Thursday, October 19, 2006

Ruggaboes, o Ruggaboes...

Die volgende stuk word geplaas met die vriendelike vergunning van die outeur, Kobus van Loggerenberg (vriend, teoloog, fynproewer, filosoof, huisbouer, oorlewende van vliegtuigongelukke, motorfietswerktuigkundige van formaat...en Vrystater!):

Ek sal my plig versaak as ek nie nou sonder om verder te versuim, jou op hoogte bring met die totale fokop wat Ruggaboes (met apologie aan die volksprofeet Casper de Vries) nou weer laas naweek in Bloemfontein veroorsaak het nie.

Soos dit ‘n goeie god betaam het Ruggaboes daarin geslaag om met vergesigte van ‘n beter lewe in die ou Vrystaat gewone sterfelinge op te sweep tot ‘n fanatiese malende oranje golf wat ‘n tsoenamie na ‘n blote rimpeling in ‘n visdam laat lyk het. Mense, geboue, karre, dooprokkies, kondome, lykswaens – alles is in Oranje getooi. Vrouens het gebedsgroepe gestig en die singende volksdigter – Leon Schuster – het ‘n meesleurende loflied vir die Cheetas – Ruggaboes se voetsoldate – gekomponeer. Vanuit motorkarre, ghettoblasters, kerktorings, winkelsentrums het Leon met sy affie-plaas-afrikaans vir ‘n week lank opruiend gejuig - Hol daai Cheeta hol, almal raak so dol as daai Cheeta so hol - of so iets.

Maar die wat die meeste gehol het was die arme blikskottels wat desperaat kaartjies gesoek het om op die dag van die wederkoms van die Curriebeker deur die poorte te kon gaan. Die onsinnigheid en onverklaarbaarheid van die uitverkiesingsleer waar die ywer van die vromes (die wat Saterdag na Saterdag deur wind en reen die Cheetas ondersteun het) moes plek maak vir die opportunisme van ander (dis wie jy ken, swaer) het soos dit in enige respektabele religieuse konteks hoort tot vurige debatte, vuisgevegte, kommissies van ondersoek en selfs interdikte gelei.

En terselfdertyd, soos dit ‘n goeie god betaam, was Ruggaboes aan die anderkant van die Jukskeirivier natuurlik slinks besig om die armes van gees daar te oortuig dat hy eintlik meer hou van blou, dat die beker eintlik hulle sin is. Hoe blouer, hoe beter…

Selfs semi-gode soos Robbie Leeuloop Wessels (Oranjespan) en Steve-ek-bliksem-jou-nou Hofmeyer (Blouspan) het tot die stryd toegetree (ek gaan nie nou die leeu-loop ding verduidelik nie – ek is bang jy skrik so groot dat jy besluit om nooit weer terug te kom nie). Groete en bemoediging het uit alle oorde ingestroom – selfs die Goeie Biskop van Kaapstad is ingevlieg Bloemfontein toe om sy geliefde Cheetas te kom ondersteun.

En toe – op die groot dag – kon jy die matige dreuning hoor, die lied van ‘n volk se herontwaking, wat harte laat sidder en beef - Oranje Bliksem Blou! ORANJE BLIKSEM BLOU! Van vroegdag al is skape en beeste geoffer, Bachus het vir Ruggaboes om die hals geval en hom ‘n paar sterk doppe ingejaag en dis net hier waar die fokop begin het. Want iewers in die tyd het Ruggaboes konfoes geraak en Ollie le Roux net te moeg. Rassie Erasmus, die geliefde, het wanhopig ligte geflits en sy kleurkaarte geswaai (ek gaan dit ook nie probeer verduidelik nie, dis nog moeiliker as die leeuloop en die uitverkiesing saam).

Na 80 moordende minute – 25 punte elk. Na nog 20 minute ekstra tyd- 28 punte elk. En toe die eindfluitjie finaal vir ‘n tweede keer geblaas het, het daar ‘n kolosale kollektiewe babelas soos ‘n donker wolk oor die stad neergedaal. En die vraag op menige vrome lippe was - Fok, Ruggaboes, wat is nou die sin van gelykop speel?

Intussen het dinge weer na normaal begin terugkeer. Daar was selfs gister ‘n kort,maar kragtige haelstorm, met die nodige bliksemstrale en donderslae, asof iemand net ‘n slag die stad weer wou skoonkry.

Maar soos Koos Kombuis gesing het van sy pel Johnnie - Ruggaboes is nie dood nie, hy’s net uitgepaas.

Kobus van Loggerenberg
18 Oktober 2006

3 Comments:

Anonymous Anonymous said...

As vurige cheetah ondersteuner was ek baie teleurgesteld dat die eindstryd gelykop geëindig het, want daar was so baie maniere waarop 'n wenner vasgestel kon word, soos bv. die span met die minste geelkaarte in die finaal, punte vir en punte teen, ens.

Aan die anderkant was dit nogal verfrissend om te sien dat daar in SA nog iets oor is wat so straight forward kan wees soos 2 spanne wat met dieselfde punte opeindig en dan die beker moet deel - no mess, no fuss, just good value.

7:01 am  
Blogger Oranje_Orakel said...

Skitterend geskryf

Ek en my oudste seun was deel van die Oranje golf gewees.. en ja

gelykop is nie wen nie

maar ons ou dorpie sal nie sommer weer dieselfde wees nie.

naaice blog BTW

7:10 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Dankie O O

- en sterkte vir volgende jaar...persoonlik is ek nie provinsialisties nie (ek gee nie om wie trap die Bulle nie)

1:37 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >