Monday, October 02, 2006

Die Engelse kan maar hulle seëninge tel

Photobucket - Video and Image Hosting

Almal weet dat e = mc2, maar niemand weet wat dit regtig beteken nie. Behalwe miskien vir Albert Einstein, en hy’s dood. En Stephen Hawking, natuurlik, maar dié sukkel ‘n bietjie om lekker te verduidelik.

As ek reg onthou, het my Wetenskap-juffrou my probeer leer dat dit alles iets te doen het met energie en die spoed van lig en, en, uhmmm… watookal. Ook bekend as die Relatiwiteitsteorie. Relatief moeilik, as jy my vra.

Drie minute in die geselskap van ‘n pragtige meisie is relatief kort, maar drie minute in jou baas se kantoor is relatief lank. Een haar op jou kop is relatief min, maar een haar in jou sop is relatief baie. Dis ‘n relatief goeie jaar vir die ekonomie, hierdie: swakker as laasjaar, miskien, maar ten minste beter as die jaar wat voorlê…

Dís die tipe relatiwiteitsteorie wat vir my sin maak.

Van my vriende werk in die beleggingswêreld. Feitlik alles wat hulle doen word gemeet – gewoonlik in relatiewe terme. Party van hulle probeer om een of ander aandele-indeks te klop. Vir ander is dit belangrik om meer geld te maak as wat jy op ‘n bankdeposito sou kon verdien. Die res is tevrede as hulle beter presteer as die firmas waarmee hulle kompeteer.

Met ander woorde dis een of ander relatiewe standaard wat geld, vir almal van hulle.

‘n Portefeuljebestuurder loop ‘n vriend van hom raak wat in dieselfde industrie werk. Is jy gelukkig getroud, vra die kêrel. Relatief tot wat, kom die teenvraag oombliklik.

Dis hoe die meeste van ons ook ons lewens inrig. Dis immers hoekom die Engelse praat van “keeping up with the Joneses”. Maak nie saak hoe goed of sleg dit met ons gaan nie, maak nie saak hoe arm of ryk ons is nie, solank ons net beter doen as ons bure of ons vriende of ons kollegas of ons ouer sussie of ons jonger boetie of ons ouers, toe hulle so oud was soos wat ons nou is.

Of die Joneses – wie op aarde hulle ookal is.

Jy ken mos daai flou grappie van Kallie Knoetze en Mike Schutte in die leeupark toe die Landrover breek en Kallie sy hardloopskoene aantrek. Mike wil hom doodlag want hy weet dat Kallie nie vir die leeus sal kan weghardloop nie, maar ‘n selfvoldane Kallie weet dat hy net vinniger as Mike hoef te hardloop.

Ja-nee, relatiewe prestasie is al wat saakmaak.

Van kleins af word dit by ons ingeprent. Wie staan eerste in die klas? Watter seuntjie of dogtertjie hardloop vinniger as die res? Spring verder? Of hoër? Of teken mooier? Of sing ouliker? Of sê beter gediggies op?

Dit alles is deel van Maslow se hiërargie van behoeftes. Nadat ons uiting gegee het aan dit wat ons nodig het om te oorleef op ‘n basiese vlak, probeer ons voortplant. Daarna kom ons sosiale hunkering aan die beurt (met ander woorde ons wil deel wees van een of ander groep).

Maar die hoogste strewe van alles, is die ego: ons probeer uitstaan binne die groep.

Dis hoekom die ryk mense in die duur huise teen die koppies bly. Dis hoekom Sol Kerzner met die een model en skoonheidskoningin na die ander trou. Dis hoekom Russiese olieboewe die sokkerklubs opkoop.

Dit is die Engelse pers wat my die afgelope maand of wat aan die dink gesit het oor die hele begrip van relatiwiteit. Die laaste paar weke kan jy mos nie ‘n koerant oopmaak nie, of jy sien een of ander berig oor ‘n aansitterige Tony Blair se laaste dae as Engelse premier en die norse Gordon Brown wat hom in alle waarskynlikheid gaan opvolg. Of dalk David Cameron, ‘n japsnoet met rooi wangetjies, as die Tories hulle sin kry.

En almal is in sak en as. Die Arbeidersparty gooi klippe na Cameron se kant toe, want dié is besig om voor te loop in die meningspeilings ten spyte van ‘n skreiende gebrek aan enige duidelike beleidspunte. Net vir ingeval, berei die Konsertawiewe Party hulle voor op die ondenkbare: ‘n vierde agtereenvolgende nederlaag by die stembus, en vyf jaar se regering onder leiding (of moet ek sê lyding?) van ‘n vervelige Skot wat nie weet hoe om te glimlag nie. Intussen veg Menzies Campbell en sy Liberaal-Demokratiese kollegas vir oorlewing.

Dis darem maar erg, né. Die politieke toekoms in Engeland lyk nie lekker nie. En jy het gedink globale verwarming of die toestand van Springbokrugby is ‘n probleem.

Maar daar is natuurlik ook ‘n ander brokkie nuus wat ‘n week of twee gelede redelik wyd gerapporteer is in die Engelse pers, en dit is die kwytskelding van ons eie Jacob Zuma op aanklagte van bedrog. Nie net dit nie, maar ‘n dansende Zuma wat die jillende massas buite die hof opsweep is oënskynlik die enigste kandidaat om vir Thabo Mbeki op te volg wanneer dié se termyn binnekort tot ‘n einde kom.

Fantastiese nuus, as jy my vra. Nou sal niemand in Suid-Afrika ooit weer Vigs kry nie, want die president sê dat jy net moet stort om die probleem te bekamp. En die president se woord is mos wet, nie waar nie?

Maar hier is my vraag. Hoe verduidelik ek vir my Londense vriende dat die politieke landskap in Engeland op die ou end tog nie so erg is as wat hulle daarvan maak nie? Want Gordon Brown is miskien ‘n pateet relatief tot Winston Churchill en Margaret Thatcher, en dis dalk waar dat David Cameron so beginselvas is soos ‘n tweedehandse motorhandelaar.

Maar relatief tot die politieke stand van sake in Suid-Afrika en die toekoms van die presidentskap in die land van my geboorte, dink ek die Engelse kan maar hulle seëninge tel. Hulle kla definitief met die witbrood onder die arm.

Sal iemand asseblief vir die Joneses ook laat weet?


Voetstoots van Tonder
1 Oktober 2006

2 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Eina! Nogal jammer vir die wat in SA bly, soos ek bv. Maar gelukkig kan niemand die toekoms voorspel nie, m.a.w. ek leef op hoop en skaars water.

Om aan te sluit oor relatiwiteit - is alles nie maar net relatief tot die bagasie wat elke individu elke dag saam met hom/haar dra nie, want 3 minute met 'n aantreklike vrou kan lank wees as jy senuweeagtig is en 3 minute met jou werkgewer kan te kort wees as jy baie het om by te dra.

Die bagasie (gelukkig nie dood soos die waarmee mens by lughawens sukkel nie) verander soos mens ouer word, omdat dit ook ouer word, en selfs vervang kan word, en dit is vir my die goeie nuus.

Interessante blik wurms wat jy oopgemaak het, relatief gesproke natuurlik.

1:11 pm  
Blogger Pienk Zuit said...

Die volgende 3 jaar gaan baie interessant wees in SA politiek. Die ANC aliansie is besig om uit mekaar te spat, en dis dalk die beste ding wat kan gebeur. Ek verkondig dit al wyd en suid dat ek immigreer as Zuma president word, en ek dink baie mense voel so. Ek is nog steeds optimisties oor die toekoms, ek wag maar en kyk wat gebeur.

11:00 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >