Sunday, October 22, 2006

‘n Loopdop saam met Jay Z en Beyoncé

Photobucket - Video and Image Hosting

Daar drink ek toe sowaar vir Jay Z en Beyoncé raak ‘n week gelede. Wie is dit, hoor ek die mense vra, en hoe het ek hulle ooit herken? Goeie vrae, dié. Maar ek kan verduidelik.

Die geleentheid was my ma se 80ste verjaarsdagpartytjie in Johannesburg. Nee, Jay Z en Beyoncé was nie op die gastelys nie. En nee, dit was ook nie my ma of haar 87-jarige broer wat die paartjie vir my uitgewys het nie.

Maar soos dit enige behoorlike 80ste verjaarsdagpartytjie betaam, was dit nie net my ma se kinders en haar 87-jarige broer en haar vriende uit die aftreeoord wat teenwoordig was nie, maar ook ‘n hele rits kleinkinders wat uiteraard behoorlik in voeling is met die moderne wêreld (die enkele agterkleinkind, 11 maande oud, het by die huis agtergebly om die kinderoppasser geselskap te hou).

Die jongste kleinkind, my broer se dogter Nerine, is dertien jaar oud. Vroegaand, toe die twee van ons vir die eerste keer in ‘n lang tyd herontmoet en vinnig die laaste jaar of wat se nuus uitruil, vra ek in watter standerd sy deesdae is.

Standerd 5, Oom, kom die antwoord, terwyl sy tog te pragtig vir my glimlag deur die draadjies in haar tande. Maar noem julle dit nie deesdae Graad 7 nie, vra ek. Ja, Oom maar wanneer ek met ou mense praat, sê ek maar altyd Standerd 5, anders word hulle net deurmekaar.

Wys jou net: alles is darem maar relatief. Daar is ek, die jongste van vier kinders, die laatlammetjie van die gesin, by my eie ma se verjaarsdag, en my broerskind laat my oud voel.

Eina.

Later die aand, toe die kos op is en die toesprake verby, toe die mense wat selfs ouer is besluit om terug te gaan aftreeoord toe, is dit tyd vir ‘n loopdop vir die res van ons. Pragtige woord, loopdop – een van my gunstelinge in Afrikaans. Dis amper heelbo-aan my lys, saam met gatvol en dooswyn.

Wat my terugbring by Jay Z en Beyoncé. Want soos die toeval dit wil hê, is ons toe nie die enigste mense wat lus is vir ‘n loopdop skuins na middernag by hierdie betrokke hotel nie. Eers later sou ek uitvind dat Jay Z en Beyoncé en hulle hele geselskap die aand daar oorgeslaap het.

En het hulle ‘n geselskap! Daar was seker omtrent tien of twaalf van hulle wat die hele tyd saamgekoek het, elkeen meer cool as die vorige een – dis net “hey bro’s” en high fives en helderkleurige cocktails en sigare en sonbrille en selfone wat afgaan waar jy kyk. En dit sluit nie eers die lyfwagte in nie: ses van die grootste lummels wat jy nog ooit in jou lewe gesien het. Rof en onbeskof en propvol steroïedes as jy my vra.

My broerskind begin op en af spring van opwinding. Sy’s die een wat vir Beyoncé herken het; sy’s die een wat vir ons verduidelik van hierdie popsangeres en Hollywood-aktrise, die superster in ons midde, ‘n heldin sonder gelyke in die lewe van ‘n dertienjarige.

En Jay Z, ‘n rap-sanger, is die man in Beyoncé se lewe. Meer nog: blykbaar is Jay Z eintlik die suksesvolle en bekende een van die twee. Wat beteken dat die man seker ‘n paar honderd miljoen dollar in die bank het, en dit alles net omdat daar genoeg skobbejakke in die wêreld is wat na hierdie tipe snert luister en dit dag-vir-dag aflaai op hulle ipods.

Ja-nee, besef ek, Nerine was seker in die kol toe sy vroeër vanaand gesê het dat ek ook nou oud is.

Intussen is al waarin my broerskind belangstel, om ‘n foto saam met haar heldin Beyoncé te kry. Maar moenie glo nie: voor jy kan sê “fris agterstewe”, spring die lyfwagte tussenbeide en hou haar weg van die sangeres asof Nerine ‘n terroris is wat by die Wit Huis probeer inbreek. Nie nou nie sê hulle, miskien later, Beyoncé ontspan nou.

O, is dít wat sy doen, antwoord ek amper, ek het nogal gewonder hoekom sit die stomme vrou so uitgestrek met haar ontwerperskoene op die koffietafel terwyl sy aan ‘n lang drankie teug. Maar ek sê maar eerder niks, want die lyfwag is omtrent twee voet en vyftig kilogram en sesduisend spiere groter as ek.

En daar sit ek toe, met ‘n glasie port in die hand, en ek dink aan die moderne wêreld se supersterre en dié se misplaaste sin van “belangrikheid”. Want as hierdie mense WERKLIKE groot figure was, soos ‘n Nelson Mandela of ‘n Biskop Tutu of ‘n Moeder Theresa of ‘n Prinses Diana, is daar geen kans dat hulle die toenadering van ‘n dertienjarige dogtertjie met sterre in haar oë en draadjies in haar tande op ‘n aand soos vanaand sou weier nie. Maar net omdat hulle genoeg geld het vir ses lyfwagte, dink hulle dat hulle ‘n hoër spesie is as die res van ons.

En skielik voel ek nog ouer as voorheen.

Die volgende dag lees ek in die koerante dat Jay Z in die dorp was vir ‘n optrede by die Dome in Northgate. Blykbaar het die man so baie geld gemaak in sy kort lewe dat hy deesdae net konserte hou vir liefdadigheid; sy gekose welsyn is een wat hulleself beywer vir water-verskaffing in die Derde Wêreld. En daar’s allerhande diep aanhalings waarin hy hom sterk uitspreek oor hoe belangrik dit is vir mense om toegang te hê tot skoon water.

Dis ‘n edele doelwit, dié, jy kan seker nie stry nie.

Net snaaks dat ek die vorige aand in die kroeg nie gesien het hoe Jay Z, of enigiemand anders in sy uitgelese geselskap, hulle monde aan selfs een glasie water sit nie.

Voetstoots van Tonder
22 Oktober 2006

4 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Een van my grootste hero's ooit is Gary Player. Op 'n dag in Desember (erens toe ek nog die hele Desember lank vakansie gehad het), loop kyk ek en 'n pal die Bells Open op Fancourt. Na 'n halwe dag in die son raak ons moeg en besluit om bietjie die wereld te verken, en wandel toe sommer by die klubhuis in. Daar sit Gary Player toe en gesels met 'n groepie vriende. Dadelik stap ons nader om hom te ontmoet; dink natuurlik glad nie daaraan dat ons nou sy privaatheid liederlik skend nie. Hy het opgestaan en ons vreeslik vriendelik gegroet, uitgevra oor wat ons swot, of ons gholf speel en geselsies gemaak. Toe ek vra of ons 'n foto van hom kan neem vra hy een van sy vriende, met wie hy sit en gesels het, om ons saam met hom af te neem. Dis nou nog een van my gunsteling fotos en memories.

Dis hoe 'n ware celebrity en gentleman optree.

10:41 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ek stem 100% saam - een van my gunsteling foto's weer is een saam met Malcolm Marshall (toe die man nog gelewe het...dis 'n ander hartseer storie daai)

- toe hy bestuurder was van die Wes-Indiese toerspan in SA in 1999, het ek eendag saam met hom gholf gespeel (het hom ontmoet deur 'n vriend van my wat betrokke is in krieket in SA) - ek sal nooit vergeet hoe hy my gehelp het om na die bal te soek in die rof nie!

11:01 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

This comment has been removed by a blog administrator.

9:17 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

kyk hier

9:19 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >