Sunday, September 03, 2006

Praat van Sodom en Gomorra

Photobucket - Video and Image Hosting

Selfs al bly ek al amper vier jaar hier, was ek vir een of ander rede nog nooit in Londen oor die laaste naweek in Augustus nie. En so besluit ek toe verlede week vir die eerste keer in my lewe om die Notting Hill Karnaval by te woon. Dis mos maar wat Londen se mense doen op die langnaweek in Augustus: Maandagmiddag pak dié wat nie vir ‘n paar dae oorgeskiet het Bordeaux toe nie ‘n pelgrimstog aan in die rigting van Wes-Londen.

En nou kan ek ook getuig: met die moontlike uitsondering van daai dag in standerd sewe toe ek ‘n tand gebreek het op ‘n stukke been in my braaivleis-tjoppie, was dit waarskynlik die mees onbevredigende ervaring in my hele lewe.

Om mee te begin, die vervoer. Dit moet seker die enigste plek in Londen wees wat verkeer het dié dag.

Net om dit in perspektief te stel: voordat ek karnaval toe is, het ek eers ‘n vroeë middagete by vriende van my in Surrey bygewoon. Vir die eerste keer in my lewe was die A3 oop, al die pad van Putney Heath af, Roehampton en Richmond verby totdat ek skaars 20 minute later in Surrey stilhou. Vir die eerste keer in my lewe het Engeland se 50 myl per uur spoedbeperking iets beteken van begin tot einde; dit was nogal moeilik om so beheersd te ry – gewoonlik doen die verkeer dit vir my. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek selfs gewens dat ek ‘n behoorlike kar het. En vir die eerste keer ooit het ek vroeg by my vriende gearriveer. Die gasvrou het nog nie eers tyd gehad vir make-up aansit nie.

En toe ek ‘n paar uur later terugry dieselfde storie: geen verkeer nie, al die pad terug tot by my woonstel, selfs parkeerplek gekry regvoor my voordeur vir die eerste keer in menseheugenis. Lieflik. Pleks het ek net daar gebly vir die res van die dag.

Maar nee, ek “moet” mos Notting Hill toe. Drome gehad dat ek dalk vir Julia Roberts in ‘n knus boekwinkeltjie met ‘n helderkleurig voordeur sou raakloop. En ‘n verstrooide Hugh Grant wat agter ‘n kuif wegkruip. Dalk selfs ‘n skrapsgeklede danseres of twee, soos in daai prentjies van die Rio Karnaval?

Moenie glo nie: dáái Notting Hill bestaan net in die movies, en definitief nie op ‘n dag soos hierdie nie. As daar hoegenaamd ‘n boekwinkel is, gaan jy hom in elk geval nie sien nie: die eienaars sou die plek al drie dae tevore met houtplanke toegeslaan het om hulle te beskerm teen die aanslae van die massas.

En kan iemand asseblief vir my sê wie daai genie by die London Underground is wat besluit het dat die naaste tube-stasies moes toemaak op die dag – en dit nogal “om samedromming te voorkom”? Ladbroke Grove was gesluit, en Notting Hill Gate het eers sewe-uur die aand oopgemaak (alhoewel dit dalk net in die een rigting was, ek is nie heeltemal seker nie). Dis tog ‘n eenvoudige beginsel van die natuur, net soos die feit dat water afdraand loop eerder as opdraand, dat MEER funksionerende stasies sou help om samedromming te voorkom op die dag, en nie MINDER nie? Of HOE?

Nie net dit nie, maar ek dink daai selfde genie wat besluit het om die stasies toe te maak, is waarskynlik ook die persoon wat gereël het dat daar MINDER beskikbare parkeerplek is in die omliggende gebiede as op enige ander vakansiedag. ‘n Geelstreep in Londen is mos nie regtig ‘n geelstreep op ‘n Sondag of ‘n vakansiedag nie, tensy dit ‘n dubbele geelstreep is. (As voormalige Suid-Afrikaner is dit juis nogal ‘n moeilike ding om gewoond te raak as jy aanvanklik in Londen aankom).

Maar op karnavaldag is ‘n geelstreep egter wel ‘n geelstreep, en glo my, dit word met arendsoë en -kloue afgedwing. Weer eens verstaan ek nie die logika nie: die een dag van die jaar wat daar behoefte is aan meer parkeerplek, maak die mense juis seker daar is minder as ooit.

Die gevolg? Almal moet busry. Wat beteken dat daar omtrent ‘n miljoen busse is wat binne ‘n uur of twee deur ‘n handvol toevoerstrate probeer wurm. Dit laat die oggend se droomrit op die A3 voel soos ‘n ander land, ‘n ander era. Alternatiewelik kan jy ‘n myl en ‘n half of verder loop na die partytjie toe. Wat beteken dat al die mense se vullis oor ‘n groter area versprei kan word.

En wat het ek gesien toe ek uiteindelik in Notting Hill aankom? Skares mense wat aan albei kante van die pad oënskynlik doelloos in drukgange dwaal. Dronkies wat bedel, waarskynlik sakkerollers. Mans wat op sypaadjies staan en hulle self verlig teen winkelvensters (verlig…is dit nie ‘n pragtige eufemisme nie?). Vullis, en baie daarvan. Hordes polisie met neon-geel baadjies, party van hulle op perde. Maar darem nie donkies, soos dié waarna die Suid-Afrikaanse polisiehoof blykbaar nou die dag verwys het nie…

Praat van Sodom en Gomorra.

Die karnaval self het ek nooit gesien nie. Ek het wel ‘n gejil gehoor, asook ‘n paar dromme. Maar na ‘n halfuur se stoei het ek meer as genoeg gehad en laat spaander. As dít dan die waansin is wat mens moet trotseer net om te kan sê dat jy daar was, dan wil ek liewer nie aan die klub behoort nie. Hulle kan die t-hemp ook maar hou.

Indien jy dus volgende jaar in Londen is op die laaste naweek in Augustus en jy het nog nooit die Notting Hill Karnaval bygewoon nie, beloof dit om jou ideale geleentheid te wees.

Jy kan dit weer ‘n keer mis.


Voetstoots van Tonder
3 September 2006

3 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Dankie tog dat ons trippie London toe moes sneuwel ten gunste van 'n laaste braai. Klink my dié is nog een van daai Britse dinge wat beter lyk op 'n poskaart - Stonehenge seker die beste voorbeeld.

9:02 am  
Anonymous Anonymous said...

20 minute op 'n oop A3, klink of jy in Guildford se area gaan kuier het.

Dankie tog, jy het een van my regrets nou gestil. Ek het tot nou toe gewonder of ons nie iets gemis het deur nie Notting Hill Karnaval toe te gaan nie.

8:41 am  
Blogger Natasja said...

Volgende jaar kan jy gerus 'n draai maak by Hampton Court se Country Affair - dit is hoeka daar in die A3 se rigting. (http://www.hamptoncourtshow.com/).

4:45 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >