Sunday, July 30, 2006

Wat op aarde doen ‘n astro-fisikus?

Photobucket - Video and Image Hosting

Jy sal nooit raai wat ek laas Vrydagaand omstreeks middernag gedoen het nie. Moenie worry nie, sensitiewe kykers hoef nie hulle oë toe te hou nie; selfs die kinders kan ook maar verder lees.

Ek het debat toe gegaan. De-wat, hoor ek hoe vra die mense. Jip, de-bat. In Kensington Gardens nogal, van alle plekke. By die Serpentine Galery.

Weet nie wanneer laas jy in dié wêreld ‘n draai gemaak het nie, maar die mense het mos annerdag ‘n yslike groot lugballon daar staangemaak as ‘n semi-permanente struktuur vir die volgende maand of wat. Lyk soos ‘n massiewe gloeilamp wat oor die park staan en glim wanneer jy laat in die aand verby ry in die nagbus. Word gebruik vir allerlei gebeurtenisse terwyl die somer met ons is, vertonings, uitstallings, konferensies, partytjies en dies meer. En debatte. Of, om meer spesifiek te wees met betrekking tot laas naweek, ‘n 24-uur praatsessie tussen ‘n klomp kunstenaars, filosowe en ander weirdo’s. Sesuur Vrydagaand afgeskop, sesuur Saterdagaand eers weer halt geroep. Goeie plek vir ‘n debat, in elk geval, nie meer as ‘n katspoegie van Speakers’ Corner af nie.

Die voorsitters van die hele spulletjie, die manne wat vir ‘n hele nag en ‘n hele dag lank rondgesit en vrae gestel het aan 65 van hulle heel beste vriende, was twee here by name Rem Koolhaas en Hans Ulrich Obrist. Ironies, nie waar nie. Reël ‘n marathon-debat in sentraal Londen, en dan kry jy twee mense wat gebroke Engels praat met ‘n swaar aksent om die ding te lei. Maar op die ou end is dit seker maar tekenend van die Londen van vandag: hier’s in elk geval meer uitlanders as mense; al die Engelse wat nog nie afgetree het in Provence nie, is in Duitsland waar hulle wag vir die voetbalseisoen om te begin sodat hulle hul sokkerboef-aktiwiteite kan hervat.

Koolhaas is die Hollandse argitek wat verantwoordelik was vir die lugballon-struktuur waar die hele geleentheid afgespeel het. Obrist is ‘n kunskenner en kurator uit Switserland. En die res van die sprekers was ‘n mengelmoes mense uit die kreatiewe wêreld; behalwe vir Damien Hirst en Doris Lessing het ek nog nooit voorheen gehoor van enigeen van hulle nie.

Toe ek middernag daar instap, is dit die beurt van Richard Wentworth, Marcus du Sautoy en Pedro Ferreira om die podium in te neem. Wentworth is ‘n beeldhouer, du Sautoy is ‘n Professor in Wiskunde, Ferreira is ‘n astro-fisikus. En waaroor gesels die mense?

Oor niks besonders nie, om heeltemal eerlik te wees. Wat het jou tipiese beeldhouer in elk geval te sê vir die gemiddelde wiskundige of astro-fisikus? As ek hoegenaamd ‘n idee gehad het wat dit beteken om ‘n astro-fisikus te wees, het ek dalk self probeer om dié vraag te antwoord. Persoonlik vermoed ek dat ‘n astro-fisikus waarskynlik min of meer dieselfde doen as ‘n konsultant of ‘n direkteur. Met ander woorde nie verskriklik baie nie, maar dit klink redelik belangrik.

Hulle praat oor die verwantskap tussen vrees en obsessie. Hulle filosofeer oor die skoonheid opgesluit in mislukking. Hulle bespreek hulle gunsteling priemgetalle. Ek gaap en kyk om my rond na die res van die gehoor. Watse tipe mens gaan in elk geval na ‘n debat toe, middernag op ‘n Vrydagaand? Dis nou behalwe vir normale mense soos ekself, natuurlik…

Ek tel die toeskouers: daar’s omtrent 120 van ons. Langs my sit ‘n brandmaer vrou met ‘n zebra-gestreepte langbroek en ‘n sonbril; sy herinner my aan Fransie Geringer. Waarvoor die sonbril, wonder ek, dis laat in die nag? Skuins voor my is ‘n man met uitpeeloë wat lyk soos Lyle Lovett. En hy dra hoed – hoekom? Aan die ander kant van die vertrek is ‘n verwagtende vrou met ‘n groen tent vir ‘n rok. Teen dié tyd behoort jy lankal aan die slaap te wees, dink ek, wat van die arme baba wat besig is om blootgestel te word aan al hierdie snert!

Drie ure en nege sprekers later het ek genoeg pret gehad vir een aand. Ek besluit om te verkas. En dit was aand en dit was môre en dit was die volgende dag. Die res van die naweek is ek moeg – is dit omdat ek laat in die bed gekom het? Of is dit die vervelige gesprekke wat my so uitgeput het?

Maar hoekom het ek dan gegaan, wil jy weet. Vir wat het ek vyftien pond betaal om te sit en luister hoe gesels ‘n klomp mense van wie ek nog nooit gehoor het nie oor onderwerpe waarin ek glad nie belangstel nie, terwyl ek reeds in die bed kon gewees het, vra jy. Goeie vrae, dié.

Ek is self nie so seker nie. Uit nuuskierigheid, miskien, want ek het in die koerant gelees van die geleentheid en ek wou sien hoe dit werk. Of dalk maar net uit pure verveeldheid, en ek sukkel in elk geval om te slaap in hierdie hitte. Moontlik het die gloeilamp-effek van die helder-verligte lugballon my maar net aangetrek, soos ‘n mot na ‘n kers.

Maar op die ou end dink ek eintlik dat ek maar net gegaan het omdat ek kon. Soos ‘n hond wat… jy weet mos.

Ja-nee, dis die tipe ding wat jy kan doen as jy jouself in ‘n plek soos Londen bevind, middernag, op ‘n Vrydagaand, as jy niks anders aan het nie, en jy weet daar’s ‘n klomp weirdo’s om die draai van jou af wat besig is om nonsens te praat oor niks besonders nie.

So, dalk sal ek selfs volgende jaar weer gaan as hulle nog een van dié goed reël.

Miskien moet ek in die tussentyd maar net seker maak presies wat doen ‘n astro-fisikus.


Voetstoots van Tonder
30 Julie 2006

1 Comments:

Blogger PienkZuit said...

Hy vis vir astro's in die serpentine (en kan nie spel nie)?

Klink na 'n interessante en vervelige ervaring ter gelykertyd. Die aantrekkingskrag van die gloeilamp sou my ook getrek het.

2:11 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >