Sunday, July 02, 2006

Probeer 'n bietjie harder, Engeland...

Photobucket - Video and Image Hosting

So daar word “my” span toe uitgeskakel; ten minste was ek reg toe ek voorspel het dat Eng-er-land waarskynlik op hulle herrie gaan kry lank voor die Wêreldbekertoernooi verby is. Dat dit moes gebeur met Wayne Rooney wat een van die Portugese spelers trap waar ‘n man nie getrap wil word nie, was op die ou end maar net die kersie op die koek.

Maar die vuilspel het eintlik al voor die tyd begin. Toe ek Saterdagoggend my koerant oopslaan, moet ek vaskyk in ‘n advertensie vas van Mastercard. Portugese gelukbringer: 6 euro; St George wat die hoender slag: prysloos. En die prentjie daarmee saam? Nando’s se hoender, uitgeknip.

Dis net mooi toe wat ek besluit: kyk, nou het die Engelse te ver gegaan. Vat aan die Nando’s hoender, dan vat jy aan my; van nou af skree ek sommer vir Portugal. Soos ek ‘n week of twee gelede te kenne gegee het, was dit in elk geval moeilik genoeg om by my besluit te bly om die bleekvelle van Engeland te ondersteun.

Toe ek ‘n bietjie verder daaroor dink, besef ek dat ek in elk geval dalk die punt gemis het toe ek nou die dag op ‘n analitiese wyse probeer het om vir myself ‘n span te kies om te ondersteun in die Wêreldbeker. Hoekom het ek nie van die begin af gegaan vir die Portugese nie? As dit immers nie vir hulle was nie, sou die Hottentotte waarskynlik vandag nog oor die Kaap regeer het, en nóg jy nóg ek sou Afrika se stof aan ons voete gehad het. Wat meer is, Nelson Mandela sou waarskynlik doodgegaan het as ‘n onbekende skaapwagter in die boendoe, Desmond Tutu sou uitgedraai het as ‘n toordokter, en die wêreld sou gespaar gewees het van Jurie Els.

Dit alles het my genoop om die geskiedenis bietjie na te slaan, nie net van Nando’s se peri-peri hoender wat in 1987 in Rosettenville in die diep Suide van Johannesburg ontstaan het nie, maar ook van die Portugese seevaarders wat vyfhonderd jaar gelede ons land “ontdek” het. Lank voordat Jan van Riebeeck en sy trawante ‘n volk kom plant het, was Bartholomeus Dias mos die eerste Europeër wat te doen gekry het met die Kaap van Storms toe hy van koers af gewaai is in 1488 en naby die Tsitsikammabos aan wal gestap het; vandag nog is die wêreld se hoogste bungee-springplek in die omgewing om die gebeurtenis te gedenk. Tien jaar later het Vasco da Gama van Europa af om die Kaap gevaar tot by Indië; die feit dat hy nie in die proses van die aardbol afgeval het nie, het die man met soveel optimisme gevul dat hy die eerste een was wat begin praat het van die Kaap van Goeie Hoop. En behalwe vir die voorvaders van Herrie die Strandloper, was Antonio de Saldanha die eerste persoon wat Tafelberg uitgeklim het in 1503.

Terloops, ek verstaan die Portugese was dalk ook verantwoordelik vir die ontdekking van Australië, soveel soos tweehonderd jaar voor Kaptein Cook daar gearriveer het. Maar vir daai een sal ek hulle maar vergewe.

Leer deesdae se kinders nog van al hierdie goed op skool? Of word die stelselmatige kolonisering deur die destydse Europese moondhede deesdae afgemaak as ‘n misdaad teen die mensdom, iets om te verban uit die kollektiewe bewussyn?

Die feit dat ek vandag is wie en wat ek is te danke aan die Porras, is egter nie die enigste rede hoekom ek op die ou end redelik simpatie gehad het met die Portugese voetbalspan toe hulle Saterdag die Engelse afgestof het nie. Daar is ook Blackshaw se Reël van Neutraliteit in Sport, iets waarop ‘n vriend my attent gemaak het die dag voor die wedstryd. Ek het nie ‘n idee wie Blackshaw is of was nie, maar kortliks kom dit daarop neer daarop dat mens altyd die land behoort te ondersteun wat die beste wyn maak; dis nou tensy jy moontlik ‘n direkte patriotiese belang by ‘n wedstryd het.

As jy daaraan dink, het Blackshaw se Reël nogal goed gewerk in hierdie hele Wêreldbekertoernooi. Die top vier spanne wat byvoorbeeld hierdie week se halfeindstryde gaan beslis, is onderskeidelik die makers van sagte Bordeaux-versnitwyne en sterk barolos, sowel as die beste rieslings en die heerlikste port wat geld kan koop. Kan dit die rede wees daarvoor dat Brasilië laas Saterdag vasgeval het teen Frankryk? Verklaar dit hoekom Tunisië en Iran so vrot gespeel het? En beteken dit dat Bafana Bafana se probleme eintlik daai dag begin het toe die KWV groenrissies in die sauvignon blanc gegooi het?

So, daar is die Porras nou in die halfeindstryd van die Wêreldbeker, of dit nou te danke is aan Blackshaw se Reël aldan nie. Ek hoop hulle doen goed. En nooit weer sal enigeen van ons kan wegkom met al daai flou grappies nie. Jy weet mos: hoekom kan Portugal nie kompeteer in sokker nie? Want elke keer wat hulle ‘n corner kry, maak hulle ‘n groentewinkel oop…

Of ‘n Nando’s, natuurlik. Ken jy die storie van daai sexy hoender met die wilde kuif op hierdie kitskos-kettinggroep se embleem? Dit simboliseer ‘n legende uit die dorpie Barcelos, waar ‘n kêrel ter dood veroordeel is vir ‘n moord wat hy nooit gepleeg het nie. Die regter was besig om gebraaide hoender te eet – standaard prosedure by ‘n Portugese hofsaak, neem ek aan… Die beskuldigde roep toe uit: as ek onskuldig is, laat daai hoender uit die dode opstaan! En siedaar: oomblike later begin die kuiken op die bord kekkel, die regter skrik homself nugter, en die gevangene stap skotvry weg. Lieflike storie, is dit nie?

Om Portugal se oorwinning te vier en hierdie pragtige staaltjie te gedenk, het ek toe maar Sondagmiddag by die Nando’s op Westbourne Grove gaan eet. Al daai peri-peri sous het ‘n snikheet dag selfs warmer laat voel; dit was heerlik. En ek’s dankbaar om te kan rapporteer dat die hoender darem nie wakkergeword het op my bord nie.

Ter afsluiting, ‘n boodskap vir die Engelse voetbalspan terwyl hulle besig is om die trane af te droog in Baden Baden.

Probeer asseblief ‘n bietjie harder wanneer dit weer tyd is vir die Wêreldbeker oor vier jaar. Probeer om ‘n afrigter met persoonlikheid te kry. Probeer om julle tone mooi op te pas. Probeer om heelwat minder in die nuus te wees vir al julle meisies se inkopies, en heelwat meer vir julle uitnemende voetbal. Probeer dalk selfs om ‘n paar penalties in die tussentyd te oefen.

In ruil daarvoor belowe ek om weer te probeer om julle te ondersteun.

Dis nou behalwe as julle dalk die dag teen Suid-Afrika speel (‘n moontlikheid, aangesien ons as gasheer immers deel gaan wees van 2010 se kompetisie).

Want sien, ons maak immers beter wyn as julle – groenrissies of te not.


Voetstoots van Tonder
2 Julie 2006

3 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Min mense besef ook natuurlik dat ou Jan (van Riebeeck) sy tyd in die Kaap verafsku het en dat hy die posisie net as 'n noodsaaklikheid gesien het om teen die VOC leertjie uit te klim. Hy wou baie graag 'n posisie in die Ooste gehad het. Toe bou ons wragtag 'n standbeeld van die Kaaphater in die Kaap! Simon van der Stel...nou daar is vir jou 'n ordentlike mens. Net soos ons.

4:26 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

lammervanger: en het ons nie nog vir van Riebeeck vereer met 'n prentjie op 'n koffieblik nie?

bolandbayern: dankie vir die kommentaar - ja, Portugal is 'n lekker plek, sonder fiemies - vermy net die Algarve met al sy Engelse pubs...

1:38 pm  
Blogger Lammervanger said...

Dis reg ja! Ek het ook nog 'n ou twee rand noot wat ek in my beursie ronddra vir onverwagste nostalgie-aanvalle. Hy pryk ook daarop!

1:26 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >