Sunday, September 24, 2006

Dit was elke pennie werd

Photobucket - Video and Image Hosting

Wanneer ek saans kyk na die weervoorspelling op BBC News, kan ek nooit help om te glimlag wanneer die naderende storms gedemonstreer word aan die hand van die staats-uitsaaier se kaart van die Verenigde Koninkryk nie. Nadat Londen die nodige aandag gekry het, word die fokus kloksgewys geswaai via Wallis, Noord-Ierland, Skotland en die Engelse platteland... net om natuurlik op die ou end weer af te sluit met ‘n blik oor Londen.

Wat my veral amuseer, is dat die buitelyne van die Republiek van Ierland telkens gewys word (dit sou redelik moeilik wees om die area heeltemal te vermy, want dit beslaan ongeveer 85% van die eiland waarop Noord-Ierland geleë is), maar dat nie een van die land se stede aangedui word nie. Dis asof die hele plek nog rof en onbeskof is; as mens nie van beter geweet het nie, sou jy dalk kon dink dat Dublin nog nooit ontdek is nie.

Selfs die weerpatrone mis oënskynlik die Ierse Republiek. Die wind en die wolke en die reën verdwyn soos mis voor die son nadat hulle die Walliese hooglande verlaat. Net om ewe skielik weer hulle verskyning te maak, ‘n entjie suid van Belfast.

Dit alles is die Iere se straf daarvoor dat hulle nie deel is van die Verenigde Koninkryk nie.

En ís die mense gesteld daarop! Ek het eenkeer die fout gemaak om ‘n taxi-bestuurder in Dublin se opinie te vra oor die Britse Leeus en hulle kanse in ‘n opkomende wedstryd teen die All Blacks. Net om ‘n verontwaardigde antwoord terug te ontvang in ‘n aksent wat sterk na Guinness geruik het (en nie veel beter geklink het nie): you mean the British and Irish Lions, sir?

Askies, het ek gemompel, ek sal nooit weer die fout maak nie. Voortaan sal ek probeer onthou dat die mense van Ierland wel Iere is, maar dat dié van Noord-Ierland mos eintlik Britte is.

Hoekom, vra jy? Wel, dis ‘n redelike lang storie. Doen jouself ‘n guns en soek onder “Irish conflict” op Wikipedia, die internet se mees omvangryke ensiklopedie. Ongeveer 2,562 verwysing later sal jy besef die lewe is gans en al te kort om die Iere se probleme hier te probeer opsom.

Maar ek moet sê dat ekself na hierdie naweek effe deurmekaar is. Want soos elke self-respekterende man het ek die laaste paar sonskyndae van ‘n heerlike somerseisoen benut deur grotendeels voor die televisieskerm vasgenael te sit en die Ryder Cup dop te hou. En wat ek daar gesien het, het my verstand heeltemal te bowe gegaan: Padraig Harrington en Paul McGinley (van die Republiek van Ierland) was in een span saam met Darren Clarke (‘n Noord-Ier).

En daar was vrede.

(Terloops, die toernooi het in Ierland afgespeel, net so ‘n entjie suid van Dublin – met ander woorde in ‘n omgewing waarvan die BBC se weer-span skynbaar nog nooit gehoor het nie.)

Nie net was daar vrede tussen die Iere en die Noord-Iere nie, maar daar was ook nege ander spanlede wat ewe lekker saamgespeel het. Sommige van hulle was van Spanje, Swede en Skotland, maar die meeste van hulle was Engelse. En nie eers een keer het ek gesien hoe enige van die mense die wapen oplig teen mekaar nie.

Nou vra ek jou met trane in my oë: hoe is dit moontlik dat ‘n kontinent wat bestaan uit soveel lande en tale en kulture, met ‘n onlangse geskiedenis van soveel bittere konflik, so verskriklik lekker kan saamspeel? Waar kom die spangees tussen al die uiteenlopende karakters vandaan? Wat het ‘n flegmatiese Sweed in elk geval gemeen met ‘n voor-op-die-wa Spanjaard?

Ek is nie seker wat die antwoord op al hierdie vrae is nie. Miskien is dit maar net dat die anti-Amerikaanse sentiment deesdae so sterk is, dat dit mense die wêreld-oor verenig.

Maar hoe dit ookal sy, ek het ook nie vir Amerika ondersteun nie. Hoe kan ‘n mens jouself immers skaar aan die kant van ‘n land waar hulle toelaat dat uitgegroeide mans ‘n opgehemelde vorm van touch rugby speel in pantserdrag en kopskerms? Nie net dit nie, maar ek is self mos eintlik ‘n Europeër; skaars driehonderd jaar gelede was my voorvaders tog immers Franse Hugenote en Hollandse skipbreukelinge.

En tog het ek ‘n paar van my welverdiende pondjies op die VSA verwed.

Hoekom, vra jy, as ek dan nie eers wou gehad het dat die klomp moet wen nie?

Wel, ek het gedink die Yanks het ‘n kans, om eerlik te wees. Maar verder het ek ook geweet dat dit ‘n strategie sou wees ingevolge waarvan ek nie eintlik kon verloor nie. Want as my span (Europa) sou wen, kon ek juig en dans en feesvier, en sou hulle verloor, het ek ten minste betaling ontvang in ruil vir my emosionele lyding.

Die res is natuurlik geskiedenis. Die VSA het so ver verloor dat ek eintlik nog ‘n klein bietjie ekstra moes inbetaal op my rampspoedige weddenskap. Praat van geld in die water gooi – amper soos Tiger Woods se joggie wat Sondagmiddag die speler se 9-yster in die water gegooi het by die K-Club se sewende putjie…

Maar dit was heerlik om te sien hoe die Amerikaners die kop vermorsel word. Ek dink selfs hulle vyande in die Midde-Ooste het lekkergekry, daar waar die mense nie eintlik gholf speel nie (jy sukkel blykbaar te veel om uit ‘n sandkuil te kom in dié dele).

Vanuit ‘n finansiële hoek beskou, was dit met ander woorde nie juis ‘n goeie weddenskap van my nie. Maar uit ‘n emosionele oogpunt was dit ‘n fantastiese winskopie. Trouens, dit was elke pennie werd. So suksesvol was die strategie, dat ek voortaan by elke moontlike geleentheid ‘n paar pond gaan verwed teen die Springbokke, die Proteas, Bafana Bafana en Ernie Els – net om seker te maak dat ek darem geld maak as my span of my man dalk die onderspit delf.

En dit was veral goed om te sien dat die Iere en die Noord-Iere so lekker kan saamspeel.

Miskien sal dit beteken dat selfs ‘n instansie soos die BBC ook eendag sal ophou om die bestaan van die Republiek van Ierland op hulle weer-kaart te ontken.


Voetstoots van Tonder
24 September 2006

1 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Ek woon nou al 4 jaar in Dublin - en wragtig - verlede week was die eerste keer dat SKY die Ierse weer ook wys -

8:21 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >