Sunday, October 08, 2006

Vir ‘n cool Ma, op haar 80ste verjaarsdag

Photobucket - Video and Image Hosting

Haai Moeder!

Met nog net ‘n week of wat voor Ma se 80ste verjaarsdag, het ek dit maar goedgedink om solank ‘n ou briefie te skryf. Hoe lank vat dit in elk geval deesdae vir die slakkepos om van Londen af tot in Johannesburg uit te kom?

Dis tog jammer dat die email-ding nie so lekker werk daar by die aftree-oord nie. Maar gelukkig weet ek darem ook dat Ma nie heeltemal agtergebly het met ál die tegnologie nie. Dit was byvoorbeeld veral lekker toe ek destyds begin het om teksboodskappe van Ma se selfoon af ook te ontvang.

Hoe cool is dít!

Teksboodskappe is mos hoe ons na sms’e verwys hier in Engeland, Moeder. En dis heel indrukwekkend dat Ma se kleindogters vir Ma geleer het hoe om die goed te stuur. Maar waaroor ek veral dankbaar is, is dat Ma die selfoon se klein knoppies met soveel vaardigheid kan hanteer. Toe hy nog gelewe het, het Pa mos altyd gesê dat die twee van julle jul vingers vir ons stompgewerk het – so ek weet nie regtig hoe kry ma dit reg nie…

Ek wil egter terugkeer na die verjaarsdag toe. En ek besef dat Ma nog altyd trots was daarop dat Ma die dag deel met Ernie Els, maar het Ma geweet dat Evel Knievel en Eminem ook op die 17de Oktober gebore is?

Hoe cool is dít!

Ek moet sê, as ek so kyk na al die mense wat saam met Ma verjaar, weet ek egter nie wat ek eintlik moet dink van die hele “wetenskap” van astrologie nie. Kan dit regtig waar wees dat mense wat op dieselfde dag verjaar, die belangrikste persoonlikheids-eienskappe deel?

Vat byvoorbeeld vir Ernie Els. Die man het so ‘n rustige gholfswaai, Moeder, dat die mense na hom verwys as die Big Easy. Dit lyk nooit asof hy homself bekommer oor enigiets in die hele wêreld as hy op die gholfbaan rondloop nie.

En dis darem maar so anders as Ma, wat altyd bekommerd was oor die kinders, en nagte lank wakkergelê het wanneer ons laat uitbly by partytjies. Vandag is ek jammer oor al die slaap wat ek Moeder gekos het. Maar ek is ook dankbaar vir die besorgdheid, en as ek dalk eendag self kinders het, sal ek dit waarskynlik ook doen.

Ek weet ook nie regtig hoeveel van ‘n ooreenkoms daar tussen Ma en Evel Knievel is nie. Ma weet mos wie hy is? Daai Amerikaner wat met ‘n motorfiets oor rye en rye busse gespring het en homself elke nou en dan in die proses afgeskryf het?

Nie net het ek Moeder nog nooit op ‘n motorfiets gesien het nie, maar Ma het my ook ‘n heel ander benadering tot risiko geleer. Ek sal Ma se woorde altyd onthou: moet tog nie kanse vat nie my kind, gaan deur die lewe met jou oë oop en jou gulp toe…

Dis seker hoekom ek op die ou end ‘n rekenmeester geword het. Dankie daarvoor Moeder. Dis definitief beter as om in busse vas te jaag vir ‘n lewe.

En wat van Eminem? Ek sal Moeder nie blameer as Ma nog nooit van hom gehoor het nie. Die man is ‘n sanger, alhoewel ek nie seker is dat ‘n mens dit sang kan noem nie. Meer spesifiek, is hy ‘n rapper, wat min of meer daarop neerkom dat hy aanhoudend praat oor geweld en allerhande dinge, en dit alles teen die agtergrond van temerige musiek. Alhoewel ek ook nie seker is dat mens dit musiek kan noem nie.

Maar miskien is daar tog ‘n ooreenkoms, want Ma was ook nog nooit op Ma se bek geval nie. Dankie vir Ma se voorbeeld, dit help my nou nog hier in Engeland waar ek dag vir dag moet probeer om myself in ‘n ander taal te handhaaf. Al doen ek dit dan ook in ‘n vrot aksent.

En dan is daar natuurlik ook nog een ander persoon wat saam met Ma verjaar, en dis ekself, Moeder.

Hoe cool is dít!

Uiteraard is daar nie baie mense wat kan sê dat hulle ‘n verjaarsdag deel met enige van hulle ouers nie. Maar ek moet sê, dis nogal lekker, veral as al die tannies van die buurt by Ma kom kuier vir koek en tee op die verjaarsdagoggend en nie een van hulle durf waag om te vergeet dat EK ook verjaar nie. Al daai ekstra persente het my waarskynlik ‘n bietjie van ‘n voorsprong in die lewe gegee.

Self het ek nog nie enige kinders waarvan ek weet nie, en ek kan ook nie seker wees daarvan dat ek ooit sal hê nie. Maar ek verstaan dat ek Ma seker deur heelwat pyn en lyding moes gesit het op Ma se verjaarsdag, al daardie jare gelede. So ek kan maar net om verskoning vra: ek het dit regtig nie aspris bedoel nie!

En wat van die astrologiese ooreenkomste tussen die twee van ons, gegewe dat ons dan saam verjaar? Pa het mos altyd daarvan gehou om te sê dat die kinders seker maar Ma se verstand gekry het, want hy het nog al syne. Maar dis nie waarvan ek praat nie.

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek in hoeveel opsigte ons presies dieselfde is. Partykeer vang ek myself uit dat ek selfs my arms vou soos Ma.

Daar is sommige aspekte wat ek wens ek kon verander – watter kind wil tog presies dieselfde wees as sy ouers, met al hulle nukke en grille? Maar tog sê ek dankie, want ek is seker wie ek vandag is as gevolg van Ma en Pa se invloed oor die jare heen. Dis sekerlik baie meer as net astrologie.

In kort Moeder, ek dink Ma is nogal cool.

Terloops, as ek sê Ma is cool, verwys ek nie na al die tye wat Ma koudgekry het oor die jare heen en ek dan ‘n trui moes aantrek nie. Wanneer iets cool is, is dit in, en in pas met die tye; dis byvoorbeeld min of meer die grootste kompliment wat iemand onder 30 jou kan gee.

So, ter afsluiting, ‘n paar verjaarsdagwense. Mag Ernie Els weer ‘n toernooi of twee wen. Mag Evel Knievel homself nooit weer afskryf teen ‘n bus nie. Mag Eminem bietjie stilbly vir ‘n slag.

En mag Ma altyd cool bly!


Voetstoots van Tonder
8 Oktober 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >