie daar was meer as ‘n paar honderd Soca Warriors wat op die ou end gesorg het vir die karnaval-atmosfeer in Nuremberg se strate nie, en tog het hulle die Engelse in hulle duisende heeltemal stilgemaak. Dit was lieflik.

Wat my bring by my volgende punt, en dit is hoe ek dit emosioneel ervaar het om ‘n groot sportgebeurtenis by te woon waarin Engeland teen ‘n ander land speel – spesifiek in die lig daarvan dat ek onlangs my ondersteuning vir die Engelse aangekondig het.

Om ‘n lang storie kort te maak: dit was nogal moeilik. Maar laat ek eers fokus op die positiewe: dit was ‘n aangename verrassing om te sien hoe gunstig die mense wat ek in Engeland ken, op my besluit gereageer het. Ek het dit nooit verwag nie (trouens ek het seker nie eintlik vooraf daaraan gedink nie) maar meer as een Engelsman aan wie ek die nuus meegedeel het, het my hartlik op die skouer geklop en my “in hulle midde” verwelkom. Dit was ‘n goeie gevoel, en meer as enigiets anders het dit my laat besef: as ek in hierdie land wil bly, is dit op die ou end definitief die regte ding om te doen. Dis amper soos om jou televisie-lisensie te betaal.

Maar toe ek die middag by die stadium instap saam met my Engelse vriende, besef ek: daar’s iets ernstigs wat skort. Die atmosfeer is ongelooflik om te ervaar, en onmoontlik om te beskryf. En tog voel ek onaangeraak daardeur, so al asof ek maar eintlik net in ‘n droom verkeer. En ek sê vir myself: as ek dan regtig vandag ‘n Engelse ondersteuner is, moet ek seker nou meer opgewonde wees, of hoe? Behoort ek nie selfs ‘n bietjie senuweeagtig te wees nie?

Maar nee. Die mense om my sing liedjies wat ek nie ken nie, en ek voel net mooi niks. Hulle sing uit volle bors van ‘n plek genaamd Eng-ger-land. Hulle raak verskriklik opgewonde oor die feit dat Football’s coming home, soos wat die een liedjie daarop wil aandring. Oor die luidsprekers speel daar ‘n opgejazzde weergawe van I will survive (sonder die oorspronklike strofes oor ‘n liefdesverhouding op die rotse), gevolg deur Robbie Williams se Let me entertain you. En almal skree saam en klap saam en juig en gaan tekere. Dis nou almal behalwe ek; persoonlik verlang ek bloot na Leon Schuster se Hie’ kommie Bokke.

Die groot toets kom egter by die sing van die Engelse volkslied. En dis net mooi toe wat ek besef: ek kan dalk nog hulle span ondersteun, maar ek sal nooit God Save the Queen met oorgawe saam met die Engelse kan sing nie. Miskien sal ek eendag my posisie heroorweeg as ek dalk daai maroen paspoort in die hande kry, maar vir nou bly ek in my hart maar ‘n Nkosi Sikelele-man (gekombineer met ‘n bietjie Uit die Blou van onse Hemel daarby ingegooi, net so vir die wis en die onwis).

Halfhartig beweeg ek my lippe saam. Onwillekeurig verkrag ek die woorde, soos wat ek al honderde kere in die verlede gedoen het: Happy and Glorious…. Seldom Victorious…

Die spanne draf op die veld, en Engeland se span begin behoorlik sukkel. In my hart wil ek juig; ek wil bitter graag hê Trinidad en Toboggan moet goed doen. Askies, ek bedoel Tobago. Onthou jy nog my standpunt oor die onderhond?

Elke keer wat Engeland ‘n gulde kans verbrou, gee ek voor dat ek ewe teleurgesteld is as al die Engelse om my (netnou slaan die mense my immers as ek dit nié doen nie!). Op die ou end is dit ‘n swak wedstryd, en toe teken Engeland twee doele aan. Maar dis steeds alles ‘n ongelooflike ervaring – al voel ek dan ook nooit regtig soos ‘n Engeland-ondersteuner nie.

Dit alles laat my wonder oor my aankondiging dat ek voortaan vir Engeland sal ondersteun (dis nou wanneer Suid-Afrika nie betrokke is nie, let wel). En op die ou end besef ek: miskien is al wat ek bedoel het, dat ek sal ophou om teen die mense te skree.

Dis miskien nie heeltemal dieselfde as om vir hulle te skree nie.

Maar dis darem ‘n begin.


Voetstoots van Tonder
18 Junie 2006

1 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Het die 3 op die stelte dit al die pad gemaak sonder om te tuimel? :)Dis net 'n lojale Leeu ondersteuner wat regtig die Loftus opmerking sal verstaan, maar ja dit verduidelik die situasie heeltemaal.

2:08 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >