Sunday, October 29, 2006

Die trauma van trek

Photobucket - Video and Image Hosting

Na bykans vier jaar op Moddereiland het my woonstel uiteindelik te klein geword. Ek moes seker geweet het dat dit een of ander tyd sou gebeur: nêrens is daar meer plek vir al daai boeke wat ek aanhou koop ten spyte van die feit dat ek meeste van hulle seker nooit eers sal lees nie.

Traumatiese ding, trek. Veral in ‘n plek soos Londen. OK, dis nie miskien nie heeltemal so traumaties soos daai Saterdagaand aan die begin van 2003 toe ek die vliegtuig in Kaapstad bestyg het op die vooraand van ‘n nuwe lewe in ‘n ander land nie. En tog voel dit vir my moeiliker as enige ander trek wat ek nog ooit aangepak het.

Dis min of meer soos tandpyn. Want as iets met jou gebit skeefloop en jy moet so dringend as moontlik by die vriendelike omie tandarts uitkom, is dit redelik moeilik om heeltemal analities en objektief daaroor te wees en aan te kondig: hierdie is net mooi die tweede ergste tandpyn wat ek nog ooit gehad het – seerder as die keer toe die laerskool-boelie my op die mond geslaan het, maar nie heeltemal so erg soos daai dag in Standerd 7 toe ek per ongeluk die tjoppie se been raakgebyt het nie.

Nee, dis nie hoe dit werk nie. Enige tandpyn is die ergste ooit, alle voriges vergete, die einde van die wêreld oënskynlik net om die draai.

En dis presies hoe dit vir my is wanneer ek hierdie week se trek in die gesig staar.

Hoekom is dit so ‘n groot ding om van A na B te verhuis in ‘n stad soos Londen? En om welke rede voel dit soveel erger as enige trek wat ek nog ooit voorheen in Suid-Afrika aangepak het?

Wel, in die eerste plek is daar die daaglikse pendeltog om in gedagte te hou. (Alhoewel ek nie heeltemal seker is oor die woord “pendel” nie: noudat ek daaraan dink, klink dit byvoorbeeld nie naastenby so sieldodend soos die Engelse se “commute” nie. Nee wat, om te pendel klink vir my redelik gesofistikeerd, effe eksoties, selfs ‘n bietjie genotvol – nie naastenby soos ‘n rukkerige rit op ‘n stampvol moltrein saam met ‘n horde mense wat ‘n week laas gebad het nie).

Dink so daaraan: as jy trek van die een kant van Johannesburg of Kaapstad na die ander kant toe, is daar waarskynlik geen groter aanpassing om te maak as om ‘n nuwe roete na jou kantoor toe te leer ken nie. En as jy regtig ongelukkig is, vat die hele oefening dalk vyf minute langer elke dag – in jou luuksemotor, met die lugversorging aan, en jou gunsteling CD’s wat saggies in die agtergrond speel.

Maar in Londen trek jy ‘n myl of minder en voor jy weet, land jy op ‘n heel ander lyn van die ondergrondse vervoerstelsel. En skielik beteken dit dat jy nie meer kan reken op ‘n ononderbroke rit tot by jou daaglikse bestemming nie. Want voortaan sal jy by Oxford Circus moet afklim – saam met tienduisend toeriste – en wissel.

Ai.

Dis ook nie al nie. Want het jy al gedink daaraan dat jy voortaan by ‘n nuwe bakkery sal moet aanklop vir ‘n croissant op ‘n Saterdagoggend? Asook ‘n ander Starbucks – en wie weet hoe lank dit die mense agter die toonbank sal vat om te leer dat jy jou cappuccino verkies met ‘n bietjie minder skuim? En sal dit nog hoegenaamd prakties wees om aan te klop by my gereelde haarkapper van die afgelope paar jaar?

Ja- nee, dis die klein dingetjies wat ek die heel meeste gaan mis. Dis die ding van Londen: jy hoef nie eers ver te trek nie, en dit voel amper asof jy emigreer. G’n wonder die hele oefening is vir my so traumaties nie.

Dis so anders as in Suid-Afrika, waar jy heel waarskynlik nog by dieselfde winkelsentrum kan aandoen op ‘n Saterdagoggend – selfs nadat jy ‘n hele ent weggetrek het. En jy kan soontoe ry, en maklik parkeer, vir goedkoop.

Dan praat ek nie eers van die praktiese realiteite van die Londense trek self nie. Vat byvoorbeeld die Australiër wat jou help om jou karige paar besittinkies te verskuif. Teen die prys wat jy vir die hom en sy trok betaal, kan die man waarskynlik vir ses maande oorleef saam met al nege sy huismaats in Earls Court.

Erger nog, is die feit dat jy moet onthou om ‘n week voor die tyd by die plaaslike parkeer-owerheid uit te kom om te reël dat daar ‘n stilhouplek is – ‘n verdere twintig pond se skade. En dit net sodat die Aussie sy trok vir ‘n uur of twee kan parkeer.

Maar tog probeer ek hard om positief te bly terwyl ek so sit en bokse inpak. En skielik besef ek hoekom die woord “doos” in Afrikaans sulke lelike konnotasies het. Want myns insiens is dit heel normaal vir enigiemand wat met soveel van die goed sit, te midde van die warboel van ‘n half-klaar trek rondom hom of haar, om in ‘n redelike negatiewe gemoedstoestand vasgevang te word.

So hoe kan ek dan wel positief bly tussen al die bokse; hoe kan ek glimlag te midde van die tandpyn-trauma van trek?

Dis voorwaar nie maklik nie, maar daar’s wel een gedagte wat my aan die gang hou. Want ek sal miskien ‘n nuwe bakkery en ‘n ander Starbucks en ‘n plaasvervanger-haarkapper moet vind. Maar behalwe daar plek gaan wees vir meer boeke, is daar ten minste nog een ander aspek van my nuwe blyplek wat ‘n verbetering is op die vorige: daar’s ‘n Nando’s net om die hoek.


Voetstoots van Tonder
29 Oktober 2006

2 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Ek kan indentifiseer met jou smart en lyding. Ek het pas van woonstel verander en ek verafsku trek.

2:16 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

dankie vir die simpatie, manne - ja-nee, dis nie pret nie

gister was uiteindelik die groot dag: nou staan die hele plek vol bokse (insluitende 'n paar wat onoopgemaak is sedert my oorspronklike trek Londen toe, 4 jaar gelede - KJG) - miskien sal ek hierdie naweek maar weer daaroor blog...

ek bly nou in Notting Hill - oulike plek, maar ek het nog nie vir Julia Roberts in 'n boekwinkel raakgeloop nie

terloops Lammervanger en Maksideem: ek maak 'n draai in Sydney oor Nuwejaar - as julle daar is, kan ons dalk 'n koue dop drink (eerder as 'n virtuele een) - kom ons reel per email indien wel (my email adres is op my blogger profile)

cheers

V

11:22 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >