Sunday, August 20, 2006

Hoe ruik triasetoon triperoksied?

Photobucket - Video and Image Hosting

BA Baracus was sonder twyfel een van my gunsteling televisie-karakters van alle tye. Hierdie lid van die A-Team kon mos feitlik enigiets doen: hy was groot en sterk en hy het altyd ‘n plan gehad. Gee die man ‘n tou en twee stukkies kougom, en hy blaas die vyand se vesting op vinniger as wat Macgyver ooit sou kon droom. Chuck Rogers se gat.

Maar daar is een ding waarmee BA Baracus wel gesukkel het, en dis vlieg. Die een oomblik lyk hierdie blok van ‘n man nog asof hy eiehandig die hele All Black-voorry kan aanvat, en kort daarna kerm hy soos ‘n babatjie wanneer hy in ‘n vliegtuig moet klim. En dit was twintig jaar gelede: ek wonder wat hy deesdae sou sê, noudat daar elke keer ‘n kans is dat een van Osama Bin Laden se trawante ook nog langs hom kan eindig op ‘n vlug oor die Atlantiese Oseaan.

BA se noemnaam was natuurlik kort vir “Bad Attitude” – en ek dink dis nogal ‘n goeie alternatiewe naam vir British Airways ook. En dis juis aan BA Baracus wat ek gedink het toe ek ‘n week of wat gelede ‘n vliegtuig bestyg het om ‘n inter-kontinentale reis op die Bad Attidude lugdiens terug Londen toe aan te pak, skaars drie dae nadat die nuutste rondte opwinding by Heathrow aangebreek het. Die rede was nie net die feit dat ek so min lus was vir die vlug nie, maar wel die kwaai antie wat voor my in die tou gestaan het by sekuriteit en ‘n bietjie soos BA Baracus gelyk het.

Nee, sy was nie swart en gespierd met ‘n baard en ‘n Mohican-haarstyl nie. Maar sy het wel al die juwele in haar besit tegelykertyd om haar nek gedra, net soos BA Baracus van ouds. Of so het dit gelyk, in elk geval; ek vermoed dit was dalk net haar truuk om verby die streng beperking op handbagasie te kom. En dis ‘n slim plan: daai sekuriteits-eksperts by Heathrow wat intussen besluit het dat ‘n rekenaarsak mag saamvlieg in die kajuit (maar nie ‘n standaard-aktetas wat ‘n duim of twee groter is nie) het immers nog nooit ‘n verbod op verloofringe, borsspelde en hangertjies aangekondig nie.

Daar was in elk geval nie plek in die tannie se handbagasie vir enige juwele nie: dié was gans te vol van al die sepies en sjampoe wat sy die vorige dag uit die hotel se badkamer gegaps het. En dit was nogal interessant om te sien hoe sy keel opsit toe die mense amper hierdie komplimentêre items by haar konfiskeer. Op die ou end het sy haar sin gekry en sy kon meeste daarvan saamvat, maar nie voordat die wag eers sorgvuldig al wat houer is oopgemaak en daaraan geruik het nie.

Ek kon nie help om te wonder waaroor die kêrel dink terwyl hy so staan en snuif aan botteltjie vir botteltjie met ‘n uitdrukking van groot konsentrasie op sy gesig nie. Was hy en al sy trawante in die laaste paar dae op ‘n crash course sodat hulle nou skielik weet presies hoe ruik triasetoon triperoksied en ander vloeibare plofstowwe? Ek dink nie eers hulle sal die tipiese Blou Bul-ondersteuner, wat elke Saterdag sy nartjies met Klipdrift inspuit, by Loftus Versveld se hekke kan uitvang nie…

Hoe dit ookal sy, die antie met die humeur en die juwele en die gratis koekie seep was een van die gelukkiges. As sy byvoorbeeld uit Londen gevlieg het (eerder as terug soontoe), sou sy natuurlik glad nie weggekom het met enige vloeistowwe in haar handbagasie nie. ‘n Vriendin vertel my byvoorbeeld dat haar duur ontwerpers-lipstiffie hierdie week by Heathrow gekonfiskeer is.

Bid jou aan: lipstiffie! Wat dink hulle wou die stomme vrou daarmee doen? Die vliegtuig skaak en die kaptein dwing om Kaïro toe te vlieg – anders doen sy netnou die man se lippe? Of dalk meng met een van haar mede-passasiers se moedersmelk (wat een van die dae seker net in die oorspronklike houer sal kan saamvlieg – mits ‘n wag vooraf daaraan proe) en die hele vliegtuig opblaas? Ek dink nie eers hierdie vriendin van my weet hoe spel ‘n mens El Kyda nie (sy is blond). Of Al Qaeda. Watookal.

Maar dis die inkonsekwentheid wat my die heel meeste pla. Op die een vlug mag jy nie lipstiffie saamdra nie, op ‘n ander een kom jy weg met sjampoe. ‘n Rekenaarsak is OK, ‘n aktetas nie. Maar die rekenaarsak is ook net aanvaarbaar solank jy hom nie regtig gebruik nie: sodra jy die ding volgepak het, is hy te breed om aan die maksimum spesifikasies te voldoen.

Eet jou vliegtuigkos met ‘n plastiekmes, maar in die besigheidsklas-sitkamer is daar langsteel-sjampanjeglase. Maar het jy al gesien hoeveel skade ek kan aanrig met een van dié as ek die ding eers gebreek het en in die lug begin rondswaai? En wat van daai pen van my wat hulle nog nooit gekonfiskeer het nie – dis immers ‘n baie gevaarliker potensiële wapen as enige naelknippertjie?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek weet die mense doen net hulle werk. Ek dink net nie hulle base dink aldag ewe mooi voordat hulle die reëls aanpas nie. En ek wed jou dis nie meer baie lank nie, dan’s ons terug waar ons ‘n paar weke gelede was, met al die ou “normale” handbagasie-reëls. Tot daar weer een of ander voorval is, dan begin ons van voor af.

Dink jy in elk geval die tipiese terroris is simpel? Hoekom sal hulle nou probeer toeslaan en die kans staan om uitgevang te word terwyl almal so verskriklik paranoïes is? Ek vlieg môre weer, en ek sien uit na die vlug. As dit ooit waar was dat dit veiliger is om te vlieg as om in jou kar te klim en rond te ry, dan’s dit juis nou.

Nie dat BA Baracus noodwendig daarmee sou saamstem nie. Want soos die man tereg eenkeer opgemerk het: as vlieg dan wel veiliger is as ry, hoekom rus hulle nie motorvoertuie uit met valskerms nie?


Voetstoots van Tonder
20 Augustus 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >