Sunday, July 16, 2006

Salig is dié wat niks weet nie

Photobucket - Video and Image Hosting

Italië het miskien voetbal se Wêreldbeker ingepalm, maar Suid-Afrika sit vandag met iets veel beter: die wêreldkampioen haarkapper, aldus ‘n koerantberig wat ek verlede week raakgelees het. Dink so daaraan: voetbal is miskien ‘n redelik internasionale sport met deelnemers van feitlik regoor die aardbol, maar dit sal nooit as te nimmer kan kers vashou by haarkappery nie.

Vat Antarktika, byvoorbeeld, ‘n plek is waar dit redelik moeilik is om ‘n sokkerwedstryd aanmekaar te slaan. Om mee te begin, gaan jy sukkel om genoeg mense bymekaar te kry vir twee spanne asook drie beamptes en iemand om halftyd die lemoene aan te dra, laat staan nog die toeskouers. Behalwe daarvoor is dit in meeste dele van die kontinent ook nie maklik om ‘n voetbalveld se wit buitelyne raak te sien nie. Dit alles dra by daartoe dat hulle in 2010 waarskynlik weer nie gaan kwalifiseer vir die Wêreldbeker-toernooi nie.

So kan ek aangaan. In die Sahara is daar nie genoeg gras vir ‘n voetbalveld nie, in Nieu-Seeland reën dit te veel en in Mosambiek is al die stadions wat daar voorheen was vir geruime tyd nou al vol landmyne geplant. So kan ek aangaan; die punt is bloot dat voetbal nooit regtig ‘n volwaardige internasionale sport sal kan wees nie.

Maar haarkap… daar is nou vir jou ‘n ander storie. Feitlik almal van ons het immers hare, en dit groei gedurigdeur, elke oomblik van die dag en nag. Teen die tyd wat jy hierdie skrywe klaargelees het, liewe leser, gaan jou eie hare derhalwe effe langer wees as wat dit tans is (dis nou tensy jy moontlik Zinadine Zidane is, wat ek vermoed heel waarskynlik nie die geval is nie). En dink net hoe gereeld moet jy jou hare sny, waar jy jouself ookal bevind in die wye wêreld – ja, selfs al is dit dan ook in Antarktika of Mosambiek.

Dit is hoekom die storie van Xoli Ntshilinga my so beïndruk het: beide die BBC en The Times het verlede week berig hoe hierdie 40-jarige haarlose haarkapper uit die Transkei as kampioen uit die stryd getree het in die Wêreldkampioenskap vir Haarkappers wat onlangs in Moskou gehou is. Of moet ek eerder na hulle verwys as haardoeners?

Ek kon nie help om te wonder nie: hoe werk hierdie kompetisie? Kyk hulle wie kan die meeste mense se hare sny binne sê maar dertig minute, amper soos in die geval van die internasionale skaapskeerkampioenskappe? Gaan dit dalk eerder oor uithouvermoë, met deelnemers wat vir periodes van 24 uur of langer onophoudelik met kam in die een hand en knipper in die ander staan en werskaf? En hoekom word dit alles nie regstreeks op SkySports uitgesaai nie?

Hoe dit ookal sy, ‘n wêreldkampioen is ‘n wêreldkampioen, en daarom was ek aanvanklik heel trots toe ek lees van Xoli, veral in hierdie dae wat die Springbok in sak en as verkeer. Maar tog het ek besluit om bietjie navorsing te doen. En groot was my ontnugtering toe ek op die ou end uitvind dat onse Xoli nie regtig as algehele wenner van die kompetisie uit die stryd getree het nie – want daar bestaan inderdaad nie so ‘n toekenning nie. Maar sy het wel een van die Wêreldkampioenskap se 128 afdelings gewen.

Miskien moes hulle dit eerder die Olimpiese Spele vir Haarkappers genoem het: daar is mans- en damesafdelings, vir juniors sowel as seniors, in allerlei style en klassifikasies. Soos wat ek deur al die verskillende kategorieë geblaai het, het ek later begin verwag dat daar waarskynlik ook ‘n vyfkamp, gemengde dubbels, ‘n paar aflos-items en ‘n onderwater-resies ook sou wees. Asook verskillende gewigte, soos in boks.

Ek het nie ‘n idee hoe kompeterend die “Black Trophy Hair by Night”-kategorie was waarin Ntshilinga die oorwinning behaal het nie, maar wat ek wel kan rapporteer is dat Suid-Afrikaners ook die tweede en derde plek agter haar ingeneem het. Sowel as die sesde en sewende plek. En verder was een van die drie beoordelaars in hierdie eksklusiewe afdeling ook van Suid-Afrika. Moet ek lag oor al ons land se goeie haarkappers, of moet ek huil oor die feit dat ek oënskynlik so mislei is deur die Engelse media se ooropgewonde beriggewing?

Dit alles het my laat dink aan my kinderjare toe Jan Wilkens een van my helde was: hy wat deur die destydse Suid-Afrikaanse media aan die publiek opgedis is as die Rofstoei-Wêreldkampioen in die Super-Swaargewigafdeling. Dit was in die vroeë dae van televisie in Suid-Afrika – baie lank voor die ontstaan van die WWF – en elke paar maande is daar nog ‘n paloeka uit een of ander uithoek van die wêreld ingevoer om teen Jan te kom verloor.

En weet jy wat? Ek het al die nonsens geglo, en ek was bitter trots daarop; daar het selfs ‘n dubbelbladfoto van onse Jan met sy kampioen-gordel uit die Huisgenoot teen my muur gepryk. Eers heelwat later moes ek uitvind dat Wilkens weliswaar net wêreldberoemd was in sekere dele van Suid-Afrika, dat die “sport” korrup is, en dat elke land ‘n internasionale liggaam het met sy eie “kampioen”. En as gevolg van ons land se sportisolasie sou die werklike wêreldkampioen – as daar ooit een was – in elk geval nie eers Suid-Afrika toe gekom het om sy titel te verdedig nie. Ek het eers nou die dag oor die teleurstelling gekom.

Partykeer wens ek dat ek nooit grootgeword het nie, en ek wens dat die taai klappe van die lewe my minder sinies gelaat het. By sulke tye verwens ek selfs die internet, want dit het die aardbol veels te klein en oor-ingelig en onromanties gemaak. Dertig jaar gelede het ons nie nodig gehad om te gryp na Harry Potter om weggevoer te word na ‘n sprokieswêreld nie, ons het bloot na die SAUK se nuus geluister. En ons het vas geglo in Jan Wilkens en Vader Kersfees en die Paashasie en die tandemuis en PW Botha.

“Ignorance is bliss” sê die Engelse, en ek dink hulle is reg: salig is dié wat nooit uitvind hoe die lewe werk nie, want hulle sal nie ontnugter word nie.

Al wat ek nou nog wonder, is waar kan ek ‘n plakaat van Xoli Ntshilinga kry om teen my muur op te hang?


Voetstoots van Tonder
16 Julie 2006

2 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Dag Voetstoots

"ignorance is bliss" - ek kan nog onthou die laaste keer toe ek salig gevoel het. Maar ek vind die woord ignorance 'n negatief (the condition of being uneducated, unaware, or uninformed), en dit maak die stelling vir my nie meer so aantreklik nie.

Ek vermoed die antwoord is 'n balans tussen ignorance en intelligence, maar ongelukkig is dit makliker gesê as gedaan.

'n Lekker plek om oor die goed te sit en tob, is op die stoel van 'n
haarkapper...

10:59 am  
Blogger Lammervanger said...

Probeer Bona, die swart weergawe van Huisgenoot...

6:30 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >