Sunday, July 09, 2006

So kan dit waaragtig nie aangaan nie

Photobucket - Video and Image Hosting

As jy nou nou al ooit ‘n geween en ‘n gekners van tande aanskou het, moet jy bietjie ‘n kopie van verlede Donderdag se The Times onder oë kry. In ‘n volbladartikel braak Alastair Campbell gal oor die BBC se eensydige en oppervlakkige dekking van die Sokker-Wêreldbeker. Die opskrif vat dit goed saam: Forced to watch the World Cup through a lens marked ‘England’.

Ja, hier gaat ons alweer. As jy moeg is om te lees oor die voetbal, dan moet jy weet hoe gatvol is ek om daaroor te skryf. Na laasweek het ek gedink dis nou klaar, maar moenie glo nie; die gebeure van die laaste sewe dae het my genoop om tog maar weer die pen op te tel (of dan ten minste die skootrekenaar nader te sleep) vir een laaste swanesang.

Dit was of dit, of die eenjaar-herdenking van Londen se bomme. En die lewe is veels te kort om weer daardie ou koei uit die sloot te grawe.

Alastair Campbell is een van Tony Blair se beste vriende. Tot ‘n paar gelede was hy die kommunikasiehoof van die Arbeidersparty, die spindokter van alle spindokters. Hy het uit sy posisie bedank nadat daar ‘n storm om sy kop losgebars het oor stories wat die Britse regering na bewering gefabriseer het oor Irak se wapens van massa-vernietiging. Die man weet ook ‘n ding of twee van sokker: net nou die dag het hy in ‘n span saam met Diego Maradonna op die veld gedraf.

En Alastair Campbell is ‘n Skot. Met ander woorde hy kyk effens meer objektief na die Wêreldbeker as die gemiddelde man op straat hier in Londen, wat verklaar hoekom die media se partydigheid hom so dwars in die krop steek. Ek kan nie anders as om met hom saam te stem nie.

Dit het my veral gepla toe Frankryk in verlede week se halfeindrondte-wedstryd te staan gekom het teen Portugal. Ja, ek was aan die Portugese se kant ter ere van die Nando’s hoender, maar ek besef ook dat hulle in terme van Blackshaw se Reël seker nooit veel van ‘n kans gestaan het teen die superieure wynmakers van Frankryk nie. Toe ek egter die aand my televisiestel aanskakel om na die wedstryd te kyk, kon ek eenvoudig nie glo hoe eenparig al die kommentators in die ateljee die Porras verdoem nie.

Een en elk van hulle het saamgestem dat Frankryk se span verreweg die beste was; deur die bank wou almal van hulle hê dat die Franse moes wen. Elke keer wat ‘n Fransman ‘n aanskoulike duikslag uitgevoer het is dit veroordeel as Portugese aggressie (insluitende die keer toe Thierry Henry se oordrewe reaksie op die beslissende strafdoel uitgeloop het). Portugal kon eenvoudig niks reg doen in die oë van die kommentators nie en Frankryk niks verkeerd nie. Ja, dis nou dieselfde Frankryk wat in die eindstryd weer ‘n strafdoel aangeteken het nadat een van hulle spelers nogmaals geduik het, en Zinadine Zidane toe ‘n bietjie later van die veld af gestuur is na die kopstamp van alle kopstampe.

Die ergste van alles is dat ek nog nooit voorheen ‘n Engelsman raakgeloop het wat enigiets goed te sê het oor die Franse nie (of omgekeerd, noudat ek daaraan dink). Ja, die Britte hou daarvan om vir ‘n dagtrippie oor te skiet Calais toe om goedkoop drank aan te skaf en almal van hulle wil aftree in Provence. Maar agter toe deure kryt die inwoners van hierdie twee lande wat geskei word deur ‘n kort treinrit mekaar steeds elke dag uit as Frogs en Rosbifs.

Die rede vir die BBC se eenogigheid verlede week is natuurlik voor-die-handliggend: suur druiwe, na Engeland se nederlaag teen Portugal in die vorige rondte van die Wêreldbeker. As ‘n mens alles moet glo wat die koerante hier opdis, is die hele treurmare van Engeland se mislukte toernooi toe te skryf aan Christiano Ronaldo se onnutsige knipoog nadat Wayne Rooney nou die dag van die veld af gejaag is.

Asseblieftog, man, wat is dan nou regtig erger? ‘n Bedorwe brokkie wat sy speelgoed gooi, of ‘n skobbejak wat ‘n ander man trap wanneer hy lê?

Nou hoor ek dat die Engelse selfs sover gaan om hulle vakansies in die Algarve te kanselleer. Die mense sal sowaar enigiets doen om die Portugese terug te kry vir hulle eie nasionale weemoed wat eintlik maar net toe te skryf is aan ‘n oorbetaalde en oorskatte span wat ALWEER met mening gaan lê het.

Ja-nee, al hierdie suur druiwe is die rede hoekom die Engelse nooit goeie wyn sal kan maak nie. Ingevolge Blackshaw se Reël het hulle met ander woorde ook nie ‘n kans om ooit die Wêreldbeker te wen nie. Om die waarheid te sê, weet ek nie eintlik hoe hulle dit in 1966 reggekry het om die trofee in te palm nie (ek was toe nog bitter klein) – het hulle dalk destyds goeie wyn gemaak in Engeland?

Ter opsomming: die BBC-span se houding tydens die Frankryk-Portugal wedstryd was genoeg om van siek te raak. En net daar en dan het ek besluit: so kan dit waaragtig nie aangaan nie. Hoe kan ek regtig vir die Engelse span skree as daar so ‘n groot gaping is tussen dit wat ons glo? Hoe kan ek hulle ondersteun wanneer ons emosionele belewenis van dit wat op die veld aangaan, nie eers naastenby op dieselfde golflengte is nie?

Beproef alle dinge, behou die goeie, so sê die Bybel. En ek het oor die laaste maand ‘n daadwerklike poging aangewend om my self te beproef as ‘n ondersteuner van die Engelse span. Maar dis tyd om die feite vierkantig in die gesig te staar: dit was nie goed nie. Trouens, al wat dit was, is ‘n beproewing. Ek is bitter jammer, maar ek kan dit nie behou nie; vir Engeland wys ek vandag die spreekwoordelike rooi kaart. Dan skree ek eerder vir Serbië en Montenenegro.

Om terug te keer na Alastair Campbell toe: ek was toevallig nou die dag by ‘n geleentheid waar die man opgetree het as gasspreker. Toe ‘n lid van die gehoor hom vra wie hy as Skot ondersteun in die Wêreldbeker, was sy reaksie dat hy hoop Engeland doen baie goed. En hy het dit opgevolg met die stelling dat hierdie anwoord hom verhinder om te sê wat mense dink hy sê terwyl hy besig is om dit te sê.

Self kan ek dit nie beter stel nie.


Voetstoots van Tonder
9 Julie 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >