Sunday, August 06, 2006

DA! is nie meer daar nie

Photobucket - Video and Image Hosting

In hoeveel plakkershuise was jy al in jou lewe? Ek moet bieg dat ekself nog nie baie van hulle besoek het nie, maar ‘n paar weke gelede het ek dit wel gedoen. Op die hoofstraat van Kensington, van alle plekke.

Dit was inderdaad ‘n plakkershuis met ‘n verskil. Skuins-oorkant die Royal Garden Hotel, daar waar die Springbokke gereeld tuisgaan wanneer hulle in Londen is vir hulle jaarlikse nederlaag teen die Engelse Rosies op Twickenham, is daar naamlik ‘n vervalle ou gebou wat ‘n hele paar jaar al leegstaan. Die vet weet hoekom: die eienaars se verlies aan huurinkomste uit ses onbesette vloere in hierdie gesogte area moet seer sekerlik miljoene beloop.

Photobucket - Video and Image Hosting

Net soos my ma my altyd geleer het dat ‘n mens nie jou kos moet mors nie, is daar dan ook ‘n groepie kunstenaars wat een mooi dag besluit het dat spasie soos hierdie ten alle koste benut moet word – al moet hulle dan ook by die plek inbreek. Wat hulle natuurlik toe weldra gedoen het. Alhoewel die voorbok, ‘n argitektuurstudent genaamd Simon McAndrew, daarop aandring dat dit nie inbraak was nie: hy het maar net eendag toevallig teen die stellasie aan die buitekant van die gebou uitgeklim en per abuis ‘n oop venster gevind. En siedaar.

Maande later het vier van die groepie nog steeds die boonste paar verdiepings van die gebou geokkupeer; intussen het hulle verder ook ‘n galery vir opkomende kunstenaars op die grondvloer oopgemaak. Die kommissie wat hulle gehef het wanneer iemand ‘n kunswerk gekoop het, was presies gelykstaande aan die huuruitgawes, met ander woorde niks, nul, gratis, nie eers ‘n appel of ‘n ei nie.

Die hele projek – dis nou as jy na ‘n plakkerskamp kan verwys as ‘n projek – het bekendgestaan as DA! SQUAT. Maar moenie toelaat dat dit jou afsit nie, dit het niks te doen met Tony Leon en sy Demokraties Alliansie nie, die plek se naam is bloot ‘n afkorting vir Direct Access, Space Quietly Utilised, Artistically, Temporarily.

Toe ek die dag by die galery instap, was die reuk die eerste ding wat ek opgelet het, daai effense mufreuk wat mens kry wanneer jy ‘n ou kelder binnetree. Die reuk van ou boeke in die donker. Die klam reuk van ‘n dromerige verlede. Is dit hoe ‘n snuf in die neus ruik?

Maar toe tref min of meer 6,000 desibels se musiek my en ek word met ‘n skok teruggebring na die naakte werklikheid. Wat se liedjie is dit daai, skree ek vir Simon. Hy check sy ipod wat aan die luidsprekers gekoppel is; dis inderdaad ‘n plakkershuis met ‘n verskil hierdie. Of luister die mense in Khayelitsha ook deesdae so na hulle musiek? Ek vermoed hulle doen waarskynlik. Dis die Mozzarella Swastikas deur ‘n “sanger” genaamd Adam Green, roep hy terug, grynslag op die gesig. Hoe sjarmant, dink ek. Ek moet tog onthou om nooit dié CD te koop nie.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek stap rond en verkyk my aan die kuns. Ek hou veral van ‘n stuk wat lyk soos ‘n verrinneweerde vlieër, gemaak uit ‘n paar ou fotorame en ‘n geskeurde sykous. Intussen staan Simon McAndrew by die galery se voordeur en deel pamflette uit aan die mense wat verby “sy” galery loop. Hy nooi hulle uit na die fliek wat vanaand daar gewys gaan word, sowel as volgende week se “privaat” uitstalling.

Voor ek waai, praat ek vir ‘n wyle met hom. Hy bevestig dat hulle plakkery onder meer as ‘n protes-aksie teen vermorste spasie geïnterpreteer behoort te word, en hy vertel my van die uitsettingsbevel wat die gebou se eienaar (‘n versekeringsmaatskappy) teen hulle laat uitreik het. Nie net dit nie, maar die regter in die distrikshof het nog gelas dat hulle £5,000 se koste ook moet betaal. Daar’s ‘n bak vol kleingeld by die voordeur, alle donasies is welkom. Plakkers is hulle miskien wel, maar hulle is eerbare plakkers, vas van plan om die skuld te betaal.

McAndrew aanvaar dat hulle dae in die gebou getel is, die balju kan enige dag opdaag om hulle uit te skop. Die skrif is aan die muur, net soos wat dit letterlik aan die binnekant van die galery is (alhoewel dit in daai geval veronderstel is om ‘n kunswerk te wees: ‘n collage boodskappe getiteld “30 dinge wat minder vervelig is as teken”).

Wat gaan julle dan doen, wil ek weet. Sal maar sien, kom die antwoord, Londen is vol leë geboue. Dis goed om te weet dat ‘n winsgewende besigheidsmodel soos hierdie nie sommer netso gaan uitsterf nie…

Ek groet die man en wens hom sterkte toe. Op pad uit gooi ek my pennies in die bak by die deur.

En toe, ‘n week gelede, toe ek weer daar verbystap, is DA! weg, die groot glasdeure weggesteek agter ‘n klomp onooglike houtpanele wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Ek bel vir Simon McAndrew (ons het nommers uitgeruil toe ek hom die dag ontmoet het) – hy’s ‘n plakker wat nie net ‘n ipod het nie, maar ‘n selfoon ook. Asook sy eie webtuiste, noudat ek daaraan dink, selfs al het hy dan ook nie ‘n fisiese blyplek van sy eie nie…

Die balju was toe Dinsdag daar, sê Simon vir my, daar sou geen punt wees om teen te stribbel nie. Was blykbaar heel hoflik, het geduldig gestaan en wag terwyl hulle al hulle besittings uitgedra het op die sypaadjie. Dit alles het amper vier ure gevat.

En wat nou? Die council het vir hulle akkommodasie gegee, ‘n woonstel in Ladbroke Grove. Darem maar ‘n beskaafde klomp, die Engelse, besef ek opnuut. Maar dis net tydelik. So hy moet wikkel, en nog ‘n gebou vind waar hulle volgende kan plak. Om waarskynlik van voor af uitgegooi te word, ‘n paar maande later, dink ek. Tog interessant om te sien hoe party mense lewe.

Klink dit nie vir jou ook redelik opwindend nie? Indien wel, kan jy altyd by die groepie aansluit.

Laat my weet as jy belangstel: ek het nog steeds McAndrew se telefoonnommer.


Voetstoots van Tonder
6 Augustus 2006

2 Comments:

Anonymous Anonymous said...

More Voetstoots

Ek het die stuk 'investigative journalism' baie geniet. Briljante idee van Simon McAndrew om aandag te trek vir geboue wat wag om gebruik (misbruik?) te word.

Ek is amper seker dat Cape Talk (radiostasie hier in die Wes Kaap) die artikel baie interessant sal vind en 10 teen 1 met jou of Simon self sal wil gesels.

Doen so voort

7:27 am  
Blogger renklem said...

Ek vind dit altyd ongelooflik hoe geboue hier kan leegstaan vir jare. Het lank gelede kunstenaars geken wat ook so ge-squat het, maar hulle huis is nou 'n blok woonstelle en ek kan nie meer daar gaan rooibostee drink op die mif sofa nie. Jammer ek het nooit van da! geweet nie. Laat weet asseblief as hulle weer 'n gallery oopmaak.

7:05 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >