Sunday, August 13, 2006

Erger as die doodstraf

Photobucket - Video and Image Hosting

Dis inderdaad wonderlike nuus dat die Britse geheimediens verlede week in staat was om ‘n grootskeepse terreuraanval te verhoed in die lugweë tussen Engeland en Amerika. Die groot vraag is egter wat hulle nou gaan doen met die twintig vermeende terroriste wat op hierdie opwindende dag gearresteer is. Persoonlik hoop ek van harte dat die bende nie lewenslank in ‘n maksimum sekuriteit-gevangenis gehou gaan word nie; dit sal ook nie eers help om die doodstraf terug te bring vir hulle nie.

Nee wat, die swerkaters verdien om veel meer gemartel te word as dit.

My voorstel is dat hulle die mense opsluit in ‘n lughaweterminaal êrens. Verkieslik een wat betreklik vervalle en klaustrofobies is, met ‘n lae dak en slegte lugversorging, soos Heathrow se Terminaal 2 en 3. So kan die blikskottels hopelik ‘n idee kan kry van hoe dit voel vir die tipiese passasier wanneer sy of haar vlug vir ‘n onbepaalde periode vertraag is.

Laat die klomp vir ure lank toustaan. Gee vir hulle die versekering dat dit nie meer te lank behoort te wees nie indien hulle dalk begin vrae vra, maar maak seker dat jy hulle so oningelig as moontlik hou. Blameer ‘n besigheidsmodel ingevolge waarvan jy meer kaartjies vir elke vlug verkoop as wat daar sitplekke op die vliegtuig is. Maak asof dit die normaalste ding op aarde is.

Stuur die mense om ‘n bietjie belastingvrye inkopies te doen, net om hulle aandag van die situasie af te trek. Gee vir hulle ‘n keuse tussen ‘n klomp onnodige produkte waarin hulle nie regtig belangstel nie. Dring aan daarop dat hulle ten minste een botteltjie oorpryste parfuum aanskaf, plus ‘n vieslike Hermes-das of twee. Asook natuurlik ‘n arbitrêre boek van John Grisham waarvan hulle in elk geval nooit meer as die eerste twintig of dertig bladsye gaan lees nie.

Moet hulle nie uithonger of ryswater voer nie: dwing hulle om vliegtuigkos te eet. Met plastiek-eetgerei wat ombuig wanneer jy probeer om dit te gebruik. Laat hulle kies tussen chicken & beef. Maak seker dat hulle eerste keuse nooit beskikbaar is nie.

Wys dan vir hulle ‘n fliek, en wel op ‘n skerm wat nie veel groter is as ‘n sigaretboksie nie. Gee vir hulle oorfone waarvan die konneksie net werk as jy die kabel heeltyd na die een kant toe trek. Onderbreek die rolprent elke vyftien minute met ‘n belangrike aankondiging van die kaptein. Skakel die stelsel af en konfiskeer die oorfone twintig minute voor die einde van die fliek, net wanneer die romantiese held dit regkry om uiteindelik aan die beeldskone prinses se been te vat en almal wonder waar dit alles gaan eindig.

Moenie vir die mense beddens gee nie: laat hulle sit en slaap op stoele wat kleiner is as die goedkoopste sitplekke in een van die West End se oudste teaters. Skop hulle elke nou en dan van agter af net wanneer hulle begin dut. As dit hulle nie wakker hou nie, organiseer ‘n baba of twee in die nabyheid wat die hele nag lank skree.

Klim elke nou en dan oor hulle om toilet te gaan. Stop hulle egter wanneer dit hulle beurt is om die geriewe te gebruik; oortuig hulle dat dit in die belang van hulle eie veiligheid is om te wag – die kaptein sê so. Gee uiteindelik die groen lig ‘n halfuur later, en laat hulle dan ‘n toilet gebruik wat kleiner is as die gemiddelde council flat se besemkas.

So kan ek aanhou, maar ek dink jy kry die prentjie.

Die belangrikste van alles is egter dat jy die hele groep terroriste op die ou end laat registreer vir ‘n lojaliteitskema. Vertel vir hulle met groot genoegdoening van al die lugmyle wat hulle verdien het wanneer die hele petalje eers klaar is. Verduidelik hoe dit werk: indien hulle bereid is om die hele proses nog sowat vyftien keer te herhaal, sal hulle kwalifiseer om dit nog eenmaal te doen – dié keer heeltemal gratis.

As dít hulle nie vir eens en vir altyd afskrik van hulle bose aktiweite nie, dink ek nie enigiets sal nie.


Voetstoots van Tonder
13 Augustus 2006

3 Comments:

Blogger gm said...

Jy het 'n kardinale deel van die marteling vergeet: sit hulle langs iemand wat vir die eerste vlieg en nie uitgepraat kan raak daaroor nie. Of net eenvoudig nie uitgepraat raak nie.

Ek lees op boingboing.net dat die Bolshoi-teater orkes nou die trein van Londen terug na Rusland moet vat, aangesien hulle nie hul uiters waardevolle instrumente as handbaggasie mag neem nie, en kontraktueel gebind is om nooit geskei daarvan te wees nie. 'n Mens moet wonder oor daardie reël.

9:28 am  
Blogger PienkZuit said...

Trein na Moskou : nou daar is 'n interessante ervaring! Ek sal daaroor ook probeer blog hierdie week as ek onthou.

8:34 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

gm - ja, die reels rondom handbagasie gaan my verstand te bowe...nou het hulle dit verander sodanig dat jy 'n rekenaarsak kan vat, maar nie 'n gewone aktetas wat effe groter is nie (en gister was die detonators juis nog in die rekenaars weggesteek, ai...)

maksideem - thanks vir die kommentaar

pienk zuit - ek lees graag daarvan...

cheers

V

8:26 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >