Sunday, September 17, 2006

Die beste jop in die wêreld

Photobucket - Video and Image Hosting

As klein seuntjie het ek altyd gedroom daarvan om ‘n loods of ‘n soldaat of ‘n brandweerman te word wanneer ek eendag groot is. In standerd sewe het die juffrou wat verantwoordelik was vir ons loopbaanvoorligting egter tussenbeide getree en probeer sorg dat elkeen in ons klas gaan leer vir dokter of ingenieur of regsgeleerde. En vir dié wat regtig geen talent gehad het vir enigiets anders nie, was daar altyd die rekenmeestersprofessie.

Vandag is ek redelik dankbaar oor die feit dat ek nooit my drome verwesenlik het en ‘n loods of ‘n soldaat of ‘n brandweerman geword het nie. Loodse moet heeltyd bang wees vir terroriste en vir mense wat Hansie Cronjé van kant wil maak wanneer dié dalk saamvlieg. Soldate het ‘n harde tyd in plekke soos Irak, Afghanistan en die buitewyke van Beiroet. En ek dink nie enigiemand beny die tipiese brandweerman wat teen die trappe van ‘n hoë gebou begin ophardloop nadat ‘n Boeing daarin vasgevlieg het nie.

Nee wat, dan waardeer ek maar eerder my lot as ‘n rekenmeester.

Maar dis darem seker ook nie die heel ergste lot wat daar is om ‘n loods of ‘n soldaat of ‘n brandweerman of ‘n rekenmeester te moet wees nie. Eendag het ek byvoorbeeld ‘n boek onder oë gehad wat die slegste jops in wêreld uiteengesit het. Die een wat my tot vandag toe bybly is die “Before Guy”. Jy weet mos: dis daardie ou met die bleskop en/of die boeppens van wie daar ‘n foto geneem word om te wys hoe sleg mens lyk voordat jy een of ander haargroeimiddel of verslankingsdoepa begin gebruik. Bevorderingsmoontlikhede vir hierdie persoon is daar wel: hy kan dalk eendag die “After Guy” word (maar uiteraard net indien sy hare intussen vermeerder en/of sy liggaamsmassa verminder).

Persoonlik meen ek dat daar ook ‘n paar ander werke is wat nie alte lekker is nie. Dink byvoorbeeld aan daardie kêrel wat heeldag op Oxfordstraat moet staan en ‘n groot kennisgewing vashou wat aandui waar die naaste uitverkoping van derderangse gholf-toerusting of goedkoop pizzas is. Behalwe dat hierdie stomme man die wind en die weer en die wêreld se uitlaatgasse moet trotseer, gaan hy waarskynlik ook binnekort doodgaan van pure verveeldheid.

En wat van die sekuriteitswag wat op die grens van die krieketveld moet sit by ‘n eendagwedstryd, soos ‘n paar maande gelede toe die spanne van Suid-Afrika en Australië amper 900 lopies binne ‘n paar uur gemoker het? Hierdie arme man het die onmoontlike taak om ‘n skare mense wat al hoe uitbundiger en dronker word onder beheer te probeer hou, en dít nogal terwyl die klipharde krieketbal elke paar minute by sy linkeroor verbyvlieg soos wat Herschelle Gibbs nog ‘n ses oor halfby klits. Die ergste van alles is dat hy nie eers mag omkyk om die asemrowende krieket te bewonder nie, want sien, daar’s ‘n job wat gedoen moet word…

Aan die ander kant is daar natuurlik ook hier en daar iemand wat ‘n redelike lekker werk het. Vat byvoorbeeld die ou wat optree as fotograaf vir Sports Illustrated se swemklere-uitgawe: iemand wat min of meer al die byvoordele kan geniet van die tipiese ginekoloog, met redelik min van die nadele. Om alles te kroon, drink hy elke aand teen tjaila-tyd Pina Coladas langs die swembad by ‘n vyfsterhotel in Mauritius.

So kan ek aanhou: ek vermoed byvoorbeeld dat wynmakers en fliek-resensente en supermodelle en sportkommentators en professionele veerpyltjiespelers ook ‘n redelike lekker lewe het.

Nou die dag het ek egter iemand gesien wat REGTIG sy werk geniet. Nie net dit nie, maar hy het verder ook die unieke kombinasie gehad waarvan die meeste bestuurders in senior posisies maar net kan droom, naamlik dat mense duidelik baie van hom gehou het, én dat almal hom terselfdertyd ook ontsaglik gerespekteer het.

Hoe weet ek dat hy so baie van sy werk gehou het?

Dis maklik: hy het nooit opgehou om sy stert te swaai nie.

Ja, dis ‘n hond waarvan ek praat. Maar dit was uiteraard ook nie sommer enige hond nie: dit was die snuffelhond by New York se JFK-lughawe – die vriendelikste beagle wat jy nog in jou hele lewe gesien het. (Terloops, my woordeboek het nie ‘n behoorlike vertaling vir “beagle” nie – dit word gelys as “soort jaghond; spioen; verklikker; diender”. In reaksie waarop ek maar net kan sê: huh?)

Jy kon nie help om van die dierbare gesiggie te hou nie. Terselfdertyd kon jy egter ook die spanning in die lug voel: wat daarvan as hy dalk iets aan my ruik? Waarvoor ruik hy in elk geval? As dit iets soos kokaïene is, behoort ek hopelik veilig te wees, maar sê nou maar dis biltong waarna hy op soek is? Of probeer hy dalk net mense uitvang wat babamelk of lipstiffie insmokkel? En ek wonder hoe ruik ‘n terroris?

Soos ek reeds gesê het, was die beste van alles egter dat die hondjie duidelik besig was om sy werk terdeë te geniet. Miskien was hy maar net effe hoog van al die dwelms wat hy alreeds op hierdie betrokke dag geruik het, of miskien was hy opgewonde om die volgende stukkie vleis op te spoor, maar soveel opwinding en energie en vreugde het ek nog nooit by enigiemand anders gesien terwyl hy besig is met sy dagtaak nie. Hy het definitief nie ‘n hondelewe gehad in die tradisionele sin van die woord nie.

En gebaseer daarop, het ek ‘n aankondiging om te maak: eendag wanneer ek groot is, wil ek ‘n snuffelhond word.


Voetstoots van Tonder
17 September 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >