Sunday, August 27, 2006

Kom ons verbeter die geskiedenis

Photobucket - Video and Image Hosting

In reaksie op die hele Darrell Hair sage stel ‘n vriend van my voor dat die krieket-annale sodanig aangepas behoort te word dat hierdie skeidsregter se rampspoedige effek op die sport oor ‘n periode van 14 jaar totaal uitgewis word. En ek moet toegee: dis voorwaar ‘n rein gedagte.

Maar dit het my aan die dink gesit: hoekom dan nou stop by Hair? Ons kan darem tog seker die vlerke heelwat wyer sprei as ons eers die geskiedenisboeke begin aanpas om dit te suiwer van beamptes se kwaadwillige invloed op Suid-Afrikaanse sport, nie waar nie?

Wat van Clive Norling, byvoorbeeld? Wie onthou nog hierdie vet Wallieser wat ons die reeks gekos het toe die Springbokke in 1981 deur Nieu-Seeland gereis op die berugte meelbomtoer?

Ja, lesers wat jonger as omtrent 40 is sal seker sukkel om dit te glo, maar daar was ‘n tyd wat die Springbokke nog behoorlike rugby kon speel. Meer nog, hulle was selfs in staat daartoe om die All Blacks af en toe ‘n loesing toe te dien. En dit nogal op die Nieu-Seelanders se eie bodem ook, om alles te kroon.

Miskien het dit iets te doen gehad met die feit dat meeste van die All Blacks se spelers in daardie dae nog in Nieu-Seeland gebore was, en nie op die res van die Suidsee-Eilande nie. Ook nie in Suid-Afrika nie, noudat iemand Greg Rawlinson se naam noem. Hy wat tien jaar gelede nie eers Durban High School se eerste span kon haal nie.

Maar terug by 1981. Lesers wat jonger as omtrent 40 is sal seker nie onthou nie, maar toe die Suid-Afrikaanse span op daardie rampspoedige dag by Eden Park opdaag vir die derde en beslissende toets van ‘n dramatiese toer, was alles op die spel vir die twee spanne met die reekstelling wat staan op 1-1. Nie dat Ray Mordt juis daardeur ontsenu is nie; voor mens jou oë kon uitvee het die man drie drieë gedruk. En jy moes nog letterlik jou oë uitvee in hierdie dae want die wedstryd het vieruur in die oggend (Suid-Afrikaanse tyd) begin – dit was die dae voor spreiligte. (Terloops, vir die voordeel van lesers jonger as 40: Ray Mordt was ‘n vleuel, met ander woorde amper soos Breyton Paulse, net ‘n bietjie groter en sterker.)

Die feit dat die Springbokke daardie dag te staan gekom het teen ‘n gemotiveerde All Black-span sowel as ‘n vyandige skare asook die Nieu-Seelandse Luftwaffe wat gewapen was met omtrent tienduisend meelbomme, was egter nie die grootste uitdaging nie. Die ergste van alles was dat die skeidsregter ook nog alles in sy vermoë gedoen het om seker te maak dat Suid-Afrika nie ‘n kans staan om die wedstryd te wen nie. Ten spyte daarvan het die Bokke ‘n verbete stryd opgesit, en met die telling 22-22 elk na 80 minute het dit sowaar gelyk asof die Suid-Afrikaners teen alle verwagtinge dalk die reeks sou deel.

Maar moenie glo nie, Clive Norling was nog nie klaar met hulle nie. Hy het nie minder nie as nege minute se beseringstyd nodig gehad het voordat hy ‘n vryskop kon toeken teen Robert Cockrell. Omdat hy ‘n voet in die skrum opgelig het, nogal (dit was wel nog teen die reëls in daardie dae).

En toe die Bokke nie vinnig genoeg terugval na Norling se sin nie, verander die man toe sommer die vryskop in ‘n strafskop – én hy gee dit tien treë nader. Op die ou end was Allan Hewson se skop pale toe min of meer ‘n formaliteit. Net om natuurlik direk daarna gevolg te word deur die eindfluitjie.

Eintlik wil ek nie eers regtig daaroor praat nie. En ek vra om verskoning dat ek jou daaraan herinner het.

Persoonlik vermoed ek egter dat Darrell Hair dalk daai dag op die pawiljoen was by Eden Park; as mens kyk na die man se oordeel oor die jare heen dink ek Clive Norling was duidelik een van sy rolmodelle.

Ja-nee, die geskiedenis sal sommer heelwat beter wees as ons ‘n nuwe blaadjie omslaan en hierdie twee here se invloed op Suid-Afrika se sportreputasie geheel en al uitwis. Soos George Orwell destyds gesê het: the past was erased, the erasure was forgotten, the lie became truth. En almal sal heelwat gelukkiger wees in die proses, wil ek byvoeg.

Die enigste vraag wat nou oorbly is dit: moet ons dalk oorweeg om nou ook dieselfde te doen met Jake White?


Voetstoots van Tonder
27 Augustus 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >