Sunday, September 10, 2006

Effe dik vir 'n daalder

Photobucket - Video and Image Hosting

Gedink ‘n Britse paspoort gaan jou help om vinnig deur Heathrow te kom wanneer jy volgende keer land in Londen?

Dink maar weer.

Nie dat ekself ‘n Britse paspoort het nie, sien. Maar in daai donkergroen boekie wat die Departement van Binnelandse Sake in Kaapstad my destyds gegee het, is daar darem wel ‘n stempel wat sê dat ek heel wettiglik hier in Engeland mag bly tot en met Februarie volgende jaar. Tyd sal leer wat daarna gebeur, maar intussen geniet ek dit nogal om my eie tou te hê wanneer ek by Heathrow opdaag. Trouens, die ry vir UK Residents soos ekself is gewoonlik heelwat korter en vinniger as dié waarin die Britte self moet staan.

Douvoordag wanneer ek rooi-oog en lyfseer by Terminaal 4 opdaag na ‘n lang vlug, is ‘n waggery immers die laaste ding waarvoor ek lus is. So onlangs soos vanoggend was dit derhalwe weer die heerlikste gevoel om by al daai mense van Nairobi, Lagos en Abuja verby te stap, die tou so lank dat die arme drommels heel agter nog nie eers amper die immigrasiesaal kon sien nie. Die tou het ook nie eintlik beweeg nie, want die immigrasie-beampte was te besig met kruisondervraging van die tannie met die groen en rooi kopdoek wat wyd-oog en armswaaiend met hom probeer onderhandel het. En dit het maar gesukkel, onder meer omdat die arme vrou duidelik nie die rooi taal baie goed magtig was nie.

Maak julle reg vir ‘n uur of twee, mompel ek binnensmonds met die kleinste tikkie simpatie terwyl ek mik vir die UK Residents bordjie wat my met ope arms verwelkom. Ek het miskien nie ‘n Britse paspoort nie, dink ek wanneer my groen boekie ‘n minuut of wat later gestempel word, maar ten minste laat die Engelse my redelik tuis voel op ‘n dag soos vandag. Seker ook niks minder as reg nie, met al die belasting wat ek hier betaal.

Intussen staan die tannie met die groen en rooi kopdoek nog steeds hier neffens my, hard aan die verduidelik. Teen dié tyd het sy ‘n klomp vuilerige papiere ook in ‘n handsak gevind en aan die immigrasie-beampte voorgelê vir oorweging. Hy tuur bo-oor sy bril daarna en skud sy kop. Sy skuif haar kopdoek reg en glimlag senuweeagtig. Jy sien net tande.

Ek stap deur, bagasiesaal se kant toe. Wanneer die monitor teen die dak my in die rigting van Belt 7 stuur, besef ek egter dat my tasse nog hoegenaamd nie daar sal wees nie – vandag het ek gans en al te vinnig tot by hierdie punt gekom. Net soos ek verwag het, is daar dan ook skaars ‘n handjievol mense wat rondstaan en wag toe ek uiteindelik by die vervoerband aankom. Groot is my verbasing egter wanneer ek sien dat die bagasiebelt self tot oorlopens toe gepak is, vol van die grootste sakke wat jy nog ooit in jou hele lewe gesien het.

Watter vlug se tasse is dit dan hierdie?

Ek kyk weer op, hierdie keer na die monitor bokant Belt 7 self, en bevestig dat ek wel op die regte plek is. Maar terselfdertyd moet ek ook uitvind dat ons bagasie vandag die vervoerband deel met dié van vlug BA074 uit Lagos, BA082 uit Abuja, BA138 uit Mumbai, BA435 uit Amsterdam asook SN5395 uit Brussel. O ja, asook BA064 uit Nairobi.

Ek dink aan die tannie met die groen en rooi kopdoek en glimlag wrang.

Intussen gaan die vervoerband om en om, maar geen nuwe tasse maak hulle verskyning nie. En jy’t nie ‘n graad nodig om uit te werk wat die probleem is nie: hier’s ‘n klomp sakke op die band wat behoort aan al daai mense uit Nairobi, Lagos en Abuja wat tans nog in die immigrasiesaal se tou staan. En totdat hulle eers Engeland binnegelaat word en hulle tasse kom afhaal, is daar nie plek vir myne om op die belt gelaai te word nie. Met ander woorde ek is nou behoorlik gesnoeker.

Vir wat laat die mense van Heathrow in elk geval toe dat dieselfde vervoerband gebruik word vir die bagasie van nie minder as sewe verskillende vlugte nie? Ek weet die lughawe is besig, maar dis darem effe dik vir ‘n daalder. Skielik wens ek Terminaal 5 was al klaar.

Ek besef ook dat die probleem seker nou erger is as ooit voorheen, met die beperkings op handbagasie wat deesdae so streng is. Daar is doodeenvoudig meer bagasie as ooit wat deur die stelsel moet gaan. Die blerrie terroriste…

Terwyl ek so staan en tob, begin die mense drupsgewys by die vervoerband opdaag. Ek herken een of twee van die aankomelinge verby wie ek in die immigrasiesaal gestap het, ‘n uur of wat gelede. Meeste van hulle is massiewe mense, wat seker verduidelik hoekom hulle tasse so groot en swaar is. Hoe groter die persoon, hoe meer plek en gewig neem elkeen van sy of haar kledingstukke seker ook op, nie waar nie?

Uiteindelik daag die tannie met die groen en rooi kopdoek ook op. Sy stap reguit op die vervoerband af en tel haar sak op – groot en swaar en kleurvol, nes sy.

Wanneer sy met haar trollie verby my stap, sien jy net tande soos wat sy vir my glimlag.


Voetstoots van Tonder
10 September 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >